Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde, 1959
(1959)– [tijdschrift] Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde [1901-2000]– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 119]
| |
Gabriël Gideon Cillié
| |
SkooljareSo het dit gekom dat die plaasseun van agt vir die eerste keer met die skoolbanke kennis gemaak het. Hy is in 1878 na die beroemde skool van Mnr. M.J. StuckiGa naar voetnoot1 wat op 'n deel van sy vader se plaas geleë was. | |
[pagina 120]
| |
Daar sou hy kennis maak met leerlinge wat uit alle dele van die land gekom het. Dit het al gou geblyk dat hy maklik kon leer en 'n goeie geheue gehad het. Terwyl hy op skool was, was hy ook gedurende 'n paar jaar die meulenaar van die boere van die omgewing. Daar was 'n watermeul op sy vader se plaas en hy moes die werk in verband daarmee doen. Hy sou nie lank die skool kon besoek nie want as gevolg van die dood van sy vader in Maart 1886 is hy nie daardie jaar terug na die skool nie. Dit was 'n groot boerdery en hy moes sy broer wat maar net twee jaar ouer as hy was, behulpsaam wees daarmee. Hy het toe vir vyf jaar met die boerdery gehelp. Dit was in hierdie tyd dat hy as sewentienjarige seun in die nag met 'n gelaaide wa met twaalf osse deur Bainskloof gery het sonder dat enigiets verkeerd geloop het. In hierdie tyd was daar ook 'n florerende debatsvereniging by die skool op die plaas. Dit het bestaan uit leerlinge en jong mans uit die buurt. Hiervan het hy sekretaris geword kort nadat hy die skool verlaat het en dit vir sowat sewe jaar gebly. Hy vertel graag hoedat by een geleentheid die debat gevoer is oor die ou vraag of die wêreld draai, en hoedat die inleier wat gesê het dat dit nie draai nie gewen het op die argument dat as die wêreld wel draai dan moet die sand in sy oë val as hy op sy maag gaan lê. Dit is toe hy sekretaris geword het dat twee van die ouer lede hulle lidmaatskap opgesê het omdat hulle nie kans gesien het om aan 'n vereniging te behoort met so 'n dom boerseun as sekretaris nie. Soos dit gebeur het, het hy later die geleentheid gehad om hulle altwee uit te stof; die een was selfs op 'n latere stadium by hom in die klas en hy moes hom help om deur sy Latyn te kom. 'n Finansiële ramp wat die familie getref het, het egter sy lewe in 'n ander rigting gestuur. Die boere van die Westelike provinsie het swaar tye belewe en nadat verskeie banke in 1890 in Kaapstad bankrot gegaan het, was dit teen die einde van die jaar ook die lot van die Paarlse Distriksbank. Vir sy moeder het dit groot geldelike verlies beteken en hoewel sy die plaas weer gekry het, was dit voortaan swaar belas. Drie broers het hulle toe op die plaas bevind en dit kon die plaas nie dra nie; die ‘slimste’ een moes terug skool toe of 'n ander plan moes gemaak word. Dit was in die tyd dat Mnr. Stucki dit een aand aan hom voorgestel het dat hy moes gaan skoolhou in 'n buiteskooltjie in die distrik van Montagu. Hy het hom egter nie opgewasse vir die taak gevoel nie maar sou wel sy broer in die Bovlei gaan raadpleeg. Te perd is hy daar- | |
[pagina 121]
| |
heen en sy broer het hom aangeraai om Mnr. Stucki se aanbod te aanvaar. 'n Belangrike keuse moes gemaak word en hy het besluit om dit te doen op die pad terug nog voordat hy uit die hoofpad sou uitdraai na Blouvlei. Dit word vertel dat hy sy perd laat stilstaan het voordat hy afgedraai het en toe besluit het om weer skool toe te gaan. So het dit gekom dat hy in Julie 1891 terug was in Mnr. Stucki se skool. Hy bevind hom toe in die skoolhoër-klas saam met leerlinge wat so pas die ‘Elementary’-eksamen afgelê het. Hy moes die werk vir die twee gelyktydig aanpak. Baie van die vakke soos Latyn en Matesis was vir hom nuut sodat dit in die begin maar noustrop gegaan het. So het hy byv. in een week in die September-vakansie sowat 41 stellings van Euclid onder die knie gekry. Hy het egter so goed gevorder dat hy nadat hy 'n jaar in die skool terug was die ‘Elementary’ sowel as die ‘School Higher’ in die eerste klas geslaag het. Nog in dieselfde jaar het hy die toelatingseksamen tot die kerklike Normaalkollege in Kaapstad afgelê (derde op die lys) asook die Taalbondeksamen in Nederlands en Geskiedenis (vierde op die lys). | |
