| |
| |
| |
Selma Lagerlöf en Haar Kuns.
TUSSEN die ernstige woude van Wermland in Middel-Swede, Noord van die Wener-meer, waar Dalelf en Klarelf stroom, waar ou berge die Sagas en vertellings van lang-vervloë dae bewaar, waar vrolike bergstrome nie moeg word om van die vrolike dade en die lewenslus van Eheby se Kawaliers te vertel nie - daar in daardie wonderbare land, bloei 'n stille blom.
Sy bloei al sewentig jaar daar. Maar tog is sy nie verwelk nie. Met daardie blom gaan dit net soos met 'n sprokie wat nooit oud word nie. 'n Wonderblom. As 't ware uit 'n ander wêreld, 'n wêreld van paradysdrome, in die werklikheid van hierdie lewe oorgeplant. Sy het die suiwere blankheid van 'n krisant, die bloedwarm kleur van 'n angelier, die ope oog van 'n goue sonneblom. Haar rosegeure stuur sy die hele wêreld deur. Sy is vèr buitekant die grense van Wermland en Swede bekend. Tog is sy nederig, beskeie soos 'n veldlelie en by nadering en aanraking van buite trek haar siel hom terug soos die fyngevoelige mimosa.
Daardie blom is die wêreldberoemde skryfster: Selma Lagerlöf. - En dié wat haar ken, weet, dat ek nie teveel gesê het nie.
| |
I.
Ek het haar 'n stille blom genoem.. En wel om haar uiterlike lewe. Dit is nie 'n lewe wat stof sou oplewer vir 'n film nie - awonture soos die van die Kawaliers op Eheby kom daar nie in voor nie. Wat daar na die uiterlike gebeur in daardie lewe, is volstrek nie belangwekkend nie. Ek ontleen die volgende aan 'n uiknipsel uit die ‘Nieuwe Rotterdamsche Courant’, van 'n mooi artiekel deur Karin Michaelis by geleentheid van haar 70ste verjaarsdag:
‘Sewentig jaar - is dit nie die drumpel van die dood nie? Ja, vir almal van ons, wat verdwyn sonder dat daar selfs 'n spoor agterbly. Maar daar is nog ander onder ons, wie se lig nog eeuelank, soos die lig van sterre wat lankal ondergegaan en verdwyn het, die hele wêreld bestraal en verwarm.
Selma Lagerlöf is een van hulle.
As mens beteken Selma Lagerlöf eintlik wonderlik min vir ons. Sy het haar lewe in stilte deurgebring; 'n stilte soos ons maar baie selde vind, 'n stilte waarvan maar baie min mense, miskien niemand, die rede
| |
| |
weet nie. Het dit uit vrye wil geskied, uit angs vir die mense of uit behoefte aan vrede van 'n verhewe siel? Wie kan sê?
Daar is stellig duisende mans en vrouens in en buitekant Europa, wat myle ver sou reis en daelank sou wil reis om in die nabyheid van Selma Lagerlöf te kom, om haar te sien, om haar te hoor praat, te ontdek waarin haar mag wortel. Dit het 'n enkelde een miskien geluk om deur die stilte te dring wat haar omgewe; baie naby haar het egter ongetwyfeld maar baie min mense gekom, alleen dié wat aan haar verbind is deur bloedverwantskap of herinnerings uit haar kindertyd.’
Tot sover Michaelis.
Herinnerings uit haar kindertyd! Hoe dierbaar hierdie herinnerings vir haar is, blyk uit haar boek ‘Märbacka’. Die naam Märbacka is inderdaad baie nou met Selma Lagerlöf verbonde. Want dit is die naam van die landgoed, waar sy haar hele lewelank gewoon het, waar sy nou nog woon. 'n Foto van die woonhuis, soos dit vandag is, gee vir ons 'n breedgeboude huis te sien, met twee syvleuels en 'n groot, mooi veranda. Ag, watter herinnerings bêre hierdie huis, hierdie hele pragtige landgoed Märbacka nie!
Herinnerings uit 'n heerlike bly kinderlewe. Die blydskap woon in hierdie huis van lieflikheid en harmonie. Die blydskap wandel daar tussen die geheimsinnige bosse en langs die lang paaie onder lower-gewelwe. En dit lag uit honderde blomgesigte. Dit is hierdie blydskap, wat deur haar werke straal en lag. Sy het self oor haar kinderjare geskrywe in daardie boek, wat na die landgoed genoem is: Märbacka.
Daarin vertel sy hoe sy as kind die ongeluk gehad het om opeens lam te word. - Ja, dit het skielik gekom - somar opeens terwyl sy in die kamer gespeel het. Duidelik herinner sy haar die ontsettende angs wat toe oor haar gekom het. Die diensmeisie kom in, kry haar in trane en wanhoop en vra: ‘Wat makeer, Selma? Is jy siek?’ - ‘Ek kan nie meer loop nie, Bach-Kajsa’, snik die klein meisie. Toe het twee sterk arms haar opgetel, so maklik, asof sy 'n klein katjie was. ‘Nou moet jy nie meer huil nie, Selma, ek sal jou dra.’ Daarmee was al die klein meisie se kommer as 't ware weggeblaas - want dit konnie sleg gaan met iemand wat so'n pragtige, sterk vriend soos Bach-Kajsa gehad het nie.
