‘...En hoe hou u van Suid-Afrika?...’
Ons is al 'n geruime drie jaar in Suid-Afrika, en die vraag wat ons - en ons land- en lotgenote - seker die meeste gehoor het, is: ‘en hoe hou U van Suid-Afrika?’
Daar is in Suid-Afrika baie immigrante, en ek mag dus aanneem dat bogenoemde vraag hier reeds baie, baie kere gestel is, en nog soveel male gestel sal word. Alhoewel dit seker ook bedoel word as vriendelikheid, of om 'n mens op sy gemak te laat voel, of 'n gesprek te open, is die oorsaak tog ook seker 'n mate van nuus- kierigheid: Wat zou hierdie vreemde mens wat hier ingetrek het, en kennelik nog 'n vreemde eend op die werf is, van ons land dink?
En dié persoon, wat sy eie vaderland moes verlaat het, omdat daar geen toekoms of vooruitsigte was nie, òf omdat die vrees, om 'n nuwe oorlog nogmaals van naby te moet deurmaak so groot was dat hy dit nie langer kon uithou in sy eie land nie, dié persoon, wat dit waardeer dat 'n ander land hom gastvry ontvang het, en alle vooruitsigte wel kan verskaf, benewens die rus, wat in die jagende geteisterde Europa ten enemale ontbreek, sou wel erg ondankbaar wees, as hy nie antwoord nie: ‘Ons hou baie van hierdie land, en van die heerlike son, van die gasvryheid van sy inwoners......’
‘Mis u nie u famielie nie?’ vra hulle dan natuurlik. ‘Ja seker, ons mis hulle baie, maar ons is nou hier, en dit help nie om agtertoe om te kyk en te veel te treur nie - ons moet vooruit!’
En dit is dan in kort so ongeveer die gemiddelde antwoord wat jy sal kry op die vraag, wat die meeste aan ons gestel word: ‘Hoe hou u van Suid-Afrika?’
Vir 'n geruime tyd voel ek al die behoefte om nader op hierdie vraag in te gaan. Dit hou soveel vir ons in, daar is soveel aspecte, dat agter hierdie eenvoudige antwoord nog baie gedagtes en gevoelens ongesê bly. Die immigrant staan of val immers daarby: of hy van Suid-Afrika sal kan hou, en of hy al die goeie wat die land hom bied, so kan leer waardeer, dat hy sy famielie en vriende, al die vertroulikhede van sy eie land, ja die liefde vir sy eie vaderland op die agtergrond sal kan skuiwe en 'n twede plek sal kan gee. Nie vergeet nie! O, nee! Hy hoef hiervoor nie sy dierbares te vergeet nie, nog ontrou te wees aan sy eie land, maar hy moet wel, om met die nuwe lewe op goeie voet te mag kom, om die nuwe land, waar hy voet aan wal gesit het, te mag leer ken en...... liefhê, begin om die oue en agtergelatene na die agtergrond te skuiwe. En dit is vir baie van hulle erg moeilik......
Die Afrikaner, wat self so geheg is aan sy land, en van wie die famieliebande nog so heg is, sal dit seker goed kan begryp.
Dit is so heel anders of 'n mens die land as 'n toeris kom besoek of as immigrant kom bewoon! Die toeris reis immers sorgvry rond. Hy sien die mooiste tonele, nuttig die beste etes; hy het vakansie en doen net wat hy die beste dink, met die wete: straks gaan ek weer terug na my famielie en na my tuiste, met 'n skat van herinneringe, verhale en ervaringe! Daarom kan die toeris die oë wyd oop hou vir die natuurskoon, die mense, die vreemde sedes en gewoontes; in een woord, waar die toeris die vreemde land met 'n onbevange hart tegemoet tree, knaag daar aan die immigrante-hart maar al te dikwels 'n klein, maar volhardende ‘Ietsie’, 'n mengseltjie van heimwee, verdriet, eensaamheid en onbestemdheid. Dis 'n nare klein mengseltjie, wat hom verhoed om voluit te geniet van al die nuwighede en interessanthede om hom, en as hy nie oppas nie, maak dit hom humeurig en krieties en is dieselfde immigrant in plaats van 'n plesierige genietende reisiger, 'n saaie vitterige issegrim, wat orals afbrekende kommentaar lewer, met steeds herhalende refryn: By ons, in ons eie land is dit tog maar veel beter! Ja, as die knaende ‘Ietsie’ die oorhand kry, dan is hy verlore. Die eén persoon het daar byna geen las van nie, die ander een wel deeglik, maar almal ken tye wanneer hul moet veg om dit baas te raak. Want ag, sodra 'n mens vir goed 'n groot oseaan tussen hom en die syne geplaas het, dan besef hy hoe geheg hy is aan diegene wat hy laat agterbly het, en hoe dierbaar die snaakse, vlakke strook grond, met duine en dyke, weides en water - waar dit buitendien nog altyd gereën het, as hy wou uitstap - wat Nederland heet, en sy vaderland was, is.
Kan u nou begryp wat daar deur 'n mens gaan, as hy antwoord wil gee op, die vraag: hoe hy van Suid-Afrika hou?
Ja, en ek is 'n vroumens. En 'n vrou beskou alles in emosionele lig, meer as 'n man. Ook kan één mens nooit 'n antwoord gee wat by alle lotgenote pas nie. Want ieder mens reageer weer op sy eie wyse en na eie aard, nie waar nie?
Waarskynlik sou u op hierdie vraag, gestel aan duisende immigrante, duisende verskillende antwoorde kry. Wat ek alleen kan doen, is om so eerlik moontlik, en so'n objektiewe antwoord moontlik vir ons almal te vind. En dàn nog, is die antwoord een van 'n vrou.
Sodra as die immigrant probeer om die land, wat hom nou 'n woonplek en werk verskaf, te beoordeel, beskou hy dit nie alleen soos die toeriste uit 'n oogpunt van natuurskoon, klimaat en kuituur nie, sy waardebepaling kan - hoe verkeerd ook - in groot mate afhankelik wees van die vraag: Wat is sy posiesie in die land? En die meer of minder gunstige antwoord op hierdie vraag, bepaal dikwels vir 'n gedeelte mee sy opienie. En daar is drie moontlikhede:
1. | Sy posiesie het verbeter; |
2. | Sy posiesie bly ongeveer dieselfde; |
3. | Hy moet geheel en al van vooraf aan begin, en hom van onder af opwerk om die posiesie te bereik wat hy in sy eie land reeds gehad het: Hy gaan dus voorlopig flink agteruit. |
Die laasgenoemde soort, wat, behalve sy familie en sy land, ook sy sfeer mis, en werk moet verrig wat hom, sosiaal gesproke, 'n end agteruit skuif, sal in die meeste gevalle die grootste moeite hê om hom aan te pas en objektief Afrika te sien soos Afrika is.
Dan spreek die band van famieliebetrekkinge, wat die landverhuiser moes agterlaat het, ook luidskeels mee. By die eén is die band baie sterk, 'n ander maak homself makliker los, sommige het in die geheel geen noue famieliebande nie, en daarom is die mengsel van hulle ‘Ietsie’ gladnie so bitter nie.
Die immigrant wat onder kategorie 3 val en hom daarbo moeilik kon losmaak, word deur dat bitter mengseltjie gekwel. Dit versomber sy lewe én sy oordeel en dié immigrant sal baie gedagtes ongesê laat as hy u