Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde, 1939
(1939)– [tijdschrift] Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde [1901-2000]– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 33]
| |
Tweetaligheid en die Afrikaanse kultuur-ontplooiingdeur dr C.M. van den HeeverIn lande waar daar net een taal en een kultuur bestaan, is dit moeilik om 'n duidelike beeld te vorm van die moeilikhede waarmee 'n tweetalige land te kampe het. Daar is diegene wat beweer dat twee kulture se aanwesigheid in een staatsverband alleen kan lei tot vrugbare verryking van die volkslewe as geheel, terwyl ander daarin net verarming en sielsdodende verwarring kan speur. Daar is al veel oor die onderwerp geskrywe, dikwels ongelukkig deur mense wat weinig kennis het van die praktiese kant van die saak en dan aangedra kom met allerhande abstrakte redeneringe. Dit is inderdaad dan ook nie maklik vir 'n persoon wat daagliks sy eie taal onbelemmerd mag gebruik, om hom in te dink in 'n toestand waar daar twee tale langs mekaar bestaan, waar die twee kultuurgroepe nie geografies geskei kan word en elkeen toegelaat word, om, volgens eie tradisies, te ontwikkel nie, maar waar albei volksdele so deurmekaar gevleg is as gevolg van ondertrouing en samelewing dat die skerpkantige verskil tussen die twee geleidelik uitgevlak word. Meer as een kultuurbewuste persoon in Suid-Afrika en België het al, uit wanhoop om 'n oplossing te vind, die noodlot verwens wat so'n onmoontlike taak aan 'n kultuurgroep of nasie kan stel. Ander persone, wat heel weinig nadink oor sulke ingewikkelde vraagstukke soos die toekoms van 'n taal of 'n kultuur, drywe maar argeloos mee op die stroom van die omstandighede, hulle bekommer hulle nie oor taalvermenging nie en word wreed in hulle sielerus gesteur deur ywerige persone wat hulle oproep om hulle taal en tradisies te handhaaf. As daar nog twee kulture saamgegroepeer word in 'n land op so'n wyse dat die een nie die ander deur allerhande magsmiddele kan oorvleuel nie, sou die vraagstuk seker nie makliker word nie, maar tog 'n redelike geleentheid vir elke volksdeel bied om bydraes tot die land se ontwikkeling as geheel te maak. Maar in Suid-Afrika, sowel as België, het 'n groot en magtige kultuur te staan gekom teen 'n veel kleinere. Die grote het van elders gekom; die kleinere was geworteld in eie aarde. In die geval van Suid-Afrika was die kultuur | |
[pagina 34]
| |
jonk en het nie, soos die noodlot dit vir die Vlaminge voorbeskik het nie, 'n rugsteun gehad in 'n ou kultuur, wat egter as agtergrond lank verwaarloos was en oorheers is deur nuwe dinge wat die volk se begrip tydelik verduister het. Die twee kulture moes noodwendig in botsing kom met mekaar, en soos ons kan verwag: die kleinere het vermink en enigsins vervorm daarvan afgekom. Vir die voortbestaan van die Engelse en Franse taal onderskeidelik beteken dit nie geweldig veel dat 'n groep Engelssprekendes in Suid-Afrika en Franssprekendes in België deur 'n ander kultuur geassimileer word nie, maar vir die Afrikaner en Vlaming hang alles daarvan af. Deur hulle verdwyning word die grotere nog groter gemaak en die afsonderlikheid van 'n bepaalde groep of nasie daardeur heeltemal uitgewis. Nou is daar ontwikkelde persone wat meen dat die taalvraagstuk nie veel moeilikheid behoort op te lewer nie. Hulle is ook diegene wat hulle maklik berus in wat genoem word ‘die historiese noodlot’. Hulle sien in die taal alleen 'n bepaalde tegniek, 'n uitdrukkingsmiddel, wat deur naarstige studie verower moet word om suiwer en korrek gebruik te word, 'n ‘vorm’ wat die gees, die ‘inhoud’ aanwend om hom te veruiterlik, te openbaar. Mens kan dus drie of vier tale met inspanning aanleer en taamlik maklik daarin skrywe of praat. Die inhoud, die werking van die gees word dus losgedink van die taal as uitdrukkingsmiddel. Dat daar hoogstaande persone is wat die buitengewone vermoë besit om in twee of drie tale ewe maklik hulle gedagtes uit te druk, is moontlik, maar hulle is ongetwyfeld uitsonderinge en ons wil sê intellektuele uitsonderinge. Dit hoef ook geen betoog dat die kennis van 'n vreemde taal, wanneer die behoorlik assimileerbaar is, van ontsaglike waarde is. Soos De Vooys dit in sy uitstekende opstel oor Purisme uitdruk: ‘Nauwe aanraking met andersoortige beschaving verrijkt de geest. Men leert nieuwe toestanden, nieuwe denkbeelden en gevoelens kennen, die in de andere taal hun uitdrukking hebben gevonden. Zijn die ons eigendom geworden, dan stelt het vreemde woord in staat tot het weergeven van fijne onderscheidingen. Zelden zal men er in slagen, hetzelfde doel door nieuw-gevonden woorden te bereiken. Overneming, aanpassing of vertaling van het vreemde woord blijft dan het meest doeltreffende.’ So kan 'n sterk volk, bewus van eie krag praat. Die gevaar van taalverwringing is nie daar nie. Maar in die geval van 'n klein volkie is waaksaamheid dubbel noodsaaklik, al loop hulle gevaar om ‘taalverarmers’ genoem te word. Die ervaring leer ons dat 'n taal diep verbonde is met die geestesbesittinge van 'n nasie, | |
[pagina 35]
| |