Net so skielik as wat die kwaal ontstaan het, net so gou is Selma daarvan genees. Haar ouers het met haar na Göteborg gereis om die genesing te kry. Hierdie reis word geestig beskrywe, sowel die ondervindings op die skip ‘Uddeholm’ as in die winkel van die goudsmid in Göteborg. As klein Selma by die bekyk van 'n stoomboot wat aangekom het, verlore raak, roep hulle van alkante: Selma! Selma! Eindelik kry hulle haar, en as hulle haar dan verbaas vra: Hoe het jy hier gekom? dring dit tot haar bewussyn deur, dat sy
| |
| |
oor die dek geloop het, met die trappe afgegaan het, in die kajuit gegaan het en dat nie een haar gedra het nie.
‘Ag, watter saligheid was dit nie! Nou was die doel van die reis bereik, die kosbare onderneming was nie tevergeefs gewees nie!’
In Stockholm het sy haarself vir die onderwyserseksamen voorberei en dit was in haar laaste leerjaar dat sy haarself as skryfster ontdek het. Sy het 'n ingewing gekry. By een van die lesings is gepraat oor twee vaderlandse digters. ‘Langs die pad loop sy en dink, dat sy self ook wel kon skrywe en haar materiaal in net sulke mooi stof vind: haar geboortestreek en haar sagas.’ Sy wil, sy moet skryf! Dit was vir haar 'n groot blydskap, toe sy die berig ontvang dat haar eerste sonnette gepubliseer sou word.
Maar hierdie gedigte het gladnie 'n geweldige indruk gemaak nie. Sy word toe aangeraai om prosa te probeer. Haar eerste novelle, wat toe gevolg het, was ook nie juis 'n sukses nie. Hulle het die inhoud ‘goddelik’, maar die styl ‘afskuwelik’ gevind. In 1889 het daar 'n hoofstuk van ‘Gösta Berling’ gereed gelê. Sy moet dit oorspronklik (soos ek een keer gehoor het) as 'n gedig geskrywe het, maar later in ongebonde styl vir die pers gegee het. Dis heeltemal moontlik. want die styl van hierdie hele buitengewone boek, van hierdie eerste groot en tog al ryp werk van haar, is digterlike prosa vol musiek en sang.
Toe het die meesterwerke gevolg, die een na die ander. Van toe af het sy net vir haar werk gelewe en haar lewe sowel as haar werk het van toe af in stygende lyn gegaan.
Selma Lagerlöf het groot reise onderneem om haarself te orienteer; vir haar ‘Jerusalem’ het sy 'n pelgrimstog na die Heilige Land gemaak, en die betowering van die Ewige Stad ondergaan - - - van Rome.
Sy het nie in 'n tyd gelewe waarin 'n lewendige fantasie voldoende surrogaat was vir positiewe aardrykskundige en kultuurhistoriese kennis nie - in 'n tyd waarin Schiller sy ‘Tell’ en Victor Hugo sy ‘Orientales’ kon skrywe sonder daar - om so te sê - 'n voet voor te versit nie!
Selma Lagerlöf het die Nobelprys vir literatuur gekry en by die uitreiking daarvan, inplaas van die omskrewe redevoering te hou, 'n sprokie vertel. Dit teken haar! Verder is sy Doctor Honoris Causa, lid van die Sweedse Akademie en haar werke is in die tale van omtrent al die kultuurvolke - daar word 30 genoem - vertaal.
‘In die oord van haar selfgekose kluisenaarskap - die mooi-geleë en beroemde Märbacka, waar bewonderaars uit al die lande haar kom besoek - kyk Selma Lagerlöf in Olimpiese grootheid en Sokratiese gemoedsvrede terug op die sonnige lewensweg, wat sy afgelê het.’ -
| |
| |
Wie het invloed op ons skryfsters uitgeoefen? Ons kan hierdie vraag natuurlik net in soverre beantwoord as wat die invloed vir ons bekend is. Behalwe die sprokiesagtige, dromerige skoonheid van Swede, insonderheid van Wermland met sy ontelbare sagas, het Selma se ouers en veral ook haar Ouma invloed op haar gehad. Van laasgenoemde vertel Selma in haar Jeugherinnerings. Daaruit leer ons ook haar Vader ken. Hy was, net soos Selma se Oupa, 'n offisier in die leër. 'n Ondernemende man, wat gebruik gemaak het van moderne gedagtes en uitvindings om daardeur sy landgoed te verbeter, te verfraai, vrugbaar te maak; 'n man, wie se lewendige gees van humor getintel het. Ook was hy 'n groot kindervriend. Hoe lief moet Selma daardie Vader nie gehad het nie! Van haar moeder vertel sy ons maar min. Die bietjie is egter vir ons genoeg om haar te leer ken as 'n vrou wat haar man deur en deur geken het, begaaf met tak en eg-vroulike intuïesie, wat sterker en geseënder geblyk het as die redenerende verstand van knap raadgewers. Hierdie indruk het ek gekry, toe ek die volgende in Jeugherinnerings lees. Dit kom in kort hierop neer: Selma se vader was van plan om 'n nuwe stal te bou en dit het gelyk of niks hom van daardie plan kon afbring nie. Hy sou dit daar bou, waar die gelyk akkers lê onder aan die sandheuwels, waar die ander geboue van Märbacka ook staan. So begin hulle dan grawe en die fondament te lê. Die bodem was vas en die grondklippe het op hulle plek gebly. Dit het voorspoedig gegaan solank hulle aan die Ooskant gebou het, maar toe hulle aan die Weskant begin bou, kom die groot teleurstelling. Die grond was daar sag, g'n klip het daar bly lê nie. Alles sak ondertoe weg. Hulle begin opnuut en spoedig is daar 'n breë klip-dam, waarop hulle verder sal kan bou. Maar toe kom die reënstrome en spoel die dam weg. Na 'n paar dae was daarvan niks meer oor nie. Ook nuwe pogings, wat 'n paar jaar later onderneem is, het
sonder resultaat gebly.
