Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde, 1971
(1971)– [tijdschrift] Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde [1901-2000]– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 112]
| |
Daniël François Malherbe
| |
[pagina 113]
| |
(1907-1909) het hy nog tydelike akademiese poste aan die hoër onderwysinrigtings op Wellington en Stellenbosch onderskeidelik waargeneem, en in 1910 is hy as professor in moderne tale, nl. Nederlands, Duits en Frans, aan die Grey-Universiteitskollege Bloemfontein benoem, waar hy in 1918 professor in Afrikaans geword het: Die eerste in Suid-Afrika om so' n betrekking te beklee, hoewel hy nog tot 1928 Nederlands, Afrikaans en Duits en van toe af eers uitsluitlik Afrikaans gedoseer het. Van hierdie inrigting was hy van 1929 tot 1934 rektor, maar hy het voor en ná hierdie tydperk ook in hierdie bevoegdheid waargeneem. In 1941 het prof. Malherbe afgetree en vervolgens sy lewe hoofsaaklik aan skryfwerk gewy. By geleentheid van sy sestigste verjaarsdag het 'n aantal letterkundiges, almal vroeëre studente van Malherbe, 'n huldigingswerk aan hulle geliefde professor gewy en vir hom 'n prageksemplaar daarvan aangebied, nl. D.F. Malherbe, die mens en sy kuns. Aan sy voete het met die loop van jare 'n groot aantal vooraanstaande Afrikaners gesit en van hom inspirasie ontvang vir hulle lewenstake. Daar het 'n groot besieling van sy lesings uitgegaan en hy was een van die grootste redenaars in sy land. Toe prof. dr. P.J. Nienaber in 1929 'n matriekleerling op Boshof was, het prof. Malherbe die skool kom toespreek, soos hy met baie skole gedoen het, om studente vir die g.u.k. te werf. So gee eersgenoemde sy eerste indrukke weer van Malherbe as persoon: ‘Toe hy begin praat oor ‘Die Jeug van ons Volk’, was sy stem soos die wind deur 'n koringland, eers sag, en dan styg dit geleidelik, hoër en hoër en voller. En daar was stilte in die saal. Die staalgrys oë het gevonk. So mooi het die Afrikaanse taal nog nooit in my ore geklink nie. Deur die jare heen kon ek my altyd verluister na die wyse waarop hy die Afrikaanse taal gebruik het: met digterlike woorde het hy die oor gestreel. Sy gelyke as redenaar het ek nie geken nie, veral as hy die jeug toegespreek het om die vaandeldraers van hul volk te wees.’Ga naar voetnoot1 Jaar ná jaar nadat hy afgetree het, is sy verjaardae met groot luister deur sy familie en sy studente gevier. Huis Malherbe, die koshuis wat na hom vernoem is, het hom altyd op gepaste wyse vereer. Hier is ook 'n borsbeeld deur die beeldhoudster Daniella Geldenhuys, van hom onthul op sy 82ste verjaarsdag. ‘ ‘Bars en venynig, koppig en eiesinnig’ Só kon prof. Malherbe wel soms gelyk het vir mense wat hom slegs van ver geken het. Maar vra maar | |
[pagina 114]
| |
sy oud-studente en vriende oor hom uit. Dan hoor jy van 'n man met 'n groot hart, 'n man wat hom nagte lank kon lê en bekommer dat hy iemand dalk kon verontreg het, 'n man wat jou in 'n oomblik kon afjak en dan 'n dag lank daarna kon bestee om te vergoed vir die optrede.’Ga naar voetnoot2 Die Hertzogprys is drie keer aan hom toegeken en in 1968 het die afgetrede Staatspresident, mnr. C.R. Swart, die f.a.k. se erepenning vir volksdiens aan hom oorhandig, 'n hoë onderskeiding wat nog slegs ses ander persone te beurt geval het. Malherbe was drie maal getroud. Sy eerste vrou was Mynie Mostert wat hom baie jare bygestaan het; die tweede Louisa Blignaut wat eers getroud was met Willie Mostert, 'n broer van die eerste vrou. Die tweede huwelikslewe het weinig meer as 'n jaar geduur, toe hierdie vrou hom ook deur die dood ontval is. Die derde keer is hy getroud met die weduwee Lubbe, wat hom oorleef het. Prof. Malherbe is op 12 