Zuid-Afrika
Oranje se betekenis vir Suid-Afrika.
Dit is gebruikelik om telkens bij die groot Oranje-feeste wat gevier word, steeds op die betekenis wat Oranje vir die Nederlandse volk het, te wys. Oranje was die grondlegger van die onafhankelikheid van die Nederlande, waardeur daar 'n vrye Nederlandse Nasie ontstaan het; en dit is baie merkwaardig dat dit daardie Nederlandse Nasie altyd goed gegaan het as Oranje aan die hoof was, ook te midde van selfs die donkerste tye. Oranje het altyd Nederland saam gebind en besiel. Die stadhouderlose tydperke met hulle geskrewe en ongeskrewe ‘ewige edikte’ het die Nasie altyd na die afgrond van ondergang gevoer, en dit was altyd weer Oranje wat uiteindelik die middel in Gods hand was om Nederland van daardie ondergang te red. Dit is dan ook so goed verklaarbaar dat daar meermale gewys is op die drievoudige snoer ‘God, Nederland en Oranje’. Dit was vir Oranje moontlik om die grondlegger te wees van die onafhankelikheid van Nederland omdat die grote Swyger sy verbond nie met aardse magte gesluit het nie, maar met die ‘Potentaat der Potentaten’.
En tog word aan die betekenis van Oranje te kort gedoen as enkel en alleen gewys word op sy betekenis vir die Nederlandse volk. Die betekenis van Oranje strek sig veel verder uit dan tot die grense van die Nederlandse Volk. Toe die Boerevolk in onse Tweede Vryheidsoorlog in sy bangste nood verkeer het, het een van onse Boerevoormanne dit met krag uitgespreek: ‘De Boeren erkennen de Koningin van Nederland als het hoofd van hun stam’. Die Hollands-Afrikaanse nasie is 'n loot van die Nederlandse stam, waarvan Oranje die grondslag van vryheid gelê het. Sonder die geboorte van 'n vrye Nederlandse Nasie sou daar ook nie Boerevolk ontstaan het nie. As die Nederlandse Nasie in die Napoleontiese oorheersing deur Frankryk geabsorbeer was sonder dat daar 'n Oranje was wat kon red, sou die magtige nasionale beweginge in Suid-Afrika van af die dae van die Grote Trek ook nie plaats gevind het nie.
Willem die Swyger het die ou stam van Nederland 'n vrye en onafhankelike voedingsbodem besorg, en Oranje het in die loop van die eeue daardie ou stam nuwe lote laat skiet, ook hier in Suid-Afrika. Daarom vereer ons Oranje ook in Suid-Afrika. Daarom is onse bede vir Nederlands Vorstin en haar huis.
God behoede haar!
Pretoria, Febr. '33.
S.P. ENGELBRECHT.