Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929
(1929)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 85]
| |
Uit: Skakels van die Ketting.Ga naar voetnoot*IN my kinderdae, toe ek nog piepjonk was, moes ek elke winter die lammerooie in die appeliefies en die afgeoeste lande oppas. Nie te lank moes hulle daar bly nie, want anders gooi hulle dooie lammers, het Vader gewaarsku. Daar ver van die huis, in die droë-lande, lê ek dan bedags op die naat van my rug en luister hoe die wolbalies aangewei kom met 'n geluid asof hulle gedroogde boerbeskuit kou. Daar is altyd 'n paar skelms wat soos stout kinders wegspring van die trop af, en dan saans as hulle by die huis kom en Pa hulle tel - Pa kon so vinnig tel as die ooie met hulle vet agterlywe verby hom waggel-galop - kry ek sieps-en-braaibout, omdat ek hulle nie almal gebring het nie.
Dit was heerlik daar ver van die huis. Alleen het ek dan smiddags my tiffen geëet, met die grootmangevoel van selfstandigheid, daar agter die skape. As ek nog dink aan die knapsak of klitsgras, wat my kouse altyd soos gerekte krimpvarkies laat lyk het, of daardie wit steekgras wat, as jy die kous uittrek, soos asgaaitjies ingeryg sit, dan verlang ek weer na daardie dae toe ek ‘Skaaprin! skaaprin!’ of ‘hôi-hôi-hôi!’ geskree het. Niks was vir my lekkerder as om weg te buk agter die trop en 'n kruppel ooi aan haar agterbeen te gryp nie. Dit was dan ook sommer kinderspeuletjies om haar vierbeen-in-die-lug te laat lê en dan met 'n regte doktersgesig my ondersoek te begin; eers agter die kloutjie, dan op die bors of al langes die blad, tot ek die vuilgoed gekry het. Versigtig, met die bene styf om die ooi se maag geknyp, word dan die rooi-leventel-botteltjie met die ‘littles’ uit die broeksak gehaal, waar dit gelê het in die slingerdraai van die rekker. Meer as een keer het die ooi net gewag tot ek mooi gerus was, om my 'n streep te trek, en dan sien jy net twee skurwe groottone die lug kies. Innerlik ontstoke, word dan eers 'n paar slae in die hande gespoeg, die hoed vasgedruk en voor omgedop, en dan sou die ooi haar heiland leer ken as sy dit weer waag. En as ek nou nie die bosluise kon kry nie, word met alle erns agter die oor gekrap, die kop geskud met 'n uitgehoeste ‘nee!’ en dan maar weer in die rimpels van die keelvel of onder die stert wegval. Dit was vir jou uithaaldae daardie!
Maar wanneer ek eintlik verjaar het, was met skeertyd. Dit was my werk om die wolbale te trap. Daardie ou lang waanhuis by ons het altyd vol | |
[pagina 86]
| |
van die outas gesit, en jy hoor die heeldag net die gekliek-kliek van skaapskêre. Maar hulle kon vir jou skeer, hoor! En saans dan word die strepies op die muur opgetel en is dit maar gewoonlik ou Antoon Britou wat lei. ‘Hiert! julle swartgoed, hiert julle!’ en ou Antoon stap styf-styf, met windmakerige langhale, weg en slaan die donsies van sy olie-taai broek. So'n wedstryd was werd om na te kyk. In die begin dan girts-girts die skêre soos klokslag deur die wol en krul die heerlike geel wol soos vars grond agter 'n ploegskaar om. En as die ooi dan miskien 'n rapsie kry, word gou-gou 'n bietjie ‘kerol’ aangesmeer. Maar later tap die sweet, so al langes die neus af, en word elke keer met die sy van die hand afgestroop en weggeskiet.
Een-vir-een loop die wit dril-lywe, wat hulle eers regskud en dan soos 'n springbok deur die deur na buite spring. Die kloutjies en penswol word afgeskeer, die ander soos 'n kombers gevou en in die wolbaal, wat met vier rieme aan die balke vas was, gegooi. Soe! dit het vir jou warm geword in daardie wolsak, en ek het naderhand geblink van die vet! Snags droom ek dan dat ek 'n nuwe wit skaap is en hoor nog die gekliek-kliek van die skaapskêre in my ore. As ek dan by die deur uitspring, is dit asof al die ou vuilgeid en laste van my af is en spring ek 'n nuwe lewe tegemoet, met net nog 'n paar littels-merkies waar die wol te vas gesit het. En dan het die Here ons, met die gedaante van Antoon Britou, na grasige weivelde gevoer, waar ons 'n nuwe lewe begin het en weer tekere gegaan het soos jong lammers.’
‘Luister jy nog, Elka?’
Maar Elka is lankal klaar vir die wêreld hier langs hom, en Kobie, opgewonde van pure geluk, draai hom ook maar om hier langes haar.
P. DE VILLIERS PIENAAR. |
|