Hij het opgehou met swem, bewend met die gedagte: ‘Dit is moontlik dat sij mij tog lief het. Miskien is ek nie lelik soos ek gedink het nie.’ Hij het sij bene saggies beweeg, wagtend. Die maan het ook gewag. Die padda het sij groot mond liefderik verwring, maar hoewel die maan nog meer stralend dan tevore gebloei het, het sij stil en roerloos geblij.
Hierop het die padda spelonkig geglimlag, vol van 'n minnaar se wijse begrijpe, en saggies vorentoe beweeg. Die maan het retireer. Toe het 'n waansinnige en woedende agtervolging begin totdat die padda heeltemal uitgeput was en moes uitkruip op die oewer waar die modder koel en sag op sij wreed skoppende bors was. Toe hij sij oë eindelik weer oprol, het hij die maan van die waterkant teen hom sien glimlag, skaars een sprong ver. ‘Ek verstaan nie,’ het die arme padda gekreun, ‘ek is 'n eenvoudige siel, ek verstaan nie.’
En terwyl hij sij meesteres met 'n jammerlike stemtoon aanspreek, het hij gevra: ‘Waarom vlug jij as ek naderkom, en volg jij as ek vlug?’
Die maan het blij swijg. Alhoewel sij getrou aan die aarde en die poel van die padda was, was sij van 'n ster gemaak en kon sij haarself nie verduidelik nie. ‘Lewe skijn 'n lastige affere te wees vandat ek minnaar geword het,’ het die padda teen homself gesê. ‘Wie weet of dit nie beter sal wees as ek gaan wegkruip waar ek haar nie meer kan sien nie?’ En terwijl sij hart gevoel het of dit kon breek, het hij homself in die water gewerp en diep in die modder ingevroetel tot op die bodem van die poel waar hij kon nadink in die vrede van algehele en min-eisende duisternis.
Na 'n wijle was die padda gedwing om terug te keer na die oppervlak, belaai met 'n paar meer vratte. Weereens het die sien van die maan waar sij silwer en lieflik op die water drijwe, sij hart verlei om met woeste en nuttelose waansin teen sij lelike ribbekas te skop. Hij het teruggevlug na die modder. Maar nie eens die heel lelikste padda kan uitsluitlik op die bodem van duisternis lewe nie, en hij moes terugkeer.
‘Klaarblijklik,’ het hij gedink. ‘Dis moeilik selfs om 'n padda te wees.’ In wanhoop het die padda oplaas sij oë gesluit.
‘Ek sien niks nie!’ het hij verbaas gesê, terwijl hij vir die eerste keer in sij lewe 'n ware woord kwaak. Toe het hij homself meer versekerd wijsgemaak: ‘Maar ja! Die maan is 'n illusie wat vir haar bestaan van mij oë afhang. Kijk, kijk net, dis duidelik dat ek nou niks sien nie!’
Vanaf daardie dag was die padda weer 'n vrije padda, onderhewig alleen aan kroniese asma van die keel en oë. Naderhand het hij bedrewe in wijse streke geword, en het hij dit geniet om die maan vol in die gesig te kijk en hees te kwaak: ‘Die maan is 'n illusie!’