| |
| |
| |
Ernst George Jansen
(Strathearne, 7 Augustus 1881 - Pretoria, 25 November 1959)
Sy Eksellensie dr. E.G. Jansen is om 10.20 nm. op Woensdag 25 November 1959 na 'n lang lyding stil aan die Goewerneurswoning te Pretoria oorlede. Daarmee is 'n lewe van oor die 78 jaar afgesluit waarvan meer as 'n halwe eeu ononderbroke aan diens van taal, volk en land gewy was. Bowendien val 'n belangrike deel van die bewoëndste tydperk uit ons volksgeskiedenis saam met die lewenspanne van die oorledene, en op meer as een terrein daarvan het hy op die voorgrond gestaan.
Die eerste lewenslig het hy aanskou net 'n paar maande na die Boereoorwinning op Amajubaheuwel en vier dae na die ondertekening van die Konvensie van Pretoria waarmee die Suid-Afrikaanse Republiek sy onafhanklikheid herwin en die Eerste Vryheidsoorlog beëindig is; sy eerste optrede in die openbare lewe val net na die tragedie van die Tweede Vryheidsoorlog toe die twee Boere-republieke hulle onafhanklikheid moes prysgee. Aan die heropbouing van die volk op kulturele, politieke en geestelike gebied het hy onvermoeid sy kragte bestee, maar dit was hom nie gegun om die dag saam te beleef dat die vier provinsies in 'n vergrote en onafhanklike Suid-Afrikaanse Republiek verenig is nie.
Hy het meegewerk om die weg daartoe voor te berei, en as taal- en kerkman het hy sy volle deel gedoen, as politikus en joernalis die openbare mening gevorm, as speake ren goewerneur-generaal 'n voorbeeld van 'n gedragskode daargestel wat selfs sy heftigste teenstanders geloof het, en in die privaat as mens het hy slegs die hoogste beginsels uitgeleef.
Om in hierdie kort berig aan so 'n lang en vrugbare lewe op so'n breë front reg te laat geskied kan nie gebeur nie, sodat ek met 'n paar aanwysinge moet volstaan. Dit is te hope dat 'n goeie lewensbeskrywing binnekort die verhaal van hierdie volksman in wyer kring bekend sal maak, die verhaal van 'n eenvoudige Hollandse immigranteseun van die Natalse platteland wat die eerste Afrikaanstalige geword het om die hoogste pos in ons land te beklee.
Ernst George Jansen is op 7 Augustus 1881 op die plaas Strathearne (vernoem na die landmeter) in die distrik Dundee gebore. Saam met drie broers en 'n suster het sy vader, toe dertien jaar oud, uit Nederland na Suid-Afrika uitgewyk en so teen 1875 in Noordelike Natal begin boer toe die land daar nog yl bewoon was en die jong Hollander sy bruid, ene nooi Wohlitz, voorlopig in rondawels moes laat bly.
| |
| |
Van sy vader het Ernst sy eerste onderrig ontvang, maar die wens om iemand te kry wat Engels ook goed kon doseer, het gemaak dat ene mej. Wilcox, 'n dame uit Engeland, as onderwyseres aangestel is wat twee jaar lank by die Jansens ingewoon het. Op elfjarige ouderdom is Ernst op voorspraak van ds. Schoon, daardie eerbiedwaardige predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk te Ladysmith wat ook onderdak aangebied het, na die dorpskool gestuur. Daar het hy vir die eerste keer 'n dorp en 'n trein gesien. Na drie jaar het hy sy std. VII deurgekom, en toe mej. Wilcox vir wie Ernst en die familie 'n groot geneentheid gekoester het en wat destyds by 'n getroude suster (mev. Hoare) in Durban gewoon het, aangebied het dat hy by hulle kon loseer, het dit hom in staat gestel om aan die bekende skool Durban High lesse by te woon. Twee jaar lank was hy die enigste Afrikaans-sprekende seun daar op skool. In 1897 het hy sy Cambridge Local Examination afgelê en die volgende jaar sy Matrikulasie. Weens siekte en daarna die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog kon hy nie sy eksamen vir die Intermediêre Sertifikaat in Junie skryf nie en is 'n tydlank huis toe totdat hy in Augustus 1900 weer teruggestuur is na Durban High, en in Desember het hy toe geslaag. Veral deur die hulp wat hy van mnr. Nicholas, die skoolhoof, ontvang het toe hy nie aan S.A.C.S. in Kaapstad sy studies kon voortsit nie, het hy privaat vir die B.A.-graad gewerk en in slegs een jaar die eindeksamen met goeie gevolg afgelê. Destyds was daar maar min mense wat sover geleerd was!
