berg vra vir die nag. ‘Ek sou jou dit kwalik kan weier,’ sê die weduwee, ‘met jou klein kindertjies. Dit lyk vir my of hulle moeg is. Sit en rus 'n bietjie; ek sal met jou deel, wat onse Here ter ere van Sy liewe Moeder my verleen.’
Daar bly sy dus met haar kindertjies, en sy wou graag uitvind hoe sake in die klooster staan. ‘Sê tog vir my, goeie vrou, is hierdie klooster 'n nonneklooster?’
‘Ja, dis reg,’ antwoord die weduwee. ‘Ek kan jou verseker dat dit pragtig en baie ryk is. Nêrens kry jy een daaraan gelyk nie. Van geen enkele van die nonne wat daarin habyt dra, het ek ooit die minste skinderpraatjies gehoor, wat 'n klad op hulle goeie naam kon werp nie.’
Sy wat daar by haar kinders sit, sê: ‘Hoe kan u dan so praat? Ek het in die laaste tyd so baie praatjies gehoor oor 'n non, wat soos ek verstaan, daar kosteres was. Wie my dit vertel het, het seker nie gelieg nie. Veertien jaar gelede het sy heimlik die klooster verlaat en niemand het ooit geweet waar sy heengegaan, of in watter land sy gesterf het nie.’
Toe word die weduwee kwaad: ‘Dit lyk of jy kletspraatjies verkoop! Hou op om op hierdie manier oor die kosteres te praat, of jy bly nie langer in my huis nie. Sy is hier vir meer as veertien jaar kosteres gewees en in al dié tyd het sy nie eenmaal die mette versuim nie, of sy moet siek gewees het. Wie iets anders as goed oor haar praat, moet slegter wees as 'n