‘Daar buite,’ sê hy en beduie met 'n duim oor sy skouer na die res van die wêreld, ‘het ons allerhande klein speletjies en rituele ontwerp om die werklikheid weg te steek, nie net vir hulle nie (en hy wys na die meisie), maar ook vir onsself. Waarom dit hier gaan is absolute eerlikheid.’
Hy wend hom tot die meisie en streel oor haar sensuele onderlip met sy lepel. ‘Sy is pragtig.’
Ek het dit vroër nie raakgesien nie, maar die een kant van die lepeltjie het vlymskerp tandjies en dit laat 'n rooi strepie oor haar lip. Haar tong kom uit haar mond en voel oor die sny en die bloed wat stadig daaruit drup.
‘Ek's jammer...’ sê die kaalkop. ‘Die doel is nie om haar seer te maak nie. Glo my, die brein het geen gevoel nie. Mens voel absoluut niks.’
Hy staar na haar met duidelike liefde op sy gesig en plaas 'n hand op haar wang, sy lepel reg in die ander hand.
‘Om bloot seer te maak is primitief’, sê hy saggies en kyk haar reg in die oë. Haar mond bewe van senuweeagtige walging.
‘Dink aan haar gedagtes,’ sê die kaalkop. ‘Haar brein is vol gedagtes en herinnerings. Haar brein is met haar lyf verbind en onthou intiem elke dingetjie wat daarmee gebeur het. Diep daar onder versteek (en hy dui dit met sy lepel aan), lê die primitiefste dele van die brein, die oerbrein. Alles bo-oor is dit wat dier tot mens maak. Dit is 'n wonder... En dan, stukkie vir stukkie, verdwyn dit. Verdwyn die gedagtes, verdwyn die kontak met die lyf, verorber mens gevoelens, emosies, bewussyn, alles. Totdat net die oerdier oorbly. Stukkie vir stukkie - en sy deel die hele ervaring, alles. Sy deel die intiemste ervaring wat moontlik tussen mense kan plaasvind.’
Sy vingers bewe opgewonde en onderwyl hy haar stip in die oë kyk, beweeg sy lepel na haar oop skedel toe. Ek kan sien sy probeer hard om haar oë toe te maak, maar dit is vir haar onmoontlik - en die kaalkop weet dit en rek die oomblik vir so lank as moontlik uit; die spannende pouse voor die samesmelt van liggame, die saam-vloei van lus in gladde bewegings wat die vel laat tintel. Sonder dat ek na haar kyk word ek in my verlamming bewus van iets wat in die Eurasiese vrou groei. Sonder dat ek kan sien, bespeur ek die seningspan van spiere in haar lenige, gierige lyf, soos iets wat op die oomblik wat die asem teen die hart slaan wil spring. En toe die kaalkop die sagte vlees bereik en indring, slaan sy wreed en wild met altwee hande in die skedel in en grom soos 'n kwaai ding met tande en oë wat flits.