Kloos lees, die gang van sy gees navoel en naspeur, word met bewondering en eerbied gevul vir hierdie ryk gees. Geen Hollandse krietikus het voor 1880 so suiwer, so fyn onderskeidend, so gevoelig oor hierdie geskrywe as Kloos nie. Sy werk is 'n openbaring. Agter uit sy siel rys die beelde omhoog, word hulle gedra deur die breë beweging van sy prosa. Die inleiding tot Perk se gedigte deur hierdie aanbidder van skoonheid is onvergeetlik. In sy lieriese prosa het Kloos hierdie hoogte nooit weer bereik nie. Die drang na die hoogste hoor jy in die statige sinne - die digter wat bewus is van sy innerlike rykheid, maar ook sy verlatenheid besef onder middelmatige mensies. ‘Die stormt en juigt, en weent en mymert, eenzaam met zyn ziel onder de blauwe oneindigheid.’ Net uit hierdie enkel aanhaling al gaan 'n skoonheidsontroering wat net die grootste digters by ons kan opwek. Sy prosa word almeer ontledend, betogend en minder hartstogtelik lieries - tog in die wese lieries. En dit juis was altyd Kloos se krag en tewens sy beperktheid. Oor lieriese digkuns het hy later heeltemaal uitgepraat geraak, hy het hom eindeloos herhaal en byna ondraaglik omslagtig geword. As hy 'n bundel poësie wil karakteriseer, dan gaan hy eers op lang ou plesiertogte en 'n paar reëls op die end moet dan min of meer die hele bundel kenskets. Kloos was altyd die krietikus wat gesoek het na die wesensessensie, en onder sy eerste kritieke, en selfs onder enkele latere, staan formulerings wat deur juisheid, fynheid van psiegiese insig en diepte seker nie maklik oortref sal word nie. Maar juis hierdie metode om soos, 'n duiker te daal tot in die diepte van die ‘zyn’ en die waarheid op te vis, het by later gebrek aan die konsentrasiekrag van gesonde jeugjare verswak tot prekerigheid en langdradigheid, al duik uit die verstrooide uitsprake dan soms nog heerlik-sterk op die verrassende, waaraan ons dadelik die groot krietikus van vroër
ken.
Uit eerbied vir wat die digter eenmaal was, moet mens nie 'n te harde oordeel uitspreek oor sommige van sy latere gedigte en kritieke nie, ook nie oor die ondigterlike skeldsonnette nie. Kloos was altyd so opreg menslik as kon wees, en daarom het hy baie gebots met die huigelagtigheid van sommige van sy medemense.
In sy teleurstelling het Kloos baie dinge gesê wat enigsins soos lelike plekke afsteek teen die hoogheid van sy jeugwerk, maar ons vergeef hom dit maklik uit menslike oorwegings, want het hy nie in een van sy aangrypenste sonnette die diepste bekentenis opgebieg nie; ‘Ik was te veel een mens geweest’? En daarom het die bewoë sonnette uit sy jeugtydperk vir ons so'n waarde. In die hyging van sy ritme, in die sonore klank soos die gedagte in die sonnette voortbeweeg, gedra deur hartstogtelike verlange en byna roman-