| |
| |
| |
Inleidende opmerkinge
1. Hierdie werk sluit aan by die Patriotwoordeboek (Van Schaik, 1968; nr. 3 in hierdie reeks), en baie van die opmerkinge wat ek daar onder die Inleiding gemaak het, is ook hier ter sake.
Oorspronklik was dit die gedagte om die ander leksikologiese arbeid van voor die Patriotwoordeboek in verskeie dele uit te gee, maar wat ek bymekaar kon bring, kon gerieflik in een band saamgevat word.
Aanvanklik het ek gemeen om ook die artikels van D.U.M., Hamelberg, e.a. (waarna ek verwys in die Inleiding tot die Patriotwoordeboek) in te sluit, maar omdat hulle slegs sporadies voorbeelde van woorde gee, dus nie lyste bevat nie, het ek besluit om hulle weg te laat. Hierdie artikels het egter besondere waarde as ‘gegewens rondom Afrikaans in die vorige eeu’, en hulle behoort beslis in 'n afsonderlike band te verksyn.
Na my wete het ek die belangrikste leksikologiese bydraes uit die vorige eeu ingesluit. Ons Taalskat van S.J. du Toit dateer wel uit 1908-9, maar dit sluit so nou aan by die ander dat ek dit nie kon weglaat nie.
Na lang oorweging het ek besluit om die opmerkinge oor die 8 ‘skrywers’ onder die Inleidende opmerkinge tuis te bring, en nié voor die betrokke lyste nie - dit vergemaklik 'n oor-en-weer-verwysing.
Tweetalige lyste (waarvan daar nogal 'n hele aantal bestaan) is doelbewus weggelaat; miskien kan later hieraan gewerk word.
1.1. Die spelling van die lyste is met opset onveranderd gelaat; so werp dit soms interessante lig op die verskillende ontwikkelingsfases in die skryfwyse van bepaalde woorde (vgl. bajan, banje, baia, baiing, baie), en dikwels gee dit ook 'n aanduiding van die toentertydse uitspraak. Dit raak ook meermale betekenisontwikkeling. Daar kan dus geen sprake wees van spellingnormalisering by hierdie ouer lyste nie.
1.2. Die waarde van hierdie lyste kan aansienlik verhoog word deur die volgende werke vooraf te lees:
NIENABER, G.S. 1950. Taalkundige belangstelling in Afrikaans tot 1900. Johannesburg, Afr. Pers Bpk.
VAN DER MERWE, H.J.J.M. e.a. 1968. Afrikaans - sy aard en ontwikkeling. Hfste. 1-5. Pertoria, Van Schaik.
En vir 'n vergelyking is die volgende werke nuttig:
BOSHOFF, S.P.E. en G.S. NIENABER. 1967. Afrikaanse Etimologieë. Pretoria, S.A. Akademie vir Wet. en Kuns.
SCHOLTZ, J. du P. 1965? Afrikaans uit die vroeë tyd (studies oor die Afrikaanse taal en literêre volkskultuur voor 1875). Hfst. 6-8. Kaapstad, Nasou.
Met al hierdie bykomende materiaal kan daar nou ernstiger gedink word aan 'n historiese woordeboek van Afrikaans, soos reeds lankal aan die hand gedoen is, o.a. ook deur J. du P. Scholtz.
1.3. My dank aan prof. G.S. Nienaber, wat meergenoemde artikels van D.U.M. e.a. aan my ter insae gestuur het; en vir die lyste van Leibbrandt en Postma; asook die afdruk van Du Toit s'n.
Ook my dank aan prof. Emil Loubser (van P.E.) vir die afdrukke van Tromp en Kern se lyste.
| |
| |
2. CHANGUION, Antoine Nicolas Ernest, opvoedkundige, taal- en letterkundige, kerkman-politikus, redenaar en joernalis, eensame taalstryder en vernaamste voorloper van die Hollandse Taalbeweging in Suid-Afrika, is op 15 Des. 1803 in Den Haag gebore.
Die stamvader, PIERRE CHANGUION, Hugenoot en boer, het tydens die bloedbad van Vassey (1562) op lg. dorpie gewoon, selfs nadat sy huis verniel is. Sommige van sy nasate het ook daar bly woon; die meeste was predikante. Die Changuions is dus 'n ou familie wat na 1685 na Nederland gekom het en daar die Changuion-stam van Nederland begin het. Onder hulle was die stamvader se kleinseun, PIERRE CHANGUION, wat die stamvader van die Nederlandse tak geword het.