Toe het die groot moedeloosheid oor die flukse eienaar van Märbacka gekom, en dit is nog vererger deurdat al die deskundiges hom aangeraai het om maar die bou te laat staan. Dit sou maar net tyd-, krag- en geld-mors wees.
Toe hy by die huis kom na 'n ontmoedigende onderhoud, het hy diep ongelukkig gevoel. Vroeër, toe hy sy vrou gehaal en besit geneem het van Märbacka, het hy homself vir 'n uitverkore gelukskind beskou.
Mevr. Lagerlöf het op haar gewone plek gesit, besig met naaldwerk. Sy het geweet hoekom haar man so ontstem is. ‘Wil jy nie bed-toe gaan nie?’ vra hy. En 'n mens kon aan die klank van sy stem hoor hoe geprikkel en ontstem hy is. ‘Dis my mening,’ antwoord sy vrou sag, ‘dat jy moet deurdruk met die bou tot die end toe - - -’
| |
| |
Dit verstaan hy gladnie! ‘Wat sê jy?’ - ‘Dat jy moet deurdruk met die bou.’ Sy het goed geweet, dat dit miskien verstandiger sou wees om die bou te laat staan, maar dit sou hy hom te veel aantrek. (Zu sehr zu Herzen nehmen). - Ander mense kon dit nie verstaan nie, maar sy, sy vrou, wel. Vir haar was dit net so maklik om in die hart van die man, wat sy lief gehad het, te lees, as om 'n boek te lees. Toe word dit lig in sy hart. As sy dieselfde wil as hy, dan is daar g'n moeilikhede meer nie. En die bou het geluk.
Sal so'n liefhebbende, fyngevoelige vrou ook nie vir Selma 'n énige moeder gewees het nie? -
En dan: haar Ouma! Aan haar word 'n afsonderlike opstel gewy. Tog word daar feitlik niks ander gesê, as dat sy gesterf het nie en dat Selma haar dood, ag so diep gevoel het, want saam met haar is al die heerlike vertellings begrawe.’
Die klein kindertjies het van niks anders geweet nie, as dat sy van die môre tot die aand saam met hulle gesing het en vir hulle vertel het en dat hulle by haar gesit en geluister het. Dit was wondermooi gewees. ‘G'n ander kind het dit so goed gehad as sy nie.’ En - Ouma het self elke woord geglo, wat sy vertel het. As sy iets baie merkwaardigs meegedeel het, het sy altyd diep in die kinders se oë gekyk en op haar mees-oortuigende toon gesê: Dit is alles net so waar as wat ek julle sien en julle my sien.’ Ag, toe kom die dag, dat hulle die sprokies en liedere van die werf af weggevoer het, in 'n lang, swart doodkis ingepak, en hulle het nooit weer teruggekom nie. Dit was, asof die deur van 'n mooi towerwêreld gesluit is, waar hulle tevore vry uit en in kon gaan. En daar was nie een, wat weer die deur oop kon gemaak het nie. Maar nee, die ou vertellings en liedere was nie verlore nie. Selma het hulle in haar hart bewaar, soos skatte, wat sy nie kon verloor nie. En sonder hulle sou ons seker baie skoons in haar boeke moet mis.
| |
II.
Haar kuns.
Daar is niks makliker as om te rubriseer nie - en niks so fataal nie. Met letterkundige strominge gaan dit net soos met godsdienstige, kerklike rigtings. Ons maak daarmee net soos met 'n pakket, wat ons wil laat pos.
Ons pak in, bind 'n lyn daarom, plak die etiket met die inhoud, die naam en die adres daarop - klaar is ons! Ons is al net handig met inpak en etiketteer. Ons klassifiseer en rubriseer. Ons weet nou presies of iemand modern of ortodoks is; in Holland of hy Gereformeerd of Ultra-Gereformeerd
| |
| |
of Konfessioneel of Eties is. En dan is ons klaar - óf met ons toejuiging óf met ons verwerping. Hoe minder 'n mens 'n kopie, 'n afdruk, of, ja hoe sal ons dit noem, 'n stuk maak-werk uit 'n klerewinkel is, - hoe origineler 'n mens is, des te moeiliker is dit om hom te rubriseer. Veral genie kan so heerlik daarmee spot! Al die rigtings, al die partye wil hom by hulle inlyf. En net soos Simson dryf hy die spot met dit alles en staan hy vir ons en uitlag, met die poort van Gasa op sy skouers. Die mens wat origineel is is nie 'n kanaal: deugsaam, reglynig, ewewydig, sonder foute nie. - Maar hy is 'n stroom, wat die rotse stukkend breek en sy eie weg baan, sonder homself te steur aan ons konwensionele beddings, waarin ons hom wil vang. Daarom is dit onmoonltik om Selma Lagerlöf te rubriseer. En dit bewys haar grootheid. Haar kuns is net soos syself: groot in haar eenvoud, eenvoudig in haar grootheid. En verbasend gekompliseerd. Presies nes daardie lewende, heerlikbruisende bergrivier. Is sy ortodoks of modern? Hierdie vraag kan gestel word uit 'n kerklike oogpunt, maar ook uit 'n oogpunt van kuns. Dit blyk, dat sy nie een van twee is nie, òf, as U wil, altwee gelyk: net so ortodoks as modern.
