| |
| |
| |
Letterkundige Kritiek.
DIT is Ruskin wat gesê het dat dit die taak is van alle goeie kritiek om verdienstelike skrywers onder die aandag van die publiek te bring en swak skrywers te verhinder om die publieke aandag in beslag te neem. Daarom is dit ironies dat Ruskin self nie by magte gewees het om die werk van Whistler, wat vandag erken word as een van die wêreld se grootste skilders, te kan waardeer nie. ‘I have seen and heard much’ - so het hy in 1877 in 'n koerantartiekel geskryf na aanleiding van twee in Londen tentoongestelde skilderstukke van Whistler - ‘of the Londoner's impudence before now, but never expected to hear a cockscomb ask two hundred guineas for flinging a pot of paint in the public's face.’
Natuurlik het geld hoegenaamd geen betrekking op die estetiese waarde van 'n kunswerk nie, maar dit is interessant om te weet dat dieselfde kunswerke wat Ruskin so afgekam het, later aangekoop is vir tienmaal die som wat die skilder self gevra het en vandag 'n plek beklee in die Britse Nasionale Kunsgalery.
Herhaaldelik het dit reeds geblyk dat 'n goeie krietikus dikwels in gebreke bly om die werk van 'n tydgenoot, wat iets nuuts deur sy penseel of pen te verkondig het, na waarde te skat. En tog, hoewel Ruskin gefaal het om die verdienstes van 'n groot kunstenaar raak te sien, sy opmerking bly nog altyd waar: dat dit die taak is van die krietikus om kunswerke 'n plek te verseker in die publieke aandag en prulwerke te verhinder om daardie aandag in beslag te neem. Daarom moet hy hom daarop toelê om verdienstelikheid te ontdek en dan sy ontdekking aan die wêreld bekendmaak. Daarby moet dit sy roeping wees om diegene wat ‘verfpotte rondgooi’, of boeke met onsin volkrap, sonder skroom te ontmasker, al is die prulskrywer ook sy vriend.
Dit word vertel dat Ruskin eenslag 'n vriend van hom baie skerp gekritiseer het. Toe skryf hy aan sy vriend om te sê dat hy hoop dat die kritiek geen verskil sal maak aan hulle vriendskap nie. Daarop antwoord die vriend: ‘Beste Ruskin, as ek jou weer ontmoet, sal ek jou 'n opstopper gee, maar ek hoop dit sal geen verskil maak aan ons vriendskap nie.’
Om 'n goeie boek by die leser aan te beveel en hom te verhinder om 'n slegte te lees, is dus die taak van die literêre krietikus. En dit bring ons vanself tot die hoofkenmerk wat by 'n krietikus vereis word, ten einde sy taak waardig te wees. Hy moet natuurlik in staat wees om te kritiseer. Dit
| |
| |
beteken nie, soos baie mense skyn te dink, om net af te kam nie. Dit beteken nie om te verkleineer nie, maar om te diskrimineer. Gedurende al die jare van 'n lang lewe waarin ek voortdurend belanggestel het in boeke en skrywers en lesers, het ek uitgevind dat onderskeidingsvermoë 'n gawe is wat maar by baie min lesers aangetref word.
Laat my sê, voor ek verder gaan, dat ek my hier sal beperk tot die prosaverhaal. Dit sou my te ver voer om ook die ander kunsvorme, soos poësie, drama, ens. in te sluit.
Wat is nou eintlik hierdie literêre Kuns, waarmee ons hier besig is? Wat is Kuns? Leo Tolstoy, die grootste woordkunstenaar van die vorige een, het 'n lywige boekdeel geskryf met hierdie vraag tot tietel; maar selfs hy wat so goed geweet het hoe om te skryf, het sy eie vraag nie kon beantwoord nie. Dit skyn of hy van Kuns verwag het om meer 'n saak van veredeling as van ontroering te wees, hoewel hy ten slotte tot die beste formulering gekom het, van wat 'n kunstenaar uitmaak, wat ek nog teëgekom het. 'n Skrywer, sê hy, wat in staat is om die ontroering wat hy self ondergaan het, in sy leser te wek, is 'n kunstenaar.
