| |
| |
| |
Portret van Wenning - 1919.
| |
Peter Wenning.
Herinnerings van 'n intieme vriend.
DIT sal enigeen, wat die lewe van Vincent van Gogh, die groot Hollandse skilder, gelees het, en wyle Peter Wenning geken het, dadelik opval dat daar baie trekke in die karakter van laasgenoemde is wat aan sy beroemde landgenoot laat dink. Altwee van hulle het geheel-en-al opgegaan in hulle kuns en het die wêreld rondom hulle alleen beskou as 'n middel ter bevordering van hierdie kuns wat skynbaar al hulle kragte opgeëis het, met uitsluiting van alle ander dinge. Net soos Van Gogh het Wenning maar eers laat in die lewe in erns begin skilder en altwee is dood terwyl hulle nog maar in die veertig was. Selfs die Groot Oorlog, wat die hele wêreld so diep en hewig beroer het, kon Wenning se gedagtes vir geen oomblik van sy werk aflei nie. Hy het skaars na 'n koerant gekyk en ek kan my nie herinner dat hy ooit met my die vreeslike en tragiese gebeurtenisse bespreek het, wat onop- | |
| |
houdelik die gedagtes van almal rondom hom besiggehou het nie. Kuns is ewig en as mense hulle lewe wou opoffer in 'n oorlog, wat hy as 'n dwaasheid beskou het, was dit nie sy saak nie. Nog later, toe die treurige en onvergeetlike influensa-epidemie dwarsdeur die land gewoed het, het hy nogmaals kalm sy daaglikse taak volbring en saans het hy altyd by my kom sit en planne maak waar hy die volgende dag sou gaan. Dit is nodig om nadruk te lê op hierdie besondere toewyding aan die Kuns van Wenning se kant, as 'n mens wil verstaan hoe dit gekom het dat hy, gedurende die betreklik korte tydperk van sy kunstenaarsloopbaan so'n enige plek ingeneem het onder sy mede-kunstenaars in hierdie land.
Op die eerste aanblik, selfs voor hy nog 'n woord gesê het, was 'n mens seker, dat Peter Wenning 'n kunstenaar was en niks anders kon wees nie. Nie dat hy hom geklee het in die drag waardeur party skilders - gewoonlik middelmatiges - dit noodsaaklik ag om hulle beroep wêreldbekend te maak nie, maar eerder omrede van sy bleek en gevoelig-fyn besnede gelaatstrekke en die mymer-uitdrukking van sy oë. Inderdaad, sy hele voorkoms het die beskaafde man en die man van smaak verraai. Altyd eenvoudig in sy betrekkinge met ander en hulle gevoelens in aanmerking nemend, was hy 'n blote kind waar dit die beheer van materiële sake betref het. Net soos Van Gogh was hy uiters beskeie met betrekking tot wat hy self verrig het, maar nooit traag om werklike talent te erken waar dit in die werk van ander geopenbaar werd nie. In hierdie opsig het hy selfs partymaal gedwaal en heeltemal buitesporige lof geskenk aan wat hy die aandag wêrd gereken het. So weet ek van gevalle - en dit nogal in tye wat hy dit maar sleg kon bekostig - dat hy homself deur sy geesdrif laat vervoer het om die een of ander skildery te koop wat op daardie oomblik sy bewondering gewek het. Wat sy eie werk egter betref, het alle verwantskap met Van Gogh opgehou - hoe hoog hy hom ook vereer het; en niemand het met meer ywer as hy gewaak om nie onder die invloed van ander kunstenaars te kom nie. Partymaal het hy selfs so ver gegaan, dat hy tentoonstellinge vermy het, omdat hy bang was, dat wat hy daar sien, die een of ander kleureskema waaroor sy gedagtes dan juis gaande was sou versteur.