As gevolg van geldelike moeilikhede tree Antoine se ouers, FRANCOIS DANIEL CHANGUION (politikus, diplomaat, ens.; o.a. die eerste Nederlandse gesant in die V.S.A.) en HENRIETTA WILHELMINA HARTINGH (dogter van 'n gesiene Leidenaar) uit die openbare lewe en in 1820 verhuis hulle na Duitsland en woon die volgende 30 jaar in Offenbach aan die Main, waar Antoine op vroeë leeftyd die Duitse taal en letterkunde leer ken en bewonder. Hy het ook Frans geleer en in Engels en Frans lesgegee in Frankfurt-am-Main. Later gee hy les in Amsterdam in Duits, Frans en Engels, terwyl hy terselfdertyd Latyn en Grieks bestudeer. In 1828 skryf hy in as student in die lettere en teologie aan die Leidse Universiteit.
In 1831 aanvaar hy (op versoek) 'n professoraat in die klassieke en moderne tale, veral die Nederlandse lettere, aan die Zuid-Afrikaansche Athenaeum (gestig in 1829; later bekend as die South African College, en vandag die University of Cape Town). Hy staak sy teologiese studies, en die Leidse Universiteit skenk aan hom die titel Philosophiae Theoreticae Magister et Litirarum Humaniorum Doctor (honoris causa). Aan die Zuid-Afrikaansche Athenaeum bly hy in hierdie betrekking tot 1842 wanneer hy daarvoor bedank om verskillende redes. Hy is op 25 Sept. 1832 getroud met M.E. Faure, dogter van Abram Faure en S. Smuts (weduwee Le Febre). Uit hierdie huwelik is 6 seuns en 3 dogters gebore.
Hierdie eensame stryder was geleerd, 'n persoon van aansien, geëerd deur almal en daarby 'n merkwaardige redenaar, maar dit was veeleer die gesonde, redelike lewenshouding en sy ywer vir die saak van die Hollandssprekendes wat hom bo sy tydgenote verhef het. Op opvoedkundige gebied was hy die groot lig van sy tyd. Hy was die skrywer van die allereerste skoolboeke wat in Suid-Afrika geskryf en gepubliseer is. As taalkundige het hy 'n belangrike plek ingeneem. In dié opsig was hy 'n goeie en geliefde leermeester, wat verstaan het om met kinders om te gaan. Met sy Geslachtwijzer der Nederduitsche Taal (1842) het hy probeer om die dorheid van die Nederlandse grammatiese geslag enigsins minder onaangenaam te maak. Hierin het hy geslaag en o.a. het sy Beginselen der Cijferkunst (1857) en sy Elements of Dutch Grammar (1860) jare lank in die skole voortgeleef. (Hy het besield geraak met die ideaal dat Suid-Afrikaners tweetalig moes word, maar hy was nie juis anti-Engels nie.)
Sy magnus opus is sonder twyfel sy De Nederduitsche Taal in Zuid-Afrika hersteld, zynde een handleiding tot de kennis dier taal, naar de plaatselyke behoefte van het land gewyzigd (1844, tweede druk 1848). Hiermee wou hy aan die Hollandse taal so 'n hegte grondslag gee aan die Kaap dat Afrikaans (Kaapsche Taaieigen) geen ingang sou kon vind nie. Hy het spoedig ingesien dat hy misgetas het en in die inleiding tot die tweede druk van hierdie boek het hy erken dat die Nederlandse taal geen kans het om die volkstaal van die Afrikaner te word nie.
Van groter belang is die toegif agter in die boek: Proeve van Kaapsch Taaleigen, so 'n 20 bladsye Afrikaanse woorde en wendinge, met grammatiese opmerkings daartussenin. Hiermee wou hy eerstens die taal van die Kapenaars suiwer, en tweedens 'n bydrae lewer tot die ontluikende Hollandse dialekstudie: dit sou vergelykings-materiaal verskaf. As die eerste bewuste en uitvoerige dokument oor die Afrikaanse taal, is dit die kosbaarste bron uit die eerste helfte van die 19de eeu, ten spyte daarvan
| |
| |
dat dit net betrekking het op die taalgebruik in Kaapstad, en nie volledig is nie. Tog het hy die grondslag gelê van ons woordondersoek, en later sou vele hiervan gebruikmaak, of daarna verwys.
Changuion was sy tyd en sy aangenome vaderland ver vooruit in heelwat opsigte en dit het van hom 'n eensame stryder gemaak, en na meer as 33 jaar van onvermoeide ywer aan die Kaap het hy tog moed verloor: in 1865 keer hy terug na Europa saam met sy suster, Louise, sy vrou en twee dogters. Daar gee hy weer onderwys in Frankfurt-am-Main en Aarau. In 1876 vestig hy hom in Lausanne (Switserland) en later in Lörrach, waar hy in 1881 tot sterwe kom.