Emile Zola, 'n ander letterkundige genie van die vorige een, wat deur die smaak van ons moderne tyd verkleineer word (omdat ons lagwekkende prikkeling hoër stel as grootsheid van gedagte, net soos ons plesier verkies bokant geluk), sê in sy groot roman ‘L'Oeuvre’ dat Kuns die voorstelling is van 'n stuk lewe, soos weerkaats deur 'n temperament. Om 'n stuk lewe uit te beeld en om dit lewenswaar te doen, dit is die taak van die literêre kunstenaar. As 'n leser dus 'n krietikus wil wees, moet hy die lewe ken. Hy moet kan onderskei tussen 'n oppervlakkige bioskoop-storie en 'n innerlik-deurleefde, lewensware uitbeelding.
En hier kom ons tot 'n twede vraag, dieselfde vraag wat 'n magtige stadhouder tweeduisend jaar gelede uit die hoogte van sy regterstoel gestel het aan die bekende Beskuldigde, wie se antwoord hy hom nie eers verwerdig het om af te wag nie: Wat is Waarheid? Pilatus het geweet dat daar geen antwoord is op hierdie ewige vraag nie; dat die Waarheid vir elke mens maar sy eie siel is; dat die Griekse poësie 'n diepsinnige wysheid verkondig, waar dit die Godin van die Waarheid op die bodem van 'n put plaas, sodat elkeen wat haar soek, net sy eie weerkaatsing in die water sien.
Maar dit is nie genoeg vir die kunstenaar om die lewe volgens die eise van die waarheid voor te stel nie. Hy moet sy gedagtes die passende vorm kan gee, d.w.s. hy moet sy woorde kan gebruik - daardie subtiele, ontasbare uitingsmiddele wat nietemin magtiger is as armadas en armees. Hy moet die tegniek daarvan beheers, net soos die skilder moet weet hoe om sy kleure te meng. Ek bedoel nie dat hy die grammatika moet ken nie, want dit is maar
| |
| |
WENNING.
STILLEWE.
(In die besit van Mnr. D.C. Boonzaaier, Newlands, K.P.)
| |
| |
'n konwensionele afspraak om onderling verstaanbaar te wees. Om egter verwarring by die leser te voorkom, moet hy hom soveel moontlik aan daar- die afspraak hou. Maar dit is nie voldoende nie. Hy moet sy woorde mooi gebruik. Ongelukkig is daar niks so moeilik as om ons gevoel vir die aard van letterkundige skoonheid te bepaal nie.
En dit bring ons tot 'n derde vraag: Wat is Skoonheid? Net so moeilik om te beantwoord as die vorige twee, want dit baat ons nie veel om, herinner te word aan die gesegde: ‘Skoonheid is in die oog van die aanskouer’ nie, hoe waar dit ook mag wees.
Hoe dikwels voel ons nie by die lees van 'n beoordeling dat die krietikus se blaam of prys op 'n verkeerde maatstaf berus nie. Een skrywer word geroem om sy sielkundige deurdringing, 'n ander weer om die sierlikheid van sy sinsbou of die goedgebalanseerde bou van sy intriege. Een is vermaaklik, 'n ander diepsinnig, 'n derde gebruik mooi beeldspraak of vermy die gebruik van te veel adjektiewe, ens. Ek besef dat al hierdie eienskappe deel uitmaak van letterkundige skoonheid en ek let self daarop wanneer ek lees; en tog hoef 'n groot skrywer soos Charles Dickens dit alles maar te negeer en net Little Nell of Sairey Gamp te laat verskyn, om my dadelik al die sogenaamde wette van literêre kuns te laat vergeet by die ewige triomf van Lewe oor Logika....
Waarin dan bestaan letterkundige skoonheid? Is daar so iets, een of ander besondere sentiment of ontroering waaraan ons daardie benaming kan toeken? 'n Beroemde Franse krietikus het onlangs in verband met hierdie onderwerp opgemerk: ‘Nie alleen is ons onmagtig om wat vir ons so dierbaar is te omskryf nie, maar ons weet nie eers in watter rigting ons daarna moet soek nie. Ons sien die weerkaatsing daarvan orals, maar nêrens die vlam self nie.’
Hierdie vrae: Wat is Skoonheid? Wat is Waarheid? Wat is Kuns? kan nie beantwoord word soos ons wetenskaplike vrae beantwoord nie. Die wetenskap het niks uit te staan met die estetiek nie, hoewel 'n groot skilder soos Leonardo da Vinci en 'n groot romanskrywer soos Zola wetenskaplike beginsels op hulle werke probeer toepas het, maar tog vereer ons hulle vandag nie as wetenskaplikes nie dog as kunstenaars. Maar al is 'n wetenskaplike antwoord nie moontlik op hierdie geestelike en estestiese vrae nie, bestaan daar tog geen rede waarom ons hulle nie sal ondersoek nie. Inteendeel, dis selfs baie wenslik om dit te doen, aangesien die wens om te ken beter is as die kennis self.
