| |
| |
| |
Die prosa van die Twede Afrikaanse beweging.
P.C. Schoonees. Die Prosa van die Twede Afrikaanse Beweging. Amsterdam, De Bussy, 1922. (Amsterdamse dissertasie).
Met die verskyning van hierdie werk is die reeks Afrikaanse dissertasies, waarin 'n ondersoek ingestel word na die letterkundige uitkomste van die Afrikaanse Taalbeweging, byna kompleet. In 1916 het Dr. Lydia van Niekerk aan die Amsterdamse Universiteit gepromoveer met 'n proefskrif oor ‘De Eerste Afrikaanse Taalbeweging en zijn letterkundige voortbrengselen’, in 1919 het ondergetekende gevolg met ‘Taal en Poësie van die Twede Afrikaanse Taalbeweging’ (Utrechtse dissertasie), en nou het Dr. Schoonees die nog bestaande leemte ten opsigte van ons nuwere prosa aangevul. Met uitsondering van ons toneel, waaroor egter binnekort ook 'n monografie verwag kan word, is dus die wordingsgeskiedenis van die Afrikaanse letterkunde sedert 1875 vrywel volledig nagegaan. Soos uit die tietel blyk, kon Dr. van Niekerk in 1916 nog geen vergunning kry om haar proefskrif in Afrikaans te skryf nie. Die Amsterdamse Universiteit het egter sedert die tyd ook van gedagtes verander, sodat nou reeds al die Nederlandse Universiteite die mondigheid van Afrikaans as wetenskaplike medium erken het, iets wat ongetwyfeld veel daartoe bygedra het om die volledige oorwinning van die volkstaal in Suid-Afrika te bespoedig.
Dr. Schoonees verklaar in syn voorberig o.m. ‘Ons staan nog maar aan die begin van die Twede Beweging en daarom is dit moeilik om nou al 'n heeltemal objektiewe beskouing van die letterkundige voortbrengsels daarvan te gee. Eers later sal ons die nodige perspektief kry en dan sal daar ook 'n groter algemeenheid in ons oordeel kom’. Tog het hy gemeen om sy vaderland 'n diens te bewys deur hierdie onderwerp te behandel, want ‘later iê daar ook al weer 'n dik laag stof op wat nou algemeen bekend is en gelees word. As die wetenskaplike ondersoekers dan met hul besonke oordeel kom, is
| |
| |
ons geslag al weer oud en afgeleef en help dit óns so bitter weinig. Daarom het ek gemeen, dat my studie van enig nut kan wees’.
Na 'n inleidende hoofstuk oor die Twede Beweging, behandel hy kortliks die Polemiese Prosa en Prosa uit die Tydskrifte, terwyl 'n afsonderlike hoofstuk gewy word aan G.R. von Wielligh, as ‘Laaste stem uit die Genootskap van Regte Afrikaners’. Dan word agtereenvolgens in verskillende hoofstukke bespreek: Romans, Verhale en Sketse; Satieries-Humoristiese Prosa; Didaktiese Prosa; Dierebeskrywing; Reisbeskrywing en Historiese Prosa. Buiten beskouing bly dus suiwer wetenskaplike prosa, godsdienstige prosa, vertalings en kinderboeke.
Dit spreek vanzelf, dat daar by die behandeling van so'n aktuele onderwerp nogal ruimte bestaan vir verskil van opvatting, veral waar die skrywer hom tot taak gestel het: ‘om sonder doekies omdraai 'n estetiese oordeel uit te spreek’. Hy kan dus verwag, dat sy persoonlike sienswyse nie altyd onverdeeld byval sal vind nie en seker ook tot teenspraak sal uitlok. Daarom sal dit my vergun word - by alle waardering vir die uitkomste van sy ondersoek, die navorsing wat daaraan ten koste gelê is, die kennis en insig waarvan dit getuig, die durf wat daaruit spreek - om vooraf ook enkele besware daarteen aan te voer.