(Ek het taamlik breedvoerig gegaan oor hierdie belangrike figuur omdat ons so min van hom weet. Verder verwys ek na 'n breedvoeriger artikel van my wat sal verskyn in die Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek, deel 2.)
'n Heftige reaksie op die Proeve kom van J. Suasso de Lima (bekende figuur in die letterkundige kringe van daardie dae) in 'n brosjure: De Taal der Kapernaren, verdedigd tegen de schandelijke aanranding derzelve van Professor Changuion (1844), waarin hy veral beswaar maak daarteen dat Changuion se voorbeelde op die taal van die burgerkringe slaan, terwyl dié voorbeelde eintlik tekenend is van die taal van onbeskaafdes.
Afgesien van die lys kom in die boek self voortdurend voorbeelde van Kaapsch Taaleigen voor - 'n mens behoort dus eintlik die hele boek te lees.
Om 'n beter agtergrondsbegrip van sy Proeve te kry, is dit essensieel om vooraf sy Inleidende aanmerkingen te lees. Hierin verklaar hy o.a. waarom hy nie ‘de platte Kaapsche spraak’ probeer weergee in sy voorbeelde nie. Daarom word die wwe. in Nederlands gegee in die lemmas: aantrekken, afnemen, afslagten, ens.; d.w.s. die inskrywings en meermale ook voorbeelde van uitdrukkinge word in Nederlands aangegee. Dis jammer, want 'n mens sou graag wou weet of hy werklik nog die -en- uitgang gehoor het. En dat Changuion goed geluister en opgemerk het, sien jy in sy weergawe van bv. ijzder, bogt, hartslag (met die opmerking ‘met verzwegen eind-t), ens.
Hy gee ook meermale die etimologie van 'n woord; vgl. hakschénen, boort, schoppemaai, ens. Sommige hiervan is in later jare betwis, andere is as verkeerd aangedui, maar ek meen dat die meeste die toets deurstaan het. Meermale wys hy daarop dat 'n bepaalde woord wel in ouer Nederlands (of in Nederlandse dialekte) voorkom, waar dit miskien al verdwyn het, dog voortleef in Afrikaans.
Opvallend is die taamlike getal Engelse woorde wat hy opgeneem het. Dit sal interessant wees om dit te vergelyk met die later lyste en met hedendaagse woordeboeke.
Die toenemende gebruik van die adverbiale -s (liewers, meteens, rats, skuins, ens.) het hom, as Hollander seker dadelik opgeval, en tog wys hy daarop dat dit ook in Nederlandse dialekte voorkom.
Interessant is sy opmerking dat een (die mooi een) uit Frans kom, terwyl Mansvelt dit toeskryf aan sowel Frans as Engels.
Dis 'n kort lysie, slegs 'n klein begin, maar kultuur-histories en taalkundig is dit vir ons 'n pragtige kleinood.
3. TROMP, Theod. M. Biografiese gegewens oor hierdie ‘skrywer’ ontbreek; ek kon in alle geval weinig vind. Blykens sy boek het hy nie lank hier vertoef nie; trouens, dit blyk ook uit sy hfst. 22 oor die Afrikaanse taal, toegelig met weinig voorbeelde.
Hy val weg met: ‘De Afrikaansche taal, die tot stam de Oud-Hollandsche taal heeft, is zeker wel het leelijkste en meest vermengde dialect, dat ooit bestond’ (p. 23), en volg dit op met: ‘Dat de taal belangwekkend en de aandacht overwaard is, is zeker, maar dat zij leelijk, misvormd en wanluidend is, is nog zekerder. Het is dan ook bepaald jammer, dat degene, die zich de moeite wilde getroosten, regels en genootschappen tot instandhouding er van in het leven roepen, zijn tijd en inspanning niet liever ten koste legde aan eene poging, het hoog-Hollandsch (dit is de naam, dien men
| |
| |
in Afrika aan onzen taal geeft) tot zuivering van het Afrikaansch, en ter vervanging daarvan in Zuid-Afrika, ingang te doen vinden ...’ (p. 24). Changuion het 35 jaar vantevore dieselfde ideaal gekoester, maar binne 4 jaar (1848) het hy reeds besef dat Nederlands nooit die taal van die Afrikaner sou word nie!