Laat ons begin met te erken dat daar 'n verwantskap bestaan tussen al die skone kunste, of liewer tussen al ons gewaarwordinge van die skone. Van 'n estetiese standpunt besien, is ons die beste vertroud met die argitektoniese
| |
| |
kuns. Ons kyk almal ons hele lewe lank elke dag na huise, hoewel ons selfs daarvan nie eintlik veel weet nie. Ons kan verklaar dat 'n stuk argitektuur mooi is, byvoorbeeld die Unie-Geboue op Pretoria, maar ons kan nie verduidelik waarom dit so is nie. Tog meen ek dat ons kan sê dat die skoonheid van iets geleë is in sy vorm. Ons gewaarwordinge by die aanskouing van 'n kunswerk is so gekompliseerd dat dit 'n belangrike resultaat van ons ondersoek is om die gewaarwording wat vorm by ons opwek, te kan onderskei en afskei as 'n bepaalde estetiese aandoening. In 'n skildery kom daar kleur by die vorm en ook die speling van die lig daarop, maar selfs sonder kleur is en by 'n houtsnee reeds die idee van vorm voldoende om 'n skoonheidsgevoel te wek. Vorm, afgesien van kleur, is dus van fundamentele betekenis as skoonheidselement. Daarsonder kan geen skilderstuk 'n kunswerk wees nie, terwyl dit sonder kleur wel die geval kan wees.
Watter analogie bestaan daar in literatuur met betrekking tot hierdie idee van vorm? Net soos die vorm-begrip in die plastiese en grafiese kunste alle materiële moontlikhede toelaat, meen ek dat die korresponderende literatuurbegrip alle geestelike moontlikhede behoort toe te laat. Sielkundige Werklikheid - dit is die materie waarmee die skrywer moet skep, die alledaagse werklikhede van die siel, al die vorme van ons innerlike lewe. Net soos die skilder en beeldhouer gelykenisse van materiële wesens skep, so behoort die skrywer sielkundige wesens te skep. Die figuur van Ampie kan dien as illustrasie van wat ek bedoel. Dit is die sielkundige werklikheid van Sangiro se leeus en ander diere, wat sy boek op 'n hoër peil plaas as die blote beskrywing van 'n jagtog, wat dit tot kunswerk stempel.
Die meeste mense dink dat 'n skilder hom ten doel stel om een of ander voorwerp op sy doek af te beeld, d.w.s. die werklikheid wat hy voor hom sien, natuurgetrou te kopieer. As dit die geval was, sou hy nie veel van 'n kamera verskil nie. Net so algemeen is die opvatting, selfs onder skrywers self, dat literatuur beskrywend moet wees. Talloos is dan ook die voorbeelde van haarfyne beskrywings van natuurtonele, gewoontes, kleredrag, karaktereienskappe, uiterlike voorkoms, ens. Ek hoef maar te herinner aan Walter Scott. Alle letterkundiges het waarde geheg aan hierdie kopiëerlus, maar terselfdertyd het hulle die regte van verdigting beskerm onder name soos fantasie, verbeelding, ens.
Die taak van die krietikus is nou om vas te stel of die werk van 'n skrywer 'n onafhanklike skepping is, d.w.s. 'n werklikheid, net so onmiskenbaar soos 'n man of boom of huis, dan wel of dit enkel 'n geografiese of historiese dokument is, of 'n opsomming van psiego-analietiese waarnemings. Ons kan hierdie twee gesigspunte nie met mekaar vereenselwig nie, hoewel hulle ongetwyfeld met mekaar verwar kan word. Maar ek vertrou dat die tyd sal
| |
| |
kom wanneer dit net so belaglig sal lyk vir 'n skrywer om te probeer bydra tot die sielkunde, as wat dit vir 'n landskapskilder sou wees om te probeer bydra tot die kennis van Geologie of Botanie.
Die studie van die reeds bestaande werklikheid moet nie verwar word met die skepping van 'n nuwe werklikheid nie. Natuurlik is so 'n skepping die resultaat van 'n studie van die natuur, maar ons moet oppas om nie as doel te beskou wat net middel behoort te wees nie. 'n Roman behoort 'n lewende skepping te wees en nie 'n bron van noukeurige informasie nie. Ek het mense Romain Rolland hoor lof toeswaai as 'n groot sielkundige, terwyl hy in werklikheid 'n groot digter is, wie se roman Jean Christophe vir my die grootste letterkundige kunswerk van hierdie een is.