Die geloof van die ortodokse boere uit Dalicardië is haar geloof, tenminste in gees en hoofsaak.
En sy is modern genoeg om in 'n sprokie 'n waarheid Gods te belewe. Ruim genoeg van gees om Gods openbaring nie te beperk tot historiese feite nie, maar om Sy stem te beluister in sagas, waarmee elke geskiedenis aanvang.
En wat haar kuns as sodanig betref: Sy is ouerwets genoem. En tog is sy een van die beroemdste, mees gelese skryfsters van hierdie moderne tyd van ons. Waarby behoort sy nou: tot die verlede òf tot die hede? En hoe sal dit in die toekoms wees, in die toekoms wat homself partymaal diametraal teenoor die oordeel van die hede stel? Dis gewaag om voorspellings te maak, maar dis my vaste oortuiging, dat in hierdie artieste, hierdie begenadigde kunstenares iets van daardie ewigheidselement aanwesig is, wat vir ons verseker dat sy ook in die toekoms luisterende ore, verwonderde oë en ope harte sal vind. Sy behoort aan alle tye, omdat sy bowe-tydelik is. Die een wat weet hoe om die eg-menslike te tref, sal dit altyd en orals doen. Daar is baie dinge, wat lyk of hulle by haar verbygaan. Ons soek in haar kuns (al is sy ryk aan tragiek) tevergeefs na wat ons tog orals elders as 'n kenmerk van ons tyd vind: 'n pessimisme wat veral na-oorlogs is. - Vergelyk haar landgenoot Ibsen met haar - en U sal verstaan wat ek bedoel. En tog is sy die hoogvereerde, beminde skryfster, wat nie gerubriseer kan word onder die outeurs van ná 1880 nie en ook nie by die jongeres met hulle gemeenskapskuns en sterk sosiale tendense nie.
| |
| |
Dit lyk of sy heeltemal vreemd is aan die bewegings van ons tyd, waarin die boeke van Dostojewsky, met al hulle misère tragiek van die menslike siel geboei deur sonde en misdaad, verslind word.
Sy is soos die son, wat altyd van betekenis is. Sy laat haar lig skyn. Sy is die een wat sy is: die lewensblye, wat in haar groot, sterk liefde saamleef en saamly, en altyd 'n hoopvolle lig laat glans.
Dit spreek van self, dat dit nie maklik is om haar kuns met 'n bepaalde naam te karakteriseer nie.
Is haar kuns realisties? Sy kan dinge so realisties beskrywe as 'n Felix Timmermans in sy Pallieter, daardie boek vol lewenswarmte, wat ons buitekant-toe lok, weg van ons gesukkel en swaarwigtige vraagstukke. Realistiese kuns gee ‘un coin de nature vu à travers d'un tempérament’, na die woord van Zola. ‘En dit is juis daardie temperament, die breë en sterke persoonlikheid van die kunstenaar, wat aan die eenvoudige lewe, wat hy beskrywe, so'n wonderlike bekoring gee, dat daar iets van bly hang oor al ons daaglikse dade.’
Tonelle, 'n Franse krietikus, het eenmaal gesê, dat 'n kunstenaar nie die natuur sien ‘comme elle est’, nie maar ‘comme il est’ (nie soos dit is nie, maar soos hy is).
En dit is nie alleen van toepassing op literêre kuns nie, maar op alle kuns. Die skildery moet dus nie 'n kopie wees nie, maar 'n weergawe uit die kunstenaar se siel. Hierdie realisme vind ek by haar op enkelde bladsye soos b.v. in die eerste hoofstuk van haar boek ‘Jerusalem’. Ek moet myself beperk en neem dus net 'n klein stukkie daarvan oor. Dis 'n tekening van 'n jong boer agter sy ploeg. Daar is 'n duidelike voorbeeld van realisme in die genoemde sin, waarby 'n mens die fris warmte, die blydskap en die lig van 'n somermôre proe: ‘Daar het 'n jong man sy akker op 'n somermôre gaan ploeg. Die son het warm geskyn, die gras was nat van die dou en die lug was so fris, dat dit nie in woorde gesê kan word nie. Die perde was heeltemal wild van die môrelug en het die ploeg getrek asof dit 'n stuk speelgoed was. Hulle het heeltemal 'n ander draf gehad as gewoonlik; die man agter die ploeg moes vinnig loop om by te bly.
‘Die omgeploegde grond het swart-bruin en blink van vogtigheid en vrugbaarheid daar gelê, en hy wat geploeg het, was bly met die vooruitsig dat hy sy rog sou kan saai. Hy het by homself gedink: Hoe kan dit nou tog wees dat ek myself partykeer so oor dinge bekommer en meen dat dit so swaar is om te lewe? Het 'n mens iets meer nodig as sonneskyn en goeie weer om so gelukkig te wees as 'n kind van God in die hemel?’
Is dit 'n kopie of 'n reproduksie? Dit is die werklikheid plus die mymering van haar eie siel, - die natuur, nie soos dit is nie, maar soos die kun- | |
| |
stenares is, uit haar siel geobjektiveer. Die realisme van hierdie paar reëls laat ons verstaan (waar ook hier 'n mistieke lig sigbaar is), hoe maklik by haar die oorgang ontstaan van realisme na mistieke realisme en vandaar na die romantiese. En as ons haar kuns wil karakteriseer volgens, 'n totaal-indruk van haar kunswerke, dan is ek van mening, dat dit oorwegend romanties is. Veral in haar ‘Gösta Berling’, 'n kompleks van sagas, van awonture waarin die menslike hart so vurig, partymaal so besonder teer en innig klop maar ook in haar korter vertellings, soos in ‘Kristuslegendes’ en in ‘Koninginne van Kungahälla.’ - Die gewone lewe is daar geïdealiseer of mistiek verinnig. Nou laat dit ons dink aan 'n Rembrandt, dan weer aan 'n doek van Jozef Israëls.
