Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde, 2010-2011
(2012)– [tijdschrift] Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde [2001- ]– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 125]
| ||||||||
InleidendOp 17 Desember 2009 is prof. Fritz Ponelis (67) oorlede nadat hy die voorafgaande ses jaar pankreaskanker gehad het. Met sy dood verloor Suid-Afrika een van sy toonaangewende taalkundiges wie se werk die Afrikaanse maar ook die algemene taalkunde ingrypend verryk het. Ponelis was 'n veelsydige taalkundige wat hom in sy vroeëre navorsing en publikasies veral op die Afrikaanse sintaksis toegespits het maar ook 'n beduidende bydrae tot onder meer die variasietaalkunde, fonetiek, taalbeplanning, taalpolitiek en leksikografie gelewer het. Elkeen van Ponelis se bydraes was van sodanige aard dat dit op eie reg die vakgebied help vorm en ontwikkel het. In die laaste dekades het hy grootliks aan die breë historiese taalkunde gewerk. Vir die internasionale gemeenskap van historiese taalkundiges is sy dood ook 'n geweldige slag. Ponelis was iemand wat gehalte in die lewe kon waardeer op alle terreine; hy het Afrikaans gewaardeer vir die juweel wat dit is en daarom het hy hom met Afrikaans bemoei. Hy was nie, soos die pers dikwels na Afrikaanse taalkundiges verwys, 'n ‘taalbul’, ‘kampvegter vir Afrikaans’ of ‘strydros vir Afrikaans’ nie. Sy bydrae vir Afrikaans was veel dieper en | ||||||||
[pagina 126]
| ||||||||
waardevoller soos spruit uit sy wetenskaplike geskrifte wat hulle tyd altyd ver vooruit was en nog baie lank as ware monumente vir Afrikaans gaan bestaan.
Sy eerste grade behaal Ponelis aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, tans die Noordwes-Universiteit. Hy begin sy akademiese loopbaan in 1964 as dosent in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Aan hierdie Universiteit behaal hy ook 'n meesters- en 'n doktorsgraad, met 'n tweede meestersgraad wat hy aan die Universiteit van Port Elizabeth verwerf. Aan Unisa word Ponelis in 1969 bevorder tot professor en hoof van die nuut gestigte Departement Linguistiek. Hierdie Departement bou hy uit tot 'n sentrum van uitnemendheid voordat hy, na veertien jaar diens aan Unisa, in 1979 'n aanstelling aanvaar as professor in Afrikaanse taalwetenskap in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch. Tot en met sy aftrede in Maart 2003 het Ponelis hierdie pos beklee. Na sy aftrede stel die Universiteit hom as navorser aan en alhoewel hy kort na sy aftrede reeds siek word, publiseer hy steeds verskeie artikels. Die laaste van sy bydraes het die week na sy dood verskyn. | ||||||||
SintaksisAs taalkundige het Ponelis in 1968, op die jeugdige ouderdom van sesen-twintig jaar, sterk onder die aandag van Afrikaanse taalkundiges gekom met die publikasie van sy baanbrekende boek Grondtrekke van die Afrikaanse sintaksis. In hierdie boek bied hy 'n vernuwende blik op die taalwetenskap en die beskrywing van die struktuur van Afrikaans. In tipiese Ponelisstyl, sonder omhaal van woorde, het Grondtrekke van die Afrikaanse sintaksis se invloed die gang van die Afrikaanse taalkunde blywend verander. Hierdie boek is aan verskeie Suid-Afrikaanse universiteite voorgeskryf en vir geslagte studente het Ponelis 'n huishoudelike naam geword. In hierdie boek het Ponelis die groep, 'n eenheid van woorde waarvoor daar bepaalde volgordereëls bestaan, as vertrekpunt geneem. Die sintaktiese begrip volgorde sou toenemend belangrik word in sy werk. Grondtrekke van die Afrikaanse sintaksis stel die verskillende onderdele van sinne en die verskillende sinstipes daar en analiseer dit op 'n wetenskaplike en sistematiese manier. Een van die talle kenmerke van hierdie boek was die groot aantal voorbeelde waarmee Ponelis sy sinsontleding geïl- | ||||||||
[pagina 127]
| ||||||||