Kollegejare.In Julie 1892 is die boerseun van Wellington na die Normaalkollege in Kaapstad. Dit het vir hom 'n geweldige aanpassing beteken; die plaaslewe moes plek maak vir die stadslewe. In 1894 het hy die Matrikulasie-eksamen in die eerste klas afgelê. Die Middelklas onderwyserseksamen het hy nie met onderskeiding gekry nie omdat hy nie goed kon teken of sing nie. Met die aanvang van die akademiese jaar in 1894 is hy na die Victoria Kollege op Stellenbosch waar hy hom meer tuis gevoel het en in 1895 lê hy die ‘Intermediate’-eksamen af, eerste op die ranglys. In 1897 behaal hy die B.A.-graad met onderskeiding, sesde op die lys. In hierdie tyd het hy ook sy plek oopgespeel in die eerste rugbyspan van die kollege. Hy het saam met manne soos Japie Krige en A.F. Markotter op die veld gedraf. In die studentelewe het hy 'n leidende rol gespeel. So was hy o.a. eers sekretaris en later onder-voorsitter van die Kollege-debatsvereniging. | |
Buitenlandse studie.In Oktober 1899 is hy na Duitsland om hom verder in die Klassieke te verdiep maar nadat die professor onder wie hy in Bonn sou werk, | |
[pagina 122]
| |
hom meegedeel het dat hy o.a. omrede sy gebrekkige kennis van Duits sewe jaar sou neem om die doktorsgraad in Latyn te verwerf, is hy nog in dieselfde maand van sy aankoms in Duitsland daar weg na die Universiteit van Edinburgh in Skotland. Hier het hy hom vir die M.A. laat inskrywe en Engels gestudeer onder prof. Saintsbury, Etiek onder prof. James Seth en opvoedkunde onder prof. Laurie. Laasgenoemde was glo die eerste professor in die Opvoedkunde in die Britse Eilande en dat hy 'n groot indruk op die jong man uit Suid-Afrika gemaak het, het al gou duidelik geword by diegene wat by dr. Cillié in die klas was of wat Die Unie gereeld gelees het. In April 1900 het hy die M.A.-graad behaal. Vir die Somersemester van 1900 is hy na die Universiteit van Straatsburg in Duitsland waar hy in Julie 1904 die graad Ph. D. in Grieks, Latyn, ou Geskiedenis en Ekonomie magna cum laude behaal het. Aan hom is meegedeel dat hy summa cum sou gekry het as dit nie was dat hy die woord separatus in sy tesis verkeerd geskrywe het nie. Sy verhandeling is in Latyn geskrywe en 'n mondelinge eksamen is ook in Latyn as medium afgelê. Terwyl hy in Duitsland was, het hy ook klasse in die pedagogiek geloop by prof. Ziegler, wat ewe-eens op hom 'n groot indruk moes gemaak het, asook klasse in die kunsgeskiedenis. Hy het Duitsland verlaat in November 1904 nadat hy sowat 4 1/2 jaar daar vertoef het en eers nog tien weke in die hospitaal deurgebring het waar hy 'n vry-ernstige operasie vir blindedermontsteking ondergaan het. Op 27 Desember was hy in sy vaderland terug - terwyl hy nog besig was om na die operasie aan te sterk - met 'n swaar studieskuld om die hoof te bied. | |
As onderwyserDie jong man Gawie Cillié het sy eerste ondervinding as onderwyser opgedoen toe hy vanaf Julie 1897 (net nadat hy die B.A.-graad behaal het) tot Oktober 1899, toe hy vir verdere studie oorsee is, aan die Normaalkollege in Kaapstad onderwys gegee in Nederlands, Engels en Wiskunde, en wel teen 'n salaris van £ 150 per jaar. Hy was hoofsaaklik verantwoordelik vir die onderrig van Nederlands aan die Matrikulasieklas waar die Afrikaanssprekendes in die meerderheid was. Met die onderrig van Nederlands aan die Engelssprekende leerlinge en 'n aantal verengelste Afrikaners het dit vanweë die vooroordeel teen die taal, nie so maklik gegaan nie. | |
