Republiek van Suid-Afrika in bogenoemde land. Prof. du Toit Spies het in 1971 die erepenning van die Nederlands Zuid-Afrikaanse Vereniging (n.z.a.v.) ontvang vir sy werk wat hy ter verstewiging van die betrekkinge tussen Suid-Afrika en Nederland verrig het.
Prof. dr. F.A. van Jaarsveld is as opvolger van prof. dr. F.J. du Toit Spies benoem.
Twee gesiene lede in Suid-Afrika het die ‘Maatschappij’ in 1972 ontval. Allereers die bekende letterkundige dr. Stephanus Johannes du Toit (1891-1972), 'n bekende digter-skrywer, wat tewens as onderwysman en medewerker aan die Afrikaanse Woordeboek (1951-1961) bekendheid verwerf het. Kort daarna het prof. dr. Robert Karel Emiel Jozef Antonissen (1919-1972), hoogleraar in Afrikaans-Nederlands aan die Rhodesuniversiteit (Grahamstad) en vise-rektor van die genoemde universiteit, heengegaan. As opvolger van die Nederlandse letterkundige H.A. Mulder (ps. Willem Hessels) het hy in 1950 met sy literêre werksaamhede in Suid-Afrika begin om na verloop van tijd, as een van die grootste literêre kritici erken te word wat die Afrikaanse letterkunde tot hede opgelewer het. In ‘Rapport’ van 1 October 1972 het ons medelid André P. Brink onder meer by die betekenis van die ontslapene stilgestaan. Prof. Antonissen was, behalwe van die ‘Maatschappij’, onder meer ook lid van die Suid-Afrikaanse Akademie en die Koninklijke Vlaamse Academie. Die Belgiese regering het, in die vorm van 'n besondere medalje, sy verdienstes op kulturele gebied erken.
Op 22 April 1972 het die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, Bloemfontein, 'n eredoktersgraad toegeken aan Ludwig Wybren Hiemstra, 'n baanbreker op die gebied van die Afrikaanse joernalistiek en 'n vooraanstaande taalkundige redakteur van die Nasionale Pers-groep. Dr. Hiemstra het ook bekendheid verwerf in verband met die Tweetalige woordeboek, 'n standaardwerk waarvan die eerste uitgave, geredigeer deur tans wyle prof. dr. D.B. Bosman en prof. I.W. van der Merwe, in 1936 verskyn het. Van die vierde tot die sewende uitgawe (tweede druk: 1969) was dr. Hiemstra ten nouste by die voortdurende uitbreiding en verbetering van hierdie publikasie betrokke. Tot hede word hierdie werksaamhede deur hom voortgesit, terwyl dr. Hiemstra tewens as raadgewende redakteur van die tans verskynende Standard Encyclopaedia of Southern Africa optree.
In die pers het die sewentigste verjaarsdag van die bekende en gewaardeerde musikoloog dr. Jan Bouws, dié kenner van die outydse Kaapse musieklewe, nie onopgemerk verbygegaan nie.