5. Verslag aangaande die ‘Maatschappij’ in die republiek van Suid-Afrika oor die jaar 1975
Op 31 Desember 1975 was die ledetal van die ‘Maatschappij’ in die Republiek van Suid-Afrika 40 (Desember 1974: 43). Nuwe lede is in 1975 nie gekies of benoem nie, terwyl die volgende lede oorlede is: dr. C. Beyers (Pretoria, 10-8-1975) en mw. dr. M.E. Rothmann (Swellendam, 7-9-1975). Albei hierdie lede is in 1950 benoem, terwyl laasgenoemde die ouderdom van 100 jaar bereik het. Die heengaan van dr. Rothmann, algemeen bekend onder haar skrywersnaam m.e.r., is onder meer in die jaarboek van 1975 van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns herdenk.
Prof. dr. S.A. Louw het bedank as lid.
In die loop van 1975 is die feit dat dit op 14-8-1975 'n eeu gelede was dat die ‘Genootskap van Regte Afrikaanders’ tot stand gekom het, nie alleen in die vorm van 'n landswye taalfees herdenk nie, maar tewens is - op 10-10-1975 - die Taalmonument te Paarl ingewy om die reeds genoemde g.r.a. te herdenk en die opkoms en lewenskrag van die Afrikaanse taal te versinnebeeld. In dié verband word belangstellendes onder meet na die feesuitgawe van die kwartaalblad ‘Lantern’ (jg. xxiv, nr.4, Junie 1975) verwys.
Prof. dr. A.P. Grové het prof. dr. G.J. Beukes opgevolg as voorsitter van die fakulteitsraad (Kuns en Geesteswetenskappe) van die Suid-Afrikaanse Akademie. Prof. dr. André P. Brink is aangestel as mede-professor in die departement Afrikaans-Nederlands, Rhodes-universiteit, Grahamstad.
Aan prof. dr. H.B. Thom is, deur die Suid-Afrikaanse Akademie, die D.J. Malan-medalje vir volksdiens oorhandig. Die opsteller van hierdie verslag is, deur die Stigting Simon van der Stel, met die eerste silwerpenning van verdienste vereer in verband met sy aandeel in die Suid-Afrikaanse strewe vir die behoud en bewaring van monumente.
jan ploeger