Hierna besluit hy om hom vir die regspraktyk te bekwaam en is in Mei 1902 na Pietermaritzburg waar hy by die firma Hawthorne & Kie. ingeskryf is. Deur private studie het hy in 1904 die Ll.B.-Preliminêr verwerf en die jaar daarop sy finale Ll.B. waarop hy toegelaat is om as prokureur te praktiseer; in 1908 word hy advokaat en sedert 1910 tot 1917 het hy as sodanig aangesluit by die firma wat sedertdien as Murray en Jansen bekend was. Hier het hy 'n uitgebreide praktyk behartig.
Dit is hier in die hoofstad van Natal dat hy sy eerste skredes op die pad van volksdiens gesit het. Komende uit 'n diep godsdienstige gesin het hy dadelik by die N.G. Kerk aangesluit waar ds. Rousseau tot aan sy dood in 1903 gestaan het, opgevolg deur ds. De Beer deur wie hy gekatkiseer en aangeneem is en by wie hy soos 'n kind in die huis was. In hierdie Huet-kerkie het hy die Strewersvereniging help sterk maak, was Sondagskoolonderwyser, orrelis en later diaken. Na ds. De Beer se afsterwe is die kerk bedien deur ds. G.M. Pellissier (wat later sy
| |
| |
swaer geword het) en op wie se inisiatief eers die gemeenteblaadjie De Kondschapper en daarna die ambisieuse godsdienstige familieblad De Bode in die lewe geroep is waaraan hy sy volle steun toegesê het en waarin verskillende artikels uit sy pen opgeneem is. Geldelik was die onderneminge sodanig dat hulle eindelik daarop moes inbetaal.
Die Kerk was altyd 'n bolwerk van die Hollandse taal en in die boesem van hierdie inrigting het hy ook in taal- en volksake duidelik kleur begin wys. In 'n onderhoud wat ek in 1936 oor sy lewe met hom gevoer het en waaruit ek vir hierdie skets tot dusver geput het, deel hy o.a. die volgende mee: Met sy ouers het hy in Nederlands gekorrespondeer, maar die kinders onder mekaar het in Engels briewe gewissel, soos dit destyds gebruiklik was. Hulle huistaal was egter Afrikaans. Tog het hulle nog geglo dat Engels uiteindelik die oorhand sal kry.
Terwyl hy op Durban High School was, wou een van die onderwysers, 'n Duitser, ‘Cape Dutch’ leer en hy moes hom touwys maak, waarvoor hulle Ons Klyntji gebruik het asook Sestig Uitgesogte Gedigte van Reitz, die debatsboek De Gezellige, werke van Melt Brink en Afrikaanse liedjies. Hierdie kennismaking met die frisse volkstaal in druk het hom vroeg tot die oortuiging gebring dat Afrikaans dit op die lange duur op Nederlands moet wen en ‘op my manier het ek self dinge’ daarin begin skryf.
So was daar drie taalvorme waarmee hy rekening moes hou, net soos hy later as staatshoof die belange van drie volksgroepe moes behartig, Afrikaners, Engelse en Nie-blankes. Vir die meeste wat in Natal so geplaas was as hy, 'n regspraktisyn in 'n nagenoeg deur-en-deur Engelse stad, en boonop opgelei in Engels, was die magnetisme van hierdie taal gewoonlik te sterk. Engels was trouens toe nog die enigste amptelike taal van die kolonie, heeltemal afgesien van sy trekkrag as handels- en omgangstaal. Onder die omstandighede wat toentertyd geheers het, was die vraag meestal: sal ek gerieflikheidshalwe ook maar oorgaan? Vir Jansen, die man van beginsels en ewewigtigheid, die man met sy simpatieë vir die Boerevolk en hulle kultuur, was dit nie 'n kwessie van Engels óf Hollands nie, maar van Engels én Nederlands én Afrikaans. Tot hierdie opvattinge wou hy sy Engelstalige landsburgers in daardie dae reeds oorhaal wanneer die geleentheid hom daartoe voordoen.
