| |
| |
| |
Jan Sebastian Rabie
La promenade en chien
In die môre ontwaak Madame en besef haar bui vir die dag. As sy uit haar bed opstaan, weet sy presies watter kleed by watter hond sal moet pas. Want Madame het 'n kleed vir elke stemming en, natuurlik, eweveel verskillende honde.
Soms dra sy die wit gaas wat haar netso hoogmoedig en skraal op haar hoë hakke laat wieg as die wit Borzoi wat homself verwerdig om sy syige koppelriem vooraf te gaan; op ander dae 'n wakker swart-en-wit geruite kostuum om by die foksterrier te pas; en soms ook die gewaagde swart affêre wat haar 'n tergende aand-houding gee en haar net so verruklik verspot laat lyk as haar Franse poedel met sy fietse lyfie kaalgeskeer in onverwagte plekke.
Wanneer Madame aldus in voortreflike harmonie met haar hond aan sy riem deur die strate wandel, dink die verbygangers dat Madame haar toilet gekies het om by haar hond te pas. Maar die teenoorgestelde is ook waar.
Natuurlik het Madame meer om te doen as net bloot onberispelik te wandel, maar dié feit word beswaarlik vermoed in die groot saal van die honde. Daar wag elke hond kwynend in die donker van sy hok op die ylhoofdige wandeling. Daarvoor alleen bestaan elke hond.
Die oomblik dat Madame die saal binnekom en hulle die geheimsinnige ruis van haar kleed hoor, gaan 'n rilling deur elke hond en druk hij sy neus teen die hout van sy deur, en snuif hy en huil en slaan sy stert teen die donker mure van sy hok. Maar alles omtrent Madame is vol geheim, en bowe-al die gril van haar keuse.
Van al die honde dra die klein swart-en-wit foksterrier teleurstelling en verlange die brandendste in sy hart. Omdat hy die kleinste van hul almal is, is hij in staat om sy neus en oë in die spleet onder sy deur in te woel. Hierdie pynlike posisie vergun hom 'n mate van geleentheid tot sien en ruik.
Vandaar sien hij die soom van een van Madame se klede soms in 'n vreem- | |
| |
de en lieflike ruik verbybeweeg, en eenmaal het hij ook vier pote soos syne rond en bont gesien warrel. Maar die aanblik daarvan het hom 'n hele dag lank siek en verwilderd laat voel, want selfs al weet die foksterrier uit hul geruik en geblaf van die ander honde, is hij nie instaat om te dink dat Madame vir enige ander hond as hyself kan kom nie.
Die foksterrier is geen filosoof; elke emosie wat van Madame na hom kom is onmiddelik en geheim. En elke keer as Madame sy deur verbijgaan, laat hij sy gefolterde kop op sy pote sak, en begryp dit nie.
Maar as Madame een dag, onverklaarbaar en tog so vanselfsprekend soos sy wag op haar, eindelik voor sy deur kom staan en dit open en glimlag teen hom en daar staan in 'n kleed met wit en swart stroke - voel die foksterrier se klein hartjie of dit kan breek van vreugde. Dan tuimel hij uit, hygend en bewend, vurig met trots op homself, op die leerriem wat sy meesteres om sy nek bevestig, en op die mooi kleed wat so baie op hom lyk. Die hele verlede is vergeet: hy is geheelenal vertroue en vreugde, geheelenal foksterrier, ontploffende oomblik.
| |
Droogte
Hoe pilarë stof loop oor die bruin vloer van die aarde. Die wortels van die verskroeide gras wag op reën; dorstig vir groen liefde trek die ontsaglike dorre vlakte eindeloos uit na sy horison. Een reguit lineaalgetrekte spoorweglyn pyl van onder die middagson-gloed na waar 'n nag fluwelig koel met sterre sal wees. Die landskap is dié van droogte. Klein soos twee korrels sand bou 'n witman en 'n swartman 'n muur. Vier mure. Dan 'n dak. 'n Huis.
Die swartman dra blokke steen aan en die witman plaas hulle in die muur.