dat dit nie net die verowering van 'n taal se grammatika is wat ons instaat stel om die taal aan te wend en, ooreenkomstig die gees en idioom daarvan, gedagtes mee te deel wat die moeite werd is nie. Daar is veel diepere kragte aan die werk. Die verowering van 'n ander taal beteken die verowering van die gees, die afsonderlike wêreldbeskouing, die wêreldbeeld wat agter daardie taal lê. Anders is dit met die meertaligheid wat in 'n woordeskat opgesluit lê van dié soort: ons metode leer u Frans of Engels in een week! Die mens wat dus tweetalig is in die goeie sin van die woord - daar is immers kelners wat in ses tale 'n paar sinne taamlik korrek kan sê - moet twee wêreldbeelde, wat hulle uitdrukking in twee afsonderlike tale gevind het, met al die kenmerkenheid wat aan elkeen verkleef is, in die fynste besonderhede verower. Die noodwendige gevolg moet wees dat die twee taalagtergronde, met al die noukeurighede van woordeskat, woordkeuse, spreekwoord, wending, sinskonstruksie, uitspraak, aksent wat daaraan verbonde is, deurmekaar moet raak; daar moet geleidelik 'n nivellering plaasvind en gevolglik vermenging en grensonsuiwerheid. In die gees van die taalbewuste persoon, wat twee tale goed magtig is, moet daar ongetwyfeld 'n voortdurende - sy dit dikwels onbewuste - stryd voortgaan. As die een taal, wat ekspressie-suiwerheid betref, toeneem, dan gaan die andereen agteruit. Om die twee op een peil te hou, eindig dikwels net met voortdurende inspanning. Word die een taal heeltemal oorheersend, dan beteken dit dat die andereen weggesyfer kan word en sy waarde verloor. Die hoogstaande tweetalige persoon moet dus voortdurend in 'n soort geestesspanning verkeer, want oor en oor, bewus en onbewus, word dieselfde vraag gevra: ‘Is dit die korrekte woord of idioom wat ek gebruik? Begaan ek nie hier 'n dom font waaroor die eentalige vir my lag nie.’ Dikwels is die resultaat 'n ongesonde spraakinhibisie. Die persoon wat gladnie taalbewus is nie, versink in 'n moeras van taalvermenging, waarvan honderde akelige en belaglike voorbeelde opgeteken kan word. Dit is daarom nodig vir taalbewuste persone om deur middel van kultuurvereniginge handhawend op te tree; die koerante en tydskrifte help mee om die sogenaamde ‘taalgoggas’ uit te roei en die taalwese suiwer te hou. So gaan 'n gedurige stryd voort, nie alleen in die gedagtewêreld van die tweetalige individu nie, maar in die hele gemeenskap, waar veel energie verspil en afweermagte gemobiliseer moet word om die steeds invretende invloed van die sterkere taal te verwyder of desnoods net te ontmasker. Daar was selfs 'n tyd toe Afrikaanse taalgeleerdes nouliks die wese | |
[pagina 36]
| |
van 'n kunswerk kon benader so besig was hulle om die tallose ‘taalgoggas’ dood te trap. 'n Belangrike deel van die eerste druk van dr. P.C. Schonees se proefskrif: Prosa van die Twede Afrikaanse Beweging is gewy aan 'n opsomming van anglisismes wat voorkom in die verskillende romans. By 'n populêre skrywer soos J.H.H. de Waal, wat nogal 'n waardevolle rol gespeel het in Kaapland om Afrikaans as taal herken te kry, kom sulke ontstellende voorbeelde voor dat die leser hom onwillekeurig afvra dat, as dit die geval by opregte taalhawers is, hoe moet dit vaar in die breë lae van die volk waar 'n bewuste, afwerende standpunt teen taalvermenging gladnie of net vaag aangevoel word? In 'n stad soos Johannesburg, waar die mag van die Engelse kultuur geweldig sterk is, veral op grond van die feit dat die Engelssprekende hier werkgewer is en verreweg die grootste ekonomiese mag beheers, vind ons dat Afrikaanssprekendes, wat onder minder gunstige omstandighede lewe, nie eers die sogenaamde anglisismes gebruik nie, maar eenvoudig Afrikaans en Engels so deurmekaar strengel dat 'n ware taalgemors van die treurigste aard ontstaan. Dr. A.J. Coetzee, van die Universiteit van die Witwatersrand, het talle en talle voorbeelde opgeteken en gewys op die terugslag wat hierdie wanordelike vermenging het op die taal sowel as op die maatskaplike lewe van die Afrikaner. Waar die taal sy suiwerheid en karakteristieke krag verloor, volg natuurlik geringskatting van die volksgroep wat dit praat, en waar so'n onaangename geur aan die taal begin kleef, praat 'n deel Afrikaanssprekendes liewers Engels in die openbare lewe as om vereenselwig te word met al die onaangename dinge wat in verband staan met 'n minderwaardige taal. Omdat 'n groot deel ernstige Afrikaners merk watter ontaarding hom inwerk in die diepste vesels van die taal en die hele taalagtergrond, wat al die volkstradisies in hulle wydste vertakkinge insluit, stadigaan deurdring, vervul dit hulle met afkeer en haat teen die grotere kultuur en taal wat so'n verwoesting op die persoonlikheid en individualiteit van die kleinere uitrig. Hulle word bitter, aggresief en neem selfs hulle toevlug tot 'n verkleinering van die ouer kultuur se waarde. August Vermeylen het op kalm, deurdringende wyse die Vlaming gewaarsku teen hierdie metode, waardeur die eie, hoe nietig ook, krampagtig teen die geestesprodukte van die ouer kultuur opgehemel word, sodat mens naderhand self senuweeagtig word, want jy besef dat die pleidooi op 'n misverstand berus. Hierdie persone, wat uit 'n beskermende liefde vir hulle taal 'n strawwe vyandige houding inneem | |
[pagina 37]
| |
