De Gids. Jaargang 144(1981)– [tijdschrift] Gids, De– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 3] [p. 3] Elisabeth Eybers Vijf gedichten Nostalgiese vers Om weer aan glinstering te glo - kristal uitstippeling van die hemel - moet ek herinnering inroep, die nag met stof-en-bloekomwasem, my seilbed op die leiklipstoep smal teen die sandsteenpastorie, die uitgedoofde dorp, daarbo oneindige diamantgewemel. Die aandklok tingel en die lied uit die vereilande lokasie bly vlaag op donker vlaag aanspoel: veelstemmige, bedwelmende verdriet. Orion die kopstaan-harlekyn het sy skraal middel ingebind en rats 'n halwe rad geslaan om op sy voete te beland, sy swaard juweelstyf aan sy sy, maar watter rol het vir hom oorgebly? Die sterre is geblus tot skyn van skyn. Al sien ek op 'n winteraand die wakker Hondster lig uitpols is die onwrikbare Suiderkruis vir goed verby die horison verdrink. [pagina 4] [p. 4] Verhuising Ná die loswring van rame en deurposte vlug ek uit burerumoer, onherroeplik bevry deur die sewe ramshorings van Jerigo kry ek my oorkant die soveelste smeulende brug met nog steeds onberedderde puin rondom my, kortasem maar tog in my woordwêreld terug. Kommunie Die tafel word afgedek, dan volg nog 'n ritueel: hulle gaan na 'n ander vertrek om mekaar met mekaar te deel. [pagina 5] [p. 5] Stemming Weer herfs - hoéveel nog? - en ek trek my terug in 'n tweekamerspeelruim: ingeslote en vry. Weelde van heimwee, daar buite afwerende beelde, die ruite beslaan met 'n wolkestolsel, sintvitusgebare van bome wat oggend vir oggend verslonsder ontsnap uit die woekerende nag. Geruisloos sypel die sand... Verlede: seisoen van versuim Hede: dag van bestand Toekoms: die dag ná vandag. [pagina 6] [p. 6] Notisie In hierdie halfrond steier die halwemaan soms kersregop met skietloodmiddellyn. Waar ek vandaan kom en hy skerper skyn lê hy gewoonlik agteroor gevly - 'n bootjie in die holte van 'n golf - en hang 'n ster soos 'n spinnekoppie aan sy voorstewe en skommel saggies saam. Badwater, as dit gorrelend wegloop, kolk hier linksom, téén die klok, dáár tol dit méé. (Hoe lyk dit op die ewenaar - word die skroef een sentimeter vóór hy omslaan stroef?) Geleerdheid sou opsluit 'n uitleg gee en sulke bronne van verwondering, as ek maar wou, met wetenskap verdring. Vandaar dat ek my in onkunde vermei. Vorige Volgende