en die trots van die Afrikaners in die hele Kaapland geword het.
Midde 1929 het professor Botha die hoogste sport op die onderwysleer in Kaapland bereik: hy is benoem tot Superintendent-Generaal van Onderwys in Kaapland. As sulks het hy onderwyshoof geword van 'n geweldig uitgestrekte grondgebied met 'n groot verskeidenheid van volksgroepe, rasse en tale; en vir die bevredigende opvoeding van hulle almal moes hy verantwoordelik wees. So'n taak vereis 'n groot mate van organisasietalent en dit het professor Botha gelukkig in 'n hoë graad besit. Die departement van onderwys het sy ferme hand en inspirerende leiding bespeur en gedurende sy ampstermyn - ongelukkig te kort - is heelwat uitbreidings en verbeteringe aangebring en sy rustelose werkywer het nog ander gebiede gesoek om te verower. So het hy gedurende hierdie tydperk ook vise-Kanselier van die Universiteit van Suid-Afrika en voorsitter van die matrikulasieraad geword, d.w.s. van die raad wat die toelatingsvereistes vir die universiteite vasstel.
Begin 1934 het hy die Kaaplandse onderwysdepartement verlaat om sekretaris van die minister van onderwys te word. In hierdie hoedanigheid het hy dit te doen gekry met allerlei soorte onderwys, behalwe laer en middelbare onderwys (wat deur die verskillende provinsiale departemente behartig word en nie deur die minister nie) en kon hy bewys lewer van die verbasende veelsydigheid van sy gees deur die sukses wat hy op elke gebied van die veelsoortige onderwys behaal het.
Toe die Unie-regering in 1936 besluit om die radiowese, wat toe nog 'n private onderneming was, 'n regeringssaak te maak, kon hy geen beter voorsitter vir die radioraad as professor Botha kry nie. Ten spyte van sy menigvuldige pligte as sekretaris vir Unie-onderwys het hy die radiowese deur sy moeilike aanvangsjare en die eerste kritieke oorlogsjare so deeglik en verstandig geloods dat die groot Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie vandag nog die weë kan volg wat sy eerste vèrsiende voorsitter gedurende die jare 1936-1942 afgebaken het. As erkenning vir sy groot dienste aan die volksopvoeding het die Universiteit van Suid-Afrika in 1937 die eregraad D. Litt. aan hom toegeken.
Die Universiteit van Pretoria het voor hierdie tyd reeds verskeie vertoë tot die minister van onderwys gerig om 'n mediese fakulteit met Afrikaans as voertaal aan genoemde universiteit te stig. Die minister het 'n kommissie saamgestel om op die saak in te gaan en as voorsitter van die kommissie sy sekretaris vir onderwys benoem. Die kommissie het sy verslag in 1939 uitgebring en aanbeveel dat 'n Afrikaanse mediese