siteitskollege, is benoem tot buitengewone hoogleraar in die Afrikaanse taal- en letterkunde aan die Gemeentelike Universiteit, Amsterdam. Hy het op 9 Oktober j.l. hierdie amp aanvaar met 'n rede oor ‘Afrikaanse Taal- en Letterkunde Universitair Studievak te Amsterdam’ (Swets en Zeitlinger, Amsterdam). Hierin betoog hy dat die instelling van hierdie leesstoel voortvloei uit ‘gepast Nederlands gevoel van eigenwaarde’, uit trou aan die tradisie van Nederland as een van die eerste en trouste beoefenaars van die vergelykende studie van die Germaanse tale, uit 'n besef van ‘universitaire plicht om te vervullen een specifiek Nederlandsch wetenschappelike taak’ en ‘uit begeerte tot culturele samenwerking met het Afrikaanse broedervolk’. Die hoogleraar betoog dat daar bestaan ‘de specifiek Nederlandse wetenschappelike taak om methodies te peilen het Afrikaanse wezen in taal en letteren, in geschiedenis en cultuur’. Hy kan nie 'n afgeronde program van studies aanbied nie maar sal hom laat lei ‘door openbaar wordende behoeften’. Hy noem 'n aantal onderwerpe op taalkundige, letterkundige, historiese en kulturele gebied wat behandel sal word.
LEVINA, die dramatiese verwerking van Jochem van Bruggen se ‘Die burgemeester van Slaglaagte’, word tans onder leiding van die outeur op verskillende dorpe opgevoer. Die heer Viljoen gee 'n fyn deurvoelde vertolking van Oom Lood, terwyl mej. N. van Bruggen as Levina haar 'n veelbelowende, talentvolle toneelspeelster betoon.
Ons verwelkom die verskyning van die nuwe tweemaandelikse tydskrif KOERS - dis eintlik 'n voortsetting van ‘Die Wagtoring’, wat gereorganiseer is. Die strewe bly dieselfde: ‘dit wil die beginsels van die Heilige Skrif volgens die interpretasie van die Calvinisme propageer op die verskillende terreine van die lewe’. Dit sal egter groter verskeidenheid van stof bied. Veral sal ‘soveel moontlik rekening gehou word met vraagstukke wat van aktuele belang is’ op alle terreine van die lewe. Die eerste twee nummers gee goeie verwagtinge en bring 'n mooi verskeidenheid van deeglike artikels. Om 'n aantal te noem: Soewereine onafhanklikheid en Koalisie, C.N.O., Die Krisis van die demokrasie, Droogte en natuurlike bodembedekking, Die Godsdiens van die kleuter, Rasverhoudinge, Die huidige ekonomiese ontwrigting.
Die uitgewers is A.H. Koomans, Bep., Bus 123, Potchefstroom, en die intekengeld 10/- per jaar.
HERMAN POORT wat deur sy lesings soveel gedoen het vir die ontwikkeling van die letterkundige smaak en belangstelling in die literatuur in Nederland, is onlangs oorlede. Sy bundeltjie studies, ‘Litteratuur’, is in ons land welbekend.
Ook HENRI BOREL, wat soveel populariteit verower het met sy romans ‘Het Jongetje’ en ‘Het Meisje’, maar veral verdienstelik is deur sy boeke oor China, wat in Engeland en Amerika opgang gemaak het, is oorlede.