Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929
(1929)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 276]
| |
Oor Boeke.Skakels van die ketting.Ga naar voetnoot*)
| |
[pagina 277]
| |
Die geslagsmoeilikhede van die ontluikende jong Kobie vorm die kern van Pienaar se verhaal. 'n Kind word by sy naam genoem, dog sonder dat dit aanstoot gee of walg. Die verhaal is kortliks as volg: Kobie groei op die plaas van sy goeie, godsdienstige ouers op. Sy moeder verstaan die jong seun beter as die vader, en oefen groot invloed uit op hom. Hy en sy vriendinnetjie, Elka, het in die tydperk van hulle kalwerliefde baie onskuldige pret. As sy vader dit gelukkig tref op die Seekoeifonteinse delwerye, gaan Kobie na die Engelse Hoërskool op die dorp. Voortdurend word hy geteiser deur die duiwel van geslagsdrif, dog as hy dink aan sy moeder, verjaag hy alle bose gedagtes. ‘Ou Hennie,’ die Afr. onderwyser, tot wie Kobie hom besonder aangetrokke voel, oefen 'n baie heilsame invloed op hom uit. Die Hoërskool-kursus word met groot sukses deurloop. 'n Nuwe tydperk breek aan as Kobie na Johannesburg gaan. Hier kry hy eerstehandse kennis van die ellende en ontaarding van die mensdom. 'n Jong meisie probeer hom verlei, dog hy bly staande. Hy besluit om die minder bevoorregtes van sy eie volk op te help deur 'n Sondagskoolklas te stig. Dit blyk 'n groot sukses. Violet, die jong meisie wat hom in versoeking gebring het, word ook lid van sy klas. Hulle word intieme vriende. As hulle een aand na Vereniging 'n endjie gaan wandel, stel die geslagsduiwel hulle 'n val en - - - ‘die myntering-basil het 'n ander slagoffer geëis.’ Nou is Kobie se lewe ondraaglik. Aan huistoe gaan val nie te dink nie: hy sal onder die heidens gaan arbei in Niassaland. Sy werk as sendeling word met groot sukses bekroon, en hy word onder die swartes as 'n soort van god beskou. Op 'n dag kry hy 'n telegram van huis dat sy moeder ernstig siek is. Met die grootste haas vertrek hy suidwaarts, dog as hy tuiskom is sy moeder reeds in 'n ander wêreld oorgeplant. ‘Moeder! Moeder! ek het jou bedrieg. Vergewe my! Vergewe my!’ is al wat die gemartelde siel kan uitroep. Elka, wat die moeder tot op die laaste toe trou bygestaan het, vergewe hom alles wat hy misdaan het, en word sy vrou. Hulle besluit om sendingwerk te gaan doen onder hulle eie mense op die Grasfonteinse delwerye, want die stem wat Kobie as jong seun by die ou Stawelkoppie gehoor het - ‘Pas my skape op’ - vind nog altyd weerklank in sy siel. Hier ontmoet Kobie Violet op haar sterfbed, en aan die kinderlose egpaartjie word haar ou kleintjie met sy ‘geel lokhaartjies en die onskuldigste blou ogies’ toevertrou. Wie in ‘Skakels van die Ketting’ grillige awonture, skokkende gebeurtenisse, 'n vleklose held en sy teenvoeter die geraffineerde skavuit, soek, sal teleurgestel wees. Die held is 'n mens, geen super-mens nie. Dis die skrywer te doen om die uitbeelding van 'n worstelende siel: Kobie se stryd is die algemeen-menslike stryd teen eie hartstogte en seksuele neiginge. En op watter | |
[pagina 278]
| |
menskundige wyse word hierdie stryd geskilder. Reeds op baie jeugdige leeftyd bestaan die sekse-bewustheid, dog die intieme omgang tussen die twee geslagte is nog heeltemal onskuldig - ‘dis sedelik’. Anders word dit as die ‘Storm en Drang’-periode bereik word: sonder dat hy gewaarsku is teen die gevare wat voorlê, vind die jong wêreldburger hom onverwags gedompel in 'n maalstroom, waaruit hy homself moet sien te red so goed hy kan. Selde word hom die reddende hand toegereik, want - deur ondervinding word 'n mens wys!
‘Skakels van die Ketting’ is 'n boek vir grootmense, veral vir die wat hulleself ouers noem, en wat nog aan die ‘Ooievaarsverhale’- en ‘Bobbejaan-in-die-Berg’-metode van opvoeding glo. Waar die grootste voorligting en leiding nodig is, word gewoonlik die grootste stilswye bewaar, want wie kan nou met 'n bogkind oor geslagsaangeleenthede praat? Die ouers was mos somar klaar groot die dag toe hulle gebore is!
Hierdie werk is vir die grootste gedeelte outobiografies, daarom dat die worsteling van Kobie soveel intenser deurleef en deurvoel is, as wanneer dit bloot 'n skepping van die fantasie sou gewees het. Immers, is die hoogs-geïnspireerde werk nie altyd die kind van eie ondervinding nie? Die parallel Kobie-Pienaar vind ons ook in ‘Langs die Grootpad’: Hansie - v.d. Heever. Albei is plaasseuns wat besiel is met hoë ideale en aspirasies en wat na baie moeilikhede en wederwaardighede hulle doel bereik. Hoe voortreflik word die rol geskilder van die moeders in die karaktervorming van die twee seuns, veral in ‘Skakels’, en wat het hulle nie albei te danke aan die inspirerende engeltjies Elka en Maria nie.