teenoor die vernielende veroweraar, voel ook - en dit is alleen maar sielkundig - dat 'n mate van verengelsing by hulleself hulle wrewelig stem, en dikwels veralgemeen hulle 'n persoonlike ervaring, of soos dr. A.J. Barnouw dit uitdruk is sy Language and Race Problems in South Africa: ‘If you feel yourself becoming what you do not want to be, you are apt to over-emphasize your otherness.’ Dit is dikwels by die geestelike leiers van 'n volk dat so'n houding ontstaan, want as hulle, wat dikwels taalgeleerdes en letterkundiges is, besef hoe hulle eie taal, in 'n oomblik dat hulle waaksaamheid verslap, 'n deur ooplaat vir gevaarlike gaste, wat moet met die groot menigte gebeur wat in salige onkunde verkeer omtrent die gevare wat hulle bedreig? Dit stem hulle ook bitter en wond hulle gevoel vir suiwerheid as daar op 'n wyse, wat vir hulle hemeltergend is, beweer word dat daar aan die ineensmelting van die twee tale, soos dikwels in die geskiedenis al gebeur het, niks gedaan kan word nie. Dit is dwaasheid om in te gryp op hierdie ‘historiese noodlot’ en noodwendigheid. Of nog erger: dat dit nou eenmaal 'n natuurwet is dat die swakkere moet swig voor die sterkere, dat dit nutteloos is om 'n taaltjie te propageer wat geen ‘kommersiële waarde’ het nie. Veral die ‘kommersiële waarde’ moet altyd, by persone wat prakties aangelê is en niks van taal of taalontwikkeling weet of wil weet nie, as 'n dooddoener dien. Grosskopf vestig in sy deel van die Armblanke-verslag die aandag op 'n belangwekkende verskynsel. Die ontwikkelde Afrikaner voel dat alle prestige van sy taal in die grond geboor word deur 'n minderwaardige armblanke-tipe, waarvan 'n groot massa in die Westelike voorstede van Johannesburg saamgestroom het as plebs urbana: ‘'n Engelssprekende stadsingenieur van een van ons munisipaliteite wat taamlik goed Afrikaans praat en veel simpatie het met die honderde blanke arbeiders wat onder hulle werk, het my verseker dat blanke arbeiders op stukwerk meer dikwels kom kla oor onbillike behandeling van die kant van Afrikaanssprekende ingenieurs wat toesig het oor die werk; en ongelukkig blyk dit na ondersoek herhaaldelik dat die arbeiders gelyk het. Hy verklaar dat daardeur die opgevoede Afrikaner met wrok voel dat die armblanke sy nasie tot oneer is. ‘You feel that, in a way, they have let you down.’ 'n Verklaring hiervoor het 'n Afrikaanse myninginieur aan my gegee. Een voorbeeld uit sy ervaring illustreer die toestand voldoende. Hy en 'n Engelse hoof het 'n aantal werkers besoek. Almal was uiters beleefd. Later, toe die hoof weg was, het hy met hulle Afrikaans gepraat. Die oomblik toe hulle | |
[pagina 38]
| |
merk dat hy Afrikaner is, het die beleefdheid verdwyn voor 'n gees van hy-is-ook-maar-'n-plat-boer-soos-ek. Dit is hierdie gees wat baie moedelose Afrikaners laat Engels praat. Die aansien van 'n taal besleg natuurlik die stryd oor oorheersing teen 'n ander. Te dikwels word die hele saak aangepak as 'n blote ‘taalvraagstuk’. Daarom hoor ons ook van 'n ‘Eerste’ of 'n ‘Tweede’ taalbeweging, van ‘taalverenigings’, van kultuurverenigings wat net die taal wil ‘handhaaf’. Maar ons het reeds aangedui hoeveel dieper die wortels vertak in die hele gemeenskapslewe en in die hele tradisie-ondergrond, waarvan elke taal die besondere draer by uitnemendheid is. Deur opvoedkundiges is dit oor en oor bewys dat 'n kind wat in sy moedertaal opgevoed word en onderwys ontvang, veel vinniger vorder as die een wat vroeg gedwing word om deur 'n vreemde taal te leer of met twee tale te sukkel. Ons hoef nie langer hieroor te praat nie, want dit sou eenvoudig 'n gemeenplaas word om weer hierdie betoog te onderstreep. Dit is ook bewys dat mense wat die bou van hulle gees 'n eenheid kan hou deur net gebruik te maak van een taal, veel akkurater en fundamenteler dink as die persoon wat 'n ‘gesplete’ bewussyn het, wat ronddobber tussen twee wêreldbeelde, wat hulle verlam voel omdat hulle dikwels sukkel met ‘terminologie’ en die natuurlike ritmiese vloeiing van die gedagte, wat steeds onderbreek word deur die ewig kwellende: ‘Is dit nou goeie Afrikaans? Maak ek nie iewers 'n fout nie?’ Dit is die gevaar wat F. Sander in sy Seelische Struktur und Sprache as volg uitdruk: ‘Alle gesonde ontwikkeling veronderstel 'n in homself afgeronde, ongebroke en afgeslote geheelheid van die psigiese bou. Alleen wanneer die siel hierdie geheelheid besit, kan dit hom in ooreenstemming met sy innerlike wet afgerond, differensiërend en geledend deurvorm. Alle ontydige verbreking van hierdie eenheidstuktuur soos dit deur die opdringing van 'n tweede innerlike houding van 'n vreemde taal volg, stel die innerlike geslotenheid van die aan homself ontvouende geheel in gevaar’Ga naar voetnoot1. Dit is hierdie gevaar wat daartoe aanleiding gegee het dat daar in Suid-Afrika vir jare lank 'n ononderbroke stryd gestry is vir Afrikaansmediumskole, sodat die kind se geestesontwikkeling kon plaasvind deur sy eie taal. Maar dit skakel ook nog nie die moeilikheid van tweetaligheid uit nie, want die kind moet later Engels aanleer, en omdat dit nie vir hom 'n dooie taal moet wees nie, maar daar veel nadruk gelê word op die | |
[pagina 39]
| |
geliefde ‘kommersiële waarde’ van die taal, sodat die kind 'n betrekking kan vind, moet die konflik al gou begin in die ontplooiende intellektuele en gemoedslewe van die kind. Daarteenoor kry die Afrikaanse kinders wat in Engelsmediumskole was, dikwels so weinig kans om hulle eie taal behoorlik aan te wend, dat hulle in 'n suiwer Afrikaanse omgewing onrustig en selfs minderwaardig voel. Die terugslag vir die volkslewe moot natuurlik baie groot wees. Dit voer ons dadelik na die veel ruimere agtergrond van die Afrikaanse gemeenskapslewe in sy diepste lae, want dit sou nie veel help om self onderwys deur die moedertaal te ontvang as die gees, die atmosfeer reeds 'n verengelsingsproses deurgemaak het nie. So kan dit gebeur dat net 'n soort lompe ‘vertaling’ ontstaan, en dat mens naderhand, sonder dat jy beter weet, onder die indruk verkeer dat dit eg en suiwer Afrikaans is. Dr. Barnouw wys op hierdie gebrek wat amptelike kennisgewings betref: ‘Afrikaans is also given its due in all municipal ordinances, but from the wording of these it is plain that the English text is the original and the Afrikaans one its translation. These renderings are often no better than clumsy paraphrases of English’. Om te verstaan hoe