Credo [klinker]
Agter my gedig ‘Credo’ uit my bundel Hiermaals lê die verhaal van die gelyktydige ontwikkeling van 'n lewensbeskouing en 'n talent. Van beslissende belang vir die koers wat my lewe gevolg het, was veral die vormende invloed wat daar op my uitgegaan het van twee van my dosente aan die Universiteit van Stellenbosch: die filosoof Johan Degenaar en die digter Dirk Opperman. Aan Degenaar het ek 'n beskouing van die aarde en die mens te danke waaruit ek reeds 'n leeftyd lank inhoude put vir die maak van gedigte. En dis Opperman aan wie ek die verwesenliking van 'n sluimerende talent vir die poësie te danke het.
Die belangrikste les wat ek by Opperman geleer het, is dat om gedigte te skryf nie die inkeer op die self en die uitstort van emosie veronderstel nie, maar 'n oorgawe aan die lewe deur die sintuie en 'n vereenselwiging met andere om so uitdrukking te gee aan die algemeen-menslike. 'n Digter moet deur die oog dink, het Opperman geleer, en abstrakte, bewerende taalgebruik - volgens hom by uitnemendheid die taal van die filosofie - vermy.
Opperman se weerstand teen die filosofie en my verdieping daarin het nie tot 'n botsing tussen my twee hoofvakke gelei nie. Wat op eerste sig in konflik met mekaar gelyk het, was ten diepste versoenbaar en wedersyds verrykend. Degenaar was ook 'n groot liefhebber van die poësie met 'n besondere belangstelling in die metafoor as voertuig van die gedagte. Sowel die digter as die filosoof het die aarde liefgehad en my vermoë om sintuiglik te ervaar, gestimuleer. Maar meer nog het albei dosente my bevry van 'n onderskatting van die aarde en die lewe: 'n lewensbeskouing wat seerseker nie inherent is aan die Christelike geloof nie, maar tog daarmee verband hou.
In die prediking waaraan ek van jongs-af blootgestel is, moes ek by herhaling hoor dat die ‘wêreld nie ons woning is nie’. Maar nou het ek presies die teenoorgestelde van belydende Christene verneem, onder andere van Gilbert K. Chesterton in sy Orthodoxy wat hy sy ‘personal philosophy’ noem. Degenaar het een van sy lesings ingelei deur te siteer uit die hoofstuk ‘The ethics of elfland’: Sprokies waarin riviere vloei met wyn en bome goue appels dra, sê Chesterton, het hom laat besef dat die aarde self betowerd is: ‘The only words that ever satisfied me as describing nature are the terms used in fairy books “charm”, “spell”, “enchantment”’. Chesterton se Orthodoxy het 'n onuitputlike bron vir my poësie geword en my geleer dat verwondering ten diepste religieus is.
Die neologisme gevorm na aanleiding van ‘hiernamaals’ het, as die antoniem daarvan, die titel geword van my sesde bundel van 1992 wat ek opgedra het aan Johan Degenaar. Ek wou nie Chesterton se betoog voer om my keuse vir die ‘hiermaals’ te motiveer nie, daarom het ek volstaan met 'n kriptiese motto; Chesterton se