Het Nederlands in Zuid-Afrika
In Die Burger is de gedachtenwisseling t.a.v. het Nederlands in Zuid-Afrika verder gegaan. Wegens het belang van het onderwerp geven wij in dit nummer nog plaats aan een artikel van prof. T.T. Cloete, dat werd opgenomen in Die Burger van 13 april.
Onder de titel:
LEES ONS LIEWER ENGELS?
LITERERE VORMENDE KRAG KAN VAN NEDERLANDS UITGAAN
schrijft hij:
Ek wil graag reageer op dr. W.E.G. Louw se uitnodiging in sy artikel van 22 Maart in Die Burger oor die Afrikaner se gesindheid teenoor Nederlands.
Dit is al meer as een keer gesê dat die hedendaagse Afrikaner se onverskilligheid teenoor of selfs teensin in Nederlands histories te verklaar is, deurdat sommige van die indertydse voorvegters van Afrikaans nie net van Engels nie, maar ook van Nederlands 'n teenstander of vyand gemaak het. Hierdie bewering is waar; ons kan dit immers aantoon uit vroeëre geskrifte.
Die vraag is egter: hoekom lees ons dan nog Engels? Hoekom het ons nie dieselfde teensin in Engels ontwikkel nie? Die antwoord is nie eenvoudig nie, maar lê gedeeltelik daarin dat die Engelsman ons landgenoot gebly het en die Nederlander nie. 'n Dieper waarheid is egter dat ons Afrikaners veel liewer Engels lees as Nederlands omdat ons so sterk verangliseer het, of ons dit wil weet of nie. Ons het nie alleen Nederlands, en daarmee saam sy ryk literatuur opsy gestoot nie, maar so baie Afrikaners beweer dat ons heeltemal van die Nederlander verskil. Baie mense wat in die buiteland gaan reis of studeer, beweer dat hulle in Nederland ontuis voel, maar 'n heerlike gevoel van tuiskoms ervaar as hulle in Engeland aanland. Dit mag waar wees, maar waaróm is dit dan so?
Omdat ons in 'n baie sterk mate verengels het. As ons vandag ouer geskrifte lees soos J.H. Hofmeyr se ‘Is 't ons ernst?’ of Cachet se ‘Die praatduiwel’ (‘Miemie was op skool - ekskuus, op 'n Ladies Seminary - gewees. Sy reken dat sy baie slimmer is as George. Sy ken Engels, natuurlik byna geen woord Hollands nie...’), dan is dit maar of daar van ons, die Afrikaners van 1966 gepraat word.
'n Mens beleef soms die koddigste dinge. Ek moes op 'n middag sit en luister hoe 'n hoogleraar fulmineer teen Nederlands wat so vol Engelse woorde is. Al luisterende het ek 'n lysie gemaak van sy verengelste Afrikaans.
Ek het dit na die gesprek aan hom gegee, so bietjie plaerig, en hom daarop gewys dat mens die Engelse woorde in Nederlands nog herken, maar die Anglisismes, Engelse uitspraak en konstruksies is al so aanvaar in Afrikaans en sit al so diep, dat die meeste mense dit nie eens herken nie.
My goed bedoelde terugwysing het natuurlik baie verontwaardiging uitgelok.
Ek glo dat die ongunstige politieke verhouding wat daar veral sedert die einde van die dertiger jare tussen Suid-Afrika en Nederland ontstaan het, bitter min te make het met ons afsydigheid teenoor die Nederlandse letterkunde en taal. Die politieke verhouding met Engeland was nog altyd slegter as dié met Nederland, en tog het ons nie dáárom minder Engels gaan lees nie! En omgekeerd: stel ons vandag meer belang in die Portugese letterkunde en taal omdat ons van daardie kant af ondersteuning kry?
Dit is miskien swaar of selfs gewaagd om dit te erken, maar ek meen dat elke leesgierige Afrikaner bewus of onbewus naas sy eie letterkunde 'n sterk behoefte het aan 'n ander literatuur wat ryker is, ryker om verskillende redes: omdat dit ouer is, omdat dit meer skrywers het en ook omdat dit van 'n ander ervaringswêreld praat.