My eerste beswaar geld Dr. Schoonees se inleidende hoofstuk. Skrywer het blykbaar besef, dat dit vir 'n juiste waardebepaling van ons letterkundige prosa nodig was, om in algemene trekke 'n beeld te ontwerp van die kultuur-historiese achtergrond, waaruit die prosa voortgespruit het. Want dit het natuurlik nie somaar kant-en-klaar uit die blou Afrikaanse lug geval nie. Maar in plaas van 'n breedopgesette inleiding, waarin op historiese grondslag die vernaamste strominge aangetoon word, waardeur ons kulturele ontwikkeling sedert die ontstaan van die Afrikaanse Taalbeweging en veral sedert die begin van die twintigste eeu gekenmerk was, hardloop Schoonees met sestigmylslaarse die wordingsgeskiedenis van die Afrikanernasie deur en konstateer daarby soms merkwaardige dinge.
Laat my 'n paar voorbeelde noem. Op p. 2 lees ons, dat die Vryheidsoorlog van 1880 tot gevolg gehad het ‘die eerste kragtige ontwikkeling van die volksbewussyn, waarvan in die stryd teen Willem Adriaan van der Stel al duidelike kieme te sien is.’ As dit histories juis gesien is, watter rol het die
| |
| |
Voortrek van die dertiger jare dan gespeel in die ontwikkeling van die volksbewussyn? Die Voortrek, waarsonder Suid-Afrika op die huidige moment heel waarskynlik nie enkel staatkundig nie, maar ook kultureel, Brits sou geweest het, of .... Barbaars - hierdie heroiese worsteling teen bijkans onoorkomelike hinderpale, tot vestiging van 'n eie volksbestaan, word deur Schoonees met geen enkele woord genoem nie. Waaruit moet dan die ontstaan van die eerste en twede Vryheidsoorlog verklaar word? En watter betekenis heg Schoonees aan die optrede van Piet Retief en aan Dingaansdag? Hy het tog Preller se ‘Piet Retief’ gelees en met geesdrif selfs bespreek! Mag ek hom net 'n enkele sitaat daaruit voorhou: ‘En bowendien - laat ons dit tog nie vergeet nie! - dieselfde manifeste (van Retief) het vir die eerste maal in die harte van duisende Afrikaners die helder omlynde bewussyn gelê van 'n afsonderlike Afrikanernasie, van 'n aparte volk met sy eie taal, godsdiens, sede, geskiedenis en tradiesie - wat sy eie vrye nasionale toekoms tegemoet streef’ (10e dr. p. 355).
Op p. 4 verklaar Schoonees: ‘Dat die hele (Patriot-)beweging feitlik doodgekwyn het deur die politieke omswaai van één talentvolle leier, is 'n bewys van die lae trap van ontwikkeling waarop die volk toe nog gestaan het.’ Is dit wel so seker? M.i. kan die doodloop van die beweging, deur die politieke omswaai van die leier daarvan, eerder as bewys geld van die teendeel van Schoonees se konklusie - dat n.l. die volksbewussyn en gevoel van nasionale saamhorigheid reeds so sterk ontwikkel was, dat dit selfs nie deur 'n talentvolle leier na eie willekeur kon beinvloed word nie. Die peil van volksontwikkeling het hoër gestaan as wat die leier kon vermoed.
Die enigste logiese gevolgtrekking hier is m.i.: dat die volkstaal toe nog geen leidende rol gespeel het in die ontwikkeling van die volksbewussyn nie, ewemin as dit later die geval was in die stigting van die ‘Afrikaner Bond’ en die ‘Zuid-Afrikaanse Taalbond’ (albei kultuur-faktore van groot nasionale betekenis), en in die geskiedenis van die Transvaalse en Vrystaatse Republieke. En wel om die eenvoudige rede, dat Hoog-Hollands destyds nog deurgegaan het as volkstaal, terwijl Afrikaans die ondergeskikte rol moes vervul van ‘Assepoetster’ in die kombuis. Dis maar eers sedert die geweldige beroeringe aan die begin van hierdie eeu, en die daaropvolgende geboorte van 'n eie Afrikaanse letterkunde, dat ons
| |
| |
volk as geheel tot die ontdekking gekom het, watter magtige kultuurwapen ons al die jare moes ontbeer het in die stryd vir 'n eie volksbestaan en volkskultuur.
