van die probleem; en as 'n finale waarheid nie hieruit spreek nie - as die leser teen die einde voel dat basiese skanderingsprobleme nog nie opgelos is nie, dan is daar altyd die hoop dat dié studie kritici in Afrikaans meer bewus sal maak van die noodsaaklikheid van 'n versigtige bestudering van die ritmiese patroon in 'n gedig.
Aangesien 'n skanderingsmetode nie slegs 'n blote beskrywing van 'n ritmiese struktuur kan wees nie, word dit 'n verdere taak van dié studie om te bewys dat dit 'n belangrike hulpmiddel is by die analise van 'n gedig, en as dit 'n akkurate weergawe is van die werking van die ritme kan dit ook 'n middel tot evaluasie wees. 'n Mens wil nie impliseer dat die ritme alles in 'n gedig is nie, alhoewel 'n begrip van die funksie daarvan wel 'n sleutel tot verdere ontledings kan wees. 'n Skandering kan ook nie alles van die prosodie vertel nie, en sal dus nooit as waarderingsmiddel by die poësie gebruik kan word sonder om ook die vele ander aspekte wat 'n gedig esteties bevredigend maak, in ag te neem nie. Daar is, trouens, gedigte wat op die ritmiese vlak as bevredigend beskou kan word maar nie noodwendig op ander vlakke van die waardering nie.
In die bepaling van 'n skanderingsformule is hoofsaaklik gebruik gemaak van gedigte wat in die ritmiese struktuur 'n redelik sterk reëlmaat vertoon - die ‘metriese vers’ dus - aangesien die vryer vers ander herhalingstegnieke gebruik. 'n Vasstelling van 'n skanderingstelsel vir dié soort vers sal in 'n sekere sin ander benaderings verg, alhoewel die bevindings in die eerste twee hoofstukke van dié studie moontlik ook dáár van toepassing kan wees.
In my bedankings wil ek in die eerste plek my promotor prof. Ernst van Heerden noem vir sy bystand, vir die nuttige wenke wat hy deurgaans gegee het en die skerp kritiese wyse waarop hy elke hoofstuk deurgelees het. Ook my dank aan prof. N.P. van Wyk Louw vir sy belangstelling in dié studie, die deurlees daarvan, en vir die bespreking wat ons kon gehad het voordat dit finaal afgerond is. Ek is veel verskuldig aan albei vir die letterkundige vorming wat ek onder hulle gehad het - waarsonder hierdie studie seker nie moontlik sou gewees het nie.
Ander erkennings: mnr. John Miles vir die taalkundige kontrole van die eerste twee hoofstukke, en prof. P. du P. Grobler vir enkele voorlesings van gedigte.
Dan wil ek ook my dankbaarheid uitspreek teenoor my eksterne eksaminatore, dr. E. Lindenberg en prof. W.E.G. Louw, vir die evaluasie van dié studie en vir die wenke wat hulle gegee het.