[pagina 123]
| |
Net na sy terugkeer uit die buiteland het hy andermaal vir een kwartaal onderwys gegee aan die Normaalkollege in Kaapstad waar hy Latyn en Geskiedenis doseer het. Vanaf April 1905 tot aan die einde van die jaar tree hy op as hoofonderwyser van die Seunskool op Cradock terwyl hy vanaf die begin van 1906 tot Junie 1908 hoof was van die Hoërskool op Franschhoek. Dit was toe 'n skool met nege assistente en het deur die land beroemd geword onder die leiding van sy voorganger, die latere prof. W.E. Malherbe van Stellenbosch. Dit word vertel dat dr. W.J. Viljoen toe Cillié die verandering na Franschhoek gemaak het, sou gesê het: ‘Hoe jammer dat er water uit de Karoo gedragen wordt!’ Dit wil voorkom asof die 2 1/2 jaar op Franschhoek van die gelukkigste jare in sy hele onderwysloopbaan was. Daar was 'n ouer tipe leerling wat fluks gewerk het. Ook hier het daar 'n florerende debatsvereniging bestaan. As jong onderwyser het hy geesdrif en beslistheid aan die dag gelê. Aan die kinders wat aan sy sorg toevertrou was, het hy hoë eise gestel en soms het hulle hom teleurgestel. Sy stiptheid, nougesetheid en strengheid het diep indrukke op sy leerlinge gelaat. Sy oud-leerlinge, reeds uit die tydperk toe hy nog 'n jong onderwyser was, getuig van die inspirasie wat van hom uitgegaan het. Hy was vir hulle 'n voorbeeld van toewyding aan die ideale en tradisies van sy volk. Terwijl hy op Franschhoek was, is verskeie ander betrekkings hom aangebied wat hy almal van die hand gewys het. Dr. Muir, die S.G.O. (Superintendent-generaal van Onderwijs) van Kaapland, het hom die aanbod gemaak van Inspekteur van Skole, die ‘South African College’ in Kaapstad het hom gevra om daarheen te kom terwijl die Normaalkollege in Pretoria hom die onderhoofskap aangebied het. | |
As professor.Toe hy in Julie 1908 na Stellenbosch gegaan het om die betrekking van professor in die Klassieke tale aan die Victoria Kollege te aanvaar, het hy swaar afskeid geneem van sy werkkring in Franschhoek. In die nuwe betrekking wat hy tot die einde van 1912 beklee het, was hy besonder tuis en het hy baie deeglike werk gelever. Hy het ook vir 'n tyd al die predikante van ons Kerk by name geken want almal moes by hom Grieks en Latyn neem. Terwyl hy reeds sedert 1910 hulp verleen het aan Mnr. (die latere prof.) D.A. Pauw met die opleiding van onderwysers, in die vak die geskiedenis van die opvoeding, het hy in | |
[pagina 124]
| |
1913 'n professoraat in die Opvoedkunde aanvaar en sodoende die eerste professor in hierdie vak aan die inrigting geword. Hy het sy eerste liefde versaak omdat hy gevoel het dat hy in sy nuwe betrekking as Hoof van die Pedagogiese Instituut - soos dit destyds genoem is - meer direkte diens in die vorming van die jeug van sy volk sou kon verrig. Hy het in hierdie hoedanigheid aangebly totdat dit in 1918 geword het die Fakulteit van Opvoedkunde van die Universiteit van Stellenbosch. Toe het hy die eerste Dekaan daarvan geword en dit gebly tot Junie 1947 toe hy sy professoraat neergelê het; hy was toe reeds in sy sewen-en-sewentigste lewensjaar. Dit tref dat hy 'n lang en vrugbare loopbaan as leermeester gehad het. Nadat hy sowat vyf jaar onderwyser was, was hy vir 39 jaar hoogleraar, waarvan 34 professor in die opvoedkunde. Dit was dan ook veral in die laasgenoemde hoedanigheid dat hy sulke waardevolle diens gelewer het; dit was hom gegun om dit oor baie jare te doen. Om mee te begin het hy baie moeilikheid ondervind om vir