Maar veral teleurstellend is Schoonees se sogenaamde oorsig van ons kultuurtoestande (§ 5). By hierdie stadium van sy inleiding sou 'n mens tenminste 'n duidelik-omlynde afbakening van die kultuurhistoriese agtergrond van sy onderwerp verwag. In plaas daarvan word die leser afgeskeep met 'n paar bladsye, waarvan meer dan die helfte uit fragmentariese aanhalings bestaan. Daar word maar net tien skrywers aangehaal! Ook in die volgende paragraaf oor ‘Kalvinisme en Kuns’ ontwyk die skrywer 'n grondige behandeling van een van die vernaamste aspekte van ons volkslewe, deur skuiling te soek agter .... 'n bloemlesinkie van sitate! (In vier bladsye word twaalf skrywers gesiteer). Veral die veelvuldig voorkomende sitate werk verwarrend op die leser se aandag, om van skrywer se stylverbrokkeling maar te swyg. 'n Mens kan nie achterkom waar die skrywer eintlik hcen wil nie, cn dit maak jou kriewelrig om telkens weer deur 'n ander skrywer van jou draad af gebring te word. Schoonees is mos hier aan die woord - en nie die hele Suid-Afrika, met Dr. Abraham Kuyper inkluis nie! Eers in § 7, waar 'n algemene karakteristiek gegee word van die prosa, begin die leser effentjies koers te kry na die eintlike onderwerp toe. Daarop volg skrywer se ‘krietiese standpunt’, die lesing waarvan aanbeveel word ‘vóór die van enige onderdeel van my werk’, en eindelik die indeling van sy onderwerp.
Dus die totaalindruk van die eerste hoofstuk is onbevredigend, omdat dit onsamenhangend en oppervlakkig is, in één woord, omdat dit 'n inleiding is .... wat nie inlei nie. Verder moet in hierdie verband nog opgemerk word, dat Schoonees die Eerste Afrikaanse Taalbeweging laat begin op 7 Sept. 1872 (p. 1), en die Twede Beweging in Julie 1903 (p. 29). Die bestek van hierdie artiekel laat nie toe om op die kwessie in te gaan nie. Ek konstateer dus enkel, dat ons hier twee vraagpunte het, waaroor in die laaste tyd heelwat verskil van mening ontstaan is, veral omdat tweërlei antwoord gegee word op die vraag: wat moet verstaan word onder 'n beweging? En aangesien die strydvraag nog nie opgelos is nie, moet Schoonees se konklusies (wat buitendien nie gemotiveer word nie) as voorbarig beskou word. Dis egter opmerklik, dat hy beswaar maak teen my kensketsing van De Goede Hoop as ‘voorbode’, terwyl
| |
| |
hy direk daarop gewaag van die blad se ‘voortrekkerswerk’ (p. 42). Wat is die verskil? Ook maak Schoonees, in sy verwysing na die polemiek oor hierdie kwessie, geen melding nie van twee artiekels in Díe Huisgenoot (Maart en Sept. 1920), waardeur die hele kwessie ingelei word. Dit lyk dus twyfelagtig of hy wel die hele polemiek onder die oë gehad het, alvorens sy konklusie vas te stel.
***
My twede en vernaamste beswaar betref Dr. Schoonees se ‘krietiese standpunt’. Om misverstand te voorkom, wil ek hier nadruklik vooropstel: dat ek dit met sy standpunt eens is, wanneer dit op sigself beskou word ten opzigte van kuns in die algemeen, of in sover as dit betrekking het op die verdere ontwikkeling van ons literatuur. Maar my beswaar geld die wyse waarop die standpunt toegepas word op die onderwerp onder bespreking. As literêr-historikus was dit Schoonees se taak, om nie enkel die letterkundige waarde van ons prosa as sodanig te bepaal nie, maar ook en veral om die historiese ontwikkeling daarvan na te gaan en aan te toon, waarom dit is soos dit is, en nie soos hy dit sou wens nie. In plaas daarvan stel hy hom op Tagtiger-standpunt as uitgangspunt, en vel 'n vernietigende vonnis oor alles wat nie aan sy vooropgestelde skoonheidsideaal beantwoord nie.
