4. Verslag aangaande die republiek van Suid-Afrika oor die jaar 1968/1969
Die ‘Maatschappij’ se ledetal in die Republiek van Suid-Afrika bedra tans (Februarie 1969) 54. Na die jaarvergadering het die bestuur besluit om die Afrikaanse letterkundiges André Brink en Etienne Leroux as lede te benoem.
Deur die ‘Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns’ is aangekondig dat die volgende lede wat ook lede van die ‘Maatschappij’ is, as volle Akademielede benoem is: Prof. dr. F.J. du Toit Spies (Pretoria, 1967), dr. C.F. Albertyn (Kaapstad, 1968) en dr. Jan Bouws (Stellenbosch, 1968).
Tydens 'n besoek aan die Republiek het die hoë onderskeiding aan dr. Jan van den Berg, oud-ambassadeur van die Nederlande in Suid-Afrika, te beurt geval om op 8 Mei 1968 die erelidmaatskap van die reeds genoemde Akademie te ontvang. Tydens sy huldigingswoord het mnr. G.P. Jooste o.m. verklaar:
‘Hy (dr. Van den Berg) het alles in sy vermoë gedoen om die vriendskaplike verhoudings tussen Suid-Afrika en Nederland te bevorder. Wat hy hier gedoen het, het daarvan getuig dat dit sy strewe - sy roeping - was. Sy vurige liefde vir sy eie volk en vaderland het hom dan ook begrypend ingestem vir die ewe vurige liefde van ons volk vir ons vaderland, asook vir ons vasberadenheid om as Nasie en as Staat voort te bestaan’.
Met betrekking tot bekronings deur die Akademie kan o.m. vermeld word dat die Hertzogprys vir poësie (1968) aan wyle prof. I.W. van der Merwe (Boerneef) toegeken is.
Die Stalsprys vir taalwetenskap (1967) is gesamentlik aan proff. S.P.E. Boshoff (Pretoria) en G.S. Nienaber (Pietermaritzburg) toegeken, terwyl dr. Jan Bouws (Stellenbosch) die Stalsprys vir Kultuurgeskiedenis (1967) verwerf het.
Op 8 Augustus 1968 het die voorsitter van de F.A.K., prof. dr. H.B. Thom, die Erepenning vir Volksdiens aan prof. dr. D.F. Malherbe oorhandig en o.m. die verdienstes van laasgenoemde as taalstryder,