VIII.
Diep bedroef gaan sy na die klooster - moedersiel allenig.
Toe sy in die tuin kom vind sy dadelik die deur oop. Sonder om te aarsel gaan sy in. ‘Ek dank U, Maria, dat ek weer binne hierdie mure is. Mag God my tog verder lei.’ Net waar sy kom, staan die deure wawyd oop voor haar. Sy gaan toe die kerk in en bid saggies: ‘Here God, ek bid U ernstig, gee my tog weer die klere wat ek veertien jaar gelede op die altaar van Onse Liewe Vroue neergelê het, in die nag toe ek hier weggevlug het.’
Wat ek nou sê is die reine waarheid; sy kry haar skoene, wit mantel met kappie en haar sluier presies op die plek waar sy dit neergesit het. Haastig trek sy dit aan met die woorde: ‘Geloof sy God in die hemel en Maria, geseënde Jonkvrou, die blom van alle deug. In U reine maagdelikheid het u sonder wee 'n kind gedra, wat ewiglik Here sal wees. U is 'n uitverkore skat, U kind het hemel en aarde geskape. U mag kom van God, en altoos is dit tot u beskikking. Oor die Here, wat ons broeder is, mag U beskik en Hy mag U noem: Liewe Dogter. Dit gee my rus en vrede. Wie by U genade soek, sal dit kry, al kom hy ook laat. U