Die witman staan binne die mure waar daar effens skadu is. Hy sê: ‘Jij moet buite werk. Jou vel is swart, jy kan die son beter verdra as ek.’
Die swartman lag teen sy spiere se glinster in die son. 'n Honderd jaar gelede het sy voorouers donker oeste met hul assegaaie gemaai en die drif van die swart son in hul ledemate, in die Ngoma-dans uitgetrap. Nou lag die swartman terwijl hij begin frons.
‘Waarom praat jij altyd van my swart vel?’ vra hy.
‘Jy is vervloek’, sê die witman. ‘Lang gelede het my God jou met duisternis vervloek.’
‘Jou God is wit’, verweer die swartman kwaad. ‘Jou God lieg! Ek is lief vir die son en ek vrees die nag!’
| |
| |
Die witman praat dromerig voort: ‘Lang gelede het mij voorvaders oor die see gekom. Van ver het hulle gekom, in wit skepe hoog soos bome, en op die land het hulle waens gebou en met die seile van hul skepe oordek. Ver, ver het hulle gereis en hul kampvuur-asse wyd oor hierdie groot en barbaarse land gesprei. Maar nou is hul kinders moeg, ons wil huise bou en julle swartes leer om in vrede met ons te lewe. Dit is tyd, selfs al sal julle velle altyd swart blij...’
Trotsig verset die swartman hom: ‘En my voorouers het hul assegaaie in die bloed van joune gedoop en gesien dat dit rooi is soos ons s'n. Rooi soos die bloed van 'n bok wat ons jongmanne tussen twee rooi sonne op die heuwelkimme inhardloop en vang!’
‘Dis tyd dat jy die bloedige verlede vergeet,’ sê die witman verdrietig, ‘kom, jy moet leer om saam met my te werk. Ons moet hier die huis bou.’ ‘Jy kom om my te leer dat God wit is, dat ek 'n huis vir die witman moet bou!’ Die swartman staan met gevoude arms.
‘Kaffer!’ roep die witman, ‘sal jy nooit niks verstaan nie! Doen wat ek sê!’ ‘Ja, baas’, brom die swartman.
Die swartman dra blokke steen en die witman plaas hulle in die muur. Hij maak die muresterk. Dieson blaak moorddadig neer. Ver, soos 'n enigste boom in die dorsland, loop 'n hoë pilaar stof op die bewende horison. ‘Verdomde hitte!’ brom die witman, ‘as dit maar wil reën.’
Hy vee die sweet verergd van sy voorkop weg en hij kom styf regop om weer te sê:
‘Jou voorouers is dood. Dis tyd dat jy hulle vergeet.’
Swyend kyk die swartman hom aan met oë wat antwoord: Jou voorouers is ook dood. Ons is alleen hier.
Alleen in die dorre en verlate vlakte bou die witman en die swartman 'n huis. Hulle praat niet met mekaar nie. Hulle bou die vier mure en dan die dak. Die swartman werk buite in die son en die witman binne in die skadu. Nou kan die swartman slegs die witman se kop en skouers. sien. Hulle lê die dak.
‘Baas’, vra die swartman oplaas, ‘waarom het jou huis dan geen vensters en deure nie?’
Die witman het baie treurig geword. ‘Dit, ook, kan jy nie verstaan nie’, sê hy sag. ‘Lank gelede in 'n ander land het mij voorgeslagte mure gebou om die see uit te hou. Dik, waterdigte mure. Daarom het mij huis ook geen vensters en deure nie.’
‘Maar hier is g'n groot water nie!’ roep die swartman uit, ‘die sand is droog soos 'n skedelbeen!’
| |
| |
Jy is die see, dink die witman, te treurig om verder te praat.
Hulle le die dak. Hulle spijker die laaste plank, die laaste sinkplaat, die swartman buite en die witman binne. Nou kan die swartman die witman niet langer sien nie.
‘Baas!’ roep hij, maar hoor geen antwoord.
Die Inkoos kan nie uitkom nie, dink hy met skrik, hy kannie die lug sien of weet wanneer dit dag of nag is nie. Die Inkoos sterf in sy huis!