Haar styl word gekenmerk deur iets baie origineels. Sy hou van vertel. G'n wonder, dat dit vir ons gaan asof ons die ou Grootmoeder self hoor met haar verstilde stem vol geheimnis. Daar is dan ook 'n groot rus in haar styl. Maar sy kan ook in groot krag losbreek. Dan glans en skitter haar sterkgespanne gees in kort sinne vol plastiese, beeldende krag. Só is dit, waar sy ons in ‘Onsigbare Kettings’ in 'n byeenkoms van die Heilsleër (Salvation Army) binnelei: ‘Sing saam’, roep die heilsoldate. ‘Sing saam! Dit is goed om te sing!’ Hulle hef 'n bekende wysie aan. Hulle tokkel op die ghitaars en herhaal al maar weer dieselfde versie. Nou en dan kry hulle een van die wat naaste by hulle sit aan die sing. Maar nou klink daar 'n ligsinnige straatdeuntjie van 'n groep by die deur. Tone stry teen tone, woorde teen woorde, die ghitaars teen fluitjies. Die sterk, geoefende vrouensstemme stry teen die hees falsette van die seuns, teen die brommnde basstemme van die mans. Toe die straatliedjie amper baasgeraak is, begin die mense by die deur te stamp en te sis. Die lied van die heilsoldate beswyk soos 'n gekweste reus. Dit is 'n vreeslike spektakel. Die vrouens val op hulle knieë. Hulle lê daar magteloos met toe oë heen en weer te wieg nes in stille pyn. Die spektakel sterf weg. Op die oomblik begin die heilsoldate te bid: ‘Here, al hierdie mense sal U Uwe maak. Here, ons dank U, dat U almal van hulle by U leër wil inlyf. Ons dank U, dat U hulle tot U wil bring.’
Die volksmassa sis, skreeu en boe. Dit is net asof skerp messe al daardie kele bedreig. Dit is net asof daardie mense bang is dat hulle oorwin sal word, asof hulle vergeet dat hulle vrywillig gekom het.
Maar die vrouens hou aan en dis hulle skerpsnydende stemme wat oorwin. 'n Mens moet hulle wel hoor. ‘Julle maak lawaai en skreeu. Die ou slang in julle wring homself in bogte en raas. Maar dit is juis die teken. Geseën is die bewegings van die ou slang. Hulle bewys dat hy voel, dat hy gekwes is, dat hy bang is. Lag maar vir ons. Slaan maar ons ruite stukkend. Jaag ons maar van die platform af. Môre is julle van ons mense. Ons sal die
| |
| |
aarde oorwen. Hoe sal julle ons kan weerstaan? Hoe kan julle God weerstaan?’ -
Dis g'n wonder dat hierdie gees wat tintel van lewe, ook vol humor is nie. Ek dink aan bladsye uit ‘Märbacka’, aan daardie geestige hoofstuk: ‘In die Poswa’ uit ‘Charlotte Löwenskild’, die boek wat verlede jaar verskyn het en wat eintlik een geheel vorm met ‘Anna Svärd’, onlangs van haar verskyn.
Ek dink aan bladsye uit ‘Jerusalem’.
Daar beskrywe sy vir ons die vergaan van die Franse passasierstoomboot ‘l'Univers’. Temidde van die mees ontsettende, afgryslikste tonele gevolg van paniek - teken sy vir ons die grappige Miss Hogg, 'n figuur, wat aan Dickens ontleen kan wees.
'n Paar minute na die boot aangevaar is deur 'n groot seilskip, wat met sy boeg in die stoomboot se romp in die middelskip vasgesit het, kom sy boontoe uit 'n 1ste klas hut.
Dit is 'n klein ou dame met grys, kroes hare, ronde, uil-oë en rooigespikkelde gelaatskleur. Sy ken elke passasier en elkeen ken haar. Almal weet, dat haar naam Miss Hogg is. Sy het vir die bemanning sowel as vir die passasiers vertel dat sy nooit bang is nie. 'n Mens moet tog eenmaal doodgaan; wat maak dit dus, of dit vroeër of later is? Nou is sy ook nie bang nie; na die skok het sy op die dek gegaan om te kyk of daar nie iets interessants te sien is nie. Maar nouliks is Miss Hogg 'n oomblik op die dek of in digte dromme kom 3de en 4de klas passasiers boontoe gestorm. Toe die verwarring nou al groter word en Miss Hogg begin te sien dat daar regtig gevaar dreig, sluip sy na die boonste dek, waar 'n paar reddingsbote hang.
Daar is g'n mens nie en onopgemerk klouter Miss Hogg oor die verskansing in een van die bote, wat aan toue bo die duiselingwekkende diepte hang. Sy wens haarself geluk oor sy so slim is. Dit is nou regtig goed jou positiewe bymekaar hou. Op die dek onder haar is dit 'n geskreeu en lawaai, 'n vegtery om in die bote te kom. Rewolwerskote, wanhoopskrete. Vreeslik! Miss Hogg sit daar en sien, hoe die een boot na die ander wegroei. Die bote langs haar word ook neergelaat. Deur toeval raak egter niemand aan die boot, waar sy in sit nie.