april 1969 op die rype leeftyd van 87 jaar in Bloemfontein aan 'n koronêre trombose oorlede en onder groot eerbewyse daar te ruste gelê. Sy groot verdienste lê in sy letterkundige arbeid en hy word beskou as een van die vernaamste Afrikaanse prosaskrywers. Al sy manuskripte is in sy netjiese handskrif geskryf. Vanaf sy reedsgenoemde propagandistiese lesing oor Afrikaans in 1906 het Malherbe 'n gedugte kampvegter vir sy taal geword en moes hy sy ou leermeester W.J. Viljoen, wat nog Nederlandsgesind was, beveg. In 1917 het sy Afrikaanse taalboek verskyn, om taalkundige leiding in Afrikaans aan studente en onderwysers te gee. Op letterkundige gebied het hy hulp by die onderwys verstrek met sy bloemlesings: Afrikaanse letterkunde (1922), Afrikaanse verse i (1935) en Afrikaanse verse ii (1938), terwyl sy Afrikaanse spreekwoorde en verwante vorme (1925; die Voorwoord is van desember 1924) lank 'n gesaghebbende taalkundige werk sal bly. Malherbe was jarelank lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns en het as lid van hierdie liggaam se Taalkommissie die Afrikaanse spelreëls help opstel. Hy het as redakteur van die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns (1922-1939) opgetree en die Bybelvertalers en die Kommissie vir die Beryming van die Gesange van raad bedien, asook aan laasgenoemde deur eie Gesangberyming (sien Brood op die weg) regstreekse hulp verleen. Vir die Tydskrif, asook vir Die Brandwag, Die Nuwe Brandwag, Die Huisgenoot en verskillende dagblaaie, het hy waardevolle en in- | |
[pagina 115]
| |
siggewende boekbesprekings en ander taal- en letterkundige artikels gelewer. Met studente het hy toneelreise onderneem en by Afrikaanse volksfeeste en kultuurdae het hy gereeld as feesredenaar opgetree. Ter waardering van sy aktiewe propaganda vir die Afrikaanse taal, letterkunde en kultuur, asook om sy kunstenaarskap en wetenskaplike prestasies, het verskeie buitelandse genootskappe van geleerdes hom hulle lidmaatskap aangebied, terwyl die Universiteit van Suid-Afrika aan hom 'n eredoktersgraad toegeken het. Malherbe se mees geslaagde propaganda vir sy taal en kultuur lê egter in sy kunswerke self opgesluit.
Literêr het D.F. Malherbe op die drie gebiede van die poësie, die romankuns en die drama gepresteer. Hier kan slegs enkele van sy werke aangedui word.
Digwerke: Nie alles wat Malherbe gedig het kan as hoogstaande poësie beskou word nie, maar in sommige werke, veral in spesifieke gedigte het hy besondere hoogtepunte bereik. Liriek: Die verskyning van eerste digbundels deur Celliers en Totius het vir Malherbe tot spoorslag gedien om hom te voorskyn te laat kom met sy bundel, Karroo blommetjies. Soos die titel aandui, was dit hoofsaaklik natuurverse, met te veel bespieëling en redenering en te min uitbeelding van dinamiese natuurverskynsels. Dit moet in 'n groot mate beskou word as jeugwerk en digproewe. Klokgrassies (1914), 'n tweede bundel, openbaar nog dieselfde kenmerke met die uitsondering van twee treffende gedigte. In ‘Die See is vol van eeuwigheid’, met rymende jambiese versreëls, word die musikale maatgang van die golwedeining van die see meesterlik vertolk. ‘Slaap’, 'n wiegelied in die oktaaf en 'n gebed in die sekstet, bly nie alleen sy mooiste sonnet nie, maar sy beste enkele gedig. Die tere uitbeelding groei tot simboliek. Die kindjie wat slaapbevange in die veiligheid van haar vader se arms rus in die oktaaf en die, in die sekstet, die digter se bede dat die doodslaap vir hom ook so rustig en veilig moet wees: Sluit so my oë, God, wanneer vir my
U Engel wenk tot laatse, lange rus
en ek van wilde woeling hier moet skei;
dat my dan stille drome huis toe sus,
en Sterke Hand deur duisternisse lei.