Thomas Muir, die S.G.O., te oortuig dat Universiteite in staat is om ook die professionele opleiding van die onderwyser te behartig. Letterlik duisende studente en aspirantonderwysers het hulle opleiding aan sy voete ontvang. Geslagte van studente het met waardering en agting na hom geluister. Hulle werk verspreid oor die hele oppervlakte van ons land. Sy studente het steeds onder die indruk gekom dat hy sy werk as gelowige en uitgesproke Christelike leermeester gedoen het. Die gesamentlike godsdiensoefeninge in die saal van die Gebou vir Opvoedkunde waarmee elke dag se werk begin is - 'n gebruik wat hy ingestel het in samewerking met prof. Pauw - het 'n besondere indruk op sy studente gemaak. Vir baie was dit 'n bron van besieling. Hy het sy studente tot ernstige nadenking geprikkel en was minder gesteld op die bybring van 'n menigte feite. Hy het geword die vertolker van 'n opvoeding wat deur en deur nasionaal, Suid-Afrikaans is. Hy het hom onvermoeid beywer vir Christelike en nasionale onderwys en in belang van ons volksgeskiedenis en onderrig deur die moedertaal. Hy het hom ook beywer vir hoër kwalifikasies in die onderwys sodat die onderwysprofessie respek kon afdwing. Hy het gestrewe na 'n behoorlike status vir die onderwysberoep. Hy het hom beywer vir beter besoldiging van die onderwyser en vir die verkryging van gunstiger diensvoorwaardes, maar het ook nie teruggedeins as tot waardige optrede gemaan moes word nie. Oor die jare | |
[pagina 125]
| |
heen was hy 'n groot en 'n leidende gees in die onderwys in Kaapland. Sy woord het swaar geweeg en sy mening was gesog ook oor individuele onderwysers wat om aanstellings geaspireer het. | |
Lid van universitêre liggame.As dosent in die opvoedkunde het hy nie alleen in die Fakulteit van Opvoedkunde maar in die hele inrigting wat hy soveel jare gedien het 'n leidende en toonaangewende rol gespeel. Hy het sy gewig orals ingegooi. So het hy geword die eerste rektor van die Universiteit. Terwyl daar voorheen sprake was van 'n voorsitter van die Senaat het hy in 1918 rektor geword en dit gebly tot 1925. Hierna het die persoon wat die betrekking beklee het vir 'n tydlank weer bekend gestaan as voorsitter van die Senaat. In die tyd dat hy rektor was het heelwat nuwe geboue bygekom, is nuwe fakulteite bygevoeg en baie nuwe kursusse ingestel en is die Universiteit se finansies op 'n gesonde voet geplaas. In hierdie tyd het die Universiteit selfs 'n aanskrywing van die Bank ontvang. Hy het gedien in 'n spesiale Regeringskommissie wat benoem was om die geldelike steun van die regering aan die Universiteite te bepaal en hy het dit verkry dat die bydrae aanmerklik verhoog is ten gunste van sy Universiteit. Hy het ook gedien op 'n Komitee wat die statute van die Universiteite moes opstel. Behalwe dat hy gedurende sy hele dienstyd as professor lid van die Uitvoerende Komitee van die inrigting was, het hy op verskeie ander belangrike komitees gedien soos byv. die Finansiële Komitee, die Koshuiskomitee, die Vise-Kanselierskomitee en die aanstellingskomitee. | |
Lid van onderwyskommissies.Wijle Dr. Cillié het in sy hoedanigheid as onderwysman van naam, op 'n groot aantal kommissies gedien wat oor onderwyssake gehandel het. Ons kan maar net 'n paar van die vernaamstes kortliks noem. In 1915 was hy lid van die Taalordonnansiekommissie wat moes vasstel in hoeverre uitvoering gegee word aan die Taalordonnansie van 1912. In 1919/1920 het hy op 'n belangrike Salariskommissie gedien. Die aanbevelings het gelei tot die invoer - vir die eerste keer - van sistematiese skale met gereelde verhogings wat in 1921 in werking gekom het. Dit op sy beurt het daartoe gelei dat die Universiteite hulle skole | |
[pagina 126]
| |