Ons hoef nie ongelukkig te voel oor so'n behoefte nie. Dit is niemand se skuld dat ons letterkunde, gemeet teen die Duitse, Franse, Engelse ens., soveel jonger en kleiner is nie. Ons is nie skaam vir ons letterkunde nie. Ons het dit lief; baie van ons gaan elke wakende uur van die dag daarmee om. Tog het ons mense wat graag lees, daarnaas ook nog behoefte aan ouer, omvangryker letterkundes.
Maar jammer genoeg het die meeste van ons nie behoefte aan die Nederlandse letterkunde nie, om verskillende redes, maar twee wat krachtig saamgewerk het, is 'n sterk Engelse invloed en 'n kortsigtige opstand teen Nederlands.
Afgesien van 'n hele aantal van ons beste skrywers self, wat nog steeds pleitbesorgers van Nederlands was, het die Suid-Afrikaanse universiteite die laaste vestings geword waarin geveg word vir die behoud van Nederlands. Daar word besef dat die Afrikaanse letterkunde byna in sy geheel uit die twintigste eeu stam, dat ons nie kan redeneer dat die student Afrikaans selfstandig los van Nederlands kan bestudeer nie.
Ons kan nie redeneer dat die student van Afrikaans gerus maar deur sy studie van Engels, Frans of Duits 'n kyk op die Middeleeue, Renaissance, Verligting, Romantiek e.s.m. kan kry en 'n aanvullende kyk op die twintigste eeu nie.
Ons kan die student vanuit ons eie vlak daardie perspektief gee deur Afrikaans by Nederlands te laat aansluit, en dit kan op die mees natuurlike manier gebeur.
Die meeste studente wat ek aan die universiteit as eerstejaars leer ken het, het weinig kennis van die Nederlandse taal- en letterkunde gehad, maar by nadere kennismaking daar gou 'n liefde voor gekweek - selfs Engelssprekende studente!
Ek het nooit die indruk gekry dat studente Afrikaans en Nederlands as twee ‘dele’ van die vak beskou nie; nog minder dat hulle dit bejeën het as twee vakke wat kunstmatig saamgedwing is.
Ek het herhaaldelik die eksperiment met verskeie derdejaarsklasse gemaak deur 'n vraestel op te stel waarin ewe veel vrae oor die Arfikaanse en Nederlandse letterkunde gestel is. Die studente is dan die vryheid gelaat om net Afrikaanse of net Nederlandse vrae te beantwoord. Ek het nooit 'n student teengekom wat net Afrikaanse vrae beantwoord het nie! En niemand selfs het ooit minder as die helfte van die vraeg uit die Nederlandse groep gekies nie! Ek het ook nie gevind dat die studente minder goed in die Nederlandse vrae as in die Afrikaanses vaar nie.
Middelnederlands is vir die Afrikaanse studente nie moeiliker as die ouer vorme van Engels, Duits en ander Europese tale nie.
Tog is alles aan die universiteite nie rooskleurig nie. 'n Mens voel tegelyk skaam en bang om dit te sê, maar daar is selfs Afrikaans-Nederlandici wat apaties of antipatiek teenoor Nederlands staan - en nog altyd kon ek daarvoor geen redes vind nie, net emosionele reaksies.
Daarteenoor staan die troos dat kollegas wat glad ander vakke beoefen soms ywerige lesers van Nederlandse boeke is. Ek glo dit sal my nie kwalik geneem word as ek hier 'n naam noem nie. Dit was vir my altyd aangenaam om met die historikus prof. D.W. Kruger te gesels. Hy kán opgewonde raak oor Simon Vestdijk - en kén hom.
Nietemin, dit is te laat om aan die universiteit met 'n intensiewe studie van die Nederlandse taal en letterkunde te begin - los van of vas aan Afrikaans, ek sélf glo net aan lg. 'n Mens wil nie die skole verkleineer nie, nie die onderwysers nie, want daar is baie en baie van hulle wat die regte gesindheid teenoor en
(vervolg op pag. 99)