Dit was nooit duidelik watter opleiding Wenning in sy jeug gehad het nie - net soos Van Gogh was hy al oor die dertig toe hy in erns begin skilder het - maar ek sou sê dat hy sy ondervinding vir die grootste gedeelte opgedoen het deur 'n noukeurige studie van Hollandse skilders soos die drie gebroeders Maris (hy het Jacob Maris veral bewonder), Anton Mauve en onder die Franse skilders Corot, Cezanne en Millet. Hy het nooit moeg geword van lofredes op die skoonhede van sekere werke deur hierdie groot Meesters nie; en altyd maar weer het hy na reproduksies daarvan gekyk.
| |
| |
Vir Oosterse Kuns het hy ook groot bewondering gehad, in prent- sowel as in beeldvorm; en ek herinner my nog hoe hy, so dikwels hy by my in die huis gekom het, na 'n sekere Sjinese Godin van Barmhartigheid geloop het, dit noukeurig bekyk en dan na my-toe gedraai het met die woorde: ‘'n Pragtige ding, nè?’ Inderdaad, teen die end van sy lewe het hy werklik die plan gehad om 'n reis na Japan te onderneem. Hy het so ver gegaan met sy voorneme dat hy selfs die stoomvaart-maatskappy 'n besoek gebring het om sy plek op die boot te bespreek. Tot sy grootste teleurstelling werd hom daar gesê, dat die boot vol was. Die reis is toe opgegee, en daar is nooit weer oor gepraat nie. Dit is vandag interessant om in bespieëling te neem in hoe verre Wenning se kuns beïnvloed sou geword het as hy in aanraking gekom het met die lewe van Japan en al sy voortreflike kuns-voortbringsels van baie eeue.
'n Mens kan sê, dat ek Wenning geken het gedurende die hele tydperk van sy skildersloopbaan, want ek het hom gesien werk aan die eerste skildery wat hy gedoen het na hy sy betrekking in 'n handelsbesigheid in Johannesburg laat vaar het en dit was in my eie ateljee wat hy vir die laaste maal die penseel ter hand geneem het. In die jare vóór ek hom geken het, het hy so los-weg geskilder en geëts, maar hoewel daar selfs toe al oorvloedige aanduidings was van die mooi werk wat so spoedig sou volg, is hy deur min mense aangemoedig en sy werke (wanneer hy so gelukkig was om een van die hand te sit) werd gekoop teen pryse wat ver, baie ver, onder hulle waarde was. Reeds in 1914, toe ons die gewoonte gehad het om ure saam deur te bring in my kamer in Victoria Mansions in Johannesburg het hy verlangend uitgesien na die dag wat hy al sy tyd aan skilder sou kon gee, maar dit was eers in 1916, 'n jaar na my terugkeer na die Kaap, dat ek daarin geslaag het om 'n half-dosyn mense, wat belanggestel het in Kuns, oor te haal 'n voldoende som te waarborg om hom in staat te stel sy onverdeelde aandag aan skilder te gee vir 'n tydperk van drie maande. Sy kragte sou op die proef gestel word, want hy het net tydelik sy besigheidsbetrekking op die Rand vaarwel gesê. Ek herinner my met hoeveel geesdrif hy hierdie verandering in sy lewe verwelkom het en as ek 'n blik terugwerp op sy kort kunstenaarsloopbaan kan ek nie help om te voel nie, dat, was dit nie vir die hulp aan hom gegee nie, dan sou hy ons waarskynlik nooit sulke skone en duursame kunswerke nagelaat het nie en dat sy naam, buite die klein kring van sy vriende en kennisse, vandag onbekend sou gewees het.
En so het dit gekom, dat Wenning een heerlike agtermiddag in die winter van 1916 op Soutrivier aangekom het, waar ek hom gaan ontmoet het. Ek het vir hom 'n groot hoë kamer gekry in die linker-vleuel van die historiese ‘Newlands House’ - net 'n paar honderd tree van waar ek gewoon het. Dit
| |
| |
was in hierdie huis, met sy ongeëwenaarde omgewing, waar al ons Kaapse Goewerneurs verblyf gehou het; maar nou het dit leeggestaan en Wenning sou die enigste bewoner word! In sy kamer het 'n eenvoudige veldkatel, 'n wastafel, 'n klein tafeltjie en 'n stoel gestaan, maar hy was opgetoë met sy omgewing. Net waar hy hom gedraai het, het hy ‘onderwerpe’ gesien en láát daardie aand, toe ek saam met hom loop van my huis af, waar hy altyd sou eet, het hy verruk bly staan by 'n hoë, pragtige eikeboom reg voor sy venster met sy kaal takke sag afgelyn teen die mistige lug. ‘A, dit moet ek môre teken!’ was sy uitroep en inderdaad, die hele tafereel was een om 'n kunstenaar se verbeelding vas te gryp. Twee dae later het hy regtig begin werk toe hy 'n pastel gemaak het (tans in besit van Mnr. E.R. Syfret) van die ou poort by ‘Fernwood’, daar naby. Nooit het ek kon dink, waar ek so na hom gestaan en kyk het, dat vyf jaar later, terwyl ek verby hierdie selfde plek geloop het, iemand (dit was Kottler, die beeldhouer) vir my die berig van sy dood sou bring nie.
