Tirade. Jaargang 39 (nrs. 356-361)(1995)– [tijdschrift] Tirade– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 310] [p. 310] Elisabeth Eybers Poetika Geslaagde spronge wat my pen soms maak kan 'k slegs met moeite tuisbring of vermom asof ek doelbewus die kluts bewaak; nouliks van die geboortesskrik bekom, moet ek ontreddering blindelings vertrou om hier en daar 'n oop seer aan te raak, per toeval iets herkenbaar te ontvou. [pagina 311] [p. 311] Parese Asimmetrie, wat ek hartstogtelik haat, skilder sy uithangbord op my gelaat. Goed, dink ek dan as ek die spieëlskrif lees, sonder die gangbare reëlmatigheid so broodnodig vir welgevalligheid mag ek voortaan hopelik 'n grapjas wees. Die oninnemende, bisarre taak, gedwonge afsweer van konformiteit, beloof behalwe ontsteltenis ook vermaak en kykers tot toegeeflikheid bereid. [pagina 312] [p. 312] Tagtigste verjaardag Mylpaal gehaal, wat onvermydelik blyk tensy jy dit vroegtydig kon ontwyk deur alles wat daar in en om jou is met skoonskipywer grondig uit te wis. Die teësinnige getal probeer om wat hom opgedring word af te weer - skynheilige vertoon van waardigheid plus hoflike, verpligtende jolyt - en om by vroeër jare aan te sluit sonder één hol, verwarrende geluid. Bedagsaam trek jy jou pantoffels aan om na die badkamer en die kombuis te gaan waar die aanvanklike dinge voortbestaan in stille tarting van kortstondigheid. [pagina 313] [p. 313] Kreet Selde, en steeds onverwag, swel 'n klanklose kreet in my keel oor alles vergaan en vergeet wanneer die ritmiese dag swig vir onomkeerbare nag van absoluut niks meer weet. Omdat menslike waardigheid my nog altyd smoor soos 'n kleed kan ek die dierlike kreet nie ten gehore bring: die geluid wat my strot binnedring flits buite bestek van ore, geen omstander sal dit noteer véér die beklinkende keer. Tot dán geld ek bloot als gebore. Vorige Volgende