aanmerklik verbeter het. Hy het ook gedien in die Salariskommissies van 1943 en 1946. In 1926 was hy die voorsitter van 'n baie belangrike Onderwyskommissie. Dit was 'n Adviserende Kommissie wat deur die Uitvoerende Komitee benoem is en wat vrae moes beantwoord wat Administrateur Fourie aan hom gestel het. Dit het oor 'n menigte aspekte gegaan en alhoewel die verslag nooit gepubliseer is nie het dit belangrike gevolge gehad op die verdere ontwikkeling van die Onderwys in Kaapland, veral ten opsigte van die bepaling van beleid. In die volgende jaar, 1927, was hy lid van 'n Kommissie i.v.m. moedertaalonderwys wat ondersoek moes instel na die uitvoering van die wette oor moedertaalonderwys. Die laaste belangrike kommissie waarop hy gedien het, was die Kommissie van Ondersoek in sake die stelsel van skoolvoeding. Dit was in 1950 en hy was die voorsitter daarvan. Vanaf 1911 tot 1947 was hy lid van die Skoolraad van Stellenbosch; sedert 1926 was hy die voorsitter. | |
Kultuurbedrywighede.Hy het ook sy gewig ingegooi by liggame wat die kultuurbelange van ons volk behartig. So was hy vanaf die stigting in 1929 gewone lid van die F.A.K. (Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings) terwyl hy later in die Uitvoerende Komitee gedien het. As verteenwoordiger van die Taalbond was hy 'n stigterslid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sedert 1906 was hy lid van die Hoofbestuur van die Suid-Afrikaanse Taalbond. In 1942 het hy die vierde voorsitter daarvan geword toe hy Senator F.S. Malan in dié hoedanigheid opgevolg het. Toe hy in 1957 sy bedanking as sodanig ingedien het, het die hele Hoofbestuur by hom daarop aangedring dat hy dit moes terugtrek. In 1951 is hy benoem tot lid van die ‘Maatschappij der Nederlandse Letterkunde’ te Leiden. | |
KerklikTydens die Julie-vakansie van 1896 was hy behulpsaam met die samestelling van die eerste grondwet van die C.S.V. (Christen Studentevereniging) en met die stigting van die eerste tak op Stellenbosch. Hiervan het hy die eerste onder-voorsitter geword. | |
[pagina 127]
| |
In 1912 het hy sy Gemeente vir die eerste keer as diaken gedien en in 1926 het hy vir die eerste keer ouderling geword. Ook op hierdie gebied het hy 'n leidende rol gespeel. Vir 'n tyd lank was hy lid van die Kommissie oor die Kerkbode. As ouderling en lid van die Ring van Stellenbosch was hy ook teenwoordig op 'n Vergadering wat op 29 en 30 Julie 1929 op Stellenbosch gehou is in sake die voorlopige persoonlike verhoor van wyle prof. du Plessis van die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch. Die van ons wat destyds student op Stellenbosch was, sal onthou hoe 'n sterk houding hy ingeneem het en hoe hy hom beywer het vir wat vir hom as die regte standpunt in die saak voorgekom het. | |
Die Suid-Afrikaanse onderwysersunie.As jong man was wyle dr. Cillié teenwoordig op die stigtingsvergadering van die S.A.O.U. (Suid-Afrikaanse Onderwysersunie) op 4 April 1905. Trouens van die persone soos Mnr. Paul Roos, Mnr. Stucki, Dr. Viljoen, Mnr. W. Fouché, Mnr. P.J. du P. le Roux en die latere prof. W. Malherbe wat saam met hom 'n leidende rol hierin gespeel het, was hy die laaste om te gaan. Reeds op die tweede kongres van die Vereniging wat op 19 Des. 1906 in Somerset Strand gehou is, is hy tot ondervoorsitter gekies en in 1907 tot voorsitter. Terwyl hy reeds in 1933 vir drie maande as sodanig waargeneem het is hy in 1935 tot Sekretaris-tesourier van die Vereniging gekies. Sedert die stigting van die S.A.O.U. het hy met die uitsondering van die jaar 1915 toe hy 'n Vergadering van die Matrikulasieraad moes bywoon, al die kongresse van die Vereniging bygewoon. Gedurende hierdie jare het hy die Vereniging op alle belangrike kommissies i.s. die onderwys verteenwoordig. Dit was maar net gepas dat hy in 1955 die besondere onderskeiding te beurt geval het om nog 'n keer die Vereniging en die Kongres as voorsitter voor te gaan; en dit by geleentheid van die Jubileumkongres van die S.A.O.U. Ons dink daaraan dat die S.A.O.U. sy ontstaan te danke gehad het aan die feit dat die ‘hollandssprekende’ onderwysers hulle nie meer tuis gevoel het in die S.A.T.A.