Daar bestaan 'n ander opvatting, teenoorgesteld aan dié wat van 'n romanskrywer enkel 'n kopiëerder of 'n laboratorium-navorser wil maak, nl. dat hy enkel 'n virtuoos van die tegniek moet wees, 'n werktuigkundige om dit so uit te druk, by wie die onderwerp van behandeling nie daarop aankom nie, maar alleen die manier van behandeling. Volgens hierdie opvatting is die belangrikste die vorm, die ritme en harmonie, die suiwerheid van taal en die rykdom van woordeskat, en wat dies meer sy. Weliswaar kan 'n skrywer, net soos 'n skilder, na aanleiding van enige voorwerp 'n kunswerk skep. So is b.v. 'n klein skilderytjie in die Michaelis-Galery in Kaapstad, van 'n bord met pruime en 'n rooi blom in 'n bottel, 'n groter kunswerk as die lewensgroot portret in dieselfde versameling deur Van Dyck, van 'n mooi man in al die glorie van 'n mooi pak klere.
Om 'n ander en miskien meer bekende voorbeeld te neem, wanneer Sangiro in Op Safari die voëltjies in die vlei met sonsondergang teken, is die onderwerp op sigself niksbeduidend. Maar ontstaan die gevoel van skoonheid wat hy daardeur by ons opwek, nou deur die woorde wat hy gebruik, hulle klank, hulle ritme, sy goedgebalanseerde sinne en hulle grammatikale juistheid? Of moet ons dit toeskryf aan die aangename en subtiele verbeeldingsfeer wat die gesig van die voëltjies by hom opgewek het? Die antwoord is sekerlik dat dit nie die ritme van die woorde is wat ons genot verskaf nie, maar hulle betekenis; dit is nie ons oor nie, maar ons gees wat die skoonheid daarvan waardeer. 'n Geestesmoment van Sangiro het deur sy woordgebruik 'n geestesmoment van onsself geword. Die realiteit van hierdie digterlike woorde lê opgesluit in hulle geestelike vorm, terwyl b.v. die estetiese realiteit van 'n kerk nie geleë is in die godsdienstige gevoel wat dit mag veroorsaak nie, maar in sy uiterlike vorm.
Woorde op sigself kan natuurlik ook genot verskaf, maar nie wanneer hulle van alle betekenis ontbloot is nie. Hiervan kan elkeen hom oortuig deur b.v. te luister na die voordrag van 'n gedig in 'n onbekende taal, hoe mooi
| |
| |
dit ook al mag gedoen word. Literêre kuns is en bly dus essensieel 'n geesteskuns. En so kom ons weer tot wat ek vroeër reeds opgemerk het: dat die doel van letterkunde is die skepping van sielkundige of geestes-wesens.
Laat ons nou sien wat die aard van sulke skeppinge is of kan wees. Die eenvoudigste wat ons in die letterkunde aantref, is gemoedstoestande, of sal ek sê, geestesmomente, soos b.v. in die kort verhale van Anton Tchehov en Alexander Kuprin. Hulle vertel wat die mens op 'n gegewe moment is: die toneel wat hy betrag, die gevoelens wat deur sy waarneming gaande gemaak word, laat dit wees die vlug van 'n springbok, bye om 'n tros doringboombloeisels, die rooi kandelaar van 'n alwyn. Die uiterlike realiteit word met die innerlike saamgesmelt tot 'n geheel. 'n Gemoedstoestand is nie noodsaaklik van sentimentele aard nie. My bedoeling is nie dat die romanskrywer sy leser deelgenoot moet maak van sy vreugde en smarte nie. Voor ons 'n boek opneem waarvan die tema ‘Liefde’ is, ken ons daardie liefde?, en geen beskrywing daarvan kom naby die eie ervaring nie. Maar ‘liefde’ is dan ook net die voorwendsel van die skrywer. Die roman self is nie liefde nie - - dis iets anders. Wat die kunstenaar geskep het, is 'n nuwe geesteservaring, en nie een van die oog of oor nie. Dis 'n onverwagte ineenvloeiing van sensasies, gedagtes en emosies wat hulleself rangskik, ons weet nie hoe nie, tot een geheel, tot 'n eenheid.
Om hierdie eenheid te kan waarneem, moet die krietikus die woorde een vir een aandagtig beluister; hy moet opreg wees en nie te seker dat hy alles begryp het nie, selfs al is dit die eenvoudigheid van Tolstoy se Famieliegeluk of die ingewikkeldheid van Dostojefsky se Karamasov.