Weliswaar word vooraf 'n eresaluut gebring ‘aan al die voortrekkerskrywers, wat ons volk van 'n geestelike hongerdood gered 't, deur wie se liefdevolle ywer ons nie langer as doofstomme bywoners in ons eie land hoef te sit en swyg nie. 'n Eresaluut, nie alleen aan die begaafde artieste nie, maar ook aan die, wat in alle eenvoudigheid houtkappers en waterdraers was, toe die meeste nog stil gesit 't, of niks anders as spot oor had vir 'n beweging, wat 'n einde aan ons lang periode van geestelike knegskap gemaak het’ (p. 25). Ook wys skrywer met nadruk daarop, ‘dat die meeste behandelde werke, wat ook al hul gebreke mag wees, en hoe primitief hul ook dikwels mag skyn vir iemand, wat op die hoogte van dic moderne Europese lettere is, tog almal, byna sonder uitsondering, voortreflike dienste in ons taal- en kultuurstrijd bewijs het’ (p. 25 kursivering van skrijwer).
Maar die rook van die eresaluut het nog nie goed weggetrek nie, of die grof geskut word losgedraai dat die stof so staan
| |
| |
‘om sonder doekies omdraai 'n estetiese oordeel (ek kursiveer) uit te spreek, .... om die voortbrengsele van ons kuns te meet aan die meesterstukke van die buiteland (ek kursiveer). Want ons wil vorentoe beur! Ons wil Suid-Afrika hoog opstooten midden in de vaart der volken’ (p. 26). 'n Pragtige ideaal, seker. Maar hoe mooi dit op sigself ook al klink - dis toekomsmuziek, waarby nie voldoende rekening gehou word met die verlede nie. Buitendien rym dit ook maar sleg met die beeld wat skrywer van ons kultuurtoestande gee. ‘Ons staan nog maar aan die begin van die Twede Beweging’, heet dit in sy voorberig. En tog moet ods jong letterkunde nou al, en in sy geheel, gemeet word aan die meesterstukke van die buiteland, pas nadat ons ‘die waardelose ou timmerasie omgesmyt, die wanordelike periode van die afbrekery deurgemaak het’? (p. 20).
Geen wonder, dat skrywer se warme piëteitsgevoel vir die eenvoudige ‘houtkappers en waterdraers’ ten slotte heeltemal verdring word deur estetiese oorwegings. Want die noodwendige gevolg van hierdie standpunt is, dat sy historiese perspektief sodanig benewel word, dat 'n histories-objektiewe waardebepaling byna deurgaans verdring word deur 'n modern-subjektiewe oordeelvelling. Telkens word die Afrikaanse prosa getoets aan die meninge van moderne Nederlandse krietisie - dus 'n literatuur, in sy beginstadium, wat nog duidelik die littekens vertoon van die onlangse taalstryd, word beoordeel volgens die maatstaf wat tuis hoort by 'n uitheemse literatuur, wat reeds 'n ontwikkeling van ses eene deurgemaak het! Natuurlik het ons nie begin, waar Maerlant en Ruusbroec begin het nie, maar ewemin, waar van Deyssel en Couperus begin het. As Schoonees meer aandag gewy had aan die kultuurhistoriese agtergrond van sy onderwerp, die voedingsbodem waaruit ons wordende prosa voortgespruit het, die kultuurontwikkeling waarvan dit die weerspieëling is, - dan sou hy minder krieties-polemiserend en meer histories-waarderend opgetree het; dan sou hij ingesien het, dat ons prosa, altans die prosa uit die eerste stadium van die Twede Beweging, uit die aard van die saak veel nader moet staan aan die periode van '30 in Nederland, as aan die van '80.