(South African Teachers' Association) nie en dat die doel met die stigting o.a. was om die proses van verengelsing van die Afrikaanse kind deur middel van die skool, veral sedert 1902, te stuit. Die S.A.O.U. het dit al gou neergelê dat die moedertaal van die kind die uitgangspunt in die opvoeding moet wees. Wyle Dr. Cillié het hiervoor in die voorste linie geveg. Hy het doel en rigting aan ons onder- | |
[pagina 128]
| |
wys en opvoeding gegee deur by wyse van referate en toesprake op die jaarvergaderings sy standpunt te stel en sy idees oor opvoeding en onderwys bekend te maak. So is belangrike besluite op kongresse en vergaderings onder sy leiding en inspirasie geneem; besluite waarvan die administratiewe instansies kennis moes neem en waarmee hulle wel deeglik rekening moes hou by die bepaling van die onderwysbeleid t.o.v. voertaal, diensvoorwaardes, besoldiging van onderwysers en so meer. Hy het by voortduring opgetree as die leier en kampvegter vir die geestelike en intellektuele belange van die Afrikaanssprekende onderwyser en kind. Oor al die jare heen was sy kontakte met die S.A.O.U. ten nouste. Geen wonder dat hy dikwels gehuldig word as die vader van die S.A.O.U. en dat hy en die S.A.O.U. as een beskou word nie. Een ding is seker, dat as die geskiedenis van die S.A.O.U. te boek gestel sal word dit in 'n groot mate sal bestaan uit 'n beskrywing van sy bedrywighede in, en in verband met die S.A.O.U. sedert die stigting. 'n Geskiedenis van sy loopbaan en die geskiedenis van die S.A.O.U. is nie van mekaar los te maak nie. | |
‘Die Unie’Die Unie het op 15 Julie 1905 vir die eerste maal as die amptelike orgaan van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie verskyn. Vanaf 1909 was wyle dr. Cillié lid van die redaksie daarvan en vanaf 1912 het hy in elke uitgawe behalwe in die kongresnommers en 'n paar uitgawes wat in 1925 en in 1931, toe hy oorsee was, die inleidingsartikels geskrywe. In November 1918 het hy na die uittrede van Mnr. Stucki as sodanig, die hoofredakteur van die blad gword. Die Unie het vanaf sy stigting ten doel gehad om te wees: ‘een gids voor de leerling, een raadsman van die onderwyzer, een vriend van den huize, een vraagbaak voor allen.’ As hoofdredakteur het hy die doel waarvoor Die Unie gestig is, getrou in gedagte gehou. Dit het in die werklike sin van die woord geword ‘'n Maandblad vir Opvoeding en Onderwys.’ In die orgaan het hy 'n sterk hulpmiddel gehad om sy idees omtrent opvoeding en onderwys te verkondig en rigting en vorm te gee aan ons opvoedkundige denke. Sy bydraes het steeds van 'n opvoedkundig gesonde filosofie getuig. Hy het sy beskouings oor moedertaalonderwys, vaderlandse geskiedenis as skoolvak, kulturele aangeleenthede en ander brandende vraagstukke | |
[pagina 129]
| |
