gevoer. Volgens mededeling van sy weduwee was die werk inderdaad klaar met ongeveer 500 lemmas toe hy welgemoed met sy gesin die terugreis van Frankryk oor Nederland na Suid-Afrika aanvaar het, maar op weg het hy op 3 Januarie 1961 by Tours aan 'n hartaanval beswyk en is in Parys begrawe.
Afgesien van sy navorsing in Frans het hy sterk belang gestel in die digkuns in skeppende en beskouende sin. Benewens die reeds genoemde twee digbundels het gedigte van hom ook verskyn in Elsevier's Maandschrift, De Gids, De Nieuwe Gids, Groot Nederland, De Fakkel, Podium en Proloog.
Van 'n aantal gedigte in Engels en 'n paar prosavertalings wat hy gemaak het, kon ek die verdere lotgevalle nie naspoor nie. Dit sluit Nederlandse vertalings van die middeleeuse ‘Chanson de Roland’, van A. Maurois se ‘Tragédie en France’ as ‘De val van Frankrijk’ en 'n Afrikaanse vertaling van Rilke se ‘Die Weise von Liebe und Tod des Kornets Rilke’ in.
Oor sy aandeel aan die letterkundige kritiek in Suid-Afrika wil ek die mening gee van D.J. Opperman, op wie se versoek hy gereeld bydraes gelewer het:
‘Vanaf 1951 tot 1955 het Oosterhof die Nederlandse poësiekritiek in die drietalige (Afrikaanse, Nederlandse en Engelse) letterkundige tydskrif Standpunte behartig. Sy oorsigte is nie bloot informatief nie, maar die prikkelende en intelligente reaksie van iemand wat self in Nederlands gedig, self oor die grondbeginsels van die poësie nagedink het en vertroud was met verskillende letterkundes. Die teksverklarings en poëtiese teorieë van ander kritici, soos Vestdijk, Hendrik de Vries en Binnendijk het hy nie sonder meer aanvaar nie; ook het hy by sy waardering van digters soos Achterberg, Vroman, Lodeizen, Pierre Kemp, Besnard, Charles, Morriën en Van der Plas telkens swakhede aangetoon. Hy was ook vir die vernuwing in die poësie, maar het hom nie deur moderniteit bloot ter wille van moderniteit laat meevoer nie en daarom soms met 'n speelse agterdog oor Lucebert, Vinkenoog, Kousbroek, Claus en Andreus geskryf. Hy het duidelik meer waardering vir hulle voorgangers gehad’. Oor sy gedigte verklaar Opperman: ‘Hoewel hy duidelike aanleg geopenbaar het, is dit asof hy nog nie volkome 'n eie stem gekry het nie. Hy het dit klaarblyklik self besef en daarom in toenemende mate hom op die kritiek en navorsing toegelê.’
Verder kan genoem word sy bydraes, veral oor letterkundige sake,