skyning laat voorkom het. Timmermans was enig. Hy het geen voorgangers gehad en sal geen noemenswaardige navolgers hê nie. Ek het nog nooit by enige ander skrywer die eienaardige plastiese gawe en die kinderlike verrukking waarmee hy die dinge aanskou, teengekom nie. Sy beeldspraak is van 'n onoortroffe oorspronklikheid. Ruusbroec en Gezelle mag in hulle siening enigsins daaraan verwant wees, maar by elkeen van hulle is dit weer heeltemal iets anders. Vlaandere het in Timmermans 'n kunstenaar aan die wêreld geskenk wat, met al sy beperkings, sonder weerga is.
As Timmermans in IK ZAG CECILIA KOMEN skrywe: ‘In 't midden van het karspoor zit een haas in profiel. Ik zie zijn klaar oog. Met rustige schokjes verdwijnt hij in het bosch’ - dan het ons 'n siening so oorspronklik, fris en waar dat dit meer verras as lang bladsye krampagtig geskrewe ‘woordkuns’. Gelukkig maar dat Timmermans nie onder invloed van die Tagtigers of ander ‘invloede’ gekom het nie. Dit was sy redding as kunstenaar.
Wat ons aangehaal het, is nie maar 'n gelukkige keuse uit Timmermans se werke nie. Op elke bladsy wat hy geskrywe het, is sulke voorbeelde te vind. Paragraaf na paragraaf is 'n skilderytjie, helder en eenvoudig. Die komplekse emosies is daaruit. Al sy werke is monumente van hierdie verrassende bewuswording in die taal van die kenmerkende in lewe en gebaar rondom hom. Die natuur het maklik en moeiteloos in sy taal 'n herbloei belewe.
Ek het die besware gelees wat van tyd tot tyd teen Timmermans se kuns ingebring is, en ek moet eerlik sê dat dit weinig indruk op my gemaak het, juis omdat dit met dieselfde doodernstige, ploeterende ‘gees’ geskrywe is wat my na 'n dwaalweg lyk waarin die worstelende gees van Europa beland het. Wie kan vlinders met so 'n ruwe hand vang?
'n Kunstenaar wat geen fyn sintuie besit nie, mag nog soveel ‘gees’ of ‘geleerdheid’ besit, maar dit sal hom met die artistieke afronding van sy werk weinig help. Die ware kuns dein soos 'n waterring weg van die middelpunt, vry en los, en bereik steeds groter gebiede. Wetenskap en wysbegeerte het reeds te veel verdienstelike skrywers van die primêre van hulle taak af weggelei en hulle met inspanning van die wil knap, maar dooi, serebrale werk laat skrywe.
By Timmermans is die sintuiglikheid die begin en end van sy kuns, staan die liefde vir warm kleure en koddige buitelyne voorop, en wie teleurgestel voel omdat daar so min ‘diepte’ of ‘psigologiese motivering’ is, het Timmermans nie begryp nie of 'n maatstaf op hom gaan toepas wat allermins by sy soort kunsuiting tuishoort. Timmermans se lewe het so oopgestaan na die natuur toe dat dit maklik en suiwer daarin gevloei het.
Ek het al dikwels die onsin gelees dat mense buite Vlaandere vir Pallieter gaan aansien het as die egte ‘goedronde’, onverantwoordelike Vlaming en ek het my met verwondering afgevra wie so verspot is om op grond van so 'n werk elke Vlaming in die hoofkarakter weerspieël te sien. Timmermans se skuld is dit seker nie. Wie is immers so kinderagtig om in elke Amerikaner 'n Babbitt te sien of in elke Afrikaner 'n Ampie? Alleen mense wat in alles