Pienaar se styl is kragtig en fors, sy segging oorspronklik, sy skildering lewendig. Hy beskryf nie, hy beeld uit. Hoe mooi gesien is die volgende: ‘daar ver van die huis, in die droëlande, lê ek dan bedags op die naat van my rug en luister hoe die wolbalies aangewei kom, met 'n geluid asof hulle gedroogde boerbeskuit kou’. Wie voel hom nie dadelik terug op die plaas as die skrywer met fyn opmerkingsgawe 'n toneeltjie skilder soos hierdie: ‘versigtig, met die bene styf om die ooi se maag geknyp, word dan die rooi-leventel-botteltjie met die “littels” uit die broeksak gehaal, waar dit gelê het in die slingerdraai van die rekker. Meer as eenkeer het die ooi net gewag tot ek mooi gerus was, om my 'n streep te trek en dan sien jy net twee skurwe groottone die lug kies. Innerlik ontstoke, word dan eers 'n paar slae in die hande gespoeg, die hoed vasgedruk en voor omgedop, en dan sou die ooi haar heiland leer ken as sy dit weer waag. En as ek nou nie die bosluise kon kry nie, word met alle erns agter die oor gekrap, die kop geskud met 'n uitgehoeste “nee!” en dan maar weer in die rimpels van die keelvel of onder die stert wegval.’ Van sulke toneeltjies is daar baie. | |
[pagina 279]
| |
Op treffende wyse weet Pienaar gebruik te maak van natuurbeelde om die een of ander lewenswaarheid uit te bring: orals sien hy verborge ooreenkomste: ‘As die droogte kom en die witgras en blaarlose bome treur rondom, druk die ou vijooltjie dapper kop teen die wind en probeer met volhardende selfopoffering nog 'n laaste paar trekkies saam te gee. Trou, trou is die vijooltjie, soos die liefde van 'n agtergeblewene vir haar liefling ver oor die see. So is die liefde van 'n meisie.’ Na 'n kostelike beskrywing van die verraderlike krokodil ‘Mabele’, wat daagliks gevoed word as die vissersbootjies terugkom, dog sy dank betoon deur een van die kaffertjies in sy driehoektande beet te pak en na die dieptes te sleep, vra die skrywer: ‘Is die krokkedel dan nie simbool van die seksuele hartstog in hom, wat hy geprikkel, daagliks kosgegee, blindelings vertrou het, tot die hom onverwags, soos wat hy nou aanskou het, na die dieptes van die sonde-slykpoel gesleep het nie?’
‘Skakels van die Ketting’ - mooi tietel vir hierdie werk. Hoeveel moeilikhede moet nie oorkom word nie, voordat die verskillende skakels 'n hegte ketting vorm, wat kan dien as trektou vir die tweetjies wat nou saam die ongebraakte akker aangevoor het; en hoeveel is nie te danke aan die Moeder en Elka vir die suksesvolle voltooiïng van hierdie ketting nie.
Vir my het ‘Skakels van die Ketting’ 'n bekoring wat dit nie vir ander mense kan hê nie: nie alleen het ‘Kobie’ en ek op dieselfde plaas grootgeword en dieselfde Engelse Hoërskool besoek nie, maar hoe eners is ons ondervindinge in baie opsigte - die idilliese plaaslewe, die harde geswoeg in die landerye van smôrens vroeg tot laat, die Elkas, die blinde rondtas in die duister, die Hoërskool met sy veragtelike ‘Issies’ en - les bes, sy geduldige, innemende ‘Ou Hennie’. Watter goeie invloed het hy nie uitgeoefen op die wat hom verstaan het nie. (Ook as kollega het ek hom geken.) Die karakters in die roman is vir my werklike, lewende wesens - ja, tot ou Sinkerêr toe - en nie die gefantaseerde skeppinge van 'n roman nie.
Het ek niks anders as lof vir hierdie werk nie? Pienaar moet van 'n ander sfeer afkomstig wees as hy 'n perfekte werk kan lewer. Kobie se wegvlug uit Johannesburg na hy Violet onteer het, is vir my alles behalwe ridderlik en edelmoedig (hierdie gedeelte is nie outobiografies nie!). Ook sou 'n mens graag 'n bietjie meer van die Uniwersiteitslewe op Johannesburg wil sien: die lewe van Kobie as student lyk bysaak, sy optree as Sondagskoolonderwyser, hoofsaak. Dit wil voorkom of Kobie in Niassaland somar van die eerste dag af die taal van die swartes kan praat. Sou dit werklik waar wees dat 'n Kafferkaptein sy dogter vir 'n blanke sal gee as beloning vir die een of ander diens hom bewys? Miskien. Of wil die skrywer met hierdie geval slegs aantoon dat, al het jy eenmaal 'n mistrap begaan en al is jou doel die kerstening van die swartes, jy darem nooit op gelyke voet met hulle kan lewe nie? | |
[pagina 280]
| |
Eindelik, die weerontmoeting van Kobie en Violet op die delwerye, dit lyk 'n bietjie te veel na blote toeval. Dat Pienaar spel volgens sy uitspraak (hy is in eerste instansie fonetikus) is bewys dat hy durf wat ander vrees, net soos hy gedurf het om 'n ‘gevaarlike’ onderwerp aan te pak. Ons noem 'n paar voorbeelde: vijooltjie, krokkedel, perbeer, kwaaijongensgeid, waanhuis, vooltjies, duidlik, parra, trug, verduwwelde ens. As literêre kuns is ‘de in woordgeluid weergegeven emotie van een individu’ en literatuur ‘de haarfyn-preciese weergave van wat er omgaat in 's kunstenaars binnenste wezen’ dan het ons hier 'n roman van hoë letterkundige waarde; meer nog - dit gee nie blote lewensbeskrywing nie, maar ‘levensinzicht en verrijking’. Voorwaar 'n pragtige blyk van die skrywer se waardering en agting vir sy nog lewende vader, en 'n imponerende monument ter nagedagtenis van sy ‘Dierbaarste Moeder’.