Op die enkelvoudige geestesmoment volg dan die gekompliseerde karakter. Daarna kom die situasies, die verwikkeling, of as u dit so wil - die verhaal. Geestesmomente, karakters, situasies en hulle verhoudinge tot mekaar - dit alles vorm die wese van literêre kuns; en die poging om van die konsepsie in die gees oor te gaan tot die neerskryf daarvan - dus juistheid van taal, woorderykdom, lewendigheid en sierlikheid van styl, ens. - behoort m.i. genoem te word skryfkuns.
Net soos die skilder of beeldhouer van die eerste skets af tot die laaste detail voortdurend die oog gerig hou op die geheel, moet die skrywer vorm gee aan die totaliteit van sy konsepsie terwyl hy besig is met die keuse van woorde, en sinne, met grammatikale kleinigheidjies, wat per slot van rekening tog maar almal as gedagteskakeringe soveel skakels uitmaak van die hele ketting.
Op 'n wandeling in die Laan in Kaapstad het Sangiro my eenmaal vertel hoe hy die einde van sy Leeuverhaal ‘gesien’ het, terwyl hy besig was met die beskrywing van die leeu se lêplek aan die begin daarvan. Luister net na
| |
| |
hierdie voortreflike einde van sy treurige verhaal van die lotgevalle van 'n leeufamielie:
‘Op donker misaande, wanneer spookgestaltes teen die Koueberge afkruip en vaal oor die vlaktes trek, staan die ou hartbeesbul nog op die uitkyk daar op sy kaal heuweltjie; en sy oë soek om tussen die onseker skemergedaantes van die nag die bekende leeuvorms te onderskei. Maar sedert daardie wilde aand toe die twee leeutjies van die sandsloot af in die reën hier by hom verbygedraf het, word die ou paadjie nie meer gebruik nie.’
As 'n skrywer nie 'n kunstenaar is nie, sal sy gedagtegang losraak van wat hy neerskryf, met die gevolg dat die geskrewe bladsy die indruk sal maak van 'n reeks holklinkende woorde sonder volledige betekenis, somar neergepen uit sleurgewoonte of oorgelewerde tradiesie, in plaas van voortgestu deur innerlike geestesdrang. Die gedagtegang in 'n roman kan vergelyk word met die vorm van 'n beeldhouwerk of skilderstuk en die geskrewe teks met die omtrekke en oppervlakte. Die manier waarop die oppervlakte van 'n beeldhouwerk of die lyne van 'n skildery behandel is, kan by die aanskouer in meerdere of mindere mate 'n estetiese gevoel opwek. So is dit met woorde by die leser. Maar hulle moet in eerste en laaste instansie dien om volmaakte vorm te gee aan die kunswerk as geheel. Een van die skoonhede van die klassieke is die noukeurigheid waarmee alles in die teks by mekaar pas. Elke woord het sy betekenis en sluit so volmaak aan by die res, dat alles saam 'n massiewe geheel word; en ek meen dat geen werk sonder hierdie eienskap ooit ‘klassiek’ kan word nie. En tog is dit alleen nog nie voldoende om 'n kunswerk te skep nie, anders sou 'n kubus of 'n wet van die parlement ook skoonheid besit!
Ons het nou 'n ondersoek ingestel na die wese van letterkundige kuns en 'n min of meer aanneemlike formulering daarvan opgestel. Laat die krietiese leser homself nou afvra of dié persoon 'n groot skrywer is wat harmonieuse, korrekte, diepsinnige sinne vorm, of dié wat lewende wesens skep. 'n Skrywer kan nog groot wees, al besit hy nie al hierdie hoedanighede nie, maar ek dink dat die krietiese leser van Romain Rolland se meesterwerk nou miskien sal verstaan waarom Jean Christophe altyd sal voortleef en die held van 'n swak roman nie. Die feit dat goeie krietisie en groot skrywers dikwels met mekaar verskil, dat b.v. in die 18e een Goethe en Victor Hugo met Shakespeare gedweep het, terwyl Jules Lemaitre en Tolstoy dit in die 19e en Bernard Shaw in die 20e een nie gedoen het nie, hoef ons nie te ontstel nie.
Soos ek gesê het, moet die krietikus eerlik en opreg wees. Voeg daarby 'n behoorlike kennis van letterkundige kuns en die vatbaarheid vir estetiese aandoening - en hy besit drie hoedanighede wat van hom 'n goeie krietikus sal maak. BRANDER.
|
|