Laat my voorgaande opmerkings met 'n konkrete voorbeeld verduidelik. Schoonees wy 36 bladsye aan die bespreking van Von Wielligh se geskrifte, waarby wel hier en daar op sy
| |
| |
verdienstes gewys word, maar tog feitlik die hele nadruk val op sy gebreke: ‘Jacob Platjie is 'n etnologiese museum, vol opgestopte Hotnots. Korannas en Boesmans’ (p. 69); ‘Sy mense self ontmoet ons nooit. Hulle is nie eers aangeklede poppe in 'n museum van oudbede nie, hulle is bloot name’ (p. 72); ‘Sy intriegemasjienerie het net 'n paar radjies, wat al lelik uitgeslyt is’ (p. 75); ‘Dieper dan die trane en die sakdoeke kan hy nie sien nie, en daarom wil hy sy oppervlakkigheid agter 'n retoriese poespas wegsteek’ (p. 77); ‘Ewe geduldig stryk hy sy ramkie en op die eentonige deun “kerf” hy riel na riel uit’ (p. 83); ‘Cats redivivus, maar dan tog in onderbaadjiesakformaat’ (p. 85). Dis maar 'n paar uit die menigvuldige voorbeelde van Schoonees se ‘piëteitsgevoel’ vir een van die houtkappers en waterdraers, waarvan hy met soveel waardering gewaag in die reeds vermelde sitaat. In die lig van 'n dergelike ‘estetiese oordeel’ maak sy eresalut egter 'n byna ironiese indruk.
Maar (en dis 'n groot maar!) waar von Wielligh homself aankondig as ‘Die Laaste Stem uit Die Genootskap van Regte Afrikaners’, en waar Schoonees self vooropstel: ‘Sy werk dra nog heeltemal die stempel van die Patriot-periode, en die ideale, wat hy na streef is die van 'n verbygegane geslag’ (p. 66. Kursivering van my) - daar rys onwillekeurig die vraag, of dit konsekwent en wetenskaplik verdedigbaar is, om sy werk tot in die fynste besonderhede te gaan toets aan die eise en ideale van die teenswoordige geslag? En lyk dit nie bietjie na spykers op laag water soek om bladsye vol aanhalings bymekaar te maak, ten einde te bewys wat geen bewys nodig het nie, nl. - dat ‘Von Wielligh geen dienaar van die skoonheid’ is nie? (p. 65). Von Wielligh het nooit geposeer as woordkunstenaar nie, en kan dus ook nie as sodanig beoordeel word nie. Die betekenis van sy werk lê elders, net soos die van die meeste besproke skrywers, en skrywer moes in die eerste plek daardie betekenis vasgestel het.
Schoonees se fout is, dat hy geen onderskeid maak tussen die prosa uit die beginstadium van die Twede Beweging en die latere periode daarvan nie. Alles word eenvoudig oor één kam geskeer, en daarby vergeet hy wat 'n ontsaglike afstand, kultureel gesproke, daar lê tussen die jare 1905 en 1920. Op p. 171 verklaar hy in verband met Van Bruggen: ‘In Op Veld en Rande (1920) is dit moeilik om die skrywer van Teleurgestel
| |
| |
(1917) te herken’. Wat bewys dit? Me alleen dat Van Bruggen vordering gemaak het nie, maar orals is tekens te bespeur, dat ons prosa sedert omstreeks 1920 in 'n oorgangsstadium verkeer, wat 'n nuwe bloeitydperk aankondig. Schoonees sou dus wetenskaplik suiwerder gestaan het, as hy onderskeid gemaak had tussen wat vóór en wat sedert omstreeks 1920 verskyn het, altans tussen die ‘voortrekkerskrywers’ en die ‘begaafde artieste’ van 'n jonger geslag. Maar nou lewer hy dwarsdeur moderne kunskritiek en begaan daarmee dieselfde fout as Kloos en Van Deyssel in die eerste oorwinningsroes van die Tagtigerbeweging, ten opsigte van die literatuur van vóór '80: die kind word saam met die badwater uitgegooi!