J.H. RADEMEYER | |
Skakels van die ketting.*)Deur P. de V. Pienaar.Die moderne Europese letterkunde, wat by die Renaissance ingesit het met 'n grootse opbloei van die drama, moet as sy oorspronklikste skepping (behalwe miskien die letterkundige kritiek) die roman registreer. Die drang tot objektivering van eie sielelewe in die gefingeerde prosa-verhaal wat by die Grieke en Romeine eers gedurende hulle vervaltyd tot uiting gekom het en ook in die middeleeue betreklik laat te bespeure is, hierdie drang wat ook innig verwant is aan die gees van die ou volksepos, kom met die vernude mensheid tot verdieping en gee die aansyn aan 'n verbysterende rykdom van vorme, wat ons almal saamvat onder die naam roman, met sy rekbare betekenis. Die fantastiese Spaanse romans van die vyftiende eeu, die grootse en diep-menslike persiflage van Cervantes, die bonte skelmeromans van die sewentiende en agtiende eeu, die soetelike en swierige heroies-galante romans van daardie tyd, die presieuse en sentimentele roman in briewe, wat deur Wolff-Deken omgeskep is tot so 'n uitnemende middel om breë realistiese sede-skildering en geestige karaktertekening te gee, die lewens-ware kuns van Fielding, die werk van Sterne en ander humoriste, die deftige historiese roman met sy simmetriese, verstandelik-logiese bou, die dokumentêre roman met sy opsetlike | |
[pagina 281]
| |
anargie, die moderne roman met sy nuwe romantiek, wortelende in die realiteit deur die naturalisme geopenbaar - hierdie oneindige verskeidenheid van vorm en strewe openbaar tog, by die verskille wat kunstenaarstemperament, tydgees, mode teweeggebring het, steeds die selfde kunstenaarsdrang: die behoefte om eie lewensgevoel epies-dramaties te verbeeld in die karakter, lewe en lewensomstandighede van gefingeerde mense; selfs die kuns van Sangiro wat sy besef van die ewig-menslike, die tragiek en die humor daarvan, geprojekteer vind in die dierewêreld, behoort tot die roman in hierdie betekenis. Die kuns van Van Schendel, wat hom wegdroom in die lewenstemming en die emosies van sy middeleeuse swerwer, het uit die selfde drang ontstaan as die romans van die warm-menslike satierikus Thackeray. Waarom die moderne mens, met sy sterk indiwidualisme, met in sy siel die dualisme, die konflik wat sy selfbewustheid meegebring het, sy sielelewe nie meer by voorkeur uitstort in die ou vorme van epos en drama nie, sou die onderwerp van 'n baie interessante en insiggewende studie wees, maar dis nie hier die plek om daarop in te gaan nie. Wat vir ons van belang is, is dat ons die wese van die roman daárin moet soek dat dit die epies-dramatiese verbeelding wil wees van die kunstenaar se lewensgevoel. Epies: want die kunstenaar moet die karakter wat hy dramaties gekonsipiëer het en in wie hy sy ontroerde besef van die humor of die tragiek, die patos, die konflikte en die raaisels van die lewe geobjektiveer het, epies kan uitbeeld; dramaties: daar moet in die uitbeelding van sy karakters, in die weergawe van hulle sielelewe niks insluip wat nie voortvloei uit hulle innerlikste wese soos eenmaal suiwer deur hom gekonsipiëer nie; die outeur mag sy eie gevoelens en emosies en stemminge nie opdring aan die eenmaal geskape karakter nie, wat na die akte van sy skepping 'n selfstandige wese is wat 'n eie sielelewe en uit eie kragte leef - met ander woorde die romanskrywer mag in hierdie betekenis van die woord nie lieries wees nie.
'n Roman is dus groot namate die lewensgevoel van die outeur sterk of diep is en suiwer uitgebeeld is; en die vorm van die roman is in sover van belang as dit die noodwendige verbeeldingsvorm van daardie lewensgevoel is: die verskil in vorm tussen Querido se ‘Jordaan’ en Mevr. Bosboom se ‘Huis Lauernesse’ is die duidelikste openbaring van die verskil van die lewensgevoel van die outeurs.
As ons hierdie definiesie van die wese van die roman aanvaar, sal ons ontkom aan die gevare van al die willekeurige indelings in soorte, van al die doellose bepalinge van wat tot die romankuns behoor en wat nie, hoe 'n roman moet wees en hoe nie; ons sal besef dat al die benaminge psigologiese roman, awontureroman, ontwikkelingsroman, sosiale roman, historiese roman slegs verdienstelike hulpmiddels is by die studie van die ontsaglike rykdom van | |
[pagina 282]
| |
kunswerke. Maar hierdie definiesie poneer ook sekere essensiële en daarom onverbiddelike eise. Die Afrikaanse romankuns lewer nog maar min op wat die toets van hierdie eenvoudige, maar streng kriteria kan deurstaan. Ons eerste prosawerke verdien nouliks die naam van kuns: hulle is nie die noodwendige uiting of verbeelding van die skrywer se lewensgevoel nie. Die ontluiking van ons prosakuns plaas Schoonees tereg omstreeks 1921: dan begin by ons kunstenaars die besef ontwaak dat die roman nie slegs 'n ydele spel van vernuftig bedagte awonture of 'n voorwendsel vir gemoedelike didaktiek mag wees nie; hulle besef dat die roman ons die mens moet gee, maar hulle is nog onmagtig om ons daardie mens te skep. Dit is die kuns van Fichardt en van J.R.L. van Bruggen. Dan kom die werklike romankuns van Jochem van Bruggen en is ons moderne roman gebore. P. de V. Pienaar se ‘Skakels van die Ketting’ behoort m.i. nog tot die twede stadium in ons ontwikkelingsgang, soos so baie van die romans wat vandag by ons verskyn; ook by hom die