In De Gids van 1879 (pp. 297-306) verskyn 'n bespreking van Tromp se boek deur Mr. F. Baron van Hogendorp uit den Haag. Van Hogendorp het self 'n tyd lank in Bloemfontein vertoef, waar hy o.a. in 'n stryd met die Engelse seksie gewikkel was oor die goeie reg van Nederlands as landstaal van Suid-Afrika. Hy skryf onder meer: ‘De hoogleeraar Brill uitgezonderd, ..., is de heer Tromp de eerste (sic!) die zich de moeite gegeven heeft om den “Hoog-Hollander” ietwat in bijzonderheden bekend te maken met den vorm, waarin de verre broeder zijn gedachten uitdrukt. En hij doet zulks op de hem eigen wijze, niet als philoloog, maar als een eenvoudig opmerker die oog en oor goed weet te gebruiken. Alle geleerdheid sluit hij buiten. Waar, byvoorbeeld, de nieuwbakken Afrikaansche grammaticus zekere vormen en spreekwijzen aan het Hebreeuwsch wil ontleend zien, daar is de koelheid, waarmede onze schrijver dergelijke openbaring vermeldt, zóó onverholen, dat men al dadelijk bespeurt hoe deze - hebreeuwsch voor hem blijft. Maar daarentegen heeft hij een menigte oorspronkelijke spreekwijzen ogpevangen en in een beperkt aantal bladzijden geestig opgeteekend, welke, ofschoon ze in 't eerst 'mar al te verspot' schijnen, toch bij nadere beschouwing een diepen blik doen werpen op de geschiedenis, het karakter en het leven des volks’ (p. 297-8). Uit die eerste Afrikaanse Almanak haal baron Van Hogendorp die volgende ‘aardig staaltje’:
en
Verder (bl. 303) lees ons: ‘In afwachting dat de bewerking van den bijbel gereed zal zijn, worden reeds nu eenige voor den Zuid-Afrikaan onverstaanbare woorden voor hem verduidelijkt. Ziehier eene proeve:
aamechtig: flou
aflezen: afoes, afpars
basten: doppe
bejegenen: ontmoet
bekkeneel: harspan
brasser: deurbrenger
dorschende os: 'n os, wat trap
droesem: saksel, grondsop
hielen: haakskene
hinden: hartbeesooi
hulsen: doppe
hunkeringen: wellustig verlangen
kernen: korrels
ketelachtig: puntelneurig
klapper: bawelaar
kramer: smous
kwinkeleeren: wijsies sing
lemmer: sawel
leugenstoffeerders: skenderaars, kekkelbekke
malienkolder: ijster harnas
minnen: lief hê; vrije
moei: tanta
niet muilbanden: sijn bek nie toebinde nie
okselen: armkuil
raka: niksnuts
schaken: rowe
schorten: voorskote, karosse
tering: padkos
Vermoedelik is hierdie interessante lysie of ‘proeve’ deur Van Hogendorp self opgestel. (Die alfabetiese rangskikking van die lemmas is van my.)
Afgesien van 'n subtiele teregwysing, is Van Hogendorp tog baie komplimenteus in sy bespreking, maar ten slotte wys hy wel daarop dat Afrikaans bestaansreg het,
| |
| |
ook omdat Nederlandsch aan die verdwyn is en Engels aan die toeneem is ... ‘En het ergste is dat, indien eene keus wordt opgedrongen, het Engelsch wellicht de voorkeur zal krijgen’ (p. 304).
Van Tromp sê G.S. Nienaber (Taalkundige belangstelling ..., p. 45): ‘In sy eie geval is daar ook politieke griewe teen die Transvalers om sy houding te verantwoord - hy was die sekretaris van die in onguns gevalle president Burgers.’ Eintlik was hy die privaatsekretaris van Burgers.
Of Tromp goed geluister het en dit getrou weergegee het, is meermale te betwyfel; daarom kon sy bydrae goedskiks miskien weggelaat gewees het, maar ek het dit tog opgeneem omdat ons hiermee eintlik die eerste lysie uit Transvaal gekry het, en dis interessant om dit te vergelyk met die ander bydraes uit die Suide. (Hoe sou hy tog daartoe gekom het om bokke en skape as sinoniem te sien!?)
4. LEIBBRANDT, H.C.V. Hy is in 1837 gebore in Kaapstad en aldaar oorlede in 1911. Hy studeer in die Teologie in Holland, waar hy 'n tydgenoot van pres. T.F. Burgers was. In 1859 word hy predikant van die N.G. Kerk in Victoria-wes, waarvoor hy bedank in 1877 na geskille met die gemeente, vermoedelik oor sy modernistiese opvatting. In 1881 word hy die eerste argivaris van Kaapland, waar hy begin met die klassifisering van dokumente en die skryf van 'n belangrike reeks boeke oor sy eie navorsing.