'n Verdere noodwendige gevolg van Schoonees se eensydige standpunt is die enigsins inkonsekwente houding, wat hy inneem teenoor Langenhoven. Aan die eenkant verklaar hy: ‘Gelukkig is ons kuns van so'n geaardheid, dat dit nie op die bergtoppe van ongenaakbare afsondering alleen enkele begenadigdes ontroer nie, maar verstaan en gewaardeer word deur 'n groot gedeelte van 'n volk, wat jare lank al soek na skoonheid in eie taal, skoonheidsuitinge van eie kultuur’ (p. 10. Kursivering van my). En verder: ‘Gelukkig hoef ons in Suid-Afrika voorlopig nie te vrees vir indiwidualistiese verwildering nie. Ons kunstenaars sluit hul nie op in “ivoren torens”, gaat nie op in egoïstiese aanbidding nie, maar staan in die middel van die volk’ (p. 258. Kursivering van my). Hoewel in hierdie sitate presies die kern van Langenhoven se standpunt geformuleer is (vgl. p. 255 vlg.), word aan die anderkant beswaar gemaak teen sy strewe na gemeenskapskuns, en word hy ten onregte beskuldig van ‘die fout om aan àl ons skrywers 'n didaktiese dwang op te lê, en in sy ywer en liefde vir die “arme sukkelaars op die nederigste, onderste sportjie” vergeet hy, dat die waaragtige kunstenaar geen skoolmeester is nie’ (p. 255. Kursivering van skrywer).
Dat Langenhoven dit gladnie vergeet nie, en dit ook nie ‘as enge dogma aan almal voorskryf nie’, blyk op oortuigende wyse uit sy eie werk, maar veral uit sy vernietigende kritiek op die pasverskene ‘Proef van 'n Afrikaanse Bybelvertaling’ (Die Burger, 27-1-23) en die onlangs verskene roman Japie, deur J.R.L. van Bruggen (Die Burger, 29-1-23).
Schoonees het heeltemal gelyk dat ‘kuns nie gefabriseer of gekommandeer kan word nie’ (p. 256), 'n stelling waarmee
| |
| |
Langenhoven dit volkome eens sal wees, net soos met die volgende: ‘Met dit alles word volstrek nie beweer, dat die kuns buiten die maatskappy, buiten die volk hoef te staan nie’ (p. 257). Uit voorgaande blyk dus, dat tussen Schoonees en Langenhoven se opvatting geen prinsipiële verskil bestaan nie, maar alleen 'n graadverskil. Want waar eersgenoemde, kragtens sy vooropgestelde l'art pour l'art standpunt (‘Dit is pure onsin om van 'n kunstenaar te verwag dat hy hom na die publiek moet rig’, p. 257) die nadruk lê op die estetiese kant van die saak, - word deur laasgenoemde, kragtens sy uitgesproke kulturele standpunt, die nadruk gelê op die didaktiese kant van die saak (vgl. p. 255). 'n Enkele blik op ons kultuurgeskiedenis moet dadelik die oortuiging wek, dat Langenhoven se standpunt veel meer rede van bestaan het as die van Schoonees, veral wanneer dlt toegepas word op die periode van die taalstryd vóór 1920.
***
Eindelik moet nog as derde beswaar genoem word, dat Schoonees se metode van kritiek 'n bedenklike neiging vertoon om te ontaard in wat Van Eeden genoem het ‘inventariseurskritiek’. Hy wy deurgaans soveel aandag aan die bome dat hy die bos nie altyd raaksien nie. Een bladsy na die ander word gevul met 'n bloemlesing (of moet ek sê: onkruidlesing?) van taal- en stylfoute. Tereg maak hy beswaar teen De Waal se ‘katalogusachtige’ manier van beskrywing, maar presies dieselfde indruk kry die leser van sy eindelose opsomming van voorbeelde, wat met groot sorgvuldigheid uit iedere besproke werk genoteer word, met kapittel en vers daarby. Nie dat ek hierdie metode op sigself afkeur nie, maar die oordrewe toepassing daarvan. Waar byv. vorige skrywers min of meer uitvoerig op De Waal se anglisismes gewys het, kon Schoonees met verwysing daarheen en 'n paar afskrikwekkende voorbeelde volstaan het, in plaas van nog weer 'n paar bladsye daaraan te bestee.