strewe om 'n mens te skep, om tot die innerlikste roersele van sy siel deur te dring, om ons sy ewig-menslike ideale en stryd uit te beeld; maar ook hy het nog nie daarin geslaag nie. Kobie is 'n jong seun met 'n sterk, ideële drang om ‘God se skape op te pas’, maar hy is erflik belas met sy vader se brandende sinnelikheid wat by hom tot ongesonde uitinge kom. Sy jeug is een stryd tussen sy hoë en diepgevoelde idealisme en die troewele hartstogte wat in hom woel. Nadat hy diep geval het, sy ouers, wat hy innig lief het, en sy nooi bedrieg het, kom hy na lange, bange sieleworsteling tot versoening en rus, veral ook deur die begrypende en vergewende liefde van sy Elka. Dis dus die ou maar altyd weer nuwe motief van die ewigmenslike konflik tussen die gees en die vlees. Hierdie motief het egter nie geword 'n aangrypende skildering van smart en worsteling of 'n hewig dramatiese meelewe met daardie felle stryd nie: Pienaar se lewensgevoel was nie so sterk dat hy dit om kon skep tot, projekteer in 'n sterk en suiwer gekonsipiëerde karakter nie. Kobie het nog nie uitgegroei tot 'n waaragtige mens, wat 'n eie sielelewe leef onafhanklik van sy skepper nie - die outeur moet hom nog te veel van sy eie sentimente en stemminge leen. In Kobie lewe twee wesens: die hartstog-mens en die mistieke soeker na die ideële, wat baie ontvanklik is vir natuurindrukke en wat al vroeg die roeping voel om dienaar des woords te word. Die hartstogtelike en sinnelike in hom word verdienstelik geteken, maar as Pienaar die ideële in Kobie wil uitbeeld, dan voel ons dat ons nog te veel te doen het met 'n teoreties bedagte in plaas van 'n artistiek gekonsipiëerde mens. In pleks dat die roepstem wat Kobie telkens hoor die weerklank is van eie hooggespanne sielelewe, die apoteose na felle stryd, kom daardie stem as 'n psigologies ongemotiveerde wonder uit die lug aansuis en vervul die meganiese rol van deus ex machina. Die eerste keer | |
[pagina 283]
| |
dat die wonder gebeur is dit nog enigsins gemotiveer, hoewel nie besonder oortuiend nie, maar die volgende lyk meer op spot as op 'n ernstig bedoelde verhaal: Kobie is kerktoe in die goudstad saam met 'n studievriend, wat hoofsaaklik saamgegaan het met die bedoeling om te kyk of hy nie kennis kan aanknoop met die een of ander mooi dametjie nie; die predikant het die gewoonte om die gemeente Sondags veral te onderhou oor hulle finansiële verpligtings teenoor die kerk: ‘Kobie is net besig om te dink aan die mooi moterkar wat die predikant het en hoeveel 'n tiende daarvan sou wees, toe hy uit die verte hoor “Pas my skape op”. Dit is asof dit van veraf uit een van die orrelpype kom en toe sê die dominee “Amen”.’
Nog erger word dit by 'n later geleentheid: As hy na sy diepe val die verongelukte motoris, wat nog so graag wou bly lewe, sien sterwe het:
‘Laat in die nag het hy nog rusteloos met homself geworstel, en toe die rooidag breek en hy so effe insluimer, hoor hy - lieweland! wat is dit? hy spring verskrik op - weer die ou stem: ‘Pas my skape op!’
Die ridikule van die voorstelling bereik sy kliemaks in die banale uitroep wat ek gekursiveer het.
Ons vind in hierdie boek 'n verdienstelike strewe na skerp psigologiese analiese en Pienaar gee ook wel blyke van talent. Die ontleding van Kobie se gemoedstoestand in hoofstuk XV bevat goed-gesiene trekke; ek wys b.v. op sy voldoening as hy die krokkodel, wat hy aanvoel as simbool van sy eie troewele hartstogte, doodgeskiet het. Maar suiwere analiese van 'n karakter wat nie suiwer gekonsipiëer is nie is natuurlik onmoontlik. Dit blyk dan ook al gou uit die styl en die beeldspraak. Pienaar is veel te oorlade in sy styl, praat veel te graag in beelde ook waar dit nie nodig is nie. Daardeur kom hy tot dwaashede soos die volgende: ‘Toe hy perbeer of hy nie in sy swartgebrande verstandsveld nog die ruik van piekniek-braaivleis kan ontdek, destyds toe Elka en hy die eerste, egte liefde geopenbaar het nie....’ As die ou kaffer sê dat ‘sy kommer is vir die wat lewe’, voel Kobie ‘soos 'n kind wat 'n pakkie persent gekry het en nog nie met die inhoud bekend is nie, dit na 'n stil hoekie dra om dit daar te ontwikkel’. Hierdie beeld is seker baie gelukkig (afgesien van die woord ‘ontwikkel’!), maar by die uitwerking daarvan kry ons ongelukkige mededelinge soos hierdie: ‘Sy verstandsvingers bewe al toe hulle die strik van die pakkie wou losmaak.’ As Kobie die plaas verlaat en hy telkens omkyk na sy moeder wat agterbly, word ‘die band wat moeder en seun bind verder en verder uitgerol’! Ons hoor van 'n ‘vasgekettingde hart’; ‘Kobie peil die diepte van toepassing op homself’. By geleentheid van 'n ander afskeid van sy moeder’, sien hy nog sy moeder met die voorskootpunt liefdesessens afdroë’! | |
[pagina 284]
| |