hierdie geestesagtergrond so verengels geraak het, is dit wel nodig om 'n insae te kry in die ontwikkelingsgeskiedenis van die Afrikaner. Dit is heel maklik om veroordelend op te tree, maar as ons kyk na al die ontwortelingsmagte wat aan die werk was, dan kan alles verklaar word en verhoog om respek vir die Afrikaanse gees wat in so'n sware aanslag nie heeltemal ondergegaan het nieGa naar voetnoot1. Alhoewel Nederlands sedert 1652 die amptelike taal aan die Kaap was, en dit tot na 1900 nog as skryftaal gebruik is, was die invloed nooit diep en blywend op die volkslewe nie. Die kerk en skool het hulle bes gedaan om die taal te laat posvat by die Koloniste maar ander faktore het veel kragtiger gewerk. Afrikaans het ontstaan en as gevolg van gebeurtenisse soos die stryd tussen Adam Tas en Willem Adriaan van der Stel het daar 'n kloof gekom tussen koloniste en amptenare, die nasionale gevoel is aangewakker en die Afrikaanse taal word - ondanks die feit dat dit nie amptelik erken is nie - die draer van die Afrikaanse gees en idee, wat later kragtig navore sou tree. So gaan dit voort tot 1806. Reeds van 1795 was die Engelse invloed merkbaar aan die Kaap, maar nie sterk nie. Ná 1806 word dit kragtig en bewuste pogings aangewend om Ne- | |
[pagina 40]
| |
derlands met wortel en tak uit te roei. ‘Hoog-Hollands’, soos dit altyd geheet het, se invloed op die Afrikaner was te gering om die storm af te weer. Skerpsinnige waarnemers soos dr. Changuion het dadelik opgemerk dat Nederlands in Suid-Afrika, afgesien van die Engelse invloed, 'n afdraande pad gaan. Die hele staatslewe is sedert 1813 al stelselmatig verengels, tot die kennis van Engels as 'n onmisbare vereiste gestel is vir toelating tot die staatsdiens. Van 1827 is Nederlands uit die geregshowe verban, hoewel die regspraak nog grotendeels Romeins-Hollands bly. In 1832 het die staat Nederlands op alle gebiede, waar dit seggenskap het, verdrywe. In 1826 word die Engelse muntstelsel en in 1861 die Engelse mate en gewigte ingevoer. Sedert 1822 het Lord Charles Somerset, die Engelse Goewerneur, op deurtastende wyse probeer om die bevolking Engels te laat word deur die skole en kerke vir die doel aan te wend. Dit is daarom nie verbasend om te hoor dat vanaf 1839 kennis van Engels nodig was as 'n vereiste vir 'n predikant van die Nederduits-Gereformeerde Kerk om aangestel te word nie. Engels word naas Afrikaans by aanddienste gebesig in die Hollandse kerke. Skotse predikante is ingevoer, wat egter op die platteland verafrikaans het, terwyl Skotse en Engelse onderwysers gebruik word om die hele onderwysstelsel met die kind en al te verengels. Die stelsel van landdroste en heemrade word afgeskaf en Engelse metodes van stads-, dorps- en afdelingsbesture ingevoer, met die hele Engelse handelstelsel kort op die hakke. Die universiteits-, parlementêre en militêre stelsel word ook dwarsdeur op Engelse lees geskoeiGa naar voetnoot1. Tog was die Engelse bevolking nog verreweg in die minderheid, aanvanklik maar 'n 7,000 tenoor 'n 30,000 Afrikaners. Dit was eers met die ontdekking van diamante in 1867 dat 'n stroom van Engelse koloniste die land binne gekom het en die handelslewe vir goed in die hande gekry het. Die ontdekking van goud op die Witwatersrand het die Engelse 'n kans gegee om hulle stewig in te grawe. Al die groot stede word gaandeweg Engels, en selfs in die twee Republieke sprei die invloed van die Engelse taal. Ja, selfs in albei Republieke het 'n vreemde toestand ontwikkel, want in 1898 beweer Cloete in die Vrystaatse Volksraad: ‘De handel van de Staat wordt uitsluitelijk in de Engelse Taal gedreven, en door gebrek aan kennis van die Taal zal menig kind gedwarsboomd zijn in zijn toekomstig loopbaan.’ Reeds toe al kry ons die ‘kommersiële waarde’ van die taal! In die Republieke het die pro- | |
[pagina 41]
| |
kureurs hulle graag van Engels bedien. Ook word Engelse skole opgerig, omdat die kennis van die taal as onontbeerlik beskou word. Afrikaanse ouers voel dat die kennis van Engels vir hulle kinders onontbeerlik is. Afrikaans word nie amptelik erken nie, en Hollands is vir hulle 'n vreemde taal. So was die aandrang vóór die Engelse oorlog geweldig in die Republieke self, om maar van Kaapland te swyg. Ná die oorlog was die toestand veel erger. Oral word die kreet gehoor: ‘Crush Afrikanerdom’ of ‘The problem in South Africa, in Lord Milner's eyes, is to make Dutchmen into Englishmen......’Ga naar voetnoot1. Honderde Engelse onderwysers en onderwyseresse word ingevoer en van die sogenaamde erkenning van die Hollandse taal is nie veel oor nie. Alhoewel daar nog van die ‘Hollandse taal’ of die ‘Dutch language’ gepraat is, wat dit duidelik dat Nederlands se dae in Suid-Afrika getel was. Teenoor Engels - wat oral 'n meerderwaardigheidsplek ingeneem het - was dit magteloos, hoofsaaklik omdat dit nooit wortelgeskiet het in Suid-Afrika nie. Die enigste redding was Afrikaans, wat verwaarloos en geminag was - ‘the taal,’ soos dit geringskattend genoem is deur Afrikaanssprekendes, ‘'n taaltjie, 'n patois,’ soos diegene dit bestempel het wat nog in 'n stywe koster-Hollands deftig probeer doen het. Die redding van die nasiesiel was Afrikaans, maar dit was 'n hele taak om die taal uit sy vernedering op te hef en as skryftaal erken te kry. Aan die skryftaal moes 'n vaste vorm gegee word, 'n taak wat baie jare geneem het. Daar was geen literatuur nie. In die uur van nood, toe die wanhoop selfs gedreig het, het baie, met 'n heilige reddingsdrang besete, hulle selfs van Nederlands afgewend en krampagtig net geywer vir die moedertaal. Eindelik het die taal sy segetog behaal op skool, in die kerke, in die staatsdiens, in die Volksraad. Maar toe die suiwer taalstryd, die erkenningstryd gewin was, is eers besef hoe seer Afrikaans as spreektaal al die jare aan Engelse invloede onderhewig was. Eers toe het die bewustheid gekom van die eintlike taak waarmee geworstel moet word. Sedert 1806 het verengelsing ingesluip in die weerlose binneste van die jong en ongevormde taal, en tot vandag toe is dit die allergrootste vraagstuk wat die taalbewuste persoon besighou. Die ontstaan van al hierdie ‘basters’ en -ismes is soms moeilik om na te gaan, maar van Engelse woorde wat huid en haar in Afrikaans oorgeneem is en selfs 'n uit- | |