Die swartman hamer met sy vuiste op die huis en roep:
‘Maar Baas, geen groot water sal ooit hierheen kom nie? Hier sal dit nooit 40 dae en 40 nagte reën soos die Boek van jou wit God sê nie!’
Hy hoor geen antwoord en hy skreeu:
‘Kom uit, Baas!’
Hy hoor geen antwoord.
Met sy vuiste nog steeds gelig asof om weer te klop, staar die swartman verwilderd op in die hemel sonder 'n enkele wolk, en rondom hom na die horison waar warrel-winde rooi-warm stof die vreeslike Ngoma van die droogte dans.
Dan stamel die swartman verlate en beangs:
‘Kom uit, Baas... Kom uit na my...’
| |
Lied oor niemandsland
Evert het teruggekeer uit krygsgevangenskap 'n jaar na die dorp in tweegesny is deur dienuwegrenslyn, en 'n helery huise langs die hoofstraat gesloop is om plek te maak vir wagte en doringdraad. Die ou markplein in die hart van die dorp is omgeploeg en gelykgehark sodat spore kon wys; toe die koue weer kom het die lang skeidende sleepsel van dood stekelig en bar teen die sneeu afgesteek.
Die dag van Evert se terugkeer het sy ou moeder na die stasie gegaan om te huil en haar seun huis toe te lei. Toe sy hom vertel wat met die dorp gebeur het, het Evert wit om sy mond geword en stilswyend aan haar sy tussen die ou gegewelde huise na die plein gehaas. Daar het hy met sy somber gesig na die ander kant gedraai gestaan.
‘'n Seun is een nag daar tussen die drade geskiet’, het sy moeder gefluister. Na nog 'n wyle het sy weer gefluister: ‘Kom huistoe, my seun, kom huistoe, wat help dit.’
‘Vyf jaar’, het hy toe skor gesê. ‘Ek dog ek kom huistoe om Anna te trou.’
| |
| |
‘Kom huistoe, dis koud.’ Sy moeder het gebewe terwyl sy opstaar in sy gesig so oud en verwese soos hare.
‘Vyf jaar’, het hy dof en stil teen homself herhaal.
Nóg daar die aand nog die dae daarna het Evert weer van haar gepraat, en sy moeder het haar naam nie eenmaal genoem nie. Hy het werk gekry in die fabriek agter die stasie, en elke aand op pad huis toe 'n tyd lank aan die rand van die plein deur die winter-grysheid na die huise aan die oorkant gestaan en staar.
'n Week na Evert se terugkeer het 'n sneeustorm oor die huise neergeslaan. Na sy terugkeer deur die warrelende geelgrys skemer van die strate, en terwyl hy net binne die deur gaan staan, vooroorgeboë om die sneeuwvlokke van sy skouers en hare te skud, het hy nie dadelik die meisie bemerk waar sy selfbewus aan sy moeder se sy voor die vuurherd staan en glimlag niet. Toe hy naderkom het sy moeder gesê:
‘Evert, jy hoef nie jou jeug weg te smyt nie, ek het hoor sê Anna's verloof aan 'n ander man.’
Hy het hulle aangekyk; in skielike woede-bewing het hy omgespring en die kombuisdeur oopgeruk en gewys dat die meisie moet gaan, en toe hy dit agter haar sluit, teen sy kitaar aan die muur gestamp sodat dit van die spyker val.
Later het sy moeder gesê: ‘Die oorkantse mense is sleg, hulle gooi klippe oor na ons, en hulle vloek ons met nuwe name wat hulle aan die ander kant geleer het.’
‘Julle begin hulle nou al haat,’ het haar seun in 'n dowwe, bitter stem gesê. Maar hy het sy arms om haar skouers gesit toe sy begin huil.
‘Ek is oud, Evert’, het sy gesnik, ‘ek sal nie lank meer lewe nie. Maar sterwe sal draaglik wees as ek eers 'n kleinkind in my arms kan hou.’