Hieroor vertel hy die volgende: ‘In 1909 wou almal Hollands leer omdat die Unie voorhande was en Hollands offisiële taal sou word. Die Engelse het gemeen hulle kon Hollands in 'n paar weke leer. Ek
| |
| |
het toe ingewillig om in die Y.M.C.A.-saal aandklasse te gee. Die eerste aand het ek in my lesing duidelik gemaak dat ek hulle Hollands gaan leer, maar ek het die grootste deel aan Afrikaans gewy. Ek het gewys hoe Afrikaans uit Middelnederlands analogies ontwikkel het soos hedendaagse Engels uit Angel-Saksies. Toe die Engelse vind hulle kon Hollands nie in 'n paar dae leer nie, het die klas uitgedun en later was nog net 'n paar oor. Daar was gebrek aan volharding’.
Op 'n ander terrein, nl. die politieke, het hy eweseer sy bes gedoen om by sy Engelse landgenote die oortuiging te laat posvat dat hulle Unifikasie moet steun. Baie was toe nog vol wantroue en sterk gekant teen toetrede, omdat, soos sommige onder hulle beweer het, ‘You can shell U-n-i-f-i-c-a-t-i-o-n in five letters, D-U-T-C-H!’
Sy natuurlike arbeidveld was egter onder sy eie mense. Daar was toe net 'n halfdosyn Boerefamilies in die stad wat 'n hegte gemeenskappie gevorm het. Die jongmense was lede van die Strewersvereniging; voor hulle het Jansen dikwels opgetree. In 1907 het hy 'n tydlank in die konsistorie vir die seuns les gegee oor sake rakende taal, letterkunde en algemene kennis. Die behoefte aan 'n breër liggaam is al meer gevoel, as gevolg waarvan op 29 Februarie 1908 in ds. Pellissier se pastorie die Pietermaritzburgse Letterkundige en Debatsvereniging gestig is met die doel om die jongmense gesellig en leersaam bymekaar te bring. As 'n groep sou hulle ‘ywer vir die ontwikkeling van Hollands [verstaan: Nederlands] en Afrikaans’. Hierdie vereniging waarvan adv. Jansen die eerste voorsitter was, het in die ruim dertig jaar van sy bestaan al die vooraanstaande Afrikaners van die hoofstad onder sy lede getel en het die hartlike steun van die koerant De Afrikaner geniet, wat in daardie vroeë dae deur B.I. Vorster en Otgaar bestuur was. In Julie 1909 is uit sy geledere adv. Jansen na Bloemfontein gestuur om daar saam met die afgevaardigdes uit al die provinsies te beraadslaag oor die wenslikheid van 'n sentrale, gesaghebbende kultuurliggaam. Die uitslag was die stigting van die Suid-Afrikaanse Akademie waarvan hy en ds. Schoon die Natalse stigterslede geword het.
Terug in Natal het adv. Jansen kom vuurmaak en daar is georganiseer om al die debatsvereniginge in een sentrale liggaam saam te bring. 'n Gees van verbroedering was vaardig in ons land; die Unie het in 1910 'n staatkundige eenheid bewerkstellig, net soos die Suid-Afrikaanse Akademie op taalkundige en kulturele gebied 'n eenheid onder die Afrikaners tot stand gebring het, en nou word hier 'n Saamwerkunie
| |
| |
van Natalse Vereniginge in Maart 1910 te Dundee in die lewe geroep, weer op inisiatief en onder voorsitterskap van adv. Jansen, dog eers toe dit in Mei 1917 herstig is, nou net met Afrikaans as amptelike taal (artikel 15 van hulle konstitusie), het dit vaste wortel geskiet en steeds bly groei. Sewe jaar lank het adv. Jansen as voorsitter die lotgevalle van die beweging bestuur. Die belangrikste algemene bydrae was wel die vaardigmaking van 'n gees van handhaving en toeëiening wat o.a. gelei het tot 'n verskerpte stryd vir moedertaalonderrig in Natal en die erkenning van Afrikaans op verskeie terreine. Die belangrikste enkele bydrae is sonder twyfel die instelling van die Afrikaanse taaleksamens in 1917 toe 406 persone ('n groot aantal daaronder volwassenes) ingeskryf het. Die leiding hierin het van mev. Jansen uitgegaan, bygestaan deur haar man, sodat adv. en mev. Jansen eintlik ons eerste eksaminatore van die Afrikaanse taal geword het. Sedertdien is die eksamens, later gegradeer en uitgebrei, gereeld elke jaar afgeneem, en as aanduiding van die gewildheid daarvan het die aantal inskrywings soms die vyf syfers benader. Soos by die eerste instelling deur mev. Jansen gesê is, nl. ‘die (Afrikaanse) taal moet groei soos 'n patatrank en die hele Suid-Afrika oorrank’, is 'n ideaal nagestreef waartoe die genoemde eksamens 'n belangrike deel bygedra het.