Sulke valse beelde is nie alleen lelike stylfoute nie maar is voos plekke in die sielkundige uitbeelding. Die natuurbeskrywings speel 'n baie groot rol in hierdie roman. Dit is psigologies goed gesien, want Kobie met sy lewendige verbeeldingskrag is baie ontvanklik vir natuurindrukke. Al die geheimsinnige magte wat in sy siel rondspook, al die emosies en stemminge wat daaruit opwel sien hy gestalte kry in die grootste en misterieuse natuur, wat vir hom 'n ewigwisselende spel van stemminge oplewer. In die weergawe hiervan het Pienaar meer as een keer gelukkig geslaag. As Kobie in die eensame aandstilte afskeid neem van Vaalrivier: ‘Nou en dan kokkeloer 'n sterretjie deur die lyfwag deur, maar effe bangerig. Daar bo, verop die koppie, swart-swart 'n boom soos die komende Dood; Kobie huiwer en vrywe die knoppies op sy vel.’ Hierdie suiwer simboliek bereik Pienaar egter nie baiemal nie. As Kobie saans op die delwerye alleen by die tonga sit: ‘Veraf raas die ou Vaalrivier sy selfde ou deuntjie af, maar sy keel is hees van al die eeue se sing, maar hees ook van innige weemoed vanaand as hy die nuwe ongelukskerkhof (wat is dit? G.D.) van menige geluksoeker sien. Ook die maan hou haar nog treurig agter die rante en sprei net in die ooste 'n dofgeel tranefloers uit. Sy het uitgehuil en uit die rouerige swart wolke kom die bloedrooi ronding uit, wat met diep jammer haar strale deur die dorings laat sypel op die delwerslaer. In die Weste teen die spookswart bulte af, kleur 'n veldbrand die lug helrooi. Magtige rooigeverfde rookkrulle vorm 'n dak bo en hang verderaf 'n loodgrys mantel oor die vlaktes. Nou en dan brand 'n graspol helder op en rek met “n kragtige swaai bo die ander uit. So klein brand party vlammetjies tog as hulle vir hulle bestaan veg. Dis of die bulte lewe. Dis of 'n vuursee daar kabbel. Op - af, op - af gaan die tongetjies teen die swart, uitgetande riwwe-agtergrond.” Hierdie sitaat toon Pienaar se krag as visionêr van die landskap, sy simboliese siening en uitbeelding van die natuur. Jammer egter dat hy die suiwere simboliek vir 'n oomblik versteur deur self daar nog iets aan te wil toevoeg: die deur my gekursiveerde woorde. Ook op bladsy 31-32 gee hy ons 'n mooi natuurbeskrywing, 'n simfonie van kleure en klanke (hier en daar nog onsuiwer van orkestrasie), met die hewige rooi as grondtoon; maar nes die bo gesiteerde beskrywing staan dit nog te los van Kobie se sielelewe; die visioen van die verskyning van Jesus, wat vir Kobie met klein-verstandelike argumente kom oortuig, detoneer - in pleks dat die heerlike sonsondergang nog groter skoonheid verkry deur die betekenis wat dit het in die ontwikkelingsgang van Kobie se sielelewe, bly dit slegs 'n mooi beskrywing deur P. de V. Pienaar. Juis omdat die outeur daar nie altyd in geslaag het om die | |
[pagina 285]
| |
natuurstemminge uit te beeld in verband met of as openbaringe van Kobie se innerlike lewe nie, doen hierdie skilderinge dikwels nog te veel aan as bladsye uit die skrywer se eie portefeuille van landskapstemminge, m.a.w., hulle is nog te lieries. Nêrens voel ons dit so duidelik as op bl. 96 waar 'n sonsondergang na 'n piek-niek beskryf word en die kunstenaar vergelykinge maak met Turner se landskappe en die Hollandse son! Dieselfde voel ons by die simboliese fantasieë: die eensame banneling in Switserland, die seekoegat met die wellusmonster, die musikale dromerye van die gevangene in die tronkkerk. Pienaar pas hier 'n stylmotief toe wat nog al geliefd is by moderne Duitse romanskrywers - dink slegs aan Ewers en Feuchtwanger. Die genoemde stukke, veral die eerste, staan egter nog te los van die epiese verhaal, hulle het nog te veel lieriese ontboeseminge van die skrywer self gebly.
Nog bedenkliker word die versteuring van die epiek waar Pienaar optree as wêreld- en lewenswyse kommentator op en bespiegelaar oor die gebeurtenisse. Die ergste voorbeeld hiervan sien ons in die lang uitweiding oor die invloed wat verandering van milieu op 'n mens uitoefen; nie alleen werk hierdie stuk baie steurend in die gang van die verhaal nie, maar dis 'n aaneenryging van banale gemeenplase. “Afstand en tyd is twee faktore waarmee rekening moet gehou word as die liefde bespreek word” (!! kursivering van my. - G.D.). Siedaar “een waarheid als een os!” Maar ons verwag van 'n romanskrywer nie dat hy van tyd tot tyd sy verhaal staak en ons op dergelike staaltjies van teoretiese sielkunde vergas nie. So 'n blik in sy werkkamer boesem nie bepaald vertroue in nie. Net so ontstemmend werk die prekie oor die kappie van die boervrou en oor die rol wat die vrou in ons geskiedenis gespeel het. So is daar helaas nog baie voorbeelde van hierdie oudmodiese smakelooshede.
'n Paar woorde oor die styl van die boek. Uit verskillende aangehaalde stukke het al geblyk dat Pienaar die gawe van plastiek besit. Dit blyk ook uit mooi viesies soos: “Ver, waar die loodvaal berge hekserig in die lug dans,” en: “Ry-op-ry staan die ru-hout-banke ingedagte en in eerbied (in die gevangenis-kerk)”. Maar “le style c'est de l'homme même!” Dieselfde gebrek aan strenge selfbeheersing en hegte sintetiese eenheid wat Pienaar as epiesdramatiese uitbeelder kenmerk, openbaar hom ook in sy styl. In sy sug tot oorlading stapel hy adjektief op adjektief, ryg hy tussensin aan tussensin, totdat sy periode alle ritme verloor - en ritme is hoëre eenheid: “Rooi, die helderste rooi, wanneer dit langs groen, die lewende groen van die gras as in die Lente die malse spruitjies na bowe stoei met al die helderheid van ontluikende lewenskrag, wanneer dié daarlangs geplaas word, trek ook aan deur die volmaakte kontras, net soos die volmaakte harmonie van die geel van die gousblom met die oranje van vlieswolkies na 'n reent op ons ou Karoland”. | |
[pagina 286]
| |
Trouens hierdie hele beeld is ook só serebraal: “So 'n kontras met Kobie was Issie Feinberg!”
