As 'n mens Leipoldt as digter en denker vandag opnuut bekyk, verander die beeld van hom as ‘volksdigter’ by vroeë kritici tot 'n ware bevryder van die blanke Afrikaner uit die eng grense wat sy lewensuitkyk en kultuur in so 'n groot mate in die verlede beperk het. Leipoldt was by uitstek dié digter van sy geslag wat die geestelike horisonne van die Afrikaner versit en nuwe wêrelde vir sy mense oopgemaak het. Juis deur hierdie oop karakter van sy werk is hy deur Albert Verwey geloof as die Afrikaanse digter wat, méér as sy tydgenote Celliers en Totius, aan ‘de dichterlijke inhoud van Zuid-Afrika’ gestalte gee en was hy die eerste Afrikaanse skrywer om internasionale erkenning te ontvang.
Juis daarom waardeer ek dit dat die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde die naam van Leipoldt aan sy prys vir Afrikaanse letterkunde gekoppel het.
Die opstel waarmee ek vanaand deur die Maatschappij bekroon word, handel oor ‘Uys Krige en die Suid-Afrikaanse politiek’, die ander groot Afrikaanse skrywer wat hom, voor die vernuwing van Sestig, krities teenoor die tradisionele Suid-Afrikaanse rassebeleid ingestel het. Met sy konsekwente en volgehoue verset teen die Nasionale Party se vroeë flirtasie met Nazi-ideologieë, sy steun vir generaal J.C. Smuts se toetrede tot die Tweede Wêreldoorlog en sy deelname daaraan, sy verset teen die apartheidsdenke sedert 1948 en sy herhaalde proteste in die vyftiger- en sestigerjare het Uys Krige in 'n groot mate onder sy generasiegenote 'n alleenpad geloop. Telkens het hy onverskrokke, duidelik en ferm sy afkeer van die rigiede apartheidstelsel, en alles wat daarmee saamhang, laat hoor. Met sy aksent op geestelike vryheid staan hy in die groot lyn van liberale Suid-Afrikaanse denkers waartoe mense soos Olive Schreiner, Onze Jan Hendrik Hofmeyr, F.S. Malan, J.H. Hofmeyr, Deneys Reitz en ook C. Louis Leipoldt behoort. Saam met sy skeppende werk is hierdie bydrae tot die geestelike vryheid van sy mense sy groot verdienste.
Hierdie standpuntinname het Uys Krige by die literêre ‘establishment’ van sy tyd ongewild gemaak en hy moes vir die grootste deel van sy lewe 'n duur prys daarvoor betaal. Telkens is hy deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir bekronings van sy oorspronklike skeppende werk verbygegaan. Waarskynlik by wyse van boetedoening het die Akademie hom uiteindelik in 1974 met die Hertzogprys vir Poësie bekroon, maar die rol wat dié liggaam oor dekades heen gespeel het om by herhaling bekronings van Krige te weerhou, word daarmee nie ongedaan gemaak nie. Dit is een van die ergste vergrype nóg wat 'n Afrikaanse