Sluit so my oë, God, as ek gaan rus.
| |
[pagina 116]
| |
In rivier en veld (1922) kom verskeie proefnemings in verskillende versmate en verssoorte voor en hier word tekens aangetref van die temas wat later in sy romans en dramas tot rypheid kom: Bybelse insidente, plaaslewe, gehegtheid aan die grond, onstuimige natuurkragte en liefde vir die arbeid. Somerdae (1928) dra 'n ondergrond van weemoed maar is veral vol van arbeids- en lewensvreugde, vol vreugde ook oor die arbeid van die digterskap: Dis glansies in die land van my arbeid,
dis glimpies wat af en toe kom,
plesiertjies soos kindergesiggies
wat lag en nie weet waarom -
verliefdheidjies skielik gebore,
wat skuiwe oor my eensame pad,
skimme en drome van gister,
in vandag se gedaante vervat.
In hierdie bundel kom 'n drietal ballades voor, met huiweringwekkende inhoud, suggestiwiteit en dramatiese spanning, nl. ‘Antjie Somers’, ‘Jakob Ontong’ en ‘Die Wolfhuis’. Hulle hoort tot die beste ballades in die Afrikaanse letterkunde.
Brood op die weg het in die oorlogsjaar (1939) verskyn en toon 'n versombering van stemming en 'n elegiese en satiriese inhoud. Hier openbaar hy deernis met die lyding van sy volk, maar hy kla oor verdeeldheid en verafsku die ontrou wat onder sy mense voorkom. Hier sien hy sy digterstaak anders: Digterswerk is pêrels rye
uit 'n see van vroom gedagte,
wat oorval van medelye
ruis deur diep, diep middernagte.
Epiek: Vir vryheid (1916) behandel 'n aantal episodes uit die Groot Trek wat deur 'n liefdesgeskiedenis onderling verbind word, maar dit bereik nie groot hoogtes nie. In ‘Die timmerman’ kom die verheerliking van die arbeid sterk na vore en hierdie bundel toon 'n styging in die digter se kuns. ‘Die skaduwee van 'n vrou’ toon weer 'n daling. Van al sy letterkundige werk was MalherbeGa naar voetnoot3 met sy digwerk die minste | |
[pagina 117]
| |
tevrede en hierin toon hy gesonde selfkritiek. Sy beoefening van die digkuns was egter 'n uitstekende vooroefening, afgesien van werklik geslaagde verse, vir sy latere prosa waarin hy groot hoogtepunte bereik het.