Dit is juis die taaleksamens wat die Saamwerkunie 'n blywende taak en 'n vaste inkomste gegee het lank nadat sy eintlike stigtingsdoel verwesenlik is, 'n taak wat hom tot op die huidige dag laat voortbestaan. Dit is selde dat 'n kultuurorganisasie in ons land mondig word, maar hierdie stigting van die Jansens sal oor vyf jaar sy halwe eeu kan vier! in Julie 1959, die jaar van ‘Die Wonder van Afrikaans’, het die Saamwerkunie aan hulle Eksellensies elk 'n goue medalje aangebied as huldeblyk van hulle groot kultuurwerk, 'n erkentlikeidsdaad wat hulle besonder geroer het.
Die kerkie wat die Voortrekkers in 1839 gebou het toe die hoofstad pas aangelê was en wat bedoel was as die eerste paaiement in die nakoming van die Gelofte, het langs die Huet-kerkie onderaan Markplein gestaan waar adv. Jansen dit ‘gesien het as 'n aptekerswinkel en as deel van 'n smidswinkel voor oorname in 1909’. Elke Sondag op pad kerk toe het dit hom onaangenaam getref hoe hierdie geskiedkundige gebou aan verwaarlosing prysgegee was, en ds. Pellissier en hy het hulle vir die terugkoop en herstel daarvan beywer, bygestaan deur 'n komitee waarvan Jansen die sekretaris was; in 1912 is dit formeel as'n Voortrek- | |
| |
kermuseum in gebruik geneem en later aan die Staat oorgedra. Tot aan sy dood was Sy Eksellensie ere-voorsitter van die Raad; die Raad het sy Julievergaderinge altyd so gereël dat dit saamval met die winterverblyf van Sy Eksellensie in Natal sodat hy die byeenkoms self kon lei; dan het dit opgeval hoe intens hy hom nog steeds met die onderneming vereenselwig het. Dikwels is sy hulp as voorspraak ingeroep wanneer belangrike sake aan amptelike instansies voorgedra moes word.
Die daarstelling van 'n museum in die ou Voortrekkerkerkie was die eerste deel van 'n tweeledige doelwit. In De Bode van 1 Julie 1914 verskyn 'n brief van Jansen aan die Minister van Binnelandse Sake waaruit ek aanhaal: ‘Ik heb de eer u in kennis te stellen dat er nu stappen genomen worden om het tweede gedeelte van het oorspronklik plan uit te voeren n.l. het oprichten van een monument ter ere van Piet Retief, Gert Maritz, Piet Uys en andere Voortrekker voormannen’. Hoewel die regering geen geldelike steun hiervoor wou toesê nie, is vir die doel van 'n Retief-standbeeld spesifiek geld van die publiek ingesamel. Die dryfkrag hieragter was mev. Jansen, en toe sy op 6 April 1962 die beeld te Pietermaritzburg onthul het, gemaak deur Coert Steynberg, kon sy die bedrag met rente belopende R10,000 ter bestryding van die koste oorhandig.
'n Monument vir die Voortrekkers soos in bovermelde brief voorgehou, het eers die verbeelding aangegryp toe die honderdjarige herdenking van die lotsbestemmende veldslae in die Voortrekkertydperk nader gekom het, en toe is Jansen, van wie die inisiatief ook hierdie keer uitgegaan het, gekies as nasionale voorsitter van die Sentrale Voortrekkermonumentekomitee belas met die taak om die gebeurtenis op gepaste wyse te vier. Steeds met Jansen aan die spits is die modelle gekeur, die van Moerdyk aanvaar, die hoeksteen luisterryk in 1938 gelê en die voltooide monument in 1949 ingewy, telkens op Dingaansdag. Sy takt het gesorg dat die waardigheid van die geleenthede steeds gehandhaaf is ook in oomblikke toe dit nodig was om delikate vraagstukke in verband met sprekers en gaste te besleg.
