kleinmeidjies wat vir hulle opgepas het, stories vertel het, het nog nooit weer iemand teëgekom nie wat die kuns so meesterlik verstaan het, al wil hy graag erken dat die vervloë kinderjare en die goeie ou tyd 'n byna gewyde stralekrans om die persoon van sy vader in sy herinnering gevleg het.
Maar let 'n bietjie op die o.s. uittreksel uit genoemde boekie, hoe ongekunsteld-eenvoudig en pakkend dit is:
Juda soebat vir Josef.
‘Ag, meneer, moet tog nie kwaad word, dat ek nog 'n woordjie wil sê nie. Toe ons die eerste slag kom koring koop het, vra meneer of ons nog 'n vader en 'n broer het. Ons sê toe ja, en dat ons vader regte baie van die jongste hou. Toe sê meneer dat ons hom moet saambring, maar ons het toe gesê, dat ons vader hom nooit so ver sou laat saamgaan nie! Maar meneer hou aan dat ons hom moet saambring. Toe ons koring nou weer op was, sê my vader ons moet weer gaan koop, en toe ons sê hy moet vir Benjamin laat saamgaan, sê hy: “Nee, een kind van my is al deur 'n wilde dier verskeur, en as ek vir Benjamin laat gaan, gebeur daar dalk met hom ook 'n ongeluk, en dan sterf ek seker van verdriet.” Toe het ek by my vader vir Benjamin borg gestaan en belowe, dat ek na hom sou kyk, en so het ons die ouman eindelik oorgehaal om Benjamin te laat gaan. Kom ons nou sonder hom terug, dan gaan ons maar net om ons ou vader van verdriet te sien sterwe. Daarom smeek ek u, om tog asseblief maar vir my as 'n slaaf te neem en vir Benjamin met die ander huis-toe te laat gaan!’
‘Toe Josef hoor hoe Juda vir hom soebat om tog maar vir Benjamin te laat gaan en vir homself agter te hou, kon hy dit nie langer uithou nie.’
‘Hy sê aan sy knegs: “Gaan almal weg uit die kamer uit!” - En toe bars hy in trane uit. Eindelik kon hy uitkry: “Ek is Josef! Leef my vader nog?’
Hoewel deur verskillende persone herhaaldelik versoek om 'n reeks leesboekies vir skoolgebruik uit te gee, het C.P. Hoogenhout hom nooit daartoe laat oorhaal nie. Ek weet net van een skoolboekie - 'n rekenboekie - Uw en myn Cyferboekje, wat deur hom opgestel is, en 'n redelike afset geniet het.
En hiermee is my bydrae oor my vader - wat op spesiale aandrang van die redakteur geskrywe is - klaar. Vir die skrywer was dit 'n aangename taak, hoewel die herinneringe dikwels 'n plukkie aan die hart gegee het wat pyn veroorsaak het. Daar is ongelukkig baie dinge ongesê gelaat, omdat dit die leser mog verveel en die skrywer dit eenvoudig nie kon te boek stel nie.
P. IMKER HOOGENHOUT.