lustreer het. Sy navorsing was nie op 'n beskrywing van studeerkamervoorbeelde gerig nie maar op 'n daarstelling van die werklike taalgebruik. Die aard en omvang van die invloed wat Grondtrekke van die Afrikaanse sintaksis op die studie van en navorsing oor die Afrikaanse taalkunde gehad het, kan skaars oorskat word. Dit het ook die stimulus gebied vir 'n verskeidenheid magistertesisse en doktorale proefskrifte. Spesiale erkenning vir Grondtrekke van die Afrikaanse sintaksis kom in 1998 met die uitgawe van 'n spesiale huldigingsbundel, Sintaksis op die voorgrond, uitgegee by die dertigjarige herdenking van die publikasie van Grondtrekke van die Afrikaanse sintaksis. In hierdie bundel word bydraes opgeneem van taalkundiges wat in hulle navorsing regstreeks deur Ponelis se vroeë werk beïnvloed is. Ponelis se omvattendste bydrae tot die beskrywing van die Afrikaanse sintaksis, te wete sy boek Afrikaanse sintaksis, verskyn in 1979. In hierdie boek slaag Ponelis daarin om 'n reusedeel van die sintaksis van Afrikaans uitputtend te beskryf. Ponelis se kenmerkende kontekstuele benadering tot taalbeskrywing kom duidelik na vore in die wisselwerking tussen onder meer sintaksis en semantiek wat uit die inhoud van Afrikaanse sintaksis blyk. Die beskrywing wat Ponelis in hierdie boek bied van onderwerpe soos ontkenning, neweskikking, anaforiek, bysinsvorming en nog vele meer is vandag steeds die standaarduiteensetting van die onderskeie temas en die geldende verwysing wanneer hierdie kwessies in wetenskaplike gesprekke ter sprake kom. 'n Wesenlike bydrae van hierdie boek is dat Ponelis sy bespreking nie beperk tot die standaardvariëteit van Afrikaans nie maar ook verwys na aspekte van ander variëteite van Afrikaans. Hy maak baie van opgetekende voorbeeldmateriaal uit sy korpus van gesproke en geskrewe Afrikaans gebruik. Veel meer as net die taal van die ideale spreker-hoorder word gevolglik beskryf. Hierdeur berei Afrikaanse sintaksis die weg voor vir Ponelis se latere indringende navorsing oor Afrikaanse variëteite. | ||||||||
Die historiese taalkundePonelis se holistise benadering tot die taalkunde en die voortdurende wisselwerking wat hy tussen die verskillende perspektiewe op die beskrywing van taal raaksien, vind neerslag in sy magnum opus, die boek The development of Afrikaans, wat in 1993 verskyn. Alhoewel hierdie boek primêr as werk in die historiese taalkunde geklassifiseer word, is talle aspekte en talle onderwerpe wat hierin ter sprake kom ewe relevant vir die | ||||||||
[pagina 128]
| ||||||||
sinchroniese taalkunde. Die ontwikkeling van Afrikaans wat hier beskryf word, verklaar naamlik talle kwessies in die huidige Afrikaanse taalgebruik vanuit 'n historiese perspektief. Weer eens kom 'n tema soos Afrikaanse ontkenning ter sprake en word hierdie onderwerp op 'n manier bespreek wat nuwe insig in hierdie komplekse sintaktiese verskynsel van Afrikaans bied. Alhoewel dit so is dat Afrikaans uit sewentiende-eeuse Nederlands ontwikkel het, wys Ponelis in hierdie boek ook op die dinamiese ontwikkelingsproses hier ter plaatse en die invloed van die inheemse asook ander Europese tale. Met The development of Afrikaans slaag Ponelis daarin om die wetenskaplike studie van Afrikaans ook onder die aandag van nie-Afrikaanssprekendes te bring. | ||||||||
Ander publikasiesPonelis se teoretiese benadering tot die beskrywing van taal vind ook prakties neerslag in sy medewerking aan die normatiewe bron Die korrekte woord. In die nuwe uitgawe van hierdie boek waar hy die werk van H.J.J.M. van der Merwe voortsit, bied Ponelis 'n verruimde benadering tot die normatiewe taalkunde. Hy beweeg weg van blote skoolvossery en bring die dinamika van 'n lewende en ontwikkelende taal nogmaals aan die orde deur ook hier erkenning te gee aan die invloed van die informele variëteite van Afrikaans op sowel die geskrewe as die gesproke taalgebruik. Met sy deelname aan die skryf van Basiswoordeboek van Afrikaans, die eerste eentalige Afrikaanse aanleerderwoordeboek, word sy pragmatiese benadering tot taalbeskrywing en die leksikografiese vergestalting daarvan ook verder gevoer. Sy belangstelling in die normatiewe en leksikografiese bewerking van Afrikaans lei ook tot 'n deurslaggewende bydrae wat Ponelis lewer as lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy was van die laatsewentiger- tot die middeltagtigerjare lid van die Taalkommissie. In hierdie tyd is 'n groot deel van die werk aan die agste uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls voltooi. Een van die lastige stukkies beskrywing wat in die spelreëlgedeelte moes kom, was die bereëling van die skryfwyse van Afrikaanse deeltjiewerkwoorde. Die taak om 'n eerste weergawe van hierdie beskrywing te doen, is aan Ponelis opgedra en nogmaals het sy sintaktiese kennis maar ook sy spesifieke benadering tot die normatiewe taalbeskrywing gelei tot 'n formulering wat tot vandag toe nog die basis vorm vir die skryfwyse van deeltjiewerkwoorde. | ||||||||