[pagina 42]
| |
spraakwysiging ondergaan het tot vertaalde woorde en uitdrukkinge (baie mense meen dat as jy net 'n woord of uitdrukking letterlik ‘vertaal’ jou taalgewete gerus kan word) vind ons die deurdringing van die jong taal met 'n Engelse invloed. 'n Groot deel van die Afrikaanse nasie, wat op die platteland gewoon het - daardie anker vir Afrikaans - het intussen verarm en na die stede getrek. Die Engelse oorlog het die verarmingsproses nog oneindig vererger. En wat 'n taal se aansien en die uitbreiding van sy invloedsgebied betref, weet ons dat die volk se welvaart 'n allergewigtigste rol speel. Dit kan selfs, saam met al die geestelike faktore wat werksaam is, van 'n klein taal 'n wêreldtaal maak. Dit het met Engels gebeur. Die stoflike en geestelike hang ten nouste same. ‘Tog is 'n skeiding noodsaaklik: 'n taaleenheid ontstaan of verander nie bloot omdat daar 'n bepaalde element in die stoflike omgewing bestaan nie, maar omdat die element 'n deel van die individuele taalgebruiker se geestesomgewing word en 'n behoefte in sy bewussyn laat ontstaan. Dan eers word die element vir die taal belangrik,’ aldus dr. H.J. Rosseau in sy werk Afrikaans en Engels (bls. 50). So het die koloniste aan die Kaap nà 1652 nuwe woorde, nuwe taaleenhede geskep wat voorsien het in 'n bepaalde behoefte, omdat die landsomstandighede anders was as dié waarmee hulle in Nederland te doen gehad het. Deurdat Afrikaans na 1806 gelykgestel word met minderwaardigheid en Engels oral die voorkeur geniet, word Afrikaans se terrein beperk, dit lewe op die platteland as 'n kernagtige Boeretaal, maar in stedelike en beskaafde kringe word dit nie toegelaat om innerlik uitgebou en geestelik volwaardig te word nie. Veral die Afrikaners wat na stedelike kringe getrek het of intiem in kontak gekom het met die Engelse beskawing, het gevoel dat Afrikaans, wat die woordeskat betref, ver te kort skiet, dat dit daarom minderwaardig is en net goed is om op die plaas te gesels of om 'm bietjie ‘lokale kleur’ tot die verhewe Engels by te voeg. Hulle het daarom maar, so goed as dit kon, hulle lyf probeer Engels hou. Deurdat daar min Afrikaanse leesstof was, het hulle hulle vanselfsprekend tot Engels gewend, met die gevolg dat toe 'n goeie Afrikaanse letterkunde ontwikkel het, hulle gees so gewoon geraak het aan die Engelse boek dat hulle met moeite daarvan los te skeur was. Die Afrikaanse koerante moes 'n sware stryd voer teen vooroordeel van eie mense en van 'n onsimpatieke handelswêreld, wat die advertensies verskaf, die hartaar tog van enige koerant. Daar was nie genoeg Afrikaanse lesers vir Afrikaanse blaaie nie (hulle lees tog maar Engelse | |
[pagina 43]
| |
koerante!) en daarom kon nie advertensies geplaas word nie. Watter heillose kringloop! Dit is tot vandag toe die groot stryd vir die Afrikaanse koerantwese, want, behalwe hulle eie koerante, lees Afrikaners ook Engelse koerante, maar die Engelssprekendes wat ook Afrikaanse koerante en tydskrifte lees, is nog maar eensame alleenlopers. Die nuusdiens, behalwe dié wat deur die blaaie se eie korrespondente voorsien word, is Engels en moet daagliks vertaal word. Terwyl die Afrikaner se kennis van Engels en die uitbreiding van die taal se invloedsfeer op die bewussyn van die gebruiker, Afrikaans verswak wat die suiwerheid van taal-, aanvoeling betref, is daar ook nog die gevaar dat, waar soveel Afrikaners reeds 'n onsuiwere taal praat, die talle Engelse leerlinge in die stede wat verswak deur 'n Engelsgekleurde uitspraak en letterlike vertaling. Wanneer 'n mens die volgende soort ‘Afrikaans’ in die stede moet aanhoor, dan besef jy hoe groot die gevaar is: ‘'n Vriend van myne is oorsees. Reg of nie reg (Engelse r) nie ek gaan wek to en sal had wek.’ Naas hierdie gedrogte hoor jy dan nog by die Afrakaanse arbeider: ‘Wat worry ek? As my kar 'n puncture kry, dan fix ek homself. Anders moet die garage hom maar intou en dit teen my opcharge.’ Hierdie verrinneweringsfaktore wat daagliks oor 'n wye vlak van die taal aan die gang is, se deurwerking moet uiteindelik verreikend wees. Maar oral in die volks- en staatlewe is dieselfde vermengingsneigings deur blote Engelse woorde of ‘letterlike’ vertaling, aan die gangGa naar voetnoot1. Van die Regeringstelsel (sergeant-at-arms, speaker, quorum, pact); die Regspraak (Master, jury, poliesstasie, magistraat); die Staatsdiens (witboeke, en blouboeke); die Spoorweë (ticket, points, goods, of woorde soos stasiemeester, goederetrein, hooflyn); die Poswese (posmeester, geldorder, registreer); Verkeerswese (asfalt, padploeg, ghries, briek, sykar); die handel ('n polis uitneem, boekhouer, bottelstoor); die nywerheidslewe (sement-werke, pomp-enjin, pulley, shaft, compound); elektrisiteitsterme (bulbs, switches, generators, units of eenhede); die boerdery (self-binders, fertilisers, korthoringbeeste, tractors); die vermaaklikheidslewe (tote, bioscope, platvorm, boxs, one-step, crooning); die maatskaplike lewe (cheerio, so long, shut up, tallose persoonsname, plekname); die huislike lewe (blindings, hall-stand, table-centre, sofa, ferns, palms); kledingstukke (serge, tweed, plain, pink), en so kan ons voort | |