Dikwels kry ons hortende, onbeholpe sinne: “So trek hulle rond, tot hulle genoeg het om ook môre Nuwejaar te vier, want al is dit 'n kaffer, is darem die boer se vrygewigheid nie in enigermate (? - G.D.) beperk nie.”
By die bespreking van die psigologiese uitbeelding het ek op 'n paar gevalle van onsuiwere beeldspraak gewys; ek sou nog tal van voorbeelde daarvan aan kan haal. Laat ek nog net op Pienaar se slordigheid van styl wys; ek gee slegs 'n paar voorbeelde: “Flabberig en blink lyk dit om die lelike ou Brandseer, maar die seep brand ook seer waar dit tussen die barsies insyfer.”
“Langs die watergat hel die stam van 'n groot kameeldoring oor na die waterkant toe.”
“Toe die son agter die vaal bulte sy Paul-Kruger-pond-sirkel opsteek, sy eerstelingsoekstrale hoog in die lug, skuins oor die ingetande wêreldwiel en vlak tot onder die wa se disselboom...”. Dis nie maklik om 'n ding altyd op 'n ongewone manier te sê nie, en daar is gevare aan verbonde! En wat moet ons van die volgende beeld dink?’ 'n Roggel-keelgeluid (is ‘keel’ nie heeltemal oorbodig in hierdie samestelling nie?, of is ‘roggelkeel-geluid’ bedoel? - G.D.) van voldoening asof die klankgolwe deur die rotswalle saamgegryp word en uitprojekteer word op Kobie se oor...’ Pienaar openbaar hom hier en daar as realis, in die eerste hoofstuk gee hy selfs 'n paar trekkies wat vir Suid-Afrika taamlik gedurfd is, esteties beskou doen hulle enigsins eienaardig aan, omdat hulle heeltemal buiten die gees van die boek staan. Die beskrywing van die agterbuurt (hoofstuk XIII) is 'n verdienstelike poging, maar ook hier voel ons die waarheid van Goethe se gevleuelde woord: ‘Künstler, rede nicht, bilde nur!’. 'n Sobere, realistiese skets sou ons veel meer ontroer het as opmerkings soos ‘Die naarheid en armoede, die sonde en mensehel wat hier aangaan, maak sy jammerhart sommer kleinveld.’ Dat Pienaar egter wel talent het, blyk uit 'n fyn trekkie soos hierdie: ‘Ook die ou Oom se wit baard bewe vir 'n oomblik agter 'n skeur in die doek wat voor die venster gespan is.’
Hierdie kritiek sal miskien streng lyk... maar die eise wat die roman self aan sy beoefenaars stel is streng. En die feit dat ons al sover gekom het dat ons die produkte van ons jong letterkunde aan hierdie eise mag begin toets is verblydend. Pienaar se gebreke het hy gemeen met baie van sy tydgenote en (laat ons dit hoop) hang saam met die stadium waarin hy verkeer in sy ontwikkelingsgang as kunstenaar. Ek vertrou dat ek aangetoon het dat hy onbetwisbare talent besit; maar sy eerste roman is nog onvoldrae; dis 'n poging | |
[pagina 287]
| |
om gestalte te gee aan sy lewensgevoel voor hy daarvoor ryp was. Die tyd dat mense geglo het dat Keats ‘was snuffed out by an article’ is verby - ek hoop dan ook dat ons van Pienaar nog werke sal kry waarin sy lewensgevoel, verdiep en verklaar, omgeskep sal wees tot waaragtig- en diep-menslik, gestaltes. Voor hy daarin sal kan slaag sal hy as bewuste kunstenaar sy styl moet suiwer van al die gebreke wat dit nou mog aankleef en waarop ek hier nie in kon gaan nie. Slegs deur 'n ernstige strewe na soberheid, 'n angsvallig vermy van alle mooidoenery en klein-lieriese, bymotiefies, in een woord: deur streng selfbeheersing kan hy dit bereik. Die firma De Bussy verdien 'n kompliment oor die keurig versorgde uitgawe; veral die bandversiering is smaakvol ontwerp en uitgevoer. Mag hiermee 'n nuwe rigting ingeslaan wees! G. DEKKER. | |
Kees van die kalaharie.Deur G.C. en S.B. Hobson.Net betyds, nou dat ons oernatuur so vinnig plekmaak vir landbou en veeteelt, en die laaste weer vir die saamgeskoolde mensemassas wat die toenemende industrialisasie van ons land teweegbring, het die oë van ons kunstenaars oopgegaan vir die verdwynende dierelewe in sy natuurlike omgewing. Wie het dit kon dink dat so kort nadat Sangiro alle liefhebbers van die Afrikaanse literatuur in verrukking gebring het met sy ‘Oerwoud en Vlakte’, daar weer 'n paar skrywers sou optree wat net so diep deurgedring het in die gees van die oerwêreld en sy kinders, en daaraan uiting sou gee in 'n styl wat, hoewel heeltemal anders, tog seker nie hoef onder te doen vir die van hulle nou reeds beroemde voorganger nie! Maar tog is die aandag nog veel te min gevestig op Kees van die Kalaharie en Kloes van die Kalaharie deur G.C. en S.B. Hobson, wat in die ‘Huisgenoot’ verskyn het. Ek wil dit huldig as die verteenwoordiger van die Apollieniese kuns in ons dierebeskrywing wat deur goedversorgde, fyne, geniale styl ons net so veel genot kan besorg as die Dioniesiese vervoering waarin die werk van Sangiro ons bring. Die twee verhale is sorgvuldig saamgestel - Kloes beter as Kees. By die laaste verdwyn die hooffigure partykeer enigsins uit die middelpunt van ons belangstelling. Hierdie beswaar geld nie die jaar vandat Kees weg is van die trop af totdat Adoonsie hom weer kry nie: dié tyd word mooi opgevul met ander gebeurtenisse. Maar as ou Kees dan onmiddellik daarna maar weer op die sand bly sit terwyl ons van alles en nog wat te hore kry, dan word die geheel erg verbrokkel. Met Kloes en sy famielie is dit anders. Ons begin somar van die staanspoor af met hulle meelewe en ons belangstelling verminder nooit nie, voor ‘die ander ou kleintjie en die getroue moeder lê | |
[pagina 288]
| |
onder die kareeboom koud en stil,’ en Kloes se ‘ligbruin oë verlangend ver noordwaarts gerig is na waar die kameelboomvlaktes van die Groot-Kalaharie wyduitgestrek in die maanlig vir die verlore seun lê en wag.’