Dit alles getuig van 'n diepgaande belangstelling in die geskiedenis van die Voortrekkers en moet, ten dele altans, beskou word as die voortsetting van 'n liefde wat in sy jeug gaande gemaak is. By Nagmaalsgeleenthede het die Boeremense reeds Vrydag tente op die plein om die buitekerk opgeslaan en daar gebly tot Maandag, en ‘toe het heelwat oumense geleef wat baie van die Voortrekkers kon vertel en hulle het
| |
| |
dit ook op Dingaansdae gedoen’. Op sy kindergemoed het dit 'n onuitwisbare indruk gemaak; hy het hulle later verder uitgevra en die gegewens in die vorm van opstelle verwerk waarvan sommige opgeneem is in sy boek Die Voortrekkers in Natal (1938); uit sy pen het verder voortgekom Uit die Voortrekkertyd, Herinneringe van Louis Jacobus Nel (1939).
So vorm die Voortrekkermuseum, die Voortrekkermonument en hierdie geskiedkundige opstelle die drievoudige huldeblyk van hom aan die gangmakers van die blanke beskawing in die wilde noorde.
Oor sy politieke loopbaan hoef ek nie uit te wei nie - dit is welbekend. Sy deel aan die stryd in Natal in die vroeë dae het hy self vertel in sy boek Die Natalse Boerekongres (1940). In 1919 het hy die Onafhanklikheidskongres in Bloemfontein bygewoon en is gekies as lid van die Vryheidsdeputasie wat via New York na Londen toe is om Lloyd George te spreek. Die kiesafdeling Vryheid het hy vir die Nasionale Party in 1921 verower met 'n meerderheid van drie stemme en dit agtereenvolgens met 'n klein onderbreking 22 jaar van die 26 wat hy in die Parlement gesit het, verteenwoordig. Van dié tydperk was hy 15 jaar lank speaker en in twee ministeries het hy die portefeulje Naturellesake behartig, 'n pos waartoe sy kennis van die Zoeloes en hulle taal hom uitstekend toegerus het. In 1951 is hy geroepe om sy land en volk in die hoedanigheid van Goewerneur-generaal te dien.
Hierdie hoë poste van speaker, minister en staatshoof het hy met uitsonderlike onderskeiding vervul. So verklaar The Star, 'n blad wat geen vriend van sy politieke opvattinge en party was nie, onder datum 26 November 1959 soos volg met betrekking tot sy speakerskap; ‘Order! Order! Order!’ The firm voice, beginning softly but swiftly growing in volume till it filled the Assembly Chamber, would quell any disturbance almost before it began. And many years afterwards men like the late Mr. Ralph Kilpin, who was Clerk of the Assembly under him, would recall the uncanny instinct with which Mr. Speaker Jansen anticipated disorder and smothered it before it could develop. For Ernest George Jansen was a great Speaker, probably the greatest the Union Parliament has ever had’. Dat dit geen ydele lof is nie, blyk daaruit dat sy beslissings as so gesaghebbend aanvaar is dat ander speakers in die Gemenebes, insluitende Westminster, hom aangehaal het.
Dit is juis op hierdie gebiede waar deurdringende insigte, regverdigheid en 'n humaniteit so wyd soos ons vlaktes deurslaggewend was dat hy
| |
| |
uitgeblink het, eerder as in die finesses van die partypolitiek, en daarom dat dié eienskappe gepaard met sy natuurlike aristokratiese houding hom uiters geskik vir sy aanvaarding as staatshoof gemaak het. In sy lewe is hy met eerbewyse oorlaai en hy is o.a. gehuldig met eregrade deur verskillende universiteite, die Engelse universiteit van Witwatersrand vooraan (1938), en in sy sterfjaar deur die Afrikaanse universiteit van Stellenbosch, by watter geleentheid die Suid-Afrikaanse Akademie hom as die laaste oorlewende stigterslid ook eer betoon het.
Die indruk wat hierdie rysige figuur en mooi mens op sy vriende gelaat het, kan saamgevat word in die woorde: regop en opreg!
G.S. NIENABER
|
|