Volgens die inleidende paragrawe tot sy ‘woordelys’ sou lg. nie gepubliseer gewees het nie as dit nie was vir die ‘onbesuisden aanval op de Nederlandsche taal en letterkunde’ nie. Dit slaan op die bekende uitspraak van dr. Johannes Theophilus Hahn in 1882: ‘The Dutch patois can be traced back to a fusion of the country dialects of the Netherlands and Northern Germany, and although phonetically teutonic, it is psychologically an essential Hottentot idiom ...’ Leibbrandt se slot-paragrawe oor ‘hoe zuiver over het algemeen het Nederduitsch in de buiten districten gesproken wordt’ en die verskil tussen die Blanketaal en die mengelmoes van Hollands-Hottentots onder die ‘Bastaards’ aan die oewers van die Oranje, is taalkundig vir ons van groot belang. (Tog jammer dat hy sy lys woorde uit lg. ‘taal’ verlê het (volgens homself); dit sou moontlik pragtige vergelykingsmateriaal kon gewees het.)
Leibbrandt se bydrae het in twee aflewerings verskyn, wat meegebring het dat ek die geheel alfabeties moes herrangskik. Dit bevat in hoofsaak Oosterse woorde wat aan die Kaap voortleef. Vir sy etimologieë steun hy op die werke van o.a. H. Lichtenstein: Travels in Southern Africa (vertaal uit Duits; Londen, 1812, 1815); Marsden se Maleise woordeboek; J.S. Stavorinus: Reize van Zeeland over de Kaap de Goede Hoop naar Batavia (2 dele, Leyden, 1793); F. Valentijn: Beschrijvinge ... van Kaap de Goede Hoop (1726); Wallace se Malay Archipelago.
Soms is sy etimologieë insiggewend, soms vindingryk, maar soms skeef. Dis interessant om dit met die ander woordelyste en Afrikaanse Etimologieë te vergelyk, o.a. karkatjie, rooman (róman), sambreel, tamanho (tamaai), tjakalile (moontlik samesmelting van tjakki-tjakki en kamalielies). By Paman sou ek onder dié bepaalde gewoonte in Suid-Afrika eerder dink aan Culemborgse invloed, waar dit nog gebruiklik is, d.w.s. die gewoonte.
5. KERN, H. Wie die lys saamgestel het en waaruit dit gehaal is, is my nie bekend nie. Dis 'n groot verbetering op Tromp se lys, maar dit lyk nie of daaruit geput is nie. Moontlik is dit 'n uittreksel uit Mansvelt se werk, wat teen daardie tyd seker al in Nederland beskikbaar was.
Interessant van hierdie lys is dat dit uitsluitlik verklarend is, sonder enige poging om etimologieë te verstrek, soos ons by die ander vind. Slegs hier en daar word aangedui dat dit uit Engels kom (en daar word buitengewoon baie dergelike voorbeelde gegee); vgl. babie, bar, bokkie, bottel (?), brekvis, dandy, digger, fair, picnic, stori, supper, tender, tjek, voorman, warrant, ens.
| |
| |
Soms word na Frans verwys, bv. aspres, dag, eendag, egaal, eleksie, puur, ens. Daar is egter soveel meewerkende faktore dat dit nie altyd moontlik is (veral vir buitestaanders) om te bepaal of dit uit Engels dan wel uit Frans kom nie.
Ten slotte vestig ek die aandag op die volgende inskrywings: amper, dalk, eendag, eleksie, impi, knoppies (= noppies), kop, kreek (?), liksens, one (?), oorlosi × allosie, picnic (Eng.?), posorder neem, top (= knop vir tnop?), tronklewe (sic!).
6. POSTMA, Willem. Hierdie lys verskyn nou vir die eerste keer in druk. Soos u sal merk, is dit aan ds. Du Toit gestuur in 'n prysvraag vir suiwer Afrikaans-gesmede woorde. Of Du Toit dit ooit ontvang het, en daarvan gebruikgemaak het, is nie duidelik nie. Ek volg hier die oorspronklike manuskrip.
Ds. Postma (1874-1920), die jongste seun van ds. Dirk Postma (die vader van die Ger. Kerk in S.A.), is op Burgersdorp gebore, waar hy sy onderrig en later sy opleiding as predikant ontvang. Sy eerste gemeente was Bethulie. In 1905 word hy na Bloemfontein beroep, waar hy op 12 Mei in die Ger. Gemeente bevestig is. In 1915 is hy na Reddersburg, waar hy gewerk het tot aan sy dood in 1920.
Na die Tweede Engelse Oorlog is hy die dryfkrag agter die Vrystaatse taalbeweging o.a. met sy drietal artikels in De Vriend (1905) oor die regte van Afrikaans. Ook is die S.A. Akademie (1909) se totstandkoming tot op groot hoogte die vrug van sy bemoeiing. Baie bekend is ‘oogdruppels’, skerp artikels wat 'n geruime tyd in Vriend des Volks onder die skuilnaam Dr. O'Kulis verskyn het, ‘druppels’ waarmee hy nasionale oogkwale wou regdokter. Maar veral bekend is sy geestige en strydvaardige Die Eselskakebeen (1909), waarin daar gespot word met die growwe misstande in die onderwys van dié tyd. Blykbaar het hierdie lys van Afrikaanse woordgebruik die aandag ontsnap.
