Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het egter besluit dat wetenskaplike prosa ook in aanmerking geneem moet word. Dit het die weg geopen om geskiedkundige werke te bekroon. Die keurkomitee - onder voorsitterskap van prof. H.B. Thom - wat Beyers se werk vir bekroning aanbeveel het, het onder andere verklaar: ‘Graag wil ons verduidelik dat Beyers se Kaapse Patriotte gebaseer is op uitgebreide, geduldige en deeglike navorsingswerk in argiewe hier te lande en in Nederland. Sy behandeling van die onderwerp is indringend en diepgaande en sy stelling van sy betoog en konklusies is logies, helder en oortuigend. Daarby bedien die skrywer hom van 'n goeie, keurige Afrikaans. Na ons mening verteenwoordig Die Kaapse Patriotte die beste wat daar nog op historiese gebied in Afrikaans gelewer is.’
Beyers het 'n baie hoë wetenschaplike standaard gestel vir enige werk wat hy aangepak het. Hy was nooit heeltemal tevrede met iets wat hy geskrywe het nie en het aanhoudend gepoog om daaraan te verbeter. Dit het veroorsaak dat hy nie vinnig gewerk het nie en hy het gevolglik nie 'n indrukwekkende lys van gepubliseerde werke tot sy krediet nie. Nietemin dra alles wat hy geskryf het, die stempel van buitengewone kwaliteit.
Die Kaapse Patriotte is in 1929 vir die eerste keer gepubliseer. Dit het in 1967 in gewysigde en aansienlik aangevulde vorm 'n tweede druk beleef. Waar die eerste uitgawe onder die titel Die Kaapse Patriotte, 1779-1791 verskyn het, is die titel van die tweede uitgawe verander na Die Kaapse Patriotte gedurende die laatste kwart van die agtiende eeu en die voortlewing van hulle denkbeelde. Die titel gee 'n aanduiding van die mate waarin die werk uitgebrei is. Beyers toon hierin aan dat belangrike Patriotse denkbeelde wat in die laaste kwart van die agtiende eeu gehuldig is, ook aanwesig was by persone wat in die Groot Trek leidende rolle vervul het.
Beyers het die vermoë besit om sy gedagtes in vaak - sefs gevoelvolle - woorde in te klee. 'n Tipiese voorbeeld hiervan is die bydrae, Laaste lewensjare en heengaan van president Kruger, wat in die Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis (vierde jaargang, 1941, 1) verskyn het.
In 1945 het hy assessorlid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns geword, terwyl hy in 1951 met die volle lidmaatskap van die Akademie vereer is. Beyers se optrede was steeds gekenmerk deur 'n rustigheid van optrede, wat hom in staat gestel het om selfs onder die moeilikste en tergendste omstandighede nooit sy selfbeheer te verloor nie. Hy was 'n nederige mens, wat teenoor sy meerderes en minderes altyd met die grootste wellewendheid opgetree het.