[pagina 44]
| |
gaan om 'n indrukwekkende onkruidlesing saam te stel wat uit alle gebiede van die volkslewe versamel is, nie alleen wat woorde en lomp vertaling betref nie, maar ook klemtoonverskuiwing en gewysigde uitspraak. In sy waardevolle werk het dr. H.J. Rosseau tot die gevolgtrekking gekom, na aanleiding van al die onsuiwerhede wat hy opgeteken het: ‘Die betroubaarste maatstaf om 'n Engelsheid uit te ken, is Boere-Afrikaans. Dat 'n taaleenheid in Nederlands, Middelnederlands bestaan, is g'n bewys dat dit suiwer Afrikaans is nie ...... Ons moet stry om Afrikaans te suiwer en te versterk; hierby kan Duits ons waardevoller hulp bied as Nederlands.’ Met hierdie opvatting kan ek nie saamstem nie. Seker is dit dat 'n kennis van Duits help om die woordeskat aan te vul en Engelshede te weer, maar alle Afrikaanse skrywers wat die beste Nederlands ken, is ook die suiwerste kenners van hulle moedertaal en skryf 'n ryk-geskakeerde taal, kernagtig Afrikaans en tog ondergedompel in die rykdom van die Dietse woordeskat, wat Afrikaans se natuurlike agtergrond is. Ons het hier met 'n belangwekkende opvatting te doen. Wat dr. Rosseau ‘Boere-Afrikaans’ noem, se woordeskat moet uit die aard van die saak baie beperk wees en dus ook die geleentheid om dit as toetswaarde te gebruik. Dat die krag, kernagtigheid en beeldrykheid van die taal in ‘Boere’-Afrikaans gewortel is, sal niemand ontken nie en die Afrikaanse letterkunde se bekoring skuil juis daarin dat die skrywers, net soos Guido Gezelle gedaan het, hierdie bron ontdek het en dit die karakteristieke skoonheid van die Afrikaanse uitbeeldingskuns vorm. Maar die Afrikaanse letterkunde wil nie net by die suiwer landelike bly staan nie, soos die gevaar ook eenmaal in Vlaandere was. Dit roep skrywers uit die stede te voorskyn, en daardie skrywers het ander behoeftes, hulle gebruik 'n anders gekleurde taal as diegene wat die veldgeur lief het, saam met die taal wat as 't ware daaruit voortgekom het. Veral in die laaste jare het die Afrikaanse letterkunde nuwe gebiede verower, en dit is immers duidelik dat 'n steeds sterker beroep gedaan word op die rekbaarheid, die draagwydte, die suggestiekrag van die taal. Daarom is dit nodig om vir 'n oomblik stil te staan by 'n heel belangrike verskynsel, wat vir baie Afrikaners nog nie duidelik is nie. Hoe moet ons anders 'n sekere mate van onverskilligheid verstaan? Want hoef dit nog betoog dat Suid-Afrika en Nederland mekaar dringend nodig het? Ons het gedag dat die behoefte om te pleit om 'n dergelike samewerikng vir goed verby is, want is dit nie sonneklaar hoe nodig, kultureel en ekonomies, so'n samewerking is nie? En tog blyk dit, as ons die aantal idealiste, die geleerdes en | |
[pagina 45]
| |
kunstenaars weglaat wat so'n toenadering van die diepste kultuurbelang beskou, dan bestaan daar by die groot massa van die volk nog baie misverstand en word Nederland te dikwels bejeen as 'n totaal ‘vreemde’ land, soos Italië, Japan of Griekeland. Wat het ons met die Hollanders te doen? is 'n vraag wat meer in onkunde as uit louter aggresiwiteit gestel word. Ja, wat het ons met die Hollanders te doen? Dit is natuurlik maar toevallig dat ons 'n taal praat wat nog in hart en niere Hollands is, 'n taal wat, met geringe inspanning, deur die Hollander en Vlaming verstaan word! Of waar son ons ons groot godsdienstige tradisie vandaan kry, ons liefde vir die werklikheid, ons vryheidsdrang wat die eeue deur ongeskok bly bestaan het? Stam ons miskien van die Hollanders wat vir tagtig jaar die dwang van Spanje getrotseer het, dyke oopgesteek het om hul siel te red en uit die puin van hul land die magtigste kultuurstaat van Europa in daardie tyd opgebou het? Nee, Rembrandt, en Hals en Steen; nee, Hooft en Vondel en Bredero; nee, Grotius en Voetius - nee, julle is nie van ons nie! Die durf en drang van die Voortrekkers is sommer uit die lug gestamp; hulle toon geen ooreenkoms met die weerbarstige, gelowige Geuse nie! Die Afrikanervolk het uit die lug gedaal, sonder wortel, sonder tradisie, sonder verbinding met iets of iemand. Ja, wat het ons met die Hollanders te doen? As hulle hier kom, praat hulle nie hul eie taal nie, maar probeer om in 'n soort kruiwa-Engels deftig te wees. Hul eie bloed, die Afrikaners, is benede hulle; by die Afrikaners sluit hulle natuurlik nie aan nie. Hulle sit 'n Engelse pluim op die hoed en probeer selfs hul Hollandse lyf Engels hou. Is daar nog meer klagte teen die Hollanders? Wat sê die Hollander wat vir die eerste keer Afrikaans hoor? Is dit 'n ‘aardig taaltje’ sonder enige ‘literêre pretensie’? Hoeveel klagte nog van bloedverwant teen bloedverwant, van broer teen broer? Is dit eg-Diets om mekaar so te verwyt, of kan ons 'n slaggie kyk hoeveel kontakpunte, hoeveel gebiede vir samewerking daar werklik is? Ja, wat het ons te doen met die Hollanders? Ben ik mijn broeders hoeder? Maar instede van mekaar se foute en tekortkominge naarstiglik na te spoor, instede van die kleinighede te beklemtoon wat ons uitsig op die groter en ruimer horisonne bedek, laat ons liewers kyk waar die talle aanknopingspunte, die kontakgebiede, die natuurlike aansluiting is. Vir die mens wat dit die beste meen met sy medemens, is samewerking natuurlik die middelpunt van alles. Deur samewerking hoef niemand sy ware wese, sy apartheid, sy identiteit prys te gee nie. Anders sou die huwelik, wat die opperste vorm van samewerking is, moet beteken dat die | |