Die rangskikking van sy bydrae in verskillende rubrieke is in hoofsaak van my, want syne is betreklik deurmekaar. Waar 'n (?) verskyn, is dit ook van my.
Die waarde van hierdie lys is vir my daarin geleë dat ons hier materiaal uit die noordelike Kaap (en veral ook uit die Vrystaat) het, wat vergelyking met dié uit die Suide 'n interessante studie maak. Ek het die spelling oral onveranderd gelaat.
7. PANNEVIS, Arnoldus. 'n Breedvoerige lewensbeskrywing van hierdie belangrike figuur in die opkoms en ontwikkeling van Afrikaans vind u in P.J. Nienaber se monografie: Dr. Arnoldus Pannevis (Nas. Boekhandel, 1968, nr. 1 in die nuwe reeks van die Patriotvereniging). 'n Verkorte weergawe verskyn in die Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek.
Ook hier is dit nou die eerste keer dat Pannevis se ‘Bouwstoffen’ in druk verskyn, wat vir ons leksikografie besmoontlik 'n aansienlike aanwins kan wees. Die verhaal van hierdie ‘verlore lys’ het ek verstrek in die Inleiding tot die Patriotwoordeboek, waarna ek nou verwys.
Dat die eerste 4 bladsye van die ms. verlore geraak het, is om kultuur-historiese redes te bejammer, maar wat die inhoud daarvan betref, glo ek dat ons dit alles terugkry in S.J. du Toit se Patriotwoordeboek en veral in sy Afrikaanse taalskat (die laaste hoofstuk in hierdie bundel.) In sy Inleiding tot die Patriotwoordeboek erken Du Toit dat hy baie geput het uit Pannevis se lys, en by 'n vergelyking van die lys met Du Toit se Afrikaanse Taalskat, is dit duidelik dat Pannevis meermale woordeliks gevolg word, ook wat voorbeelde betref.
Anders as Changuion gee hy sy inskrywings in Afrikaans, terwyl sy verklaringe in Nederlands verskyn. Dikwels word ook die etimologieë verstrek. Die lemmas van verkleiningsvorme verskyn gewoonlik met -je/-tje, maar in die voorbeelde word hulle wel -jie/-tjie.
Hy laat hom meermale uit oor die uitspraak; vgl. sy aantekeninge onder koeël, en sy skryfwyse van lèher (tipies Afrikaanse uitspraak!), naasohermohre, oër, ens.; en weer sy opmerking by win (= wen) en winakker. Met die eerste oogopslag vra 'n
| |
| |
mens jouself af of Pannevis goed geluister het met sy kastage, lamoen, kannyntjie (ook by Mansvelt), ens., maar as jy weer goed luister, hoor jy hierdie uitspraak selfs vandag nog by sommige; en soms is dit in alle geval moeilik om te onderskei tussen a en dowwe e. Hy verwys ook meermale na ‘onderveldsche’ woorde of uitsprake (vgl. kettel, skrau, skrou, ens.) maar sonder om te meld hoe of waar hy daaraan gekom het.
Ons vind by hom nog 'n aardige lysie van Engelse woorde, bv. djoetie (= duty) flennie, lyk (= like), stryjekker (= straight-jacket), ens. Sommige het gelukkig reeds uit Afrikaans verdwyn.
Dikwels word die etimologieë aangegee, soos by kluitje en koggelmannetjie, maar meermale waag hy hom nie daaraan nie; vgl. onder lepel.
Ten slotte noem ek die volgende lemmas, wat almal die een of ander interessantheid bevat:
ander, boetson (hy lei dit af van Fr. bouchon; is ons woord die Afr. of Eng. vervorming daarvan? Afrikaanse Etimologieë help ons nie juis nie), bogterig (let op die gebruik van sukke in die vb.) bos (mv. boste), bottelbras, bout, D (assimilasie daarvan in honne, perre, gewellig, ens.), daarom, dat (= lat), dik, dood, droster, Ewaas vy, faikonta, geitjie (vgl. ook Mansvelt), gerf, goearro (?), goi, hekel, houkie, Japie, jufvrouw, kaffer (ww.), kaing, kasta, zachte k (na kwint), lat (voegw.), openbare (reeds verdwyn?), pofadder (volksgeloof?), spek (?), stiemokriet (vermoedelik uit stienbok- uit steenbok-), welke (meermale word verwys na Belgicismes).
