Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929
(1929)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 98]
| |
C.P. Hoogenhout.(Vervolg en slot.)
DIE man met die grootste verstand wat ek ooit in Suid-Afrika ontmoet het, is S.J. du Toit,’ het my vader meer as eens aan my gesê. En hoewel sy pad en dié van ds. du Toit later in verskillende rigtings geloop en hulle uitkyk op sake hemelsbreed verskil het, het Hoogenhout tot op die dag van sy dood daardie bewondering vir sy vroeër vriend behou. In die vorige hoofstuk het ons gesien hoedat C.P. Hoogenhout byna elke Saterdag op die Pêrel deurgebring het. Hierdie besoeke is afgelê nie alleen om vir du Toit met sy koerantwerk behulpsaam te wees nie, maar ewe seer uit louter vriendskap. Treffend is sy afskeidsgroet aan S.J. du Toit tydens die benoeming van sy Eerwaarde tot Direkteur van Onderwys van Transvaal in 1881. Ek gee die gediggie, wat, tussen hakies, weer in goeie Nederlands geskrywe is, in sy oorspronklike vorm hieronder: ‘Ga, leraar, broeder, vriend, hoe zwaar ook 't scheiden zij!
Het is de wil van God en daarom zwijgen wij.
W' aanbidden 't Raadsbesluit, dat u ten tweede maal
De roepstem horen deed: ‘Kom over naar Transvaal!’
Ga, vorm in Godes kracht, het volk dat worden zal.
De Alwijze die u riep, verzelle u overal.
Gewichtig is de taak voor tijd en eeuwigheid,
Die in 't verkiezingsplan door God u werd bereid.
Wij gunnen 't heldenvolk en aan hun dierbaar kroost
U, trouwbevonden vriend, - en 't offer geeft ons troost.
Het offer, ja, dat is 't - meer waard dan goud en goed;
Het dierbaarst staan wij af aan 't volk van eigen bloed.
Dat die agting en liefde wedersyds was, blyk uit die feit dat na sy benoeming S.J. du Toit by my vader aangedring het om die Kaapprovinsie te verlaat en Transvaal-toe te kom as Sekretaris van Onderwys. Hy het hom egter nie geroepe gevoel om die betrekking te aanvaar nie, maar dit is opmerklik dat sy oudste seun vandag dieselfde pos beklee waarin sy vriend destyds gestaan het, en dat een van sy oudleerlinge tans sekretaris van onderwys is!Ga naar voetnoot*) | |
[pagina 99]
| |
In later jare het daar verwydering gekom tussen die twee boesemvriende. S.J. du Toit het 'n politieke rigting ingeslaan wat lynreg ingedruis het teen C.P. Hoogenhout se oortuiging, en nog voor die Jameson-strooptog
was die vervreemding so groot dat die twee voorstanders van die Eerste Taalbeweging nie eers meer met mekaar gekorrespondeer het nie. Dit was baie jammer, en vir die Eerste Beweging noodlottig. Ja, ek wil byna so ver gaan om te beweer dat dit die uiteindelike doodkwyn van die Genootskap beteken het. | |
[pagina 100]
| |
Treffend is 'n gediggie - of dit op sy vroeër vriend doel, kan ek nie met sekerheid sê nie - wat in Januarie 18............ geskrywe is. 'n Mens kan dit nie deurlees sonder 'n traan in die oog te kry nie. Die opskrif is ‘Myn Vrend’, en ek laat net die laaste koeplet hier volg, omdat die gedig in sy geheel aanstoot mag gee: - ‘Nu blyft hy weg, - verdween uit mijn gezicht...
Maar lezer van dit kreupele gedicht,
Als gy hem ziet, of waar gy hem ook vindt:
Doe aan hem wel! - Hy was en blyft myn vriend!’
C.P. Hoogenhout het die vervreemding baie diep gevoel, en hoewel, sover ek weet, die breuke nooit weer geheel is nie, het hy van sy kant tog altyd van sy vorige vriend met die grootste agting en liefde gepraat.
