jies met my om my op te beur; ek wil tog so graag deur jou getroos word! Die pyl van die liefde steek in my hart en laat my groot smart ly; nooit sal ek my weer kan verheug nie as jy nie die pyl kom uittrek nie.’
Ontroerd antwoord hy: ‘Jy weet allerliefste, dat ons al ons hele lewe lank mekaar liefhet. Nog nooit eers het ons 'n rustige kansie gehad om mekaar te soen nie. Mag God die Here, vrou Venus, die godin, verdoem omdat sy ons die liefde gegee het en ons nou soos twee mooi blomme laat verwelk en verdor. As ek jou maar kon beweeg om die kloosterkleed af te lê en 'n tyd bepaal om jou hier weg te voer, dan sou ek wegry en alles klaarmaak; kosbare wolklere met bontwerk uitgevoer, mantel, rok en oorkleed. In die hoogste nood sal ek jou nie begeef nie; met jou wil ek tegemoet gaan lief en leed, soet en suur; neem my trou tot pand!’
‘Uitverkore vriend,’ antwoord die jonkvrou, ‘hierdie pand wil ek graag van jou ontvang en so ver met jou gaan, dat niemand in hierdie klooster sal weet, waar ons beland het nie. Kom vanaand oor agt nagte terug en wag my op buite in die tuin onder die eglantier (wilderoosboom). Wag daar, totdat ek uitkom om jou bruid te wees, om te gaan net waar jy wil; tensy siekte my verhinder of ander sake wat vir my te swaar is, sal ek sekerlik daar wees. Ek begeer vurig om jou daar te ontmoet, edele jonkman.’
Hul beloof mekaar dit plegtig. Hy neem afskeid. loop weg na sy opgesaalde perd en ry op 'n stappie