Die gevolg van hierdie inventariseursmetode is, dat skrywer sy aandag dikwels op details versnipper, terwyl die hoofsake nie altyd voldoende belig word nie. Hy kon byv. veel meer aandag gewy het aan De Waal se hopelose gebrek aan psigologiese insig, die mees flagrante voorbeelde waarvan hy stilswygend voorbygaan. Of moet al weer die lang sitate uit
| |
| |
Prinsen, Van den Bosch en Van Campen as voldoende kompensasie beskou word? Aan die slot van sy beskouing oor De Waal kom skrywer tot die volgende konklusie: ‘Sy romans het geen letterkundige, maar wel kultuur-historiese waarde. Dit was propaganda-werk, wat verskyn het in 'n tyd toe die meeste ander voormanne nog niks gepresteer had en daar feitlik geen Afrikaanse leesstof was nie’ (p. 133). Wel, waarom dan nie, in plaas van al die taalfoute, meer nadruk gelê op daardie aspek van De Waal se werk nie? Waarom nie meer in besonderhede ook sy verdienstes in die lig gestel nie? Of val daar absoluut niks te sê ten gunste van 'n ‘spannende intriege’ nie, gesien die feit, dat ons hier te doen het met die beginstadium van ons vaderlandse romantiek en met 'n volksverlede, wat oorloop van romantiese avontuurlikheid?
‘Sy doel het De Waal dan ook bereik: Hy het 'n groot deel van die Afrikaanse volk hul eie taal leer lees’ (p. 133). Maar hoe en waarom, hy dit reggekry het - ten spyte van al sy veelvuldige gebreke - dit word deur Schoonees nie aangetoon nie.
Dus, om kortliks te resumeer, die sentrale fout van Dr. Schoonees se proefskrif is: dat hy by die beoordeling van 'n wordende Afrikaanse letterkunde, wat grotendeels die resultaat is van 'n hewige kultuurstryd, 'n modern-Europese maatstaf aanlê. So kan die betekenis van ons letterkunde nie verklaar word nie, om die eenvoudige rede, dat hierdie maatstaf geen rekening hou met die kulturele wordingsgeskiedenis van die Afrikanernasie nie.
***
Uit voorgaande bespreking moet egter nie afgelei word, dat ek Schoonees se proefskrif onvoorwaardelik afkeur nie, want dit bevat ook veel goeds. Vir 'n studie van die ontwikkeling van Afrikaans as letterkundige taal is hier 'n skat van materiaal in oorsigtelike vorm versamel, terwyl ons toekomstige prosaskrywers hulle voordeel kan doen met die bronnenmateriaal deur Schoonees aangegee, sowel as met sy op 'n uitgebreide lektuur gegronde krietiese beskouings. Verder is sy werk van belang, omdat ons daaruit veral twee dinge leer. Enersyds sien ons daaruit hoe agterlik ons letterkundige prosa nog in baie opsigte is, al bestaan daar ook genoegsame gronde voor. Schoonees se uitvoerige kommentaar kan dus tot waarskuwing strek teen die gevaar van selfoorskatting, waartoe geesdriftige bewondering
| |
| |
en gebrek aan letterkundige insig so maklik aanleiding kan gee. Maar andersyds het Schoonees se ondersoek ook hierdie heuglike feit in die lig gestel: dat ons prosa - ondanks al die belemmerende invloede, wat 'n kragtige opbloei daarvan nog voortdurend in die weg gestaan het, en ondanks ons handjievol skrywers, met hulle velerlei beroepsbesighede, en die kort tydsverloop sedert hulle begin het - tog reeds geskrifte voortgebring het, wat inderdaad aan sy vooropgestelde skoonheidsideaal beantwoord. En daaronder Sangiro se eersteling, wat sedert deur vertaling in Engels reeds internasionale erkenning verkry het. Ten spyte van alle meningsverskille verwelkom ek daarom Dr. Schoonees se proefskrif.
Stellenbosch, Suid-Afrika.
E.C. Pienaar.
|
|