Dit moet openlik erken word, dat Wenning se werk in hierdie tyd 'n sekere mate van ongelykheid verraai het, maar het 'n vermaarde Franse kritikus nie gesê: ‘Van tyd tot tyd daal genieë ver benede hulle peil nie: dis net die middelmatigheid wat op dieselfde hoogte bly’? Elke bevredigende studie wat van sy penseel gekom het moes betaal word met verskeie vrugtelose pogings. Nou en dan het skilderstukke geheimsinnig verdwyn.
‘O, ek het daar oorgeskilder’, het hy dan gesê. Dit was 'n baie nat en koue winter. Dag na dag was daar 'n vogtige, grou lug bo, terwyl die grond onder 'n mens se voete deurtrek was van die water. Met sy lang, grysbruin reënjas aan, het hy egter op alle ure van die dag hom na buite begewe, sonder ag te slaan op die ongunstige weersgesteldheid.
Hy het met koorsagtige ywer gewerk en party van sy skoonste stukke het hy gedurende hierdie tyd voortgebring. ‘Dit skeel my nie’, het hy altyd gesê as iemand hom gewaarsku het om nie urelank in sulke slegte weer te werk nie; want selfs toe was sy gesondheid gladnie van die beste nie. En hier kan ek daarby voeg, dat Wenning die eerste kunstenaar was om die bekoorlikheid van ons Kaapse landskappe in die winter, raak te sien. Die weelderige somer-groen het nie tot hom gespreek nie en die sonsondergang effekte, so gelief deur baie van ons skilders, het hy gehaat, omdat, was sy argument, minderwaardige kunstenaars dit vulgêr gemaak het. Hy was par excellence die skilder van landelike gesigte: die grandiose in die natuur het hom nooit aangetrek nie.
In die begin van Augustus het ons 'n klein tentoonstelling van sy skilderye gehou in my kamer in die stad. Dit was nie vir die publiek toeganklik nie en net vriende en kennisse was genooi. Die garandeerders was die eerste
| |
| |
om 'n besoek te bring; toe het ander kom kyk en op die end is byna al die stukke verkoop. Die proefneming het 'n volslae sukses geblyk en Wenning het na die Transvaal teruggekeer vaster as ooit in sy voorneme om in die toekoms skilder sy beroep te maak. Vir die teenwoordige was hy egter genoodsaak om sy ou werk by De Bussy in Johannesburg te hervat en dit was al laat in die jaar toe hy weer teruggekom het Kaap-toe. Hierdie keer het sekere vriende op die Rand hom geldelik gesteun. Die ruimte aan my toegestaan veroorloof geen uitvoerige vermelding van hierdie en latere besoeke aan die Kaap nie, maar hoewel hy altyd êrens in my nabyheid kom woon het en hy my altyd toegelaat het om elke skildery wat hy gemaak het te sien, kon die romantiese van daardie eerste besoek nie teruggeroep word nie. Ons het nie meer middernag deur die stil bos, met 'n lantern in die hand, van my huis na sy kamer geloop nie; en die pragtige ou eikeboom by ‘Newlands House’, wat ons so dikwels op kalm maanlig-aande bewonder het, was uit ons gesig verdwyn. Wenning het begin ‘populêr’ word. Vriende, deur nuuskierigheid gedryf - want hy was 'n belangwekkende persoonlikheid - het hom nou kom omring (dit is die lot van elke suksesvolle kunstenaar). Hierdie oplettendhede, wat hom gedurig verhinder het om sy volle aandag op sy werk te konsentreer, soos sy gewoonte was, het hom dikwels gekwel. Party van hierdie nuwe ‘vriende’, wat nooit 'n werk van hom gekoop het nie en nie veel liefde vir Kuns gehad het nie, het hom selfs oorreed om by hulle aan huis te kom bly en dit het natuurlik beteken, dat daar vir die tydperk 'n end was aan ernstige werk.