Romankuns: Vergeet nie (1913) is Malherbe se eerste roman. Die verhaal speel hom af gedurende die Engelse Oorlog (1899-1902) en ontleen sy stof aan die opstand van Kaapse burgers wat hulle lot inwerp met dié van hulle strydende broers in die noorde. Ten spyte van opsetlike didaktiek en oordrewe romantiek, bly dit baanbrekerswerk met 'n groot vernuwing in taal en styl. In hierdie beeldende ritmiese prosa straal die skrywer se gloeiende volksgevoel en vaderlandsliefde uit. Die meulenaar (1926) kan beskou word as die eerste werklike plaasroman in Afrikaans. Dit is 'n herinneringsbeeld van sy kinderjare op 'n tipiese Bolandse wynplaas. Dit gee 'n kleurryke intieme beskrywing van die wingerde, suikerbosblomme, die meul en die plaasvolk soos hy dit geken het. Hier kom sy liries-idealistiese stylaard tot skone uitdrukking. Die leser word meegesleur met Faans, die meulenaar in sy liefdestyd, arbeidsdrang en verbondenheid met die meul en die plaaswoning. Hans-die-Skipper (1929) toon 'n hegter samestelling en is seker Malherbe se beste roman. Die hoofhandeling ontwikkel uit 'n botsing tussen vader en seun; die ou visser Hans wat met hart en siel aan die see verknog is en sy seun Johan wat die visserslewe verafsku en 'n ander rigting wil inslaan, en sodoende sy vader se lewensdroom vernietig. Die roman is werklik 'n himne aan die arbeid; lewensgeluk kan alleen gevind word in toegewyde arbeid in 'n lewenstaak. Ten spyte van die romantiese atmosfeer, word die hoofkarakter as 'n lewende mens uitgebeeld. Loutervure (1931). Hier is die grondgedagte dat volk en godstiens 'n eenheid moet vorm en dat die Boerevolk in Suid-Afrika 'n Godgegewe roeping het om te vervul, maar die tendens is te oorheersend en die uitbeelding nie oortuigend nie. In die Bybelromans behandel Malherbe gedeeltes uit die geskiedenis van Israel om as spieël te dien vir die Afrikanervolk: Hart van Moab (1933) die eer, wilskrag en doelgerigtheid van 'n volk; Saul die worstelheld (1935) stryd teen afvalligheid, ambisie en aanbidding van die vreemde; Die profeet (1947) stryd teen morele insinking en politieke bedrieëry. In die Trekkertriologie, nl. Die bergstroom ruis (1940), Vlam van die suurveld (1943) en En die wawiele rol (1945), keer Malherbe terug tot sy eie vaderlandse geskiedenis in die tyd van verowering, uitbreiding en opbou. | |
[pagina 118]
| |
August Fenting word voorgestel as die pionier wat met sy wa en osse die onbekende binnetrek, om trots die gevare wat hom omring, 'n gebied vir sy afhanklikes bewoonbaar te maak. Hy werk met lus en liefde om die grond te behou vir die blankes. Die witmansgedagte word verpersoonlik in 'n afstammeling van die Fentings, nl. Rooi Willem van der Merwe wat die hele Suurveld inspireer om deel te neem aan die stryd teen die nieblankes. Hy wil die grensgebied langs die Visrivier vir die witman bewoonbaar maak. In die laaste werk word die begin van die Groot Trek geskilder. Groot Gert verlaat die familieplaas en trek oor die Grootrivier om hom as Voortrekker in die land van die Griekwas te vestig. Alleen handhaaf hy hier die witmansgesag en sluit dan later by die Groot Trek aan. Hierdie werke bevat 'n voortsetting van Malherbe se arbeidsepiek. Romans wat gevolg het, soos Spore van Vlieland (1947) en Die skeur van Vaalspruit (1952) openbaar 'n daling in sy kuns. Malherbe word soms gekritiseer oor sy gebrek aan werklikheidsbeelding, want hy was hoofsaaklik romantikus.