‘Goddank, hulle laat my boot hang tot die ergste verby is,’ dink sy. Eindelik kom die oomblik dat alles stil word. ‘Nou begin dit darem tyd word, dat hulle my boot neerlaat,’ dink Miss Hogg. Sy is gladnie bang nie, sy sit daar stil en rustig tot op die laaste, tot die stoomboot an een kant toe gaan oorhel. Toe eers word dit vir Miss Hogg almeer duidelik dat L'Univers op die punt is om te sink en dat hulle haar boot vergeet het.
In die golwe worstel tientalle ongelukkiges. Onder hulle is 'n Amerikaanse
| |
| |
WENNING.
KAFFERMEIDJIE.
(In die besit van Mnr. L. te Groen, Pretoria.)
| |
| |
dame. Net as sy vir die derde maal uit die water bo-kom en haar klaarmaak om te sterf, word sy in 'n klein bootjie opgetrek, waarin nòg drie mense sit: een groot, sterk matroos, een klein seuntjie, nat van die trane, en - - - U sal dit nooit raai nie: 'n ou dame met ronde uiloë.’ -
Nog een staaltjie van humor, wat ek nie kan nalaat om vir U te gee nie (Uit: Märbacka: Jeugherinnerings).
Om rede van besondere verdienste moet die predikant 'n eremedalje uitreik aan 'n ou boer. Die plegtigheid moet tuis plaasvind, omdat die betrokke persoon siek is.
Na hy 'n gedeelte uit die Bybel gelees het, begin die predikant sy toespraak, terwyl Klein-Bengt baie stil en plegtig lê en luister.
‘Jy, Bengt’ - aldus die predikant - ‘is so'n goeie en getroue dienskneg gewees, as wat die Here Jesus oor spreek.’ ‘Ja,’ sê Klein-Bengt uit die bed uit, - ‘ja, dit kan regtig gesê word. Dit is ek seker gewees.’ ‘Jy het jou eie belange nie bo jou heer s'n gestel nie en jy het gewaak oor wat jou toevertrou was.’ ‘Ja,’ sê Klein-Bengt, ‘dit is bepaald so. Ek dank meneer die predikant oor hy dit sê.’
So gaan dit aan, tot die predikant vererg hom vermaan:
‘Jy moet stil bly as ek praat, Bengt.’
‘Ja, seker, dit weet ek’ - stem die ou man in. ‘Ek spreek Meneer die predikant mos nie teë nie. Dis ook alles waar, wat Meneer die predikant sê.’ - ‘Bengt, jy het ook 'n goeie heer gehad.’ - ‘Ek sou so dink, liewe Meneer die predikant, ek sou so dink.’ - Die ou kêrel was só gelukkig daaroor, dat hy nie kon swyg nie. - Die hele man het gestraal.
Na nog 'n vergeefse poging moes die predikant eindelik maar ophou. ‘Ek sal jou my toespraak skenk, Bengt, hier is die medalje.’
Onder die middagmaal was die predikant in gedagte. ‘Dit het my nog nooit oorgekom dat ek bly steek het nie.’ sê hy - ‘maar 'n mens moet nou eenmaal alles deurmaak.’
Een van die dinge wat die lektuur van 'n boek van Selma Lagerlöf so buitengewoon interessant maak, is die verrassende. Altyd, altyd loop die weë anders as wat ons vir ons voorstel. As ons by onsself oortuig is: só sal dit nou afloop, dan draai sy opeens heeltemal in 'n ander rigting en dis net of sy dan sê: dit het jy seker nie verwag nie! Nee, ons het dit ook nie kan dink nie. So dink ons stellig dat daardie beklaenswaardige koning, vir wie die lewe grou, eentonig en somber is, seker sy koningin sal kry, die bruid wat hom belowe is. Maar die koningin sit gevang in 'n toring in Ragnhildsholm. Hy het haar nooit gesien nie. Ag! hoe verlang hierdie koning van die droefgeestigheid, wat altyd in newels lewe, na vuurrooi en felswart met goudglans daaroor. - Hy is op pad om sy bruid te haal en is nou al naby die toring
| |
| |
waar sy woon. Maar hoe somber swaar en drukkend staan die toring daar! As hy nou aan sy koningin dink wat daar opgegroei is, dan meen hy dat sy na 'n grof, uit steen gehoue, beeld moet lyk soos wat hy eenmaal bo 'n kerkdeur gesien het. Hy kan hom haar nie anders voorstel nie as 'n grys gestalte, met 'n lang, ovale, onbeweeglike gesig en 'n plat lyf, en met hande en voete wat tweemaal so lank en breed is as gewone mense s'n.
‘Maar dit is nou eenmaal my lot,’ dink die koning en ry verder.
En hy kom só naby die veerpont dat die wagte aan die anderkant die horing aan hulle lippe sit om sy aankoms te meld. En die brug word neergelaat en die groot poort in die toring gaan vir hom oop.
Maar toe lig die koning sy hoof op en hou sy perd in. ‘Ek is tog 'n koning,’ sê hy, ‘en niemand kan my dwing om iets te doen wat ek nie wil nie. Niemand ter wêreld kan my sover bring om daardie stene beeld te ontmoet nie. Ek kan daar tog darem 'n bietjie plesier van hê dat ek koning is.’ En hy draai sy perd om en ry weer terug met dieselfde pad wat hy gekom het. -
En die koningin moes bly sit in die grys toring en treur en verlang. En sy het sagte wange en rooi, bloeiende lippe gehad, en golwende, pikswart hare met goud deurwerk. Sy het 'n stem gehad so helder as musiek en 'n klinkende silwer-lag.’ (Uit: Koniginne van Kungahälla.)
