asemhaling is, weliswaar soms asmaties of soms té sonoor, soos die gesnork van 'n welversadigde en gesonde staatsamptenaar op die warmste uur van 'n somermiddag, maar na my mening is die maak van verse 'n normale liggaamsfunksie, en hoe beoordeel mens nou asemhaling? Die enigste wedywering is om te sien wie die langste aan kan hou; of miskien, denkende aan die oordonderde en lydende leserspubliek, kan pryse uitgeloof word vir die kortste gedigte!
Ek wil dus verkies dat hierdie Lucy B. en C.W. van der Hoogt-prys nie net getuig van waardering vir Lotus nie, maar dat dit 'n ruimer belangstelling aantoon vir wat daar in Afrikaans geskryf en bedryf word. Ek sou graag dat u kennis kon neem van die rykheid, die veelsydigheid van die Afrikaanse taal en die Afrikaanse literatuur (en dan nog is dit slegs 'n klein en byna ondergeskikte bestanddeel van die veelvlakkige Suid-Afrikaanse kultuur met al sy tale, sy kontraste, sy strominge...).
Suid-Afrika is 'n land van paradokse, dit weet u reeds. Dis seker nie nodig dat ek nou hiér die mees pynlike teenstellings aanstip nie. Maar alleen die Afrikaanse taal reeds is 'n voorbeeld van die paradokse, die stryd, die gelyktydige uitwaartse en paranoïede prosesse van verbastering en verstarring wat my land kenmerk. Afrikaans, so word ons geleer, is die jongste Germaanse taal. En dit is dit ook. Die taal wat ek praat, en die taal wat u gebruik, is albei afstammelinge van dieselfde grootmoeder: 17de eeuse Hollands, al is Afrikaans ook die swart skaap! Maar dis terselfdertyd 'n inheemse taal, inheems aan Afrika, met iets van die ongenaakbaarheid van Afrika se klimaat van uiterstes en iets van die soepelheid, die ratstongigheid van die ou Khoi-Khoin volk; en veel van die vindingrykheid van die ontdekker en die aanpasser. Afrikaans is die taal van die slaaf, die balling, die bruinman, die matroos, die landloper, die afgesonderde boer, die mynwerker - ‘plat Hollands’ of ‘kitchen Dutch’ - Afrikaans is die arm blanke taal, ons eie gladde mengsel, en ek is trots dat dit so is.
Maar dit is, helaas, ook die gehate taal van die verharde heerser. In die naam óók van hierdie wonderlike skip van asem wordt die oorgrote meerderheid van die Suid-Afrikaanse volk verneder en verdruk. Ek glo dat hulle wat 'n verdrukkingsinstrument van my taal gemaak het in die naam van 'n mitiese suiwerheid, die suiwerheid van die onsekere, ontrou is aan die inslag self van die taal. Asof voortbestaan deur afsondering en 'n aanhoudende purgering verseker kan word! Die dag van afrekening is nie meer ver in Suid-Afrika nie. Dis verskriklik, maar waar, dat die simbool van heerserskap, Afrikaans, ook daardie dag gerepudieer sal word.