Drama: Met sy dramakuns het Malherbe nie besonder groot hoogtes bereik nie, deur te veel oppervlakkige romantiek, wanaangepaste taal en onoortuigende sielkundige uitbeelding. Baie van hierdie werke het hy geskryf om in die behoefte wat daar aan opvoerbare stukke bestaan het, te voorsien. Sy dramatiese werk bestaan uit vertalings, verwerkings van 'n paar van sy romans, en oorspronklike werke. Uit die Frans van Augier en Jules Sandeau het hy die sosiaal-realistiese blyspel Die skoonseun van meneer Poirier (1919) vertaal. Dan volg drie oorspronklike dramas, Koringboere (1921), Die mense van Groenkloof (1925) en Op die trekpad (1931). As agtergrond behandel hy die plaas- en volkslewe, maar bring dit, wat die verhaal betref, nie verder as gewone intrige-skeppinge nie. Sielkundige indringing in die karakterlewens ontbreek. Die neiging tot romantiek oorheers in so 'n mate dat hy nie tot objektiewe vergestalting in staat is nie. Meester (1917) is beter geslaag omdat hy hier 'n suiwerder beeld gee van menseverhoudings onderling. Werklik dramaties uitgebeeld is die konflik in die siel van Meester, die Hollandse swerwer, wanneer hy moet besluit of hy die jong liefde, hom aangebied, durf aanvaar of nie. Die verloop van die handeling is egter te onverwikkeld om tot iets groots uit te groei. Al die karakters is egter so simpatiek uitgebeeld dat hulle ook die meegevoel van die toeskouer verdien, en daarom word dit as die dramaturg se beste drama gereken. | |
[pagina 119]
| |
Die seeman (1933) en Die meul dreun (1943) is verwerkings van sy bekende arbeidsromans, Hans-die-Skipper en Die meulenaar. Bybelse motiewe word behandel in Amrach, die tollenaar (1935), Moeder en seun (1945) en Abimelech (1948). Hulle sluit aan by sy Bybelromans waarin die probleem van volkswording behandel word. Die karakterweergawe is egter onoortuigend en die dramatiese word verdring deur die romanties-liriese stylaard. 'n Aantal eenbedrywe is versamel in die bundel, Die uur van die rooi maan en ander eenbedrywe (1950). Die beste uit die bundel, is Macherus en Krom stompe, wat die stryd uitbeeld van die mens geslinger tussen liggaamlike begeerte en geestelike selfverloëning. Hulle het 'n boom afgekap (1953), 'n drama in vier bedrywe, behandel weer die probleem van die Afrikaner se worsteling. Wilhelm Tell (Schiller; 1944) en die Koopman van Venesië (Shakespeare; 1949) is geslaagde vertalings. Sy jongere werk Sisera (1958) is weer eens 'n Bybelse drama in vyf bedrywe. Hy behandel die stryd tussen die Filistyne en die Israeliete om die grondgebied by Safed. Onregstreeks word dit ook 'n stryd tussen die heidense God Baäl en die God van Israel soos verteenwoordig deur Barak. Net soos in die Bybelse romans benadruk hy weer die eenheid van godsdiens en volk en hou dit voor as spieëlbeeld vir sy eie nasie. Dit gaan egter mank aan meeste van die gebreke wat al sy latere dramas aankleef.
‘Malherbe was een van ons vrugbaarste en veelsydigste woordkunstenaars - veelsydig in die verskeidenheid letterkundige vorme wat hy beoefen het, maar eensydig in die gebrek aan verskeidenheid van uiting en lewensuitbeelding binne daardie vorme. In sy romankuns het hy die hoogste bereik, terwyl sy dramaturgie verdiensteliker as sy digkuns is. Hy is in sy wese simbolies-liriese ekspressionis en moet in laaste instansie van homself sing, van wat hy tot sy eie gemaak het en van wat so met hom vergroei het dat daar tussen die subjektiewe en objektiewe nie meer skerp te skei is nie. Maar hy is 'n grootse profetefiguur wat in magistrale prosasange van sy eie innerlike lewe getuig het en hom in sy beste werke na sy eie liriese stylaard uitgeleef het en die Afrikaanse prosa met 'n skat van woorde en beelde verryk het, hoewel hy vanweë die wese van sy stylaard nie altyd aan die gevaar van retoriek ontkom het nie.’
A.T. Raubenheimer |