van die dag onomwonde en oortuigend gestel. Later kon hy put uit 'n rype bron van ervaring en lewenswysheid. Hy het as opvoedkundige in wyer kringe bekendheid verwerf toe hy gedurende 1915 tot 1920 elke Donderdag 'n artikel in Die Burger gehad het in 'n rubriek: ‘Oor Opvoeding en onderwys’ deur Skoolmeester. Dr. D.F. Malan was toe redakteur van die dagblad. Met sy belangrike werk as hoofredakteur van Die Unie het hy volgehou tot by die November-nommer van die blad van 1957. Sy laaste inleidingsartikel het verskyn in daardie nommer van ons blad. Hierna kon hy die werk nie voortsit nie vanweë 'n ernstige siekte en omdat sy liggaamskragte hom in die steek gelaat het. Nadat 'n redaksiekomitee die werk sedert dien behartig het, was die laaste nommer wat onder sy naam as hoofredakteur verskyn het, die van 1 Maart 1958. Hy kon toe terugsien op 'n vrugbare dienstyd van 49 jaar as lid van die redaksie van Die Unie met byna 40 jaar as hoofredakteur. Voorwaar 'n merkwaardige prestasie! | |
Opvoedkundige reise.In 1925 het hy 'n buitelandse reis onderneem. Hy het 'n groot aantal skole en inrigtings in Europa en Amerika besoek nadat hy vooraf versoek is om na sy terugkeer 'n verslag oor die onderwystoestande in die buiteland by die Kaaplandse Onderwysdepartement in te lewer. In 1931 het hy andermaal 'n besoek aan Europa gebring en is hy ook na Engeland en Skotland waar hy die Universiteit van Stellenbosch op 'n Konferensie van al die Universiteite van die Britse Gemenebes in London en Edinburgh gehou, verteenwoordig het. | |
Familiesake.In April 1905 het hy in die huwelik getree met Mej. Maria van Niekerk, die oudste dogter van wyle ds. S.G.M. van Niekerk van Smithfield. Sy was voor haar troue onderwyseres aan die destydse Hoërskool vir Seuns op Stellenbosch. Uit die huwelik is sewe kinders gebore, vyf seuns en twee dogters. Ses van hulle het gegradueerdes van die Universiteit van Stellenbosch geword terwyl wyle dr. Cillié die aangename ondervinding te beurt geval het dat voordat hy as professor afgetree het een van sy seuns as professor in die Wiskunde saam met hom op die Senaat van die Universiteit gesit het (G.G. Cillié Jnr.). Op 4 Maart 1927 is sy eggenote oorlede. Sy het altyd getrou aan sy sy gestaan en | |
[pagina 130]
| |
terwyl sy 'n groot rol gespeel het in vroueorganisasies was sy in die eerste instansie veral en altyd moeder. Vir wyle dr. Cillié en die jong kinders (die jongste was 6 jaar) was haar dood 'n geweldige slag. Op 2 April 1931 is hy weer getroud met Mej. Maria Uys-'n gegradueerde van die Universiteit van Stellenbosch en 'n oud-student van hom-, by die wat haar beter ken bekend as tant Mimmie. Met haar het hy 'n langer huweliksverbintenis gehad as met sy eerste eggenote. Sy het vir dr. Cillié meer as sy regterhand geword en alleen diegene wat gereeld die S.A.O. U- Kongresse bygewoon het en veral in die jare voor sy dood die voorreg gehad het om dikwels by hulle aan huis te kom, weet wat sy vir hom beteken het, veral sedert hy 'n hoë leeftyd bereik het en sy lewenskragte afgeneem het. | |
Huldigings.Dit is seker gewens dat ons hier die kort lewensbeskrywing van 'n groot onderwysman sal afsluit met 'n relaas van huldigings wat hom te beurt geval het. In die eerste plek is dit duidelik dat die S.A.O.U. en die Afrikaanssprekende onderwysers van Kaapland reeds oor jare heen nie nagelaat het om hulle leier die hulde te bring wat hom regmatig toekom nie. Op sy sestigste verjaarsdag, op 10 September 1930, het die Vereniging hom 'n geïllumineerde adres oorhandig as blyk van waardering vir sy dienste aan die S.A.O.U. 'n Olieverfportret van hom is tydens die sitting van die Kongres in Desember van dieselfde jaar aan die Universiteit van Stellenbosch vir bewaring oorhandig. Dit hang in die saal van die gebou vir Opvoedkunde; dieselfde saal waarin hy so dikwels die woord gevoer het en wat later na hom genoem is - die G.G. Cillié-saal. In opvolging hiervan is in die Januarie-uitgawe van Die Unie van 1931 'n paar artikels aan sy werk en lewe gewy. By geleentheid van die Kongres in die Paarl in Junie 1939 is aan hom as een van die oud-voorsitters van die S.A.O.U. hulde gebring toe 'n goue hangertjie aan hom oorhandig is en dank betuig is vir sy onskatbare dienste aan die onderwys in Kaapstad bewys en vir sy onvermoeide ywer in belang van die S.A.O.U. Ook die ander oud-voorsitters wat aanwesig was het elkeen so 'n hangertjie ontvang. Kragtens die wens van die Kongres op Worcester in 1943 het die Hoofbestuur die Oktoberuitgave van Die Unie van daardie jaar 'n huldigingsuitgawe gemaak ter herdenking van sy 25-jarige redakteurs- | |