[pagina 46]
| |
twee persone wat daarin betrokke is, hul hele persoonlikheid moet verkwansel. Deur ons samewerking in die groot geheel van die nasie en vandaar uit weer na ander groepe en kringe, lewe en bestaan ons. Die hele lewe bied dus vir ons 'n groot terrein van eenhede, van identiteite, wat in hulself beslote is, en tog alleen volledig kan lewe deurdat hulle verbind is met ander eenhede, want die enkeling is daar vir die gemeenskap. So'n standpunt werp dadelik die verantwoordelikheid op ons om te kyk wat die beste middele is om ons Afrikaanse afsonderlikheid, ons eie bodemvergroeide kultuur, uit te bou en te verryk deur dit te plaas in die sonlig van heilsame invloede. En dan moet ons dadelik kyk in watter ondergrond die penwortel van ons ontwikkeling veranker sit. En net deur vir 'n oomblik na ons taal te kyk, is dit of ons deur helder glas na 'n ruimer agtergrond skou. Ons Afrikaanse taalgeleerdes het na geduldige arbeid vir ons bewys hoeveel van Nederlands in sy suiwerste kern daar nog in Afrikaans oor is, en diegene, wat op alle gebiede Afrikaans moes help indra waar Engels vroeër die enigste taal was, het dadelik tot die ontdekking gekom dat hulle die Nederlandse woordeboeke tot flenters toe moet deursnuffel om die juiste, die presiese woord te vind wat suiwer die Afrikaanse begrip dek. Die hele tegniese wêreld wat nou langsaam maar seker vir die Afrikaanse taal verower word, het ons teruggedrywe na Nederlands, omdat ons dadelik gevind het dat dit onnodig is om nuwe ‘terme’ te smee, want 'n hele arsenaal staan vir ons gereed. Die Afrikaanse taal is meteens verstewig op gebiede waar dit vroeër geen weerbaarheid besit het nie. En diegene wat die ou-ou dwaasheid verkondig het dat geen ‘terme’ vir dit of vir dat in Afrikaans bestaan nie, moes opeens ontdek hoe beskamend hul onkunde is, hoe maklik mens aanneem - net soos die lawwe ou praatjie van vroeër dat Afrikaans geen grammatika het nie - dat iets nie bestaan eenvoudig omdat jy dit nie ken of niks daarvan weet nie! Toe het die skrywers gekom, die goeie, versigtige, gebalanseerde woordkunstenaars, en hulle het ontdek dat die uitdrukkingsvermoë die uitingslewe van baie penhanteerders met hul ‘perbeerslae’ so arm en skraal is dat Afrikaans aan hierdie vermageringskuur, hierdie gebrek aan kalk vir die beenpype sal beswyk as hulle nie gou byspring nie. Daar het 'n geroep opgegaan dat ons skrywers tog asseblief Nederlandse boeke moet lees, herlees, die woorde en uitdrukkingswyse geestelik opneem, weeg en beskou, dat hulle moet besef dat die kuns van goed te skrywe, 'n lewenslange toewyding is en dat die Hollandse skrywers se krag met die woord | |
[pagina 47]
| |
nie sommer uit die ‘intuïsie’ ontspring het nie, maar 'n historiese gegroeide iets is, 'n uitpuring van die beste deur die sinne en die gees. Maar dit was nie al nie. Hulle het gedaan wat De Vooys aan die hand gee: ‘Meer dan door de puristen zal ons gevoel voor taalzuiverheid verscherpt worden door de studie van onze grote en goede schrijvers,’ of soos Schuchardt die terrein aangewys het: ‘nicht als das, was sie ist, sondern wegen dessen, was in ihr geschaffen worden ist; nicht in der Grammatik und dem Wörterbuch, sondern in den Werken unserer Dichter und Denker’. Dit het nie so maklik gegaan nie. Baie norse vaderlanders, wat in volkome isolasie, geestelik en andersins, 'n soort droewige selfbehoud erken, het dadelik met 'n afkeurende geblaas deur die neus gesê: ‘Dit is 'n mooi grap! Aan die een kant probeer ons ons loswoel uit die ewige Engelse doringdraad, en aan die anderkant wil julle ons weer vasbind. Ons wil geen halwe Engelse of halwe Hollanders wees nie. Ons wil met twee stewige bene in die vaderlandse grond geplant staan.’ Hierdie vrees vir die Engelse kultuur het meer as een so die skrik op die lyf geja dat by later, soos 'n man wat in die donker oral 'n spook verwag, sy eie vriende vir vyande aangesien het en die kind saam met die badwater wou uitwerp. Laat ons tog net vir 'n oomblik stilstaan en dink en nagaan waarom die Afrikaanse letterkunde gedurende die laaste paar jaar so vooruitgegaan het, waarom ons koerante se taal toeneem in krag, suiwerheid en juiste bewoording, waarom daar onder in ons taal bronne oopgaan wat met flonkerende, opspuitende strale speel deur die binneste wese van ons skrywers se ekspressie. ‘Ons verstaan geen Nederlands meer nie! Ons lees geen Nederlandse boeke nie!’ sug meer as een Afrikaanse leser en oupa-agtig sukkel hy sy bril agter sy slap ore en herkou aan sy Engelse speurverhaaltjie tot waar die knoeiende, moordsieke skurk soos 'n donker kewer uit die drade van verwarring gelig word. En hy staan verbaas om te hoor hoe 'n ander sonder moeite oor 'n trein, oor 'n myn-instrument, oor liggaams-kwale, oor skoonheidsalons en telefone staan en gesels sonder om 'n taaltjie te gebruik wat jou vaag herinner aan 'n wurgpeer of aan 'n hond wat met 'n katvel gedek is. Die suiwerheid van Afrikaans as taal kan alleen gewaarborg bly as ons, wat dit ernstig meen met die toekoms daarvan, ons gedurig spieël aan Nederlands, wat ondanks die lawwe, lompe gewoonte om teenswoordig allerhande Engelse woorde en uitdrukkings - vroeër was dit Frans - in dié taal te ryg en windskeef uit te spreek, in sy kern altyd gesond sal bly, sonder die sware stryd om suiwer te bly wat Afrikaans | |
[pagina 48]
| |
