vas; dit help niks; dis verniet dat jy jouself kasty; jy is so versmoor in die sonde, dat God daarbo in die hemel jou gebede nie hoor nie. Ek raai jou: gaan haastiglik na die ab en bieg aan hom al jou sonde, sonder om iets weg te steek; laat die duiwel jou nie bedrieg nie; die ab sal jou absolusie gee van die sonde wat jou hinder. Maar as jy nie wil bieg nie, sal God dit swaar aan jou wreek.’
Die jongeling verdwyn uit haar oë; meer wou hy nie sê nie; maar wat hy gesê het, het sy goed verstaan.
Die volgende môre gaan sy so vroeg moontlik na die ab en versoek hom om haar bieg van begin tot end geduldig aan te hoor. Die ab was 'n verstandige man en antwoord: ‘My liewe dogter, ek doen dit graag. Dink goed na oor al jou sondes en moenie een enkele vergeet nie.’
Toe gaan sy reg oor die heilige ab sit en openbaar hom haar hele lewe; hoe 'n dwase liefde haar so in die versoeking gebring het dat sy haar habyt moes aflê. Op sekere nag het sy dit laat lê op die altaar van Maria, en die klooster verlaat met 'n man, aan wie sy twee kinders gebaar het. Niks wat met haar gebeur het, het sy verberg nie; al wat op die grond van haar hart lê, maak sy aan die ab bekend. Toe sy alles klaar gebieg het, sê die heilige vader: ‘Dogter, ek sal jou absolusie gee van die sondes wat jou beswaar en wat jy nou aan my bely het. Geloof en gebenedy moet die Moeder Gods wees! ’ Toe lê hy sy hand op haar hoof