orde en met hernude kragte trek ek los in volle vaart. Ek speel met my gedagtes soos die frisse luggie om my ore. Ek vang hulle en laat hulle los. Ek snoei hulle en hulle bloei in lentedos en as ek vergenoegd die groeiende krag van die geheel bewonder klink die meid se stem my in die ore en vlug hulle soos verwelkte roosblare en verdwyn sonder geur.
‘Mies die vleisboekie.’
Plof op die grond!
‘Wat pla die jong om so ontydig te kom? wat sal ons vir môre bestel?’ Maar in die meid se onnosel gesig bespeur ek geen reaksie op my vraag nie en ek besef dat ek alleen met die skaapstukke sal moet worstel. Haastig skryf ek:
2 pond skaapribbetjie. |
3d. hondevleis. |
Dit moet wees vleis vir die hond maar die slagter sal verstaan - so hoop ek. Verlug steek ek die meid die boek in die hand. Sal ek probeer om my vervloë gedagtes weer terug te roep of sal ek maar ingaan om die oggend se werksaamhede te aanvaar? Dis nog vroeg; die kinders begin nou eers te roer en as ek nou laat vaar is dit gedaan vir die dag. Moedig sink ek weer teen die pilaar en sluit my oë met die hoop dat my roosblare sal terug gewuif word in tintelende lewe.
Die ellendige vleisboekie.
Waarom kan 'n mens tog nie leef sonder kos nie? Maar wonderbaarlik! 'n Warme vlaag vol bloeiselgeur beswymel my en vir die hinderlike werklikheid is ek gou weer verlore. Diep trek ek die lug in my longe af en toe ek my asem triomfantlik uitstoot vlieg 'n donker voorwerp skramps by my kop verby en geskerp luister ek na 'n jammerlike klaaglied.
‘Mammie kom praat tog met Boetie - kyk waar het hy my skoen gegooi.’
Willoos frommel ek die papier inmekaar en stap die huis in. Die wêreld sal maar in die ou trant moet voortgaan.
S. BRUWER.