en Vlaams het. En dat die Afrikaner geen Hollands meer verstaan nie? Vir ons lyk dit 'n bietjie na geestelike luiheid, na 'n gebrek aan wil tot verowering en indringing, want Engelse studente, wat maar 'n karige Afrikaanse ondergrond het, lees Nederlands, na 'n paar lesse, met taamlike gemak. Die ou dae toe ons met de en het geworstel het, is vir goed verby, maar diegene wat nog aan daardie ‘Zwarte tijd’ dink, moet onthou dat Afrikaans se plek vandag veilig en onverroerbaar ingeweef is in die lewe van die nasie, dat dit steeds meer sy krag sal uitsit omdat dit ontspring het uit hierdie bodem, dat dit nooit meer deur Nederlands bedreig kan word nie, maar alleen deur die moedertaal aangevul, verdiep en uitgebou kan word tot 'n taal met gespierde, manlike draagkrag. Daar is vandag 'n beweging op alle gebiede om Afrikaans tot sy reg te laat kom. Eers was daar die stadium, wat aan baie van ons 'n blywende minderwaardigheidsrumatiek gegee het, toe ons 'n taal, wat nog nie eers sy vaste vorm as skryftaal gevind het nie, net as taal erken wou kry. Ons het eintlik oorgevoelig geword, vatbaar vir die beuselagtigste skimpe van mense wat soveel van 'n taal weet as 'n erdvark van die sonnestelsel. En toe die taal eindelik erken is, was sommige gereed om wyd-oop deure verder oop te trap, om muskiete met haelgeweers by te dam en die gevoolige party-politieke oor op die aarde te lê om te luister of daar nie iemand iewers op die aarde is wat net durf om iets onguurs oor Afrikaans te sê nie. Dan was ons dadelik weer in sak en as of anders het ons die steile houtperd van nuttelose aggressiviteit bestyg. Maar die bewuste Afrikaner glimlag vandag oor die onkruidlesings van kaf wat oor sy taal in die vensters van die wêreld uitgestal is. Hy is nou gereed om op die gebied van die medisyne, die ingenieurswetenskap, die handelswêreld oral, sy taal te bestendig, want hy weet dat aan die taal 'n belangrike deel van die volk se welvaart verbonde is en dat geestelike volwassenheid van die nasie alleen dan kan verkry word as die taal ook tot die volle som van sy uitbreidingsmoontlikhede ontwikkel het. Daarom soek Afrikaans na sy natuurlike kragbron om uit te put, en word die kennis van Nederlands 'n versterkende krag vir elke Afrikaner se taalbewussyn. Wat die mening van ander ook al mag wees, die standpunt wat ek hier teenoor Nederlands uiteen gesit het, is tenslotte die belangrikste verstewiging van die Afrikaanse taalagtergrond. Dit wil ook nog nie sê dat 'n dergelike standpunt alle Engelse invloed as verfoeilik wil bestempel nie. ‘Ons moet dan ook besef dat in die meeste opsigte die Engelse invloed ons Afrikaanse samelewing onskatbare dienste bewys het,’ beweer | |
[pagina 49]
| |
dr. H.J. Rosseau in sy reeds aangehaalde studie. Al wat ons voor pleit, is dat die Afrikaanse vorm nie moet ontaard deur oorheersende invloed wat die Afrikaanse kultuur tot in sy wortel aantas. Ons wil baie duidelik laat deurstraal dat die taal nie moet geskei word van die diepste behoeftes van die gemeenskap nie. Die taalbeweging moet 'n sosiale beweging wees in die diepste sin van die woord. Die opbou van Afrikaanse verenigings en Afrikaanse eenhede wys, mits hulle nie ontaard nie, op die begeerte om nie net 'n ‘vertaalde’ kultuur daar te stel nie, maar die eie, hoe seer die ook al verstik is deur vreemde invloede, uit te bou, aan te moedig en suiwer te hou. Dit is alleen in die afsonderlikheid van hulle kultuur dat die Afrikaners hulle siel, hulle eie wese kan bewaar; dit is die enigste weg wat tenslotte Afrikaans, as draer van die kultuur, bestendig en laat ontplooi. Dit beteken 'n voorstelling en skerp aflyning van eie tradisies, in soverre dit in 'n tweetalige land moontlik is - en vir Suid-Afrika is die moeilikheid oorstelpend - naas dié van 'n ander volksgroep. Dat daar 'n mengelmoeskultuur sal ontstaan, nie-Engels en nie-Afrikaans, in alleen die droom van diegene wat hierdie tweetaligheidsvraagstuk nog nooit tot in sy kern deurskou het nie. Die geloof in die Afrikaanse letterkunde, taal en die opbouvermoë van die Afrikaner, het dan ook, veral gedurende die laaste jare, die swaarmoedigste twyfelaar beskaam. Oral het die taal, gegroei uit eie bodem en gewortel in die tradisies van die land, nuwighede, uitlandse invloede opsy gedruk en is daar gesonde strewe en ontwikkeling. Dit spreek vanself dat dit 'n langsame proses is en dat die Hollander, wat 'n besoek aan die Unie van Suid-Afrika bring, wel sal voel dat daar nog baie gewerk moet word. En dit is die ware woord: werk. Alleen deur geloof en werk kan Afrikaans, met alles wat daaraan eiendomlik is, tot die krag en hoogheid uitgroei wat alle Afrikaners se verwagting is. Net na die Engelse oorlog het 'n Engelssprekende, Carl Jeppe, die volgende profetiese woorde oor Afrikaans gese: ‘It is most expressive, and racy of the soil. It is appreciated - at times - by all who know it. When the bilingual South Africans meet under foreign skies, it will be in the Taal that they will greet each other; the taste of it will be sweet on their lips ......’ Die geworteldheid van die taal word bewys deur die feit dat die Afrikaanse Letterkunde die Engels-Suid-Afrikaanse letterkunde heeltemal in die skaduwee stel. Wil die Afrikaanse kultuur, gedra deur 'n eie taal, staande bly en 'n eie afsonderlike kleur bewaar, dan sal dit helder en duidelik sy taak moet besef en sy toekomsdoel stel, sonder om negatief | |
[pagina 50]
| |
en onvrugbaar te word. En vir my is dit meer as duidelik dat waar Afrikaans hom al kragtiger van die vreemde wil ontworstel, hoe meer dit uit eie onderdrukte kragte put, daar sal dit, vir natuurlike versterking en rugsteuning, aansluiting soek by Nederlands, nie om valse, sentimentele redes nie, maar om in 'n ware diepe, geestelike behoefte te voorsien. |
|