[pagina 131]
| |
kap van Die Unie. Vir 'n maand was hy van die redakteurskap onthef. In hierdie verband is op 27 September (Die Unie het dus vroeër verskyn) by geleentheid van 'n noenmaal in Kaapstad 'n pragtige adres en 'n praguitgave van die genoemde huldigingsnommer aan hom oorhandig. In hierdie uitgawe is hy deur hooggeplaatste persone in ons land en deur die voorsitters van verskillende Onderwysersverenigings van die vier provinsies, geluk gewens en bedank. Dit het verder 22 boodskappe van Oud-voorsitters van die S.A.O.U. aan hom gerig, ingesluit. In 1948, met sy aftrede as sekretaris-tesourier van die vereniging, is hom tydens die Kongres op Graaff-Reinet andermaal 'n adres asook 'n tjek en 'n goue horlosie aangebied. Tydens die Kongres in 1957 op Hermanus gehou, is met die oog daarop dat hy as Redakteur van Die Unie sou aftree, aan hom 'n indrukwekkende koper skild in kleure aangebied. Wyle dr. Cillié het egter nie net hulde ontvang uit die geledere van die S.A.O.U. en die Afrikaanssprekende onderwyser in Kaapland nie; ook van buite hierdie kringe is eer betuig en het hy erkenning ontvang. In 1937, by geleentheid van die viering van die vyftigjarige bestaan van die sustersvereniging van die S.A.O.U., die ‘South African Teachers' Association’, is hom die ere-lidmaatskap van daardie vereniging aangebied. Die Transvaalse Onderwysersvereniging het hierdie voorbeeld gevolg en sedert 1 April 1946 was hy ook ere-lid van daardie vereniging. In Oktober 1945 het hy ook die ere-lidmaatskap van die Voortrekkers, saam met die penning van die ere-lidmaatskap, ontvang ‘op grond van sy jarelange uitnemende dienste wat hy as opvoedkundige en volksman aan die opvoeding en onderwys bewys het.’ Ook Universiteite het hom met hulle ere-grade vereer. In 1941 het hy die graad L.L.D., honoris causa, van die Universiteit van Kaapstad ontvang terwyl sy eie universiteit hom die ere-doktorsgraad in die Opvoedkunde in 1956 toegeken het. Verder moet nog vermeld word dat 'n Afrikaansmediumskool in Port Elizabeth (die Hoërskool Cillié) na hom vernoem is, gedagtig aan sy beywering vir moedertaalonderwys in Kaapland, asook dat daar reeds 'n werk oor hom as opvoedkundige geskrywe is deur dr. I.M. van Rooyen, wat in die Transvaal tot die doktorsgraad gepromoveer het op die proefskrif: ‘Die Opvoedkundige denke van G.G. Cillié’ Met die verskyning van die Huldiginguitgave van Die Unie van 1 April 1958 is nogmaals gepaste hulde bring aan 'n onderwysleier wat | |
[pagina 132]
| |
'n unieke plek moet kry in die onderwysgeskiedenis van Kaapland in die algemeen en in die geskiedenis van die S.A.O.U in die besonder. Hy was 45 jaar leermeester. Hiervan was hy vir 34 jaar hoogleraar in die Opvoedkunde. Hy was een van die stigterslede van die S.A.O.U. Nie alleen was hy gedurende 53 jaar lid van die vereniging nie maar het hy die Vereniging gedurende 12 jaar as sekretaris-tesourier gedien en was gedurende 49 jaar aan die redaksie van die orgaan van die vereniging verbonde, sowat 40 jaar as hoofredakteur, voorwaar 'n vrugbare loopbaan waarop met dankbaarheid terug gesien kan word deur die professie wat hy gedien het. 'n Buitengewone sameloop van omstandighede wou dit so dat die dag waarop die huldigingsuitgawe van Die Unie verskyn het, 1 April 1958, ook sy sterfdag geword het.
P.S. du Toit |