Stamnuus uit Suid-Afrika.
Landverhuising tot Nagedagtenis aan Jan van Riebeek.
Volgens ons in die pers te lees gekry het, is invloedryke Nasionaliste in Johannesburg besig met die uitvoering van 'n plan tot bevordering van landverhuising van Europeane na Suid-Afrika. Die sal glo heet: ‘Landverhuising tot Nagedagtenis aan Jan van Riebeek,’ die grondvester van die Dietse Afrikanervolk. 'n Aanvang sal gemaak word met die opening van ten minste twee kantore: in Nederland en in Londen. Die oprigters het die oog op die versterking van die blanke bevolking van Suid-Afrika met mense van 'n beskeie inkome en ‘van die stand van ons geëerde voorvaders.’ Aan dié mense sal hulp verleen en raad verskaf word wat betref die verkryging van grond in Suid-Afrika. Die vereniging het egter niks te maak met die koop en verkoop van grond en dus geen geldelike belang by die saak nie. In alle provinsies sal afdelings van die vereniging ingerig word tot bevordering van die beoogde doel.
Hierdie berig is ongetwyfeld van baie groot belang en die behoorlike uitvoering van die plan sal beslis die versterking van die Dietse bevolking in die hand werk. Die feit, dat dit 'n politieke kleur skyn te hê, omdat dit van die Nasionaliste afkomstig sou wees, doen aan die waarde van die saak niks af nie. Dit is vir Groot-Nederlanders eerder 'n rede vir verheuging, omdat dit 'n sekere waarborg inhou, dat die Dietse bestanddeel van die landverhuisers nie die geringste in aantal sal wees nie.
Suid-Afrika het beslis behoefte aan versterking van sy blanke bevolking met goeie boustof Die Afrikanervolk het behoefte aan nuwe Dietse bloed. Veel armoede is daar seker en daar is mense wat nuwe aankomelinge uit Europa liewers nie sal sien nie, omdat hulle die stryd om die bestaan kan kom verswaar. Maar ek glo, dat vars werkkragte die volkslewe sal aanwakker en eerder 'n kans staan om werkgeleentheid te bewerkstellig dan anders om. Grond is daar genoeg in Suid-Afrika vir nog baie mense en deur toepassing van beter wetenskaplike bebouing kan veel van die tans bewerkte grond self ook nog aan meer mense 'n goeie stuk brood verskaf. Bowedien is die fabrieksnywerheid van Suid-Afrika nog maar in sy kinderskoene Op hierdie gebied lê daar nog 'n wye verskiet voor ons ope. Mense wat kan aanpak en volhard, sal sowel in die fabriek as op die plaas nie van honger hoef om te kom nie. Maar die belangrykste vir Suid-Afrika is ongetwyfeld die landbou en ek hoop van harte, dat hierdie nywerheid ver en lang bo alle andere daar die oorwig sal behou. Dit is in belang van die Afrikanervolk. Die geestelike waarde van 'n oordeelkundige bevordering van landverhuising staan vir my hoër dan die stoflike. Die sielkundige toestand van 'n baie groot deel van die Afrikanervolk laat veel te wense oor, wat die oorsake daarvan ook al mag wees. Die Arme-Blankedom het sy stoflike, maar ook sy geestelike oorsake. Die redmiddels moet die geestelike ook nie voorbysien nie. Verlewendiging van kulturele lewe is nodig, vernuwing van geeskrag is onmisbaar. Nuwe inwoners uit die vreemde, veral natuurlik van ons eie stam en taal, sal aan dié verlewendiging en vernuwing in sterke mate meewerk. Nuwe bloed van 'n goeie gehalte sal ons volkskrag ten goede kom.
Mag die nagedagtenis van Jan van Riebeek deur die werk van hierdie aard na waarde geëer word!