Hier voor my lê sewe skrifte vol gedigte wat C.P. Hoogenhout eienhandig afgeskrywe het, en dit is opmerklik dat in die eerste drie boeke net een gedig voorkom wat in Afrikaans geskrywe is, terwyl al die ander (met die uitsondering van 'n stuk of ses wat in Engels opgestel is) in Nederlands gedig is. Dit lyk vir my baie of Hoogenhout tussen die jare 1873 tot 1885 onder die indruk verkeer het dat die Afrikaanse taal nie geskik was vir die hoër vlug van die poësie nie. Dit kan ook wees dat hy gemeen het dat die ontwikkelde mense liewer Nederlands as Afrikaans lees, en dat dit die minder ontwikkelde tog nie werke van 'n hoër gehalte sou appresieer nie, al was hul ook in Afrikaans geskrywe. Die versies uit sy pen wat in Reitz se ‘Uitgesogte Gedigte’ verskyn, het hy hom nie eers die moeite getroos om in sy versameling, wat hy aan die skrywer van hierdie artiekeltjie nagelaat het, op te teken nie.
In 'n bedanking aan hoofregter Reitz by die ontvangs van 'n presenteksemplaar van die ‘Vyftig Uitgesogte Afrikaanse Gedigte met Prentjies’ maak hy enkel melding van die feit dat die kleinspan blaai en lag en praat, en dat ou Ewa, die meid, gesteurd is omdat sy so swart afgeteken is in die boek; maar hy is baie versigtig om geen oordeel oor die gehalte van die gediggies uit te spreek nie, hoewel hy die vrome wens uit dat ons volk van | |
[pagina 101]
| |
die boekies weldra 'n menigte mog vra. En die leser kan die sin voltooi deur die volgende by te voeg: ‘Sodat die leeslus by hul opgewek word en ons vir hulle lektuur van 'n hoër gehalte kan verskaf!’ Ek laat die versie van bedenking hier volg: -
Hoe die ‘Vyftig Uitgesogte Afrikaanse Gedigte met Prentjies’, versamel deur Hoofregter Reitz, ontvang is. Oom Jan en sy vrou voel net baie vereer
Met ‘Versies en Prentjies’, Hoogagbare Heer!
Die kleinspan die blaai, en dis lag en dis praat;
Maar een was gesteur en sy lyk my bra kwaad, -
Dis Aja die - toe ons die prentjie laat kyk,
Toe vra sy: ‘Wil nooi sê, dat ek dan so lyk!’
‘Og nee,’ sug ons toe, ‘dis die drukker se fout,
Maar voor op die boek staan jy reg en van goud!’
A, toe was ou Ewa so reg in haar skik,
En die kinders die skree en die lag dat hul hik.
My dogtertjie vra my: ‘Maar, Pa, is dit waar,
En lyk 'n gordyntjie dan regtig so naar?
Dan dra ek dit nooit nie, so lank as ek leef....’
Met stryk sy haar haar weg, dit was effens skeef.
My niggie, wat noumaar eendag dink te trou,
Sê: ‘Bolandse jonkmans die lyk nie so rou!’
Dog waar sou ek eindig om alles te skryf?’
Die rym wil nie vlot nie, die maat is te styf.
Dit is ook nie nodig (hoe Volksbode spot) -
'k Het hom gereview in ons ou Patriot.
Voorts, alle sukses met die Proef, en mog dra
Ons volk van die boekies 'n menigte vra!
Alleen nog: ek dank u, en sal dit bewaar,
So lank as die Here my lewe mag spaar.
5 November 1888.
Dog vereers genoeg. Die leser mag hom dalkies verveel. Miskien sal ons - ten minste as die redakteur ons nie die swye oplê nie - by 'n later geleentheid die een en ander van C.P. Hoogenhout as prosaskrywer vertel.
IMKER HOOGENHOUT. |
|