Die volgende dag het sonskyn bleek deur die wolke gesukkel. In die strate het die sneeu in 'n vuil pappery verander, maar op die plein het dit skoon en wit geglans. Evert het vinniger as gewoonlik huis toe geloop. Hy het verby die plein reguit huis toe geloop. Sy oë het gegloei in sy skraal, verbete gesig toe hy die kitaar van die muurspyker lig. Hy het geen woord teen sy angstige ou moeder gese nie. Hy het na die rand van die plein gegaan, en toe langsaam verder in die diep skoon sneeu tot waar die wagte gestaan en kyk het. Hulle het hul gewere dreigend gelig. Evert het nog nader gegaan in die diep wit sneeu.
‘My meisie is aan die ander kant’, het hy stil gesê.
‘Wat daarvan...!’ het een van die wagte gevloek, ‘sy's jou vyand nou!’
Hy was afkomstig uit 'n ander provinsie en hy het sy twee jaar diensplig
| |
| |
gehaat en die mense van die dorp waar hy gestationeer was met dié haat verbind.
Evert het verby die soldate na die oorkant; huise getuur waar die aandt skaduwig teen die mure aan die aanblou was.
‘Ek respekteer mos julle heining’, het hy gesê.
Hy het sy kitaar omgeswaai en dadelik 'n wysie wat hy vroëer veel gespeel het omdat dit Anna se lieflingslied was, uit die snare begin slaan.
Die wag het weer gedreig, maar sy maat het gelag en gemeen: ‘Laat ons sien of sy nog sy meisie is.’
Evert het gestaan en speel met sy oë gevestig op die huise agter die doringdraad-wronge. Dit was nog nie so donker dat y nie die mense wat voor die huise verbygaan, kon onderskei nie. Hy kon sien hoe die bleek ovale van hul gesigte sy kant toe draai en dan weer met die skemer saamsmelt. Hy het meer liedere wat hy en Anna saam geken het, gespeel. Die wagte het die spot met hom gedryf. ‘Dalk is sy haastig om te kom’, het hulle gelag. Hy het sy kop gebuig en begin sing met sy stem eers hees voor dit sterker in die polsende roep van die snare kon styg. Toe die donker daal het hy omgedraai en teruggehaas deur die mense-klompie versamel aan die rand van die plein.
Hy was koud. Hy het geril voor die vuur en toe sy ou moeder hom aanspreek, het hy haar met 'n vreemde glimlag aangekyk wat haar bang en stil in haar skommelstoel laat terugsit het.
‘Moeder’, het hy gesê, ‘As Anna kom, sal ek trou met wie Moeder ook al wil.’
Die volgende aand het Evert weer in die sneeu voor die doringdraad en die gewere-monde gaan staan. Die wagte het hom met hoon-roepe begroet, maar hy het soos vantevore begin speel terwyl hy somber bly staar na die huise aan die ander kant van die wit skemerende sneeu. Hy het alleen 'n kort tydjie gespeel voor vreugde in sy oë gelaai het. Want van die ander kant het 'n meisie langsaam asof met moeite oor die diep sagte sneeu aangestap gekom. Hy kon haar rooi rok sien swaai en haar vlegsels sien glinster weerskante van haar gesig terwijl sy tot dig by die drade kom. Hy het nie opgehou met speel nie. Sy hande het die akkoorde vanself gevind, en sonder dink het hy die wysie se woorde begin sing. En saggies, wyl sy met gesenkte hoof aan die ander kant in die diep, wit sneeu staan, het sy saam met hom gesing.
Die wagte het gestaan soos verkoolde boomstamme in 'n oop plek waar voëls nog sing. Na agter, aan albei kante van die plein, het die dorpenaars swyend versamel om te luister. En vir hulle, asof hulle ook saamsing, het
| |
| |
die twee eenvoudige stemme vertel van al die pyn en seer en verlange en onmoontlik verlangde vreugde wat ook hulle s'n was.
Toe die lied klaar was, het Evert die kitaar in albei hande vasgehou.
‘Dankie, Anna’, het hy snel onrede die wagte gesê.
‘Evert’, het sy saggies gesê terwijl sy nog steeds met geboë hoof staan, ‘Evert, dis waar, ek is verloof aan 'n ander.’
Sy gesig het skaars vertrek.
‘Dit maak nie saak nie’, het hy gesê, ‘jy't gekom’.
