‘Dreigend Gevaar?’ Nee, maar die Weg tot Oorwinning.
In die nougesette handhawing van sy taal het die Afrikaner nog nie geheel die hoognodige oorwinning oor homself behaal nie. Selfs Nasionaliste skiet ook nog te kort in hulle plig teenoor wat hulle as kosbaar en onmisbaar beskou vir die voortbestaan van hulle volk. Haas en gemaksug is daar oorsake van, en ook die slappe toegéwendheid en oordrewe verdraagsaamheid van die Afrikaner teenoor andersdenkendes. Hy hou nou eenmaal nie daarvan om vir andere moeilikhede te veroorsaak en beskou te word nie as 'n lastige dweper en bekrompene. Maar gelukkig besef hy, dat hy sy regte beslis met beginselvastheid moet handhaaf veral waar hy met 'n sterke geestelike oormag te doen het. Kyk maar wat die groot nasionalistiese dagblad ‘Die Burger’ dit nog op 15 Desember l.l. nodig geag het om aan die adres van sy lesers te sê: ‘En van daardie Nasionaliste kom op die spoorwegstasie en vra in Engels 'n reiskaartjie! Van daardieselfde Nasionaliste kom in die winkel en spreek in Engels die klerk toe! Dit is meermale 'n Afrikanerklerk; hy hoor die Afrikaner-klant met sy maat Afrikaans praat, maar hom in Engels toespreek, en in sy hart - ja, wat dink hy van daardie Afrikaner wat te sleg is om sy eie taal te gebruik?’
Gelukkig staan ons in hierdie opsig oneindig veel verder op die goeie weg dan tien jaar gelede. Die selfeerbied van die Afrikaner is gewek; hij is omgord geword met stam- en volkstrots, met nasionale bewussyn en saamhorigheidsgevoel.
Dit het ons in hoofsaak te danke aan die Zuid-Afrikaanse Taalbond en aan die Afrikaanse Taal-Vereniging. Die eersgenoemde het met die inrigting van jaarlikse eksamens van vier verskillende grade die studie van die Hollandsche taal- en letterkunde 'n kragtige stoot vooruit gegee. Die Bond doen nou nog sy goeie werk met ryke beloning, hoewel hy 'n blote eksaminerende en prijsuitdelende liggaam is, wat sedert enige jare as eksamenkommissie behoor onder die Z.A. Akademie.
Die taalbond het die studerende jeug geraak en die belangstelling vir Hollands wakker gehou.
Maar die Afrikaanse Taal-Vereniging was dit wat die Afrikanervolk in die siel begryp en strydlus en geesdrif gewek het. Meer en meer koerante en tydskrifte, gedigteen prosabundels van allerlei aard is in Afrikaans uitgegee. By honderde eers, by duisende en tienduisende Afrikaners kort daarop, is die besef geskep, dat 'n volk moet behou en bevorder wat sy eie is, as hy wil bly voortbestaan.
Die volk het lus gekry om te lees, omdat hy maklik kon verstaan wat hy lees. Die volk het lus gekry om te skrywe, omdat hy maklik kon sê wat hy wou in sy eie taal met eie uitdrukkingswyse, eie beelde, eie woorde, eie geestesgesteldheid. Langenhoven, Leipoldt, Celliers en sovele andere sou in Hollands nooit kon bereik wat hulle in staat was om in Afrikaans te skep nie. Die kunstenaarsiel moet vir sy uiting dié middel hê wat eie is aan sy wese.
Moet ons hierdie openbaring van Dietse volkskrag nou gaan beskou as 'n ramp vir die Afrikanervolk en vir die voortbestaan van die Dietse taal en kultuur in Suid-Afrika?
Op die oog lyk dit wel bedenklik vir ons, dat Engels oor die hele wereld, so te sê, een en dieselfde taal is en bly, terwyl ons Diets gesplits word in verskillende takke. Maar die afwyking is tog nog nie so erg groot nie en die verheffing van Afrikaans tot skryftaal sal juis verdere afwyking verhoed. Is die splitsing van die Dietse taalvorm die aanpassing aan verskillende nasionale behoeftes vir ons nie eerder 'n voordeel dan 'n nadeel nie?
Hollands het haas niemand in Suid-Afrika meer gelees nie. Professore en predikante het dit gelees. Studente het dit ook gelees en veral sover dit hulle as eksamenwerk voorgeskrewe was. Maar as 'n nasionale geestesbehoefte was Hollands in Suid-Afrika 'n dooie taal geword. Geestdrif vir Hollands het die Afrikanervolk nie besiel nie. Hollands te praat was onnatuurlijk en aanstellerig. Die plek van Hollands was in die Kerk, in die amtelike regeringstukke en, tot kort gelede, in die koerant. Maar een Engelse diens in die Ned. Ger. kerke iedere Sondag is noodsaaklik geag, die Engelse uitgawes van die regeringstukke het die voorkeur gekry en die Hollandse koerant is as te moeilik om te geniet deur 'n menigte opsy geset. Diegene wat 'n Engelse blad ook nog kon betaal, het daarop ingeteken. 'n Menigte Afrikaners het maar liewers glad niks gelees nie.
Nou is dit gelukkig alles anders in Suid-Afrika, danksy die Afrikaanse Taal-Vereniging. Weens afsondering vir meer dan 'n eeu lang was die kind van sy moeder vervreem. Hy het staande gebly uit eie weerstandsvermoë en begin nou sy krag ontplooi, die krag van sy moeder geërwe. Deur die lange verwydering het hy eie karaktertrekke verkry, maar aan sy uiterlik en sy gees is hy as die kind van sy Dietse moeder te herken. As Afrikaans sy Dietse moeder sou misken en verloën, dan was daar gevaar. Maar dit doen hy juis nie. Die leeslus deur hom gewek, kom ook die Hollandse uitgawes in steeds sterker mate ten goede. Sy nog te kleine woordeskat vul hy aan uit Hollands.
Die Dietse kultuur in Suid-Afrika is gered deur die Afrikaanse taal. Hy is geen vyand van Hollands nie, maar kind en bondgenoot en verdien as sulks erkenning en steun.
Om 'n stryd te verwek tussen dié twee, sou noodlottig wees vir Holland sowel as vir Suid-Afrika.