[pagina 129]
| ||||||||
Ponelis pas sy taalkennis ook in die praktyk toe met die redigering van die Lewende Bybel wat in 1982 verskyn het. | ||||||||
StudieleierPonelis se werk het nie net talle studente geïnspireer om tesisse en proefskrifte oor sintaktiese onderwerpe te skryf nie. Baie studente het hom as studieleier en promotor gekies. Aan sowel die Universiteit van Suid-Afrika as die Universiteit van Stellenbosch is 'n bedudiende aantal tesisse en proefskrifte onder sy studieleiding voltooi. In hierdie opsig speel Ponelis ook 'n belangrike rol in die opleiding van volgende geslagte Afrikaanse taalkundiges. Verskeie van sy oudstudente speel vandag 'n leidende rol in die Afrikaanse taalkunde. | ||||||||
LeierDie leiersrol wat Ponelis gespeel het, was nie beperk tot sy publikasies en die voorbeeld wat hy aan sy studente gestel het nie. Tydens sy diensjare aan die Universiteit van Stellenbosch het Ponelis verskeie termyne as voorsitter van die Departement Afrikaans en Nederlands gedien en in hierdie hoedanigheid het hy veel gedoen in die ontwikkeling van sowel die taal- as die letterkunde-afdelings om hierdie Departement uit te bou tot een van die sterkstes in die land. Hy het hom ook daarop toegelê om 'n navorsingskultuur te vestig. Toe die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsingstigting die geesteswetenskappe by hulle stelsel van die gradering van navorsers betrek het, het Ponelis self 'n hoë gradering gekry en sy departement het in sowel die taal- as die letterkunde die beste graderings van al die Suid-Afrikaanse departemente Afrikaans (en Nederlands) behaal. In sy Departement, sy Fakulteit en aan sy Universiteit is Ponelis waardeer as vakman, dosent, kollega en vriend. As kollega was hy altyd lojaal, ondersteunend en regverdig, maar hy het nie geskroom om kritiek uit te spreek waar nodig nie. Hy was nooit 'n ja-broer nie, maar het gehandel volgens sy oortuiging en altyd met integriteit. | ||||||||
ErkenningWye erkenning is op verskillende maniere aan Ponelis gegee vir sy omvattende bydrae as Afrikaanse taalkundige. Die prestigetoekenning aan Afrikaanse taalkundiges, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se C.J. Langenhovenprys vir Taalwetenskap, 'n toekenning wat 'n | ||||||||
[pagina 130]
| ||||||||
persoon slegs een maal mag ontvang, is reeds op 'n vroeë ouderdom aan Ponelis toegeken. Later ontvang hy ook die Suid-Afrikaanse Akademie se N.P. van Wyk Louw-medalje asook die Toekenning vir Taalwetenskap van die Linguiste-vereniging van Suider-Afrika. Hy is vereer deur uitgenooi te word om verskeie prestigelesings te lewer, onder meer die D.F. Malherbe-gedenklesing aan die Univeriteit van die Vrystaat. Kort na sy aftrede ken sy alma mater, die huidige Noordwes-Universiteit, 'n eredoktorsgraad aan Ponelis toe. Internasionaal word hy vereer met erelidmaadskap van De Koninklijke Academie voor Nederlanse Taal- en Letterkunde. Die Departement Afrikaans en Nederlands het reeds 'n tweejaarlikse Fritz Ponelis-gedenklesing ingestel om sy nagedagtenis en sy bydrae tot die Afrikaanse taalkunde te eer. Die eerste gedenklesing is in 2010 deur prof. M.C.J. van Rensburg gelewer.
Fritz Ponelis is dood maar sy werk lewe. Huidige en toekomstige studente en navorsers sal steeds op sy publikasies steun en daarin op verrassende manier met talle aspekte van die lewende taal kennis maak. Dit sal steeds 'n stimulus vir voortgesette navorsing in die taalkunde bly.
rufus gouws en ilse feinauer | ||||||||
Voornaamste geschriften
|
|