Toe het sy in sy oë opgekyk. Skreeuend het die wagte hul terugbeveel. ‘Dit maak nie saak nie’, het hy baie snel gesê, ‘een dag sal die dorp weer een wees, en dan, miskien, kan ons kinders trou. Die Here waak oor jou.’ Voor hulle teruggedryf kon word en hy haar naam wild sou roep, het hy omgedraai in die bou skemering wat orals deel van die hemel was.
Maar vir een aand, en vir 'n lang tyd in herinnering, het sang niemandsland oorkruis om 'n trotse vrede uit een man se pyn te skep, en vir almal wat gehoor het, 'n boodskapper te wees.
| |
'N vlermuis in die park
Die ondergaande son verguld die bome van die park en glimlag 'n laaste keer teen die meer se swane en grotte. Op die publieke banke begin die ou here hul koerante en die ou dames hul breiwerk vou om sedig na die versierde yster-hekke van die aandmaal te wandel. 'n Groepie kinders hou aan met speel in 'n sandgat. Hulle hoekie lê af van die gruispaadjies, weggesteek agter 'n prieël rankrose wat goud en oranje in die skuins son gloei. Die prieël is 'n halfmaan lig en kleur wat so dralend huiwer om uit te doof, dat baie getroue beloftes wagstaan oor die kinders se spel: die reënboog in die hemel, die hartstogtelike kersfeesboom, die Yag ewigdurend nuut herbore.
Plegtig en stil speel die kinders. Hulle speletjies bestaan net uit rondvroetel in die sand, maar onder hul vingertoppe floreer kastele en reise, en die druiwe-korrels van hul oë weerspieël geen ander visioen dan dié van die oomblik se glansende kom en gaan. Vir hulle sal kinder-meide en aandhonger onregverdig soos paaiboelies verrys uit 'n wêreld wat 'n vingerspoor in sand moes gebly het.
Skielik stoot 'n vlermuisagtige kop na vore deur die rose, en 'n ou vrou se arms flap in grieselige verontwaardiging; haar swart doodskleed van 'n rok ruk bo haar grysig afgesakte kouse.
| |
| |
‘Pieter! Pieter!’ skree sy. ‘Hoe durf jij! Stoute klein duiwel! Jij wéét jij moet huis toe kom!’
En terwijl sy naderkom en haar dun nek rek soos 'n pluimveedier met slangagtige bedoelings, mompel sy dreigemente teen een van die kinders. By die sandgat kruip 'n seuntjie van vier jaar haastig terug oor die heuwel sand. Die ander kinders hou op met speel, en kyk sonder 'n woord of beweging. Die ou vrou hardloop om die sandgat en gryp na die seuntjie. Maar hy krabbel weg op die sand, skoppend en huilend. Spoeg spat uit die ou vrou se mond, en onbewus van die aaklige skouspel wat haar onderklere aanbied, klou sy haar pad op agter hom aan. Terwijl sy hom afsleep probeer die seuntjie vergeefs aan die sement-rand klou.
‘Ek wil nog speel’, snik hij, ‘ek wil nog speel’.
Die ou vrou ruk hom op sy bene en bring haar blouige lippe naby sy gesig om 'n stroom onsamehangende verwyte en speekselsruppels oor hom uit te reën. Al die tyd sit die ander kinders, nog 'n seuntjie en drie klein meisies met helder rokkies, en toekyk; hulle oë sien alles raak, sonder uitdrukking.
Toe sy klaar is met hom links en regs klap om die sand uit sy klere te kry, sleep die ou vrou die snikkende seuntjie weg.
Onder die prieël waar die laaste glanse van die son onmerkbaar op die boog donkerende blare vervaag, ruk sy hom skielik ruweg om en wys na die vier klein regters in die sand.
‘Kijk!’ skree sy, haar arm bewend in selfregverdiging gehef.
‘Kyk! Skaam jy jou nie? Kijk, hulle kyk na jou. Hulle sien jou!’
Dan sleep sy hom weg in die aand.
Terwijl die orige kinders hul spel swyend voortsit, kruip skaduwees uit elke blom en boom. |
|