8. MANSVELT, N. In die Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek I verskyn 'n volledige lewensberig oor Mansvelt. Van hom sê Ploeger: ‘M se lys van 188 bladsye het betrekking op uitspraak, woorde, uitdrukkinge en so meer. Ofskoon hy in baie van sy afleidings mistas, is dit die volledigste, noukeurigste en mees wetenskaplike leksikografiese poging in Afrikaans tot op daardie tydstip’ (p. 524).
In Oktober 1891 word hy Superintendent-Generaal van Onderwys in die Z.A.R. en geniet die steun van pres. S.J.P. Kruger, die staatsekretaris dr. W.J. Leyds, en die meerderheid van die Volksraad. Eintlik is hy die opvolger van S.J. du Toit in hierdie verband.
Mansvelt gee baie afleidings, maar in heelwat het hy misgetas. In die verband skryf G.S. Nienaber: ‘Maar dit verminder nie Mansvelt se betekenis nie. Dit is die volledigste, noukeurigste en mees wetenskaplike byeenbrenging van Afrikaanse idiotismes wat tot 1884 onderneem is. Sy taak was bloot beskrywend. Dié studie het reeds belangrike dienste aan die Afrikaanse taalvorsing bewys, veral leksikografies, en die werk aansienlik vergemaklik. Mansvelt se Idioticon is een van die belangrike mylpale op die pad van die wetenskaplike studie van die Afrikaanse woordleer. 'n Groot vooruitgang is die vergelyking van Afrikaanse verskynsels met Nederlandse dialek-materiaal wat ondertussen beskikbaar geword het ... Soms wend hy 'n poging aan om op dialektiese afwykings in Afrikaans die aandag te vestig, en die feit dat hy ook spreekwoorde en segswyses in sy studie betrek het, is 'n belangrike verbreding van die terrein.
Een gevolg van sy werk is die prikkelende resensie van Schuchardt en sy vingerwysing op Duitse elemente in ons taalskat ...’ (p. 72-3).
In sy Voorbericht erken hy dat hy enkele woorde uit Changuion oorgeneem het, maar slegs nadat hy dit behoorlik ‘getoets’ het. Hy verwys verder wel dikwels na Changuion se werk. Engelse woorde wat in 'n Engelse woordeboek te vinde is, het hy nie opgeneem nie, want sulke ‘halfnaatjies’ kan hy nie beskou as opregte ‘Afrikaners’ nie.
Sy wetenskaplike versorging val 'n mens op. Sy verklaringe en etimologieë is beredeneerd, al tas hy soms mis. En wanneer hy nie weet nie, vra hy meermale: Wat is dit? Wat kan dit tog beteken? Waar kom dit vandaan? So iets herinner hy hom byvoorbeeld nie uit die Nederlandse dialekte nie.
| |
| |
Eweneens is sy uitspraakverduidelikinge wetenskaplik, en die waarde daarvan is daarin geleë dat ons meer omtrent die uitspraak in die ou Kolonie te wete kom; vgl. onder A, E, I, UI, aant, aapskilloeder, ens. Veral waardevol by hom is sy opmerking na sommige inskrywings. Hier gee hy dikwels blyke daarvan dat hy goed geluister het en dat hy wetenskaplik onderleg is.
Ek haal o.a. die volgende lemmas aan vanweë die interessante gegewens en opmerkinge wat daarby verskyn (al is dit nie altyd alles korrek nie):
achtig, angaan, appeltjies-der-liefde, bietjie, bietji-bietji, bykom (‘ek sel ver ...’ moet gelees word ‘ik sil vir’ volgens 'n latere opmerking oor die uitspraak), blikoor, blootsperd, boereboontjies (die opm.), bout, breek ('n mens sou briek verwag het!), broer, daarri, dispens, doowe, Dopper, druilen, droef, duiwel, eenders, eers, en, faikonta, fles, flus, fortsek, gespers, goed, indien, jukskee (?), klipper, lijk (opm.), meta, neerskryf, ochend, onbeskof, passabel, rofkas, saam, so-een, stamblok, terrentaal, toelate, tramás, twak, veels, verongeluk, verslind, voel, was, water.
Verder vestig ek die aandag op die interessante aanhangsel; vgl. veral disnes, sinlik, voorhuis, wijsbroune.
9. DU TOIT, S.J. Ook van hierdie groot voorvegter van Afrikaans word 'n volledige lewensbeskrywing gegee in die Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek I.
