Nederland en Suid-Afrika
Uit: ‘Die Transvaler’ van 10 aug. j.l. nemen wij ondervolgend artikel over.
Daar is min volke wat so nou aan mekaar verwant is as die Afrikaners en die Nederlanders. Nie alleen het alle Afrikaners Nederlandse voorsate nie, maar sedert die politieke bande tussen Nederland en Suid-Afrika anderhalwe eeu gelede verbreek is, is die Afrikaanse element nog voortdurend versterk deur 'n gestadige toevloei van Nederlanders wat hier 'n nuwe vaderland kom soek het. Tot onlangs toe het die Nederlander wat aan emigrasie gedink het, in die eerste plaas die oog op Suid-Afrika gerig.
Dit is om al hierdie redes dat menige Afrikaner en gewis ook menige Nederlander diep bekommerd voel oor die verskynsel dat Nederland en die Unie tans nie meer op dieselfde voet van hartlikheid verkeer as wat in die verlede die geval was nie. Die mate van verwydering wat reeds bespeur kan word, is duidelik weerspieël deur die reaksie wat daar in Nederland ontstaan het as gevolg van die onlangse rassemoeilikhede hier in die Unie. Miskien moet so iets verwag word, indien daar nie meer noue geestelike kontak tussen twee volke bestaan nie. Vir hierdie feit is albei kante verantwoordelik.
Daar was 'n tyd toe die gemiddelde Nederlander 'n diepe belangstelling vir die wel en wee van die Afrikaanse volk geopenbaar het. Hierdie geslag is egter omtrent reeds heeltemal uitgesterf. 'n Nuwe geslag het opgestaan - 'n geslag wat midde in die moeilikhede staan wat Europa nou al ruim veertig jaar lank teister. Hierdie moeilikhede het, net soos in die geval van die ander Europese volke, die Nederlandse denke nie onaangetas gelaat nie. 'n Mens hoef in hierdie verband slegs te verwys na 'n ideologie soos die Sosialisme wat allerlei beginsels huldig wat geenszins in ooreenstemming is met die wyse waarop die Afrikaner nog steeds geprobeer het om homself as volk te handhaaf nie. Daarom vind 'n mens dit dan ook dat die Sosialistiese Nederlander en die nasionaalgesinde Afrikaner eintlik as vreemdelinge teenoor mekaar staan; geestelik besit hulle niks meer gemeenskapliks nie.
Die Afrikaner wat Nederland besoek, vind dan ook dat daar Nederlanders is met wie hy net so min voeling kan verkry as met bv. 'n Italiaan of 'n Portugees. Die afstand tussen hulle het reeds so groot geword dat die stamverwantskap geen rol meer speel nie.
Vir die verwydering wat ontstaan het, is die Afrikaner egter ook verantwoordelik. Die verantwoordelikheid van die gemiddelde Afrikaner in hierdie opsig het hom veral op twee gebiede geopenbaar. Die eerste was die opvatting van so baie Afrikaners dat hulle kultureel reeds so volwasse was dat hulle die hulp en steun van Nederland nie meer nodig gehad het nie. Geen enkele volk is kultureel so sterk dat hy net op sy eie bene kan staan nie. Dit is daarom dat die Europese volke mekaar voortdurend geestelik en andersins beïnvloed. Te veel Afrikaners het gemeen dat beïnvloeding deur Nederland dan 'n teken van swakheid sou wees. Die uitwerking daarvan was geestelike isolasie. En wat dit meegebring het, het die bekende digter dr. W.E.G. Louw onlangs in 'n toespraak aangetoon, toe hy verklaar het dat die droom van dertig jaar gelede oor 'n groot en sterk Afrikaanse kultuur nie verwesenlik is nie. Indien die hand met die Nederlandse kultuur vasgehou is, kon die toestand vandag totaal anders gewees het.
Die tweede is die wyse waarop 'n aansienlike aantal Afrikaners Nederlandse immigrante nie welkom in hul nuwe vaderland geheet het nie. Wanneer 'n opname wat in Pretoria gedoen is, aantoon dat 'n aansienlike persentasie Nederlanders wat hulle daar gevestig het, nie kontak met Afrikaners het nie, is dit wel 'n teken dat daar nog te veel Afrikaners is wat die Nederlanders op 'n afstand wil hou en wat niks doen om mense wat assimileerbaar is, nader te trek nie.