Voorwoord
In die Introduction tot Journal of Jan van Riebeeck, Vol. I, die Engelse vertaling van hierdie uitgawe, kom daar opvattinge voor wat hier nie onbesproke gelaat mag word nie.
Dáár word van die opvatting uitgegaan dat (1) die Kaapse kopie van die Daghregister ‘is the original in the sense that it was the first final official manuscript of the document to be written’, (ald. bls. XXIX) en dat (2) ‘Van Riebeeck should not be regarded as the author in any strict or absolute sense.’ (bls. XXXV).
Sonder om die argumente daar aangevoer hier te herhaal - dit word uitvoerig gedoen in 'n artikel in die Hertzog-Annale, Des. 1955, waarna die belangstellende leser verwys word - wil ek die argumente hier puntsgewys behandel.
Koloniale aanwinsten, no. 224 - ek meen dat die nommer nou verander is -, Rijksargief, Den Haag bevat ('n kopie van?) 'n private brief van Abraham van Riebeeck, Goewerneur-Generaal van Nederlands-Indië, gedateer 13 Januarie 1711, aan sy skoonseun, oud-Goewerneur-Generaal Joan van Hoorn, eggenoot van Johanna Maria van Riebeeck, waarin die woorde voor kom: ‘UE. Hoog Edt. heeft onder myn (d.w.s. in my besit) gesien de minuten van het Caebse dagregister ende meer andere negotieboeken, die hy nevens d'afgaende brieven selfs heeft moeten formeren’. (Ek kursiveer). Hierdie eerstehandse getuienis los feitlik alle probleme in verband met outeurskap, handskrifte, ens., van die Daghregister op: Jan van Riebeeck het die Daghregister eiehandig opgestel, van sy oorspronklike ‘minuten’ is daar deur die kopiïste, ‘schryvers’ of ‘adsistenten’ aan die Kaap ‘grossen’ (kopieë of afskrifte in duidelike letters) gemaak. Nadat hierdie kopieë met die oorspronklike gekollasioneer is, word hulle ‘dubbelden’ genoem. Sulke afskrifte of kopieë is beskou as in alle opsigte gelykwaardig aan die oorspronklike ‘minuten’, d.w.s. ‘het oorspronkelijke van verschillende officieele stukken geschreven.... in klein loopend schrift (mlat. scriptura minuta)’ (Wdb. d. Ndl. Taal).
Die tekste van die D. wat ons vandag besit: een in die Kaapse argief (K), twee in die Haagse argief (H en HA, waarvan HA slegs plus minus 40 bladsye van die aanhef bevat) is algar dus grosse, kopieë, afskrifte, dubbeldes-soos ons dit verkies te noem. Dit spreek dus vanself, soos ook uit die tekste blyk, dat die handskrifte in die verskillende tekste wissel van kopiïs tot kopiïs, sodat daar van 'n ‘paleographic criterion’ geen sprake kan wees nie.
Van Riebeeck se eie handskrif is al lank bekend. Leibbrandt het in 1898 in Precis of the Archives of the Cape of Good Hope, Letters and Documents Received, Deel I, 'n faksimilee gepubliseer. In Die Huisgenoot van 9 April 1948 het ek Van Riebeeck