skiedenis en direkteur van die Nederlands Cultuurhistorisch Instituut aan die Universiteit van Pretoria het sy voorneme te kenne gegee om, in verband met sy aanstaande aftrede, as lid te bedank.
Nuwe lede is tydens 1971 nie benoem of gekies nie. In verband met die lede van die ‘Maatschappij’ in Suid-Afrika word die volgende besonderhede vermeld: Dr. R.P. Botha, senior-lektor in Algemene Taalwetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch is tot professor in Algemene Taalwetenskap bevorder. Aan prof. dr. H.B. Thom, voormalige rektor van bogenoemde universiteit, is die erepenning vir Volksdiens van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (f.a.k.) oorhandig (11.12.1970).
In Mei 1971 is deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aangekondig dat die Stalsprys vir Geskiedenis posthuum aan dr. W.J. de Kock, in lewe hoofredakteur van die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, en die Hertzogprys vir 1971 aan Elizabeth Eybers vir haar digbundel Onderdak toegeken is.
Prof. dr. G.S. Nienaber, voormalige hoof van die departement Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Natal, is aangewys as voorsitter van die eerste Universiteitsraad van die Universiteit van Durban-Westville. Prof. dr. B. Kok, rektor van die Vrystaatse Universiteit (Bloemfontein) se dienstydperk is, op aanbeveling van die Senaat, deur die Universiteitsraad verleng.
Mnr. L.W. Hiemstra, taalkundige redakteur van die Nasionale Persgroep, Kaapstad, is deur die direksie van die groep gehuldig vir sy vyftig jaar ononderbroke diens by die pers. Prof. dr. G.S. Nienaber is as erelid van die S.A. Akademie verkies, terwyl dr. I.D. du Plessis as eerste kanselier van die Universiteit van Wes-Kaapland (Bellville-Suid) ingehuldig is.
Die Republiekprys ter herdenking aan dr. H.F. Verwoerd is op 31 mei 1971 die eerste keer toegeken en wel aan prof. dr. S.A. Louw, van die departemente Afrikaans-Nederlands en Germaanse Taalkunde, Universiteit van Pretoria. Die toekenning van die prys, wat op grond van prof. dr. Louw se standaardwerk Die Afrikaanse Taalatlas geskied het, word deur die departement Nasionale Opvoeding geadministreer. Die aanbeveling dat die prys aan prof. dr. Louw toegeken word, is deur die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns gedoen. Prof. dr. Meyer de Villiers, van die Universiteit van Stellenbosch, het vier maande in België deurgebring en aandag aan Vlaamse spellingprobleme gewy. Prof. dr. H.B. Thom het 'n toekenning van die Alexander von Humboldt-Stiftung (Duitsland) ontvang om dié land op 'n studietoer te besoek.