In April 1920 het hy vir die laaste maal na die Kaap teruggekom en hoewel sy gesondheid altyd maar onbevredigend was, het hy by sy aankoms daar goed uitgesien. Spoedig het egter 'n verandering ingetree. Dit was herfs, die jaargety waar hy altyd meeste van gehou het, en hy het alle pogings in die werk gestel om 'n seker aantal skilderstukke voor die end van die winter bymekaar te kry. Maar dit was voorbeskik dat hy nie weer sy gesondheid sou terugkry nie en niks was treuriger en pynliker om aan te sien as sy pogings, terwyl sy siekte toegeneem het, om sy werk buite te hervat soos te vore nie. Baie dae het hy, om sy eie uitdrukking te gebruik ‘so uitgeput’ gevoel, dat hy na my ateljee toegekom het en daar urelank, stil en terneergedruk, in 'n leuningstoel gesit het. Op ander tye, daar sy gesondheid nie langer onnodige inspanning toegelaat het nie, het hy verf en skilderdoek saamgebring en dan aan 'n stillewe begin. Hy was by die ‘Vineyard Hotel’ tuis en ons het mekaar baie gesien. In Junie het hy al sy werke aan 'n plaaslike kunshandelaar verkoop, en op 'n sekere middag, kort daarna, het hy (in-Tenant Road, Wynberg) 'n landskap geskilder wat sy laaste sou blyk. Maar nog het hy nie vir goed sy penseel neergelê nie, want een môre, 'n week later,
| |
| |
het hy nog 'n keer na my ateljee-toe gekom en besluit om 'n kopie te maak van 'n beroemde skilderstuk van twee dansers deur Degas. Die hele môre het hy toe met lus en ywer gewerk, die middag by my geëet en die skildery, wat hy aan my wou present gee, die agtermiddag afgemaak. En dit was die heel laaste stuk wat hy geskilder het. Op 19 Julie het hulle hom hospitaal-toe geneem en na enige dae is hy terug na sy huis toe, in Pretoria. Hier is hy 24 Januarie 1921, oorlede.
Dit is gesê, en daar is baie waarheid in, dat selfs van die mooiste skilderstukke geen beskrywing gegee kan word nie, want as 'n mens van die kleure, die komposiesie, die teken en die harmonie gepraat het, is die leser nog in die duister ten opsigte van sy werklike bekoring, daar selfs die werk van 'n matiggoeie skilder al hierdie hoedanighede kan besit sonder dat dit uitblink. Die reproduksies van Wenning se werke by hierdie artiekel sal lesers in staat stel om sy styl, sy keus van onderwerp en ook sy tegniek op hulle volste waarde te skat. Hy het homself nooit verskuil agter die bewering dat hy die Natuur geskilder het ‘soos hy dit gesien het’ nie, wat in hierdie tyd maar net 'n ekskuus is as die natuur, òf deur onbekwaamheid òf deur verdraaidheid, so afgryslik verwronge word, dat ons uitroep ‘Wat 'n wêreld leef ons in!’ As Wenning sy onderwerp uitgekies het, het hy nooit probeer om dit opnuut saam te stel of deur toevoegings te verfraai nie, maar het alleen daarna gestreef om dit skoonheid te verleen deur die uitoefening van sy kuns. So het die nederigste taferele, as dit eenmaal deur hom op die doek gebring was, so betekenisvol en bekoorlik geword, dat mense wat goed met die onderwerp bekend was, dikwels nie kon verstaan hoe die aantreklikheid daarvan hulle tot nog toe ontgaan het nie. Sy studies van stillewe oortref alles van die soort wat nog ooit in hierdie land beproef is en dit was vir hom altyd 'n genot om hulle te skilder. Maar ook hier was die voorwerpe wat hy gekies het altyd eenvoudig: van blomme het hy slegs nou en dan gebruik gemaak.
Sy koms was 'n bepaalde prikkel vir die Kuns in Suid-Afrika en hoewel hy nie lank genoeg geleef het om die volle beloning in te oes wat sy onbetwisbare gawes verdien het nie, tog is daar vandag duidelike blyke dat 'n gestadige en opregte waardering van sy Kuns aan die opgroei is onder alle ware kunsliefhebbers in Suid-Afrika.
D.C. BOONZAAIER.
|
|