Die treurige uiteinde van Karlyntjie roer ons, maar dit roer ons as 'n vanselfsprekendheid, as iets wat daar moet wees om die verhaal behoorlik af te rond, want as daar een algemene trek is wat ons blywend bybly na die lees van hierdie beskrywing van die dierelewe, dan is dit die onderlinge konflik tussen die diere, waarby net een wet geld: ‘Survival of the fittest’, soos die konflik tussen mens en dier telkens opdoem by die terugdink aan Sangiro se werk. Hierdie altyddurende konflik bring ons telkens en telkens weer in 'n toestand van spanning. Weliswaar kon die spanning hier en daar meer toegespits gewees het - soos Sangiro so goed verstaan het om dit te doen - maar tog.... juis deur die vlugtige manier waarop daar oorheengewandel word, kry ons die indruk van die algemeenheid, van die blywendheid, van hierdie konflik, van die essensiële daarvan vir die woestynlewe. En op die kortstondige konflik volg dan herhaaldelik die mokerslae van die meedoënlose natuur wat ons voor die roue werklikheid plaas: ‘hy's dood, dis klaar.’
‘Die oë word die eerste uitgepik, en daarna skeur hul skerp snawels die nog lewende bobbejaan wreed oop’; ‘Terwyl Slagter nog wreed aan haar keel kou, draai die wyfie om en byt die stomme ou kleintjie se nekkie met 'n enkele hap morsaf; toe keer sy terug na waar Slagter alreeds groot stukke vleis uit die duiker se nog warm, trillende boude staan en skeur’; ‘Kwê-Kwê.... skree die bobbejaantjie, en die kranse weergalm soos die mannetjies hom hees-vloekend te hulp snel! Dog 'n twede hou van die luiperd laat hom bewusteloos ineensak’. ‘Somar met die eerste aanmekaarraak sny hul hom in vier, vyf plekke dat die bloed loop, en binne 'n paar minute is al wat van hom oorbly, net die verskeurde, dooie liggaam waarop die bebloede bobbejane nog steeds spring en vloek’; 'n aaklige gesleep van kronkelinge wat nog vatplek soek, 'n gekraak van bene - en die luislang se dodelike werk is gedaan’, ens. Dis vir die skrywers blykbaar nie die moeite werd om by hierdie telkens terugkerende tragedie lank stil te staan of daar sentimenteel oor te word nie: dis maar die gewone manier van doen in die natuur; hulle vertel eenvoudig wat daar gebeur het en gaan dan maar weer oor tot iets anders. En juis daardeur word die totaalindruk van die onverbiddelikheid van hierdie natuurwet so onuitwisbaar in ons gemoed gegrif.
Maar hoe het die Hobsons daar nie in geslaag om, naas die groot natuurwette wat al gaandeweg so op ons gemoed getjap word, ook die besondere verskynsels van die Kalahariewoestyn ons voor die gees te toor nie! - Die westewind wat woed, die Korannaberg met sy klowe en kranse en lysies, die tsamaveld, en die woestyn in tye van droogte. | |
[pagina 289]
| |
Hoe laat hierdie skrywers ons nie ook die klanke van die woestyn hoor nie! - Bô... gom! Hees en gebiedend. Bôg? Bôg? Sagvraend. Bôg! Bô - gom... dié keer harder, meer dreigend. Hâhâ - hâ..., hâhâh - â..., 'n tussenpoos en weer hâ-hâ-hâ..., die note kort op mekaar, die laaste lank lank uitgerek, hoër as die ander, pure weemoed - die dubbel-drieklank geroep van 'n mannetjie wat van sy maat opsy raak.’ ‘Pioe’ sê die jakkalsie as die lammervanger hom laat val, en die sprinkane ‘vreet en vroetel, tjiep-tjiep, tjerp-tjerp om en oor en op die jakkals-famielie’. Deur hierdie woestynwêreld wat ons al lesende nie alleen as 'n reeks gesigs- en gehoorsbeelde gewaai word nie, maar ook as 'n nuwe gevoelswêreld is die Hobsons die ideale geleiers wat ons deur middel van skilderagtige beskrywinge vertroud maak met die uiterlike voorkome, die verskillende uiterlike gedaantes van ons nuwe kennisse, maar daarnaas met hulle geesteslewe. Laat ek dit met 'n enkel voorbeeld illustreer. Van die jakkalswyfie word gesê: ‘Sy het vanjaar toevallig net tweetjies, en 'n tydlank was die moedermelk voedsel genoeg; maar nou word die goedjies groot en moet daar al vleis aangedra word.’ Hierdie paar sinnetjies is voldoende om ons in onmiddellike kontak met die jakkalswyfie te bring, want die skrywer het sy gees in hare geprojekteer. Dan vervolg hy: ‘'n Ruk lank lê hul hul dors aan die moeder en les. Vleishonger het hul nie. Verlede nag se korhaan was al genoeg; maar toe hul klaar gedrink het, gaan hul darem speel-speel aan die duikertjie vreet’. Hier het die skrywer 'n deel van die ou kleintjies geword, en dan vervolg hy: ‘Intussen staan Slagter 'n ent opsy en spioen. Hy is ook net onrustig: Tweemaal in die laaste ses dae al het 'n hiënapaar hom van sy buit berowe, en daardie bloedvlekkies op die hoë gras waar die wyfie die duikertjie langs gedra het, kan tog alte maklik die vuilgoed weer op hom afbring.’ Die skrywer en Slagter is een! Onwillekeurig slaak 'n mens die versugting: ‘Ag, was daar maar meer Afrikaanse romanskrywers wat hulle so in die gees van ander mense kon inlewe. Die Hobsons kan dit ook. Kyk maar as hulle 'n enkele maal 'n mens laat optree: ‘Nee, so kan hy die vuilgoed hom nie rot en kaal laat vang nie! Kleinbooi moet die perd dadelik opsaal. Ook tegnies bly die Hobsons korrek by die uitbeelding van die geesteslewe van die diere. In teenstelling met die steurende gedink en geplannemaak van Sangiro se diere wat die swakste trek is in sy anders uitstekende boek, laat die Hobsons hulle - s'n voel, ‘instinkmatig besef’, en ‘instinkmatig weet’. Van watter stylmiddels maak die Hobsons gebruik om die merkwaardige indruk te verkry wat hulle met hulle boek bereik? Nie so seer van 'n | |
[pagina 290]
| |
geesdriftig meeslepende ritme nie - hoewel hulle korter stapgang vol aangename afwisseling is - as van hoofstukke wat ieder 'n volkome eenheid in die verband vorm, van goed afgeronde paragrawe, en sorgvuldig gestileerde volsinne. In die bou van die paragraaf moet veral gewys word op die neiging om op 'n aantal skilderagtige besonderhede 'n treffende samevatting te laat volg, soos in: ‘Dit dreun soos die vee op 'n hoop storm; maar nog voordat hy in die kraal kan spring, bars 'n geweerskoot uit die hoek los dat die vuur spat en streep 'n brandende pyn hom langs die linkersy af! Die Oubaas is tuis!’ ‘Oordag bessies pluk en uintjies grawe, boomlote afbyt of aan die tsamas peusel, of versadig teen 'n duin in die son sit en luier - die maande het rustig verbygegaan’. Partykeer kom bywyse van afwisseling die algemene opmerking egter eerste en die besonderhede daarna. Die sinne! Hoe weet die Hobsons telkens die raak en treffende woord te vind! Laat ek 'n paar onderstreep: Soos die bobbejane verskrik uit die krans uitborrel. Al moet hy dit dan ook uit die outjie se keel uitwurg. En streep 'n brandende pyn hom langs die linkersy af. Maar daardie vreemde ding wat te perd aangery kom. Terwyl hope etter.... uit die sweer uittap. Honderde sulke sinne kan ek oorskrywe. Onder sulke omstandighede sou dit pure vittery wees om aanmerking te maak op die paar swakkes wat daar ook voorkom. Hoe mooi word die eienaam ‘Dooddrukker’ nie tepas gebring nie. Wat 'n verskeidenheid van uitdrukking is daar nie! Die begrip ‘erg’ word b.v. uitgedruk deur: van die eerste water; van die ander wêreld; dat dit 'n naarheid is; die begrip ‘baie gou’ deur: soos blits; soos 'n warrelwind; in 'n kits; so gou soos nou. Die woordkeus bring ons ook gedurig in direkte kontak met die skrywers self wat ons leer ken as gemoedelike vertellers wat lewendigheid en skilderagtigheid weet te verkry deur die gemeensame toon wat hulle aanslaan. Hulle verval nooit in die preektoon nie, maar gee ons hier en daar blyke van 'n meer algemene kennis van die dierelewe as absoluut noodsaaklik is vir die storie, en dit sowel as die subjektiwiteit wat uitstraal deur die keuse van woorde en uitdrukkinge kan 'n besonder charme aan hierdie soort verhaal gee, en doen dit ook in hierdie geval. Deur die sorg en talent waarmee elke onderdeeltjie bewerk is, het die geheel 'n kostelike maal geword waarvan elke happie genot verskaf aan die fynproewer.
J.J. LE ROUX. | |
[pagina *28]
| |
G. MOERDYK.
N.G. KERK LUCKHOF, O.V.S. | |
[pagina *29]
| |
'n Leser van ‘SKAKELS VAN DIE KETTING’ skryf ons:
‘NAAR HIERDIE BOEK HET ONS UITGESIEN. TEN LAASTE IEMAND WAT DURF OPENBAAR EN DIE MOED HET IN AFRIKAANS MODERN TE WEES. DIE SKRYWER SKROOM NIE FIESIESE VERLANGENS VAN DIE JONGE MENS BY DIE NAAM TE NOEM NIE. MAAR NAAS HIERDIE KRASSE DINGE IS 'N HOË IDEALISME, GEWORTEL IN 'N GOEIE BOERE-OPVOEDING. PIENAAR HET 'N LIEFDE VIR DIE PLAASLEWE, VIR GODS NATUUR, EN NIEMAND VAN ONS GAAN TELEURGESTEL WEG NIE. NAAR HIERDIE BOEK HET ONS UITGESIEN OMDAT DIT EINDELIK WEER 'N MOOI BOEK IS.’
Aan die Bestuurder, Firma J.H. de Bussy,
Posbus 460, PRETORIA.
Geliewe my te stuur
Pienaar: ‘Skakels van die Ketting’,
waarvoor ek u die bedrag van 7/6 hierby insluit.
Naam __________
Adres __________ |
|