Gelykheid in feite!
Die hr. J. Pellisier, Kaapstad, deel onder datum 19 Maart in een van die Afrikaanse koerante die volgende feite meer oor die talrykheid van eentalige amtenare in die Algemene Postkantoor in Kaapstad:
Die tweetalige klerke, sê hy, word nie behoorlik bevorder nie, terwyl die eentaliges vlug vorentoe gestoot word. By die toonbanke, waar die klerke die publiek moet bedien is die toestand as volg.
Die afdeling Briewe vir Vreemdelinge: Die twee dames is albei eentalig.
Aflewering van Aangeteekende Stukke: eentalig.
Verkoop van posseëls: albei klerke eentalig.
Inligtingdiens: die klerke ken nie eens ja of nee nie.
By uitreiking van poswissels, by uitbetaling van posorders, by spaarbank-uitbetaling, by spaarbank-ontvangste, by uitbetaling van pensioene, by telefoon-ontvangste is dit alles eentalig. By Telegramme is uit die vier klerke slegs een tweetalig.
Die rede is nie, dat die tweetalige klerk nie bevoeg is nie, maar hulle is Afrikaners en word oor die hoof gesien. By bevordering kry die eentaliges, die Engelse. die voorkeur.
Daar word teenswoordig in Suid-Afrika veel geskrywe oor die gevaar van die skepping van 'n verstandelike proletariaat. Die gevaar hoef daar nie te bestaan nie, as die ontwikkelde Afrikaners maar kans kry in die staatsdiens en die beste betrekkings nie stelselmatig gevul word deur ‘Home-born experience’ nie!
Daar behoort beter samewerking te kom tussen die staat en die opleiding aan die uniwersiteite.