| |
| |
| |
Kwatryne
I
Hou jy geselskap met die wind wat as hy gaan
fluister van skoonheid wat lang voor sy fleur moet taan;
die somerroos wat prewel as hy roer; en met
die goue ruisende verrukking van die graan;
met voëls wat vrolik in die lente tierelier;
die blare-blydskap van die silwerslank poplier,
stil-murm'lend immer in die middagstond; en met
die see wat slaan en storm, maar nooit seëvier -
Hou jy gemeenskap met die stroom wat as hy vliet,
bly handeklap en huppeldans, terwyl hy skiet
skuimend oor klippe, oor sy sandvloer heen, deur dal
en woud en wilgerlower lispelend sy lied;
met goudgedoste bye wie se vlerke vonk,
flitsend en dart'lend waar die blommekelke lonk,
lui-murmurérend deur die lome noen, en deur
die klaar namiddagure, son- en somerdronk...
Met alles wat Natuur mild-offervaardig bied,
alles wat skoon, kortstondig is, en vlug moet vlied;
met boom en blom en blaar - Dan sal jy dalk, wie weet,
my vrind, troos en vergelding vind vir jou verdriet.
| |
| |
| |
II
Deel jy die strak geduld, die swye van die palm
wat steeds as die woestynson skroei, rustig sy kalm
koel skadu bied... deur die snikhete stilte wag,
om ruisend met die reën, te sing sy soet psalm;
die krag, die weerstand van die stoer olyf wat stoei
en stry, as teen sy stam rukwinde stormloei,
aldus hul wrok trotseer, en diep sy wortels dring
om ferm-vas hom tot die aardekors te boei;
die stilte van die sterrenag, groots, ongemeet,
wat donker vloei soos 'n rivier, vol, diep en breed -
Dalk sal jy dan jou wanhoop en jou wankelmoed
oorwin, jou met jou lot versoen, en ook jou leed.
| |
III
Zohair, die digter, het gesing van skooheid wat
die swaluvlug en heenspoed is van alle dinge.
En hy, sy leed, en sy geluk, en al sy singe
had skaars die duur van sonskyn op blink awendnat...
Hy, met twee duisend lentes weergaloos,
is dood en weggevaag... Maar sy verdriet
om 'n gebroke blom, geur uit sy lied
fris soos 'n pas-ontloke somerroos.
| |
| |
| |
IV
Hoe is ons jeug tog soos 'n helder lied,
opsingend uit die nag, wat nog verdriet
nog kommer ken - hoe soos die skemer wat
sy tere bloeisels bring, en dan vervliet...
Hoe skoon tog, soos die lied wat aangeswewe kom,
van nagtegale onder die groendiep lower-dom
van die platane... en silwer deur die stilte stroom,
soet klankeval wat ruis, maar in die nag verstom.
| |
V
Net soos matrose, stuurloos dobb'rend op die seë,
wat slingervaar langs wentelénde waterweë,
verskrik deur stormgeweld, gaan ons die lewe deur -
Maar waar's ons kaai, teen welk wit hawestad geleë?
| |
VI
O sluk die vog wat in die bekers blink!
Kyk, in elk kruik of kelk, diep weggesink,
vonk daar soos vuur, of glim soos goud, die ster
wat ons tot vrolikheid en vreugde wink!
Die leidster vlammend wat ons slingerpad beskyn
deur nagte donker van verdriet, mismóed en pyn
tot waar die dagbreek van geluk glans bo die kim,
pluimspélend dáár, soos 'n hoog-stralende fontein.
| |
| |
Die wyn's 'n vreug, verkwikkend, die springaar en bron
van lig en stralende geluk! O dis die son
wat heel ons winterland 'n lushof maak, en wat
skitter en bewe op die spitspiek van Helikon!
Onthou die fees is kort, my broeders, en gedink
jul aan die kelner wat sal kom... O hy sal skink
wrang, suur, onsmaaklik, dáárdie allerlaaste drank -
die grys brakwater van die Dood - en jul sal drink.
| |
VII
Ons dae blinddoek ons, so klein van krag,
vir Dood, die laksman, wat geduldig wag,
Skavot-toe struikel ons, dáár waar hy staan,
grynsend, gemasker, in sy donker drag.
|
|