Zuid-Afrika.
Van Riebeek se aankoms herdink.
1652 - 6 April - 1922.
In weerwil van die ruk en pluk van die Suidooster het daar gistermiddag om kwart oor vyf 'n skaar van belangstellende om die standbeeld van Van Riebeek bymekaar gekom om hulde te bring aan die nagedagtenis van die groot man. Eweas verlede jaar was die huldeblyk georganiseer deur die ‘Algemeen Nederlands Verbond’. Net 'n oomblikkie van stil staan om terug te dink aan die kloeke daad van Jan van Riebeek, die stoere seun van Nederland aan wie die blanke bevolking van Suid-Afrika sy ontstaan te danke het.
Mevr. J. Loopuyt, voorsitster van die Verbond, het die plegtigheid gelei en die uittreksel uit die dagboek van Van Riebeek voorgelees, waarin hy die wens uitspreek, dat 6 April 1652 in ewige nagedagtenis gehou sal word as aandenking aan sy aankoms op die verre, vreemde suiderstrand.
Ds. J.P. van Heerden lees vervolgens die gebed van Van Riebeek voor.
Min. Malan neem daarna die woord en sê: Paslik is dit vir die nasate van die handjievol stoere manne, wat hierdie volksplanting gestig het, om die nagedagtenis van hul groot leier te herdink. Van Riebeek het 270 jaaf gelede hier aangekom en het ons 'n erfenis van karaktervastheid gelaat. Hy het nie gestuit vir moeilikhede nie, maar steeds vorentoe gegaan. Die beskawing het van 6 April 1652 steeds meer uitgebrei en Suid-Afrika al dieper en dieper ingedring. As ons vandag ooit donker gedagtes kry oor die toekoms van Suid-Afrika en daaraan twyfel of dit 'n groot beskaafde land sal bly, is dit goed om terug te dink aan Jan van Riebeek, die man wat vol vertroue vir die toekoms was, en nie vir moeilikhede teruggedeins het nie.
Mnr. Groenman, Nederlandse Konsul, bring as verteenwoordiger van die Moederland hulde aan die nagedagtenis van haar groot soon. Spr. skilder kortliks die moeilike reis in die ‘drie notedopjes op de machtige oceaan’ en sê dat dit by iedereen bewondering afdwing, dat die pioniers van ons grondlegging hul gerieflike wonings verlaat het om hulle na die vreemde, wilde land te begeef. Suid-Afrika sowel as Nederland het alle rede om trots te wees op Jan van Riebeek.
Die kranse is daarna op die standbeeld gelê, wat vir die geleentheid mooi skoongemaak is. Vyf kranse, pragtige blomme-huldes van die Nederlandse Verbond, die Administrateur, die Stadsraad, die Nederlandse Konsul en die ‘Sons of England’ is aan die standbeeld geheg.
Minister Mentz het daarna die woord geneem en kortliks die Engelse vriende dank gebring vir hul belangstelling. Dis 'n verblydende teken dat ons Engelse medeburgers eweëens Jan van Riebeek as die volksplanter van die Suid-Afrikaanse nasie erken.
Nadat mevr. Loopuyt die aanwesiges bedank het vir hulle teenwoordigheid, het die plegtigheid ten einde geloop.
(Verkort uit Die Burger).