Uit voorgaande haal ek die volgende aan (p. 283, kol. 1): ‘Du T. se politieke houding breek in enkele jare af wat hy oor baie jare opgebou het. Terwyl hy meen dat hy sy volk dien, verlaat hulle hom en is hy in die laaste jare van sy lewe soos 'n generaal sonder 'n leër, die, eensame Ismael' soos sy seun en biograaf hom noem. By die verlies van sy koerant en tydskrifte waaraan hy sedert 1876 verbonde is, stig hy Ons Taal (1907 - 1909) as opvolger van Ons Klyntji.’ Die rubriek Afrikaanse Taalskat daarin verskyn egter eers van Jan. 1908 af in aflewerings en loop ten einde in Des. 1909, wanneer die blad verdwyn.
In sy Inleiding maak Du Toit gewag van die werke van Changuion, Pannevis en Mansvelt; ons kan dus aanneem dat hy nie net bekend was met dié lyste nie, maar dat hy ook daarvan gebruikgemaak het. Trouens, by 'n vergelyking is dit duidelik dat hy dit wel gedoen het. En soos ek reeds aangedui het, dek Du Toit se inskrywings tot by afpluk ongetwyfeld die deel wat van Pannevis se ms. verlore geraak het.
Ofskoon Du Toit se bydrae net tot by F gaan, is dit duidelik uit kruisverwysings dat hy die hele alfabet gedek het; m.i. is die beste bewys daarvoor onder die lemma akker te vind, waar hy byvoeg: ‘Kyk Wenakker’. Ek is daar feitlik oortuig van dat wanneer Totius se ‘papiere’ ondersoek en gerangskik word, ons nie net die oorspronklike ms. van Pannevis sal vind nie, maar ook die res van Du Toit se Ons Taalskat. (Dis tog in belang van nie net Afrikaans en die student van Afrikaans nie, maar ook in belang van die nagedagtenis van die groot figuur S.J. du Toit dat hierdie dinge gepubliseer word - wil die erfgename nie maar 'n slag die dinge vir ons opspoor nie?).
Die verskillende aflewerings het meegebring dat die alfabetiese indeling baie onversorgd was en dat dit heeltemal hersien moes word.
'n Kenmerk van hierdie Ons Taalskat is o.a. Du Toit se voortdurende aanvalle op Mansvelt se werk, bv. die volgende stelling: ‘dat di skrywer, baar en rou uit Holland gekom, met ni meer kennis van ons taal en ons folk ni as wat hy opgetel het by syn uitkom van die Kaap na Stellenbos, daar op syn leerstoel gaan sit het en di stof fer syn boek moes kry van syn leerlinge uit verskillende dele van ons land’. Voorgaande kan ek nog aanvaar, maar dat ‘omtrent 'n derde fan di woorde op di maniir (is)’, d.w.s. dat foutiewe afleidings en/of verklaringe gegee word, is werklik 'n oordrewe stelling. In baie gevalle is Mansvelt se siening korrek, terwyl Du Toit mistas, en in enkele gevalle haal hy Mansvelt verkeerd aan, soos onder andag. 'n Mens kom nie los van die indruk dat Du Toit soms onnodig venynig teenoor Mansvelt is nie. Wat die oorsaak vir hierdie houding ookal is, wil ek dit nie graag in verband bring met die feit
| |
| |
dat Mansvelt vir Du Toit opgevolg het as Superintendent-Generaal van Onderwys in Transvaal nie, waar hy die vertroue van Kruger e.a. geniet het. Die leser moet maar self die lyste van Mansvelt en Du Toit vergelyk.
Graag wil ek die volgende lemmas onder die aandag bring:
aap, aarby, afjag, akker, andag, appel (ek herinner my uit my kinderdae die vorm appel-der-!; kyk verder Kritiik en Teen-Kritiik na boomstyf), bulsak (eintlik gevul met vere!), dokteres (wat baing huismiddels weet!), drosternes, druiwekomfyt (histories is Mansvelt se uitspraak eu i.p.v. ui sekerlik korrek), duusman (Du Toit tas mis; hy gee self ook die voorbeeld Duister onder drosternes!), eetfoorhuis (eina! Wat Mansvelt gee, kom onder die lemma eet-en-drink, en beslis nie onder eetfoorhuis nie!), farkspek.
Afgesien van hierdie ‘onder onsie’ tussen Du Toit en Mansvelt, moet die groot bydrae van Du Toit nie onderskat word nie. As wetenskaplike filoloog is Mansvelt sy meerdere, maar as waarnemer van die Afrikaanse spreekwyse en as reglementeerder van die waargenome is Du Toit bobaas: hy het die taal wat hy geken en gepraat het, geken en gehanteer soos weinig andere in sy tyd. Nie net vanweë kultuur-historiese oorweginge nie, maar ook vanweë die taalkundige waarde daarvan sou ons darem so graag die volledige lys van Du Toit se Ons Taalskat wou gepubliseer het!
H.J.J.M. van der Merwe,
Pretoria, Augustus 1971.
|
|