eintlik gebruik word vir die werk van alle geskiedskrywers wat hulself nie skuldig maak aan die versin van hul feite nie. Dr. Bosman se grote verdienste is juis dat hy ons vir die eerste keer toegang verleen tot 'n gebied wat vir ons in werklikheid tot dusver 'n volkome afgeslote en ongenaakbare was.
Na 'n inleidende oorsig van die kultuurtoestande sedert 1795, gaan die skrywer voort met 'n beskrywing, in besonderhede, van die poginge van die vroeëre inwoners van die Kaap om in hul aangebore kunsbehoeftes te voorsien - poginge wat 'n groot stoot vooruit gekry het deur die bou van die Afrikaanse Skouburg op die Boereplein (nou die Van Riebeeckplein) in 1800, 'n gebou wat nou een van Kaapstad se kerke is. Liefhebberygeselskappe, Hollands, Engels, Frans en Duits, militêr en burgerlik, het hulle bes gedoen om baie aan hulself en aan die publiek vermaak te verskaf. Reisigers en oppervlakkige beoordelaars wat ons voorvaders beskryf of beskou het as mense wat weinig anders doen as op die stoep sit en wyn en koffie drink, sal verwonderd staan om te verneem dat die keur van werk van skrywers soos Molière, Shakespeare, Sheridan en baie andere opgevoer is. In daardie dae was die opbrengste veral vir liefdadigheid bestem. Dr. Bosman beskrywe goed die Franse kunsgroep wat toe bestaan het, waaraan Louis Balthazar Meurant behoor het en wat mee die sfeer geskep het waarin sy seun Louis Henri Meurant, later 'n vooraanstaande baanbreker vir Afrikaans, opgegroei het.
Al was hierdie boek om geen ander rede geskrywe as om die bekende Suasso de Lima in sy eer by die nageslag te herstel nie, dan sou dit nog die moeite werd gewees het; De Lima, wat ten spyte van baie eksentrisiteite inderdaad 'n belangrike figuur en agtenswaardige man in vele opsigte was. Die relaas van die vyandskap tussen hom en C.E. Boniface, saam met voorbeelde van hulle geskrifte, maak een van die aantreklikste kenmerke uit van die boek. Onder hierdie geskrifte vind ons ook die oudste voorbeelde van gedrukte Afrikaanse toneel-voortbrengsels. Die uiters persoonlike aanvalle waartoe 'n mens in daardie dae kon gaan, sou teenswoordig op 'n hofsaak vir laster uitloop, maar vorm besonder vermaaklike lektuur vir ons lesers vandag. Die kwaadstokery het meestal van die kant van Boniface gekom, wat tenslotte die hand aan sy eie lewe geslaan het, terwyl De Lima as brawe burger in sy bed gesterf het.
Die lewensbeskrywinge van De Lima, Boniface, Villet e.a. is van die grootste belang, en het nog nooit verskyn in sulke volledigheid soos hier nie, 'n volledigheid wat terselfdertyd die stempel dra van die grootste sorgvuldigheid en oordeelkundigheid.