Dit kan ons ook van die skryfster sê: 'n stem soos musiek en 'n silwerlag wat opklink uit 'n volle en ryke gemoedslewe. Sy is op en top vrou en gebore digteres.
Dor beskrywings, betoënde trant is by haar nie te kry nie. Sy is 'n fontein van borrelende lewe. Dit fonkel en sprankel, dans en lag, of dit kla sag in haar soos 'n skreiende kind.
Maar 'n diepe gevoel voel alles! Veral kom dit uit in haar eerste en seker een van haar grootste werke: ‘Gösta Berling’, waarin sy haarself so ten volle gee. Dan moet sy haar vertelling onderbreek en reguit uit haar siel sing; dan ontstaan daardie pragtige stukke lieriek, waarmee sy haar verhaal eindig en 'n nuwe hoofstuk inlei.
As sy hoofstuk III geëindig het met die kort, veelbetekenende uitroep: ‘Ag, Gösta Berling’, sterkste en swakste onder die mense!’ dan begin sy die volgende een in hierdie bloeiende liriek: ‘Strydros, strydros! Arme ou ros wat daar in die weiveld staan, aan 'n lyn vasgebind. Onthou jy nog jou jong dae? Onthou jy nog die dag van die stryd? Jy het vooruitgespring asof vleuels jou gedra het, jou maanhare het om jou heen gegolf soos flikkerende vlamme; bloed en skuim het op jou swart bors geglinster. In jou met goud versierde tuig het jy vorentoe gevlie. Die veld het gedreun onder jou hoewe. Jy het van vreugde getril, moedige dier! Ag, hoe skoon was jy!’ Hierdie strydros is die simboliese voorstelling van die nou oudgeworde kawaliers.
| |
| |
Daarom: ‘Sny die snare deur! Breek die strykstok. Waarom speel hy daardie vervloekte dans? Waarom speel hy dit tog, nou Orneclou, die Vaandrig, in dié bed lê met jig, só styf, dat hy hom nie kan roer nie? O, ruk die viool uit sy hand uit en gooi dit teen die muur, as hy nie ophou nie!’
Haar fantasie is so ryk, opgebloei uit 'n hart wat wyd oopstaan vir die ryke menselewe met sy jubel en sy klag, sy hoogtes en sy dieptes.
Sy dramatiseer en konkretiseer en personifieer. En abstrakte dinge word vanself simbole vol menslikheid.
Ons vind dit ook (as ek dit net gou tussen hakies mag opmerk) by Dr. Ulfers in sy beroemde ‘Oostloorn’ (die Angs, die Droogte loop, handel, dink soos mense) en daar is ongetwyfeld invloed van hierdie skrywer op Selma Lagerlöf aan te wys.
Watter fyn opmerkings vind ons by Selma Lagerlöf, van daardie kernwoorde, wat ons aantekenings van maak, wat bly hang en woning maak in die skatkamers van ons hart.
Bv. ‘Die Sonneskyn is soos die liefde. Wie weet nie, hoeweel ellende dit bring nie - en wie kan nalaat om dit te vergewe?’ - Die sonneskyn is soos Gösta Berling - hy bring vreugde vir almal, daarom swyg almal oor die kwaad wat hy doen.’
Vir ons predikante is dit daarom so besonder verrykend om Selma Lagerlöf te lees en te herlees. Dis beter om een van haar boeke tienmaal te lees as tien twederangsboeke. Sy gee ons soveel gedagtes, beelde, verhale vol diepe sin. Hoe armsalig, onbruikbaar is al die kompendiums van onwaarskynlike, onbeduidende verhaaltjies wat pers-toe gaan om ons te help om op 'n maklike (d.i. sondige) manier ons preke op te sier. - Daar behoort 'n kerklike indeks te wees wat sulke uitgawes verbied. Uitgawes van dergelike prulle moet ons as 'n belediging voel. Ure en ure met Selma Lagerlöf te verkeer is om jou hart en lewe te verryk.
Ons kan so ontsaglik veel van haar leer. Sy laat ons elke keer weer voel, hoe die Kristelike geloof ook lewe is en te ryk is om opgesluit te word in kerklike dogmas. Om waaragtig te lewe is nie om te kanaliseer nie. Sy laat ons verstaan, hoe min ons met moraliseer bereik. Ja, ek vind ons hele moraal in die woord van daardie flukse boer Ingmar Ingmarsen uit ‘Jerusalem’: ‘Ons moet die weë van God gaan.’ - En om die mense daartoe te bring, help g'n bloedarmoedige sedeprekie, waarin ons met heftige woorde teen bioskoop of toneel of drank of dans tekere gaan nie, maar alleen die son, wat oor die moeilike paaie skyn: woestynpaaie, moeraspaaie van die menslike lewe. Jesus Kristus is daardie son. Hy is die stralende geluk, die son, wat ons harte verwarm en tot God bring en na Sy weë lok. Die predikant-fanatikus, wat wel die krag van die Wet ken en die donderslae van
| |
| |
Sinaï probeer imiteer, kom by haar sleg daarvan af. Sy laat ons voel, hoe hy niks is nie, as hy die een onmisbare ding mis: die groot, begrypende liefde. Jesus kontra Fariseërs en Oorpriesters. En ook: die minste in die Koninkryk is meer as hy.
Is dit nie wat ons in die predikant van ‘Brand’, van Ibsen, mis by al die grootse en indrukwekkende van sy persoonlikheid nie - wat te laat insien dat: ‘Jesus langs hom verby gegly het soos 'n half-vergete woord?’ Is dit nie die groot-menslike liefde wat Karl Arthur Ekenstedt mis nie, en daardeur wel vrees wek maar die harte win nie?
Van daardie liefde is Selma se hart, is al haar boeke vol. En sy wys ons wat daardie liefde vermag.
Met 'n voorbeeld hiervan wil ek eindig, hoewel ek nog soveel meer gehad het om te sê oor hierdie kunstenares met haar buitengewoon veelsydige gees.
Onder die trap na die galery in die kerk van Svartsjö is 'n kis weggebêre. G'n sterweling mog 'n oog daarin slaan nie. Op die koperplaat van die kis staan 'n opskrif: Labor vincit omnia (Arbeid oorwin alles). Maar 'n ander opskrif sou beter gepas het. - Daar moes gestaan het: Amor vincit omnia (Liefde oorwin alles).
Die heerlike gode wat op bedde van wolke van die Olimpus gerus het, is dood. Al die gode is dood, behalwe Eros. Eros, die liefde, wat alles beheers. Alles wat ons sien, is sy werk. Hy hou die geslagte in stand. Hy woon in die harte van die Mense en in die kiemende saadkorrel.
Voel hoe sy hartslag tril in die dooie dinge en bewe! - Wat is daar op aarde wat nie 'n verlange na hom voel en sy lokstem hoor nie? Niks ontkom aan sy mag nie. Al die ou wraakgode sal val, al die krag en geweld sal verbygaan.
Maar Voorwaar! Jy, o Liefde, is ewig!
Ou Eberhard sit by sy skryftafel. Hy werk fluks en ywerig, alleen bo in die kawaliersvleuel. Sy rug is krom, al is hy net skaars sestig jaar, sy voorhoof gegroef, sy oë ingesink. Die dood sal hom soveel te eerder van die skryftafel af weghaal, omdat hy gedurende sy lewe hom nie daarvan laat weglok het nie.
Oom Eberhard trek 'n dik streep onder sy laaste reël. Uit die ontelbare laaie van sy skryftafel haal hy die geelgeworde gekreukelde velle te voorskyn, al die ongelyk dele van sy groot werk, daardie werk wat die naam van Eberhard Berggren deur die tye heen sal dra. Maar juis toe hy die een pak op die ander gestapel het en in stille verrukking daarop sit te staar, gaan die deur oop en die jong gravin tree binne, vir wie waldhoring en viool op Eheby klink. Sy kom sag binne. Oom Eberhard gaan haar plegtig tegemoet en voer haar na die groot stapel papiere. Nou sal die groot werk die wêreld
| |
| |
ingaan. Die ou Jehowa van Sinaï sal uit Sy heiligdom neergehaal word. Nou sal dit vir almal duidelik word wie Hy is! Inbeelding! Leegte! Damp! Die doodgebore kind van ons eie arme harsings! Hy sal in die niet versink! Hier staan dit en as die mense dit lees, moet hulle dit glo.
‘Ag, Oom Eberhard,’ sê die jong gravin met 'n ligte rilling, ‘is daar so'n verskriklike mens? Staan daar sulke vreeslike dinge in daardie boek?’ - ‘Vreeslik?’ herhaal die ou man, - ‘dit is immers die waarheid!’ Jehowa sal sterf!’
‘En wie sal dan die wêreld bestuur?’
‘Niemand het die wêreld bestuur nie.’
‘Maar wat sal daar dan van ons, arme mense, word?’
‘Wat ons gewees is, stof - - opflam en uitgeblus word, dit is die lewe.’
‘Ag, Eberhard, is daar dan g'n lewe hierna nie?’
‘Nee.’
‘G'n goed, g'n kwaad, g'n hoop, g'n doel nie?’
‘Niks. - Arbeid, die enigste ding wat die moeite van die lewe wêrd is.’
‘Ag, Eberhard’, sê sy - ‘wat is arbeid? Is dit 'n God? - Noem iets anders.’
‘Ek weet niks anders nie.’
‘Oom Eberhard, waarom noem U nie liefde nie?’
Maar Oom Eberhard het die god van die liefde ook verbrand. Wat is liefde anders as 'n drang van die liggaam?
‘Dit kannie waar wees nie, Oom Eberhard. U woorde het my siel gewond, maar ek glo hulle nog nie.’
En dan eindig die skryfster, waarmee ek ook besluit:
‘Daardie ou papiere met godslasterlike skrif bedek, is nog nie die wêreld ingegaan nie. Oom Eberhard se naam het nog nie deur die wêreld geklink nie. Sy groot werk lê goed bewaar in die kis onder die galery-trappe van Svartsjö se kerk en sal eers aan die end van hierdie eeu die lig sien.
Maar waarom het hy dit gedoen? Het hy gevrees vir die krag van sy bewyse? Was hy bang vir vervolging? Ag, hoe sleg ken julle vir Oom Eberhard....
Verstaan dit nou goed! Hy het die waarheid liefgehad, nie sy eie eer nie! En daarom het hy die laaste en nie die eerste opgeoffer nie, sodat 'n kind, wat hy as 'n Vader liefgehad het, sou kan sterwe in die geloof aan wat vir haar heilig was!
O Liefde, jy is ewig!
G.E. ALERS.
|
|