Zuid-Afrika
Vertalers noodig.
Dat het Afrikaansch een gelijksoortigen strijd tegen het Engelsch moet voeren als het Vlaamsch tegen het Fransch, blijkt uit de volgende klacht, overgenomen uit Die Burger:
Die Hollands van ons wette en wetsontwerpe is van so'n aard dat met reg daarop gekla moet word. Maar by kla durf dit nie bly nie; daar moet onmiddellik stappe geneem word om met die minste moontlike versuim verbetering in die toestand te bring.
Ons het reeds l.l. week terloops daarvan melding gemaak dat die wetsontwerpe almal in Engels opgestel word en dan oorgesit in Hollands. Van opstel in Hollands kan daar glo geen sprake wees nie, omdat in geen Departement al die persone wat met die opstel van die wetsontwerpe te doen kry Hollands behoorlik magtig is nie. Hierdie feit gooi 'n interessante lig op die tweetaligheid van die hoë amptenare na veertien jaar van Sapbestuur!
In een opsig het die vorige Regering in die besonder die verwaarlosing van die Hollandse vertalings in die hand gewerk; van die groot meerderheid van belangrike wette is n.l. onder die vorige Regering die Engelse teks deur die Goewerneur-generaal onderteken. As die Hollandse teks onderteken moes geword het, sou hulle daarmee noukeuriger te werk gegaan het. Miskien is dit ook ten dele hieraan te wyte dat dit vandag nog die algemene klag is dat vertalers geen fatsoenlike besoldiging ontvang nie. Ons meen dat selfs die Staatsdienstkommissie enige jare gelede 'n hoër salarisskaal aanbeveel het, maar daar het niks van tereg gekom nie.
'n Groot hoeveelheid vertaalwerk sal daar altijd in ons tweetalige land moet wees, ook wanneer elke amptenaar werklik, en nie net in naam nie, tweetalig is. Vandag is dit alleen in die belang van Afrikaans, maar dan sal dit in die belang van albei die landstale wees dat die Staat oor deeglike vertalers sal beskik. En dit geld in kleiner mate ook van partikuliere ondernemers. Om deeglike vertalers te kry, sal dit nodig wees om die mense 'n fatsoenlike salaris aan te bied, maar ook wanneer dit gebeur, rus daar nog 'n besondere plig op ons skole en uniwersiteite. 'n Vreemde taal word nie aangeleer deur lang stukke uit die een taal in die ander oor te sit nie; daardie manier van 'n vreemde taal te leer is gelukkig reeds verouder. Maar die eise wat 'n tweetalige land stel mag ook nie uit die oog verloor word nie. Die leerling en die student in Suidafrika sal dikwels in hul latere lewe stukke uit die een taal in die ander moet oorsit en om daardie rede behoort hy in sy studiejare oefening daarin te ontvang, dus nie as 'n middel nie, maar as 'n doel.
Die Regering moet daarvoor sorg dra dat waar vertaalwerk gedoen moet word, dit op behoorlike wyse geskied. En die skole en uniwersiteite moet daarvoor sorg dat die persone